‘n Vis op droë grond

Ons is nie almal eenders nie. Eintlik dink ek ons was dalk nog nooit nie. Tog is dit dalk vandag makliker om jou eie identiteit te vind, ontwikkel, groei en selfs te verwoord. Die mensdom het al so bietjie meer van ‘n idee waarom ons is soos ons is en voel soos ons voel. Ons het organisasies, vereenigings en liefdadigheidsorganisasies wat ‘n stem is vir die wat sukkel om hul eie stem te laat hoor. Op alle gebiede: Slagoffers van misdade of bulliegedrag, mense wat anders as die massas identifiseer – bv nie-godsdienstig in ‘n godsdienstige land, as ‘n LSBGT persoon in ‘n konserwatiewe gemeenskap, as ‘n andersdenkende, saggeaarde, hippie, laatslaper, vegetariër in die Bosveld, oorgewig, te wit of te swart ensovoorts ensovoorts. Tog kom meer en meer mense na vore en laat die wêreld verstaan: “Ek ook.”

Enersyds voel dit soms of dit makliker raak om oor die onnoembare te praat. Andersins het groot dele van ons samelewing baie onpersoonlik geraak en ons raak nie regtig betrokke by ander of weet wie ons bure is of praat met vreemdelinge nie. ‘n Jong vriendin wat vir ‘n jaar in die groot VSA gaan werk het se pa het onlangs kom kuier en sy skryf hierdie week op Faceboek: “As we did our little walk today, my dad was waving and greeting everyone. Regardless of the grumpy American faces he gets in return, he kept on waving and smiling… Why?… for that one person who smiles back so big, you’ll know they needed just that “hello” from a stranger.

I remember how I waved at each person too, no doubt where I learned that from. But I lost that along the way, somewhere in this “serious modern world” where self checkout and home delivery has become the norm.

My prayer, if just for myself… that I will remember what life is about. “Onthou, Monja, lewe is oor verhoudings. En die stelsel is sy vyand.” – Pappa.”

In die afgelope paar weke het ek met ‘n paar mense te doene gehad wat regtig ontsteld is – en dit raak hulle hele lewe, geluk en bestaan – wat voel dat hulle andersheid nie deur die sameleweing aanvaar word nie. Slagoffers van geslagsmisdade en trauma wat bitter voel en swaar dra aan die las wat hulle toegedeel is. Persone wat ly aan ‘n verskeidenheid van geestesontgesteldheid soos ADHD, depressie of verslawing wat ervaar dat hulle ‘n onregverdige opdraande in hulle gewone dagtaak of bestaan ervaar.

Die ding is, mense wat dieper voel, kunstig is, anders is – hulle breine werk dikwels anders as die hoofstroom s’n. Dink aan Amy Whinehouse, Robin William, Curt Cobain, Michael Jackson,  Mozart, Eugene Marais, Johannes Kerkorrel, Antjie Krog – daar is soveel groot name wat in hierdie kategorie kon val. Die gemeenskap vind waarde in hierdie mense se breins of denkwyses as ons kunstenaars, vernuwende denkers en baanbrekers. Baie van die groot sterre en baanbrekers se stories wys uit hoe hulle op skool of as jongmense “anders” was, geboelie was en baie mislukkings gehad het voordat hulle sukses gesmaak het.  Wanneer hulle dit wel “maak” in oë van die samelewing word hulle as ‘n held of nasionale (selfs internasionale) skat ge”label”. Baie persone wat uiteindelik bietjie beter verstaan hoekom hulle so “anders” voel kry dalk uiteindelik ‘n diagnose: Jy is ‘n verslaafde, ly aan depressie of ADHD – wat dit ookal is jy het nou jou labeltjie – jy het ‘n geestesongesteldheid.

So jaar of twee voor Flooi se dood het ons saam die fliek “A star is born” gekyk waarin Lady Gaga baie goed haar rol vertolk het. Ek wil nie die storie weggee as ‘n leser dit nog wil kyk nie, maar op ‘n punt in die verhaal was ek baie erg oorkom met ‘n hartverskeurende hartseer oor die verskeurende effek van die siekte van verslawing op liefdevolle, goeie en intelligente mense se lewens. Ek het letterlik onbedaarlik begin huil dat die trane spat – nie die gewone traanspoortjie of twee wat ek in ‘n roerende storie sou wegpik nie. Ek het snot en trane gehuil vir elke verslaafde wat ek al ontmoet het, wat al dood, vermink of sosiaal gewond was deur die siekte, wat hulle identiteit, sekuriteit en families verloor het. Ek het gehuil vir almal wat nog in daardie kettings gaan vasdraai en nie weer daaruit sal kan kom nie. Vir die seer wat al hierdie mense deur die lewe oor die berg voor hulle moet probeer kruip uit die donker. Oor die magteloosheid van mense met goeie bedoelings. Die vrees en onsekerheid in klein kindertjies, ouers, oumas en oupas wat nie verstaan wat aangaan of wat besig is om met hul geliefdes te gebeur nie.

Flooi was duidelik uit die veld geslaan – hy het my nog nooit so gesien nie. Hy het eintlik so bietjie verleë gelag  en  gevra “En nou? Wat huil jy so?” Hy het dit nog nie verstaan nie en tog, nie baie jare later nie, het hy homself in dieselfde hopelose doodloopstraat bevind met geen uitgang sigbaar nie.

Word alles dan erger in die tyd waarin ons lewe? Ek wonder of ons nie dalk net meer en beter verstaan van hoe ons binnewerke aanmekaargelas is nie. Objektief gesproke was dit ook nie ‘n ewigheid gelede wat mense met elektrieseskokke teen die kop behandel was op onmenslike wyses vir geestesongesteldhede nie. Relatief kort gelede was vroue nog vir “histeria” behandel met vaginale vibrasietoerusting – ja as jy nie geweet het nie dit was die voorgangers van ons moderne “sex-toy vibrators”!

‘n Britse mediese dokter, Joseph Mortimer Granville, het die eletromeganiese wibrator in die 1880s patenteer om ‘n kondisie bekend as “vroulike histeria” te behandel. Daar het ‘n hele aantal gesondheidsspa’s opgespring wat die behandeling aangebied het en teen die laat 1800s was die masjientjie te koop aangebied in katalogiste wat naaldwerkmasjiene en ander klein huisaparate bemark het. Volgend een skrywer was die wibrator die vyfde gewildste toestel vir die huis na die naaimasjien (pun intended!), waaier, ketel en broodrooster! Dit was eers in 1952 dat die Amerikaanse Assosiasie vir Medici Fissici die kondisie bekend as vroulike histeria van die lys van erkende mediese kondisies verwyder het. So leer ons maar dat ons nie geweet het wat ons geweet het nie né?!

Ek het op my pad met verslawing baie gelees en te wete probeer kom oor die siekte en die effek daarvan. Ek het probeer luister na soveel besprekings en stories van verslaafdes en ook hulle geliefdes. Ek het verskriklike rampe gesien, maar ook byne ongelooflike wonderwerke. Tog is daar steeds dae, partykeer sommer weke of maande ook, wat ek net nie weet nie. Wat ek net self vasgevang voel.

Al wat ek vir seker nou weet:

  1. Die lewe gebeur steeds teen een dag op ‘n slag.
  2. Ongeag wat oor my pad kom, ek kies steeds of dit my bitter maak of beter. Dit hang nie af van die noodlot nie – dit hang van my af en my eie ingesteldheid teenoor my lewe met sy op- en afdraendes.
  3. Dit is goed om ALTYD almal met deernis en respek te behandel. Ek weet nooit met watter demone hulle besig is om te stoei nie.
  4. Dit is ook ok om nie elke dag ok te wees nie. Dit is beter om vir hulp te vra as ek hulp nodig het.
  5. Dit maak nie saak wat om my aangaan en waar ek my bevind nie, daar is altyd altyd iets om voor dankbaar te wees.
  6. Vir nou bars die Apiesdorings uit hulle nate soos hulle uitbundig my pad versier met hulle pragtige bloeisels.

Dit is nie maklik om god te speel nie . . .

Ek het lank terug hierdie gelees op ‘n kennisgewingbord by die rehabilitasiesentrum wat my dogter behandel het:

Our programme works for people who believe in God,

Our programme works for people who do not believe in God but

Our programme does not work for people who believe they are God.

Ek was vandag weer daaraan herinner toe ek ‘n houtkameelperdjie wou opdollie vir ‘n vaal hoekie. Die diertjie is grys en die fokus kleur in die vertrek is helder groen. Ek besluit toe hy moet kameelperd kolle kry in groen. Om ‘n kameelperd vol kolle te maak is toe nie so maklik soos dit lyk nie. In die natuur is daar blykbaar nie eers twee kameelperde wat presies dieselfde kolle dra nie. Kyk as ek soveel kameelperde moes inkleur het ek lankal verveeld geraak en ‘n “sprei-gun” nader getrek! Vir die klein houtkameelperdjie het ek gedink dit sal gou gaan. Ek het egter gou gesien dat om die kolle min of meer eenders maar tog anders in form en grootte te maak, toe nie kinderspeletjies is nie! Die helder groen het ook ‘n hele paar lagies nodig gehad om uit te staan op die grys.

Die oefening het my laat besef – ek is in die Al-Anon program en doen werk in my program. Nog steeds het ek heeltemal vasgeval in ‘n groef van lusteloosheid en depressie, terugflitse, verwyte en twyfel, ongeag van wat ek weet, glo en myself probeer oortuig. Ek is woedend vir my God. Ek voel dat Hy vir Vlooi kon help of red – maar agter in my kop weet ek Vlooi kon nie hulp aanvaar nie. In Al-Anon staan dit bekend as die drie A’a – Awareness, acceptance and action. Die gewaarwording is nie mooi nie en glad nie maklik om te erken nie. Die harde realiteit is egter dat dit my lewe onmoontlik maak om in afsondering van iets of Iemand groter as ekself te probeer voortgaan. Dit baat my niks. Ek maak vrede met die oorgawe van stap 3 – om te aanvaar en my wil en my lewe oor te gee aan Iemand groter as ekself – ek het niks om te verloor nie – ek cope in elk geval nie soos dinge nou is nie.

Ek hou hardkoppig vas aan die klein bietjie hoop wat oor is. Daar kan tog sekerlik nog vir my ook in hierdie lewe iets oor wees wat berusting, geluk en vrede kan bring?

‘n Klein bietjie hoop bly ‘n groot ding.

Oomblikke en herinneringe

Daar kom elke dag dinge oor my pad wat my aan Vlooi herinner en baie keer die verlange opwakker. Hierdie week ry ek na ons buurdorp – 60 km weg – vir ‘n werkswinkel wat ek moet bywoon. Vlooi se ouers het ook op hierdie dorp gebly totdat sy pa, 6 maande voor Vlooi se selfdood van kanker oorlede was. Ons het ten minste een dag per week dieselfde pad gery na werk om die aand by sy ouers te gaan eet en brug speel. Ons sou dan daar oorslaap en die volgende oggend vroeg terugry om 08h00 weer op kantoor te kon wees.

Die heel eerste keer wat ons so saamry, sien ek die langkuifarend oppad, baie naby en sigbaar en ek bars uit in opgewondenheid. Daar kom ek agter dat Vlooi gedink het mens kry arende en ander voëls – ‘n arend is ‘n arend. Ek is self nie ‘n ernstige voëlkyker nie, maar as ek ‘n voëltjie kry wat skaars is of wat ek nog nie gesien het nie raak ek tog opgewonde. Wel, om ‘n lang storie kort te maak, Vlooi en ek het al die arende met langer kuiwe bespreek, bekyk en vergelyk en het die langkuifarend nog ‘n paar keer op die pad gesoek en gekry. Baie soos ander paartjies ‘n liedjie het wat “hulle” liedjie word, het ons “ons” arend gehad. En nog steeds, amper ‘n jaar later, as ek die pad ry kyk ek gretig of “ons” arend nie iewers te bespeur is nie.

Ons het ook ‘n i-tunes speellys gehad vir die oggend vroeg as ons terug ry. Die spesifieke lys was ‘n mengsel van ons albei se gunsteling liedjies wat opgewerk en energiek van geaardheid is. So het ons ander speellyste oor die tyd opgebou – goue oues, ‘n brug speel speellys vir saam met Vlooi se ouers en ‘n ander brug speellys vir brug saam met my dogter en haar metgesel. Ons het ‘n lang wildtuin speellys gehad, ‘n partytjie speellys en ‘n dansmusiek speellys. Elke keer wat ek musiek speel, want dit is hoe mens vandag musiek speel, met selfone en usb, nie meer met CD’s of plate nie, kom al sy en ons gunstelinge op en die heimwee ook.

Ek mis dit om te dans. Ek onthou met een troue waar ons was, wat die DJ na die tyd vir die bruidegom gesê het dat hy nog nooit ‘n paartjie gesien het wat 18 liedjies namekaar gedans het sonder om ‘n dans uit te sit nie. Ons twee het so lekker gedans, en as die nuwe liedjie begin mekaar gelyk in die oë gekyk en gedink: nee, ons sal ook nie hierdie een kan uitsit nie! Dit was so duidelik dat ons nie maklik uitsit nie dat hy begin tel het en ons rekord was 18 danse sonder stop. Kyk hoe blinkgesweet is ons gesiggies op die foto!

‘n Interessante ding wat ek by Vlooi geleer het is hoeveel mense bymekaar leer en aanpas in ‘n verhouding. Vlooi se pa het dikwels die uitdrukking gebruik: “Jy sien!” Deesdae vang ek myself dikwels dat ek by myself dink: “Jy sien!” Ek het vir Vlooi geleer om verskillende voëls te identifiseer, die verskeidenhied van die verskillende roetes in die KNP, om meer en meer gereeld raketsporte te speel en om nuwe smake, geure en resepte te probeer en geniet. Hy het my geleer om bergfiets te ry, om die Rubix cube te fix, om meer te speel in alle opsigte in my lewe en om te geo-cash.

Geo-cash is ‘n skattejag vir grootmense. Dit is ‘n buitemuurse avontuur aktiwiteit waar deelnemers GPS gebruik om te soek vir werklike skatte in houers wat letterlik reg oor die hele wêreld geplaas is. Die grootste skat wat ons gekry het was ‘n 2 liter roomyshouer. Binne in is daar gewoonlik ‘n dokument waarop mens jou naam kan skryf as bewys dat jy daar was en ook ‘n paar “trinkets” of geskenkies wat mens kan uitruil. Voorbeelde sal wees sleutelhouers, boekmerke, albasters, munte en selfs ‘n helderpienk bra wat ons in een houer gevind het! Die kleinste een wat ons gekry het was ‘n nano-cash kleiner as ‘n pinkienael wat net ‘n repie opgerolde papier in gehad het vir deelnemers om voorletters op te skryf. Sommige skatte is in bome weggesteek, ander onder ‘n klip, ander in gebou strukture en heelwat in houers wat met magnete aan ‘n paal of heinings vas is. Ek het die toep (Afrikaans vir App) op my foon afgelaai en waarookal ons sou gaan of ry was ons op die uitkyk vir ‘n versteekte skat. Ek ry nog dikwels verby die plekke waar ons skatte gevind het. Die heel eerste skat wat ons saam gekry het is onder die houtstruktuur van die pannekoekrestaurant wat reg by die dorpie Haenertsburg se afdraai is. Ek het seker sedert Vlooi se dood alweer 100 keer daar verby gegaan. Hy het ons “username” op die toep gekies; Hannibies. Hy het so lief geword vir my Hannibi skaaphond en sy was 90% van die tyd saam met ons op ons skattejagte. Daar was ‘n geo-cash wêreldbyeenkoms in Haenertsburg en Makgoebaskloof omgewing in 2007 en daar is baie “skatte” in die pragtige omgewing geplaas. Dit was vir ons so lekker om ‘n piekniek te pak, Hannibi in te laai en vir die dag in die bos te verdwyn.

Dit is bitter swaar om iemand so na aan my te moes verloor, maar ek is baie dankbaar vir mooi herinneringe van ons saamwees.

Emosionele afstand – selfs al is dit op papier.

Alkoholisme en verslawing is reeds dekades lank deur die World Health Organisation as ‘n geestesongesteldheid geklasifiseer. Dit is onder andere ook die rede waarom mediese fonds ook voordele het vir rehabilitasie behandeling vir alkoholisme en verslawing. Wat nie so dikwels aan die groot klok gehang word nie, is dat die alkoholisme van een persoon ook die lewens en geestesingesteldheid van tot 16 ander persone kan beïnvloed.

Waar mense fisies of psigies swaarkry, ontwikkel ons maniere om daardeur te kom – die sogenaamde “coping meganismes.” Dit word al jare lank bevind (en in wetenskaplike en mediese navorsing gepubliseer) dat persone na aan alkoholiste ook sulke vaardigehede aanleer. Die geliefde van die alkoholis word ook geestelik siek en wend hierdie “coping skills” aan ten einde die fisiese, finansiële en geestelike effekte van die lewe saam met iemand ander se alkoholisme te kan oorleef. Volgens navorsing is hierdie vaardighede beide probleem- gerig, maar ook sielkundig waar geliefdes poog om die spanning wat veroorsaak word, te probeer bemeester, reguleer, verduur of verminder. Navorsing toon dat spanning ‘n omonwonde deel van die lewe van die geliefdes van die alkoholis word – interessant ongeag of die alkoholis nog drink of nie en selfs ongeag of die alkoholis nog lewe of nie. Persone wat byvoorbeeld ‘n ouer gehad het wat ‘n alkoholis was het nog steeds en baie dikwels jare na die ouer oorlede is probleme met:

  • Hulle word “people pleasers” en verloor hulself maklik in hulle pogings om almal om hulle gelukkig te hou.
  • Hulle word self alkoholiste, verslaafdes, werkverslaafdes of ontwikkel ander kompulsiewe probleme.
  • Hulle probeer konflik ten alle kostes vermy.
  • Hulle het ‘n oordrewe sin vir verantwoordelikheid en vind dit makliker om na ander om te sien as na hulself. Hulle probeer dikwels ander persone red, reguleer or beheer – of so persoon gered wil word of nie.
  • Hulle skakel dikwels alle emosionele reaksie uit hulle lewe en verloor die vermoë om hulle eie emosionele gevoelens op ‘n gesonde manier uit te druk.
  • Hulle is bitter krities op hulself en het ‘n baie lae selfbeeld.

Wel daar is ‘n lang lys – Google gerus die ACA Laundry List as jy meer wil weet.

Ek weet uit eie ondervinding dat alle persone wat saam met enige vorm van verslawing lewe op bewustelike of onbewustelike wyses poog om hulle lewens op koers te hou in die storm wat om hulle woed. Hierdie metodes kan bykans altyd uitloop op die aftakeling van die selfbeeld van die nie-alkoholis. Dit is dan presies vir hierdie rede dat die vrou van die alkoholis, Bill W, wat destyds die AA begin het ook ‘n organisasie begin het vir die geliefdes en familie van die alkoholis wat Al-Anon heet.

Al-Anon kan nie my omstandigehede of verlede verander nie, maar leer my eenvoudige prakiese vaardighede om te verander hoe ek oor myself, my omstandighede en die alkoholis voel. Die program gee my die hoop dat, waar ek eens my lewe as ‘n donker en bitter oorlewingstryd ervaar het, ek weer opgewonde kan voel oor my eie lewe. Ook dat ongeag hoe desperaat ek voel daar steeds rede vir my kan wees om te hoop.

Ek besef terdeë dat alkoholisme nie onderskei nie – dit tref ryk, arm, geleerd, eenvoudig, jonk of oud ewe maklik. Wanneer ek tog dit regkry om my eie vooroordele opsy te stoot, openhartig na ander se insette en ervarings kan luister, kan ek probeer om ook uit ander se ervarings te leer. Waar ek eers desperaat en alleen in my stryd gevoel het, kan ek saam met mede Al-Anon lede iets vermag wat ek eens geglo het onmoontlik was – om die vernietigende afbrekende effek van verslawing te oorkom en te leer om weer my eie lewe weer ten volle te lewe. Ja, ek het ook deur die program geleer dat ek my eie foute en probleme het en dat ek ongesonde maniere aangeleer het om met die fisiese en emosionele situasies te kon deel. Nie elke slegte dag of ramp wat my tref kan ek voor die deur van ander neerlê nie. My eie aksies en besluite het ook gevolge in my lewe.

Ek het baie jare saam met geliefdes gelewe wat verslaaf was – oor hierdie tyd het daar ook heelwat selfvernietigende gewoontes in my ontwikkel en in die Al-Anon program kry ek die nodige gereedskap om hierdie gewoontes te identifiseer en uit die weg te ruim. So om op te som, verslawing is ‘n geestessiekte wat lei tot die fisiese, geestelike en sielkundige bankkrotskap van persone wat ly aan die siekte maar ook van die mense wat vir hulle lief is. Dit is ‘n ongeneeslike siekte en tot vandag is daar nie enige erkende behaldeling wat die siekte genees nie. Die verslaafde kan wel, as hy of sy gereed en gewillig is, die siekte se effek op hulle lewens staak deur die 12 Stap program of ander erkende behandelingsprogramme. My eie reaksies teenoor hierdie siekte was egter ook onredelik maar ook ek kan weer leer om ‘n beter vlak van vrede en genesing in my eie lewe te vind ongeag wat die roete is wat my verslaafde geliefdes gekies het.

Ek het 8 jaar gelede by die AL-Anon program aangesluit. Ek het my kant gebring en die werk gedoen wat ek glo nodig was vir ‘n beter lewe vir myself. Ongeag die besluite van my eerste man (wat ‘n alkoholis was) en my dogter (wat verslaaf was aan heroïne en drank) kon ek daarin slaag om weer te hoop en ten volle te lewe. Selfs toe Vlooi deel van  my lewe geword het, kon ek nog glo in die hoop van die 12 stap program. Toe hy besluit het om sonder waarskuwing uit die lewe te stap het dit my eie welstand op die randjie van die afgrond van wanhoop laat steier. Stadig, een dag op ‘n slag, het ek weer my balans begin terug kry. Behalwe vir die boedel. Vlooi het my benoem as die eksekuteur van sy boedel. Sy boedel is insolvent en bitter moeilik omdat sy eie beplanning en administrasie in ‘n onverstaanbare doolhof verval het as gevolg van sy geestesongesteldheid.

Presies net soos die woorde en dade van my verslaafde geliefdes aanvanklik my emosionele knoppies kon druk, besef ek gister dat die administrasie van hierdie boedel presies dieselfde doen. Ek het ‘n professionele kwalifikasie om boedels te doen – ek weet presies wat om te doen en ken die reëls op die palm van my hand – maar ek voel so emosioneel verpletter wanneer ek met die boedeladministrasie te doene het. Elke e-pos, eis of nuwe inligting wat ek ontvang ontstel my – soms sien ek ‘n boodskap gaan oor die boedel maar ek vermy dit want ek is bang om uit te vind waaroor dit gaan. Ek voel in die donker, teleurgesteld, skaam en terselfdertyd woedend oor die stand waarin Vlooi (wat ook ‘n professionele gekwalifiseerde persoon was) sy eie sake gelaat het wetende dat ek die kole uit die vuur sal moet krap.  Ek dink ook nie dat dit gebeur omdat ek doelbewus oor die probleme dink of die bobbejane van agter die berg aanjaag nie – dit gebeur basies outomaties, sonder dat ek daaroor dink. Hierdie reaksies en oor-reaksies in ook maar deel van die trouma wat in my selle agterbly en wat tyd en werk gaan neem om op te los.

Ja ek kan bedank as eksekuteur – dit is ook nie slawerny nie. Ek het ook lank hieroor gewonder, maar ek wil dit tog doen want dit sal die mense wat agterbly baie help en ek het wel die vaardigheid en tyd om dit te doen. So daar leer ek toe ook weer hierdie week iets nuuts – net soos wat ek emosionele afstand moes kry tussen my eie lewe en die van my verslaafde geliefdes sal ek emosionele afstand moet kry tussen myself en hierdie proses om die boedel af te handel. Ek moet eenvoudig een dag op ‘n slag vat, deur die lysies van stappe, moets en moenies gaan en deur hierdie oerwoud kom. Wanneer iets onverwags in my gesig geswaai word, moet ek terugstaan en dit nie as ‘n persoonlik aanval ervaar nie. Nee, dit gaan nie maklik wees nie maar as ek dit nie doen nie gaan dit onmoontlik wees vir my om heel anderkant uit te kom.

Dalk is die ideaal om ‘n “growndown” te wees.

Ek besef dat ‘n groot deel van my genesing hang af van my eerlikheid met myself. Dit klink dalk eienaardig – mens kan tog nie vir jouself lieg nie?! Tog, het ek, wanneer ek swaarkry sekere gewoontes en maniere aangeleer. Ten einde beter te kan funksioneer of party moeilike dae net te oorleef, gebeur dit tog dat ek my eie leuens glo. Baie dae is daar nie genoeg van die luukse van tyd om werklik aan my selfsorg die aandag te gee wat nodig is nie.

Dit is nou 10 maande na Vlooi se selfdood en ek is verbaas hoe erg ek nou verlang. Ek is bevrees dat ek gaan vergeet hoe hy geruik het. Hoe sy stem klink as dit net ons is en hy sag en rustig iets met my bespreek. Hoe hy my naam gesê het. Ek het deur baie stemboodskappe op my selfoon geluister maar nie een klink vir my presies soos hy dit in persoon gesê het nie. As my Hannabi skaaphond verby my loop onthou ek dat hy nooit vir haar Hannabi genoem het nie – altyd Hannabi’tjie. Gister sien ek ‘n diep oranje puffer-baadjie in ‘n winkel en dink dadelik hoe lief hy daarvoor was om helder kleure, maar veral oranje te dra. Iets wat ek ook nog elke dag mis is hoeveel ons gespeel het. Ek het dit nie regtig van myself besef voordat ek vir Vlooi ontmoet het nie, maar ek is mal oor speel – balspeletjies, rakketspeletjies, bordspeletjies en kaartspeletjies. Ons het sommer maklik ‘n werkbreuk gevat en ‘n rondte veerpyltjies gespeel, croquet in die agterplaas of as ons met vakansie was die hele dag lank kaart- en bordspeletjies gespeel.

Hannabi’tjie hou ‘n ogie oor ons terwyl ons in ‘n bergpoel speel.

Die afgelope AA en Al-Anon Nasionale kongress se tema was: “We are not a glum lot.” Uit my persoonlike ondervinding werklik ‘n raak beskrywing van die organisasies se lede. Die een spreker verwys na die aard van ‘n spelerige jong perdjie of hondjie voordat hulle ingebreek is en net uit hulle velle opgewonde is en heeldag speel en huppel. Sy het in die harde en hartseer dae van haar man se alkoholisme gevoel dat haar gees gebreek was – soos iemand wat ‘n perd hard inbreek as die perd daarteen probeer veg. Sy het haarself en haar familie vergelyk met ander en het altyd sleg tweede gekom in haar eie kop. Maar sy vertel ook dat sy genesing gevind het. Haar genesing het begin toe sy opgehou het om teen die god van ander se begrip te baklei en te vertrou in ‘n liefdevolle God van haar eie begrip – die enigste manier hoe sy haarself kon genees en heel maak totdat sy weer die lus gehad het om sommer net te vier dat sy lewe, in die gras wil huppel of rol en haar innerlike kinderlike gees wat nuuskierig is, spelerig is en uitbundig is, elke dag kan uitlewe.

Later vertel die seremoniemeester van die sessie ‘n staaltjie wat met hom en sy kleindogter gebeur het. Hy, die oupa, en sy sit en ontbyt eet in die boomhuis wat hy vir haar gebou het. Hy het koffie met beskuit en sy eet roomys met sjokoladesous vir ontbyt. So tussen die happe sê sy: “Oupa ek is baie lief vir jou. ”  Hy antwoord toe ja, dit is omdat ek jou toelaat om roomys vir ontbyt te eet. Maar sy meen nee, dit is nie die eintlike rede nie en voeg by: “Jy is anders as ander grootmense.” Hy vra haar toe hoe sy dink hy anders is en na ‘n lang stilte kom sy tot die slotsom in Engels: “You are more of a growndown than a grownup.”

Ek kan daarmee identifiseer, my eie oupa was ook ‘n alkoholis in die AA progam. Dit was vir my net so lekker om saam met hom te kyk hoeveel verskillende veldblommetjies ons kan tel, vir die bergskilpad sy eie groentetuin aan te lê naby die beessuiping waar hy graag gaan drink, met ons blikbekertjies warm skuimende melk in die melkstalle proe en ons verwonder aan die vlieswolke in die lug waar die engeltjies (volgens oupa) alweer nie mooi gevee het in die hemel nie.

Ek sien nog vir Vlooi oral raak en ek verlang nog elke dag. Ek lieg vir myself as ek dink ek gaan hierdie pakkie maklik of vinnig neersit en aanbeweeg. Ek wil dit natuurlik doen. Ek wil nie in hierdie groef vangevang bly nie maar dit is moeilik. Dit vat tyd. Dit vat werk – wat ek bereid is om te doen en wel soveel doen as wat ek kan regkry. Ek glo ek gaan ook al die herinneringe van hom kan koester van alles wat ons saam beleef het en saam geleef het in oorvloed. Soos wat ek vandag met ‘n glimlag my oupa kan onthou. Totdat ek ook weer my innerlike kinderlike gees ten volle kan uitleef en net wees soos wat die liefdevolle en genadige God van my eie begrip vir my bedoel het om te lewe.

Dankbaar vir wat?!

Ek het die paasnaweek die jaarlikse 12 Stap saamtrek bygewoon in Pretoria. Dit is die derde keer wat ek dit doen en vir my was dit telkens ‘n werklike besonderse ervaring.

My 12 stap “sponsor” (’n Spirituele gids wat alreeds deur die pogram gewerk het) het my gevra om elke dag 3 dinge waaroor ek dankbaar is vir haar te stuur. Ek kom agter dat ek tans in ‘n proses is om deur my gevoelens en emosies te werk – en dat dit nie maklik is nie. Om weg te kruip, niks te doen, niks te voel nie, te slaap, tuis te bly en te isoleer van die wêreld en van mense is net baie makliker.

In die laaste sessie vertel ‘n man sy storie. Hy was gebore in ‘n huis met ‘n aggressiewe, alkoholistiese pa. Op ‘n stadium in sy storie sê hy: “My God het geweet dat daardie pa die beste pa vir my sou wees en daarvoor is ek dankbaar.” Ek dink so by myself: “Sjoe dis bietjie dik vir ‘n daalder!” Hy is nou ‘n volwassene en dis maklik om te sê maar wat van al die bang en verwarde kleutertjies en kindertjies wat swaarkry in sulke omstandighede? Hy was tog ook daar? Hy moet dit seker ook verstaan?

Ek het vroeg-vroeg in die 12stap program geleer dat dit die menslike instink se basiese emosionele oorlewensplan is: Skakel alle emosie af. Ek voel nie meer nie – ek doen net. Ek bestaan, ek survive, ek hou uit. By mense wat in sulke omstandighede grootword, word dit ‘n baie dieper deel van hul wese as die res wat bloot uit spesifieke trauma dit aangeleer het. Interessant, ek het dit al baie gelees en gehoor, maar selfs wanneer so persoon NIE meer saam met die alkoholisme of verslawing leef nie, bly hulle lewensuitkyk steeds verwronge. Mense wat met alkoholisme groot geword het, of daarmee saamgeleef het, moet die gevolge van die siekte op hule eie lewens erken, deur die emosies werk, (Wat onder die mat ingevee was) en van voor af leer om werlik en ten volle te lewe. Volwasse mans en vrouens moet van voor af leer om hulle gevoelens sonder vrees te kan oordink en verwerk, vir hulleself te sorg en in gesonde verhoudings saam met ander mense te kan lewe.

In die dagstukkie vir 12 April  lees en hierdie woorde: “Wanneer ek ontsteld is en oortuig is dat daar nie ‘n weg uit my ellende is nie, is dit maar net omdat ek glo dat alle oplossings uitsluitlik van my eie krag afhanklik is. Dalk is dit omdat die swaar vrag wat ek moes dra my laat begin twyfel het, dalk is dit omdat ek nog altyd met vertoue in Iets of Iemand groter as ekself gesukkel het. Die feit bly dat my lewe net makliker kan wees as ek, wanneer ek besef dat my krag te min is, kan vertrou dan Iets of Iemand groter as ek wel kan en dan werklik daardie pakkie kan neersit. As ek logies daaroor dink – ek maak myself tog net onnodig moeg om iets swaars rond te dra wat ek in elk geval reeds weet ek nie kan verander nie.”

Hierdie stukkie is so eenvoudig maar tog so duidelik. Niemand hoef die lewe op sy moeilikste “level” deur te draf nie. Dit is ok om nie ok te wees nie. Dit is aanvaarbaar om moeg te word, hartseer te wees, moedeloos te voel en om te rus. Toe ek dit gelees het het ek nogal gedink, hierdie is goeie raad, vir almal, nie net persone wat saam met alkoholisme, verslawing of trauma leef nie. Ook nie net vir gelowige persone nie – al glo iemand nie in ‘n goddelikheid nie moet hulle ook sekerlik erken dat daar dinge is wat hulle nie kan beheer of beinvloed nie?

Dit bring my terug na die man wat so dankbaar is vir sy alkoholis pa. Dit het sy lewe wel ontspoor en in sy eie woorde het hy teen ouderdom 38 niks oor gehad nie, was verslaaf aan dwelms en omdat hy nie meer van sy eie trots of krag oorgehou het nie kon hy uiteindelik om hulp vra. Hy is dankbaar dat sy pa ‘n alkoholis was want as gevolg van die effek wat dit op sy lewe gehad het het hy die 12 stap program ontdek. Hy is dankbaar want hy oorleef nie meer nie – hy lewe nou ten volle en hy hoef nie meer sy emosies op te krop, vir die mensdom weg te kuip of ‘n onnodige swaar vrag met hom saam te sleep nie.

Ek gaan nou deur ‘n moeilike tyd emosioneel. Toe Vlooi nog gelewe het was ek dikwels besig om vure dood te slaan en planne te beraam. Na sy selfdood het die boedel en administrasie gou in ‘n nagmerrie ontwikkel. Nou kom die emosies. Dit is 9 maande later maar die eensaamheid is kil en hard. Die moedeloosheid en wanhoop wat ek nou op ‘n daaglikse basis ervaar is erger as wat ek dit ooit ervaar het.

Tog is ek dankbaar. Ek het vroeër vandag so bietjie getob oor die 3 redes tot dankbaarheid wat ek vandag vir my sponsor sal stuur. Rebels daaraan gedink want ek was nie lus om vir iets dankbaar te wees nie. Ek voel nie goed nie – ek voel %$#@. Tog, toe ek myself dwing om daaraan te dink het my ingesteldheid verander – ek het my “dankbare brille” opgesit en ek kan nou weer beter sien. Ek is veral dankbaar dat ek die 12 stap program leer ken het. Dat daar mense is wat so dankbaar is vir hulle herstelproses dat hulle weer na ander uitreik. Ek is dankbaar dat dit eenvoudig is – dat daar nie reëls of moets en moenies is nie en dat ons elkeen teen ons eie spoed ons pad van herstel kan stap. Ek is dankbaar dat ek nou hierdie pakkie kan neersit en vertou – ek kan nie alles fix nie en dis ok. Ek hoef ook nie alles alleen te dra nie. Ek is oorweldig met dankbaarheid soos die warm trane nou hier oor my wange kronkel.

Verwyte

Verwyte. Dit gebeur. Ek weet ek moet dit nie dink nie, maar dit oorval my. Ek het besluit om alles waaraan ek kan dink uit te skryf en dit net uit my sisteem uit te kry.

As ek dalk maar net daardie oggend op die stoep bly sit het totdat hy dit kon regkry om te praat. As ek maar net nie opgestaan het om te gaan koffie maak het nie. Ek het gedink dit sal hom geleentheid gee om sy gedagtes en moed bymekaar te kry – dit was vir my baie duidelik dat hy in erge emosionele wroeging was. Ag waarom het ek hom daar alleen gelaat? Ek wens ek het langer na hom geluister. Dit was nie maklik vir hom om oor moeilike goed te praat nie. Ek wens ek het langer deur die stiltes gesit. Dalk sou hy dan nog iets kon sê. Dalk sou hy kon vra vir hulp.

Ek wens ek was nie by tye besig en ongeduldig nie. Ek wens dat ek nooit enige sarkastiese op- of aanmerkings gemaak het as ek ongeduldig was nie.

Ek wens ek het meer dikwels vir hom vertel hoe lief ek hom gehad het en in soveel woorde. My liefdestaal is geskenke en dade – maar ek wens ek het dit meer gesê ook.

Ek wens ek het meer met hom gesels oor die 12 stappe. Dat ek dit beter verduidelik het. Ek moes meer oor my eie recovery met hom gedeel het.

As ek die tyd kon terugdraai – ek het twee keer boodskappe vir die dokters wat hom behandel het gestuur om te sê dat ek glo dat daar groot fout by hom was. Ek wens dit was makliker om ‘n vinger te sit op geesteskwale, dit voel so blurry – is dit werklik sielkundige dissosiasie wat ek waarneem of dalk net ‘n slegte dag of dalk is hy net baie dronk of bietjie deurmekaar? Waar is die lyn tussen wat maar elke dag met gewone mense skeefloop en erge geestesongesteldheid? As ek die tyd kon terugdraai sou ek aangedring het dat die dokters iets doen – hom laat opneem vir observasie ten minste. Dalk sou húlle iemand kon help wat nie geweet het dat hy hulp nodig het nie. Ek wens ek kon tot hom deurdring op daardie stadium. Ek moes ten minste probeer uitvind het van maniere om met iemand te kommunikeer wat in sy eie realiteit lewe.

Die naweek voor sy dood het Koos Kombuis opgetree in Pretoria. Hy wou graag die konsert gaan sien en ek het vir ons kaartjies gekoop en by ‘n gastehuis bespreek om na die konsert oor te slaap. Die oggend van die konsert wou hy egter nie meer gaan nie maar ek het hom feitlik afgepers om te gaan. Aan die een kant het hy die konsert geniet – hardop gelag by tye en ook plek-plek saamgesing. Hy het drie ure oppad Pretoria toe in die kar gesit en huil terwyl hy die een glas wiskey na die ander drink en dieselfde oppad terug. Hy was so verskriklik depressief alreeds op daardie stadium. Ek wens ek het dit net gelos – dat ek nie aangedring het dat ons konsert toe gaan nie.

Ek kan nie onthou wanneer hy vir my vertel het dat hy sy voorskrifmedikasie opgehou drink het nie. Hy het wel bygevoeg dat hy dit in oorleg met sy psigiater doen, wat nie die waarheid was nie. Dit het ek eers na sy dood by sy psigiater uitgevind. Ook dat hy afsprake met sy psigiater gemaak het, maar eenvoudig nie opgedaag het daarvoor nie. As ek dit maar daardie tyd geweet het. Hoekom het ek nie vir hom uitgespel hoe gevaarlik dit is dat hy nie sy voorskrif medikasie wou neem nie?

Hy het in die begin van die jaar begin om helikoptervlieglesse te neem. Dit het baie reis geverg, vreeslik baie geld gekos en lank geneem. Die mediese ondersoeke vir voornemende vlieëniers vereis onder andere dat so persoon nie anti-depressante medikasie moet neem nie. As ek maar vir hom gesê het dat hy nogsteeds amazing sou wees al vlieg hy nie helikopters nie. As ek maar geweet het dat dit eintlik was waarom hy die medikasie wou los. Ek wens ek het harder probeer om vir hom te verduidelik helikopter vlieg is net ‘n vaardigheid – dit kan nie definieer wie hy is nie. Dat dit ook ok is om iets te begin maar dit nie te kan klaarmaak nie. Dit voel asof sy droom om ‘n vlieënier te wees uiteindelik sy dood beteken het. As ek hom maar kon oortuig dat dit nie so belangrik was nie.

Hy was 15 jaar jonger as ek. As gevolg van my swak selfbeeld het ek dikwels getwyfel of ek mooi, jonk, slim en goed genoeg was vir hom, al het hy so dikwels vir my verseker dat dit so was. Ek wens ek het geglo wat hy vir my gesê het. Ek wens ek het toe ons saam was, geleef asof ek goed genoeg en spesiaal was net soos ek is.

As ek maar net  . . .

As is verbrande hout.

Die snyende skerwe van gebreekte drome.

Wanneer ‘n mens saam met verslawing of alkoholisme lewe, leer meeste mense om hulle eie emosies te begrawe of te vermy. Ten einde die soms plofbare en dikwels onvoorspelbare huislewe saam met ‘n veslaafde geliefde te ooleef het ek dit net makliker gevind om my rug te draai op die dogtertjie binne in myself. Die dogtertjie wat baie keer bang was, of nog bietjie wou dag-droom en wat egte trane wou huil oor die dinge in die lewe wat vir haar hartseer of moeilik was. Wat kon huppel en speel en lag vir die klein dingetjies wat haar hart aanraak.

‘n Hele paar jaar gelede het ek die belaglikheid daarvan besef om emosieloos in “survivor mode” deur die lewe te gaan. Ek het doelbewus vaardighede aangeleer om my emosies toe te laat om te kom en gaan sonder om op een plek – goed of sleg – vas te haak.

Die skok van Vlooi se skielike dood aan sy eie hand het weer die emosies bedwing. Ek dink dit is maar deel van daardie veg, vlug of vries reaksies. Oospronklik het ek net skok en ongeloof ervaar.

Die emosies wat eerste in my kop kom draai het was magteloosheid en woede. Ek het dikwels deur die nag of dag myself in kamma gesprekke met Vlooi bevind in my kop. In hierdie gesprekke het ek dan aan slim dinge gedink om te sê of doen wat sy selfdood sou kon verhoed. Dit is anders as die verwyte – eerder lang gesprekke wat ons met mekaar sou hê oor belangrike dinge in ons lewens. Meer as ‘n maand na sy dood, versoek die lewensversekering dat ‘n verklaring van die SAPS beampte, wat sy dood ondersoek het, ingedien moet word. Ek is die eksekuteur van sy boedel. Ek maak ‘n afspraak en daag betyds op by die Polisiestasie. Ek het regte studeer en lank gewerk as ‘n prokureur in my lewe, maar niks kon my voorberei op daardie dag nie. Die vrae is hard en koud. Dit is persoonlik. Het julle moeilikheid gehad?  (Ek is verdagte nr 1) Was julle gelukkig? (Wat sou my motief wees?)  Wat het vooraf tussen julle gebeur? Hoekom sal hy so iets doen? (Kyk as ek dit verstaan het was alles dalk so bietjie makliker – of erger?!) Waar op sy liggaam het hy merke, vlekke en beserings gehad? (My brein vries – ek weet sy een voet het gebloei en probeer die prentjie oorspeel in my kop maar ek kan glad nie onthou watter voet nie!) Was iemand anders by toe dit gebeur het? (Dalk soek ons ‘n ander getuie as jy nie geloofwaardig is nie.) Ek probeer my “pose” hou maar dit is regtig nie maklik nie. Ek worstel deur die onderhoud en vrae. Ek fokus daarop om net te antwoord wat ek weet en niks meer nie. Ek huil byna die hele tyd terwyl ek die koue feite van daardie kille dag weer uitspel. Dit alles vir die een velletjie A4 papier met woordjies en die SAPS stempel op. Maar dit is gedoen.

En toe ook woede. Nie net ook die keuse om uit die lewe te stap nie, ook die finansiële en administratiewe chaos wat agterbly. Beplanning en voorsorg wat ons saam bespreek het wat net agterweë gebly het. Dokumentasie wat net verlore of deurmekaar is of sommer net nie is nie. Natuurlik weet ek Vlooi was siek en nie regtig in staat om al hierdie dinge te doen nie, maar die woede in my wil dit nie verstaan nie.

Woede oor verlore drome en onuitspreeklike pyn en gemis in my lewe. Ten tyde van sy dood was ons net minder as vier jaar saam. Ons het ses maande voor sy dood huis gekoop en verbeterings aangebring. Ons het saam gewerk en deur ons koppe bymekaar te sit nuwe moontlikhede vir uitbreiding gevestig. Ek het regtig geglo in ons toekoms saam. Ek het geweet dat ons ‘n baie goeie span was. Sommer net so, sonder waarskuwing, was net mooi niks van al hierdie drome, planne en beloftes oor nie. Dit laat my so magteloos…. bang …. oorweldig. Ek voel skaam, in die steek gelaat en verneder. Ek is bitter telerugesteld, leeg en voel so minderwaardig. Ek is totaal oorweldig deur die vooruitsig om my lewenspad sonder Vlooi te moet voortsit. En dan is daar ook die dae wat ek net geen idee het hoe ek voel nie.

Woede is nie ‘n mooi emosie nie. Woede en frustrasie kan makliker by my manifesteer wanneer ek probeer om mense en situasies te verander wat buite my beheer val. My selfvertroue en emosionele welsyn vebeter wanneer ek my hande afhou van alles en almal waaroor ek nie beheer het nie en dit op myself sit. Ek baat soveel meer daarby om te werk aan die dinge wat ek wel kan verander as om vas te haak op die plek waar ek vir Vlooi (of enige iemand anders) kwaad bly. Ek het keuses. Ek kan kies om in woede vasgeketting te bly of ek kan my selfbeeld bou deur verantwoordelikheid te aanvaar vir my eie emosionele welstand. Die hoe, wat, waar en wanneer van die uitleef van my eie emosies is iets waaroor ek wel beheer het. Soos die Engelsman se: “Pain is inevitable but suffering is optional.”

Daardie klein kindjie wat in elkeen van ons is – hy of sy het geweet hoe om die lewe een dag op ‘n slag te lewe, het gehuil oor die hondjie wat dood was, maar kon aanbeweeg.  Daar is ‘n eenvoud en kinderlike opregtheid in my wat reeds verstaan hoe om die lewe werklik te ervaar en geniet. Om ten volle te lewe, in elke oomblik van elke dag en om daardie dinge wat ek nie kan beheer nie oor te laat aan Iemand wat kan. Dit is dan ook vir hierdie rede dat ek aanhou lees, Al-Anon goepwerk doen en groep besprekings bywoon en die belangrikste van alles – waarom ek nog hoop dat dit beter sal word.

Die slot wat nie ‘n sleutel het nie

Maar hoekom?

Hoekom sal iemand wat so hoogs intelligent en gewild is uit hierdie lewe wil uitstap op so gewelddadige wyse? Waarom moet dit met my gebeur dat ek moet agterbly?

Hoekom bewe ek so? Hoekom kry ek terugflitse? Hoekom kan ek nie slaap nie? Hoekom kan ek nie konsentreer en werk soos ek voorheen kon nie?

Wanneer die aanvanklike skok en trauma so bietjie bedaar het, kom die vrae. Hoe kan iemand wat vir my lief is so iets aan my doen? Ekself wat vir 8 jaar reeds in die 12 stap program geleef het, het al soveel keer gehoor dat alkoholiste en verslaafdes sê dat hulle ‘n uitkoms uit die donker gevind het deur genade. Hoekom was daar nie sulke genade vir Vlooi nie? Of as dit daar was . . . hoekom kon hy  nie net se hand uitreik en dit gryp nie? Hoekom het hy sy voorskrifmedikasie gelos? Hoekom kon ek dit nie vir hom beter maak nie? Hoekom het ek nie besef dit gaan gebeur nie? Waarom kon ek dit nie stop nie?

Ek het so verlate en verraai gevoel deur die persoon wat die naaste aan my was. Hierdie vrae het letterlik dag en nag in my kop gedraai. Ek het nog nie heeltemal vryheid van hierdie emosionele maalkolk in my kop gevind nie.

Ek het vir my ‘n boek gaan koop – twee dae na Vlooi se dood. “Surviving Suicide Loss” deur R A Schulte, ‘n sielkundige,  uitgegee deur Northfield Publishing.

Die feit is dat Vlooi siek was. Dat hy regtig geglo het dat hy moet doodgaan – hy kon letterlik geen ander uitkoms sien nie. Hy het letterlik geglo dat die wêreld, maar ook ek, beter af is sonder hom. Negentig persent van persone wat selfmoord pleeg ly aan ‘n diagnoseerbare geestesongesteldheid – Vlooi het ook. Amper een derde, 29% van persone wat ly aan alkoholisme neem hulle eie lewens.

Na al die waaroms, kom die verwyte – ek moes eerder dit . . . . ek moes eerder nooit . . . . hoekom het ek nie . . .  waarom kon ek nie . . .

By een van die eerste Al-Anon vergaderings wat ek bygewoon het, na Vlooi se selfdood, vertel ‘n vrou van haar heelword na haar alkoholis seun se selfdood. Die eerste stap van die 12 stappe: Step 1: “We admitted that we were powerless over alcohol — that our lives had become unmanageable.”  Die vrou vertel hoe dit tot haar deur gebreuk het dat sy magteloos is om die feit van haar kind se selfdood te verander. Dit maak nie saak hoe lank sy daaroor tob nie. Dit maak nie ‘n verskil hoeveel vrae sy vrae of hoeveel skuld sy op haarself – of enige iemand anders – kan laai nie. Sy is magteloos om enige jota of tittel verskil te maak aan die feit dat haar seun gekies het om uit hierdie lewe uit te stap. (Al-Anon is ‘n 12 stap gebaseerde organisasie wat ondersteuning verskaf aan familie en vriende van persone wat verslaaf is of alkoholiste is. Die ondersteuning bestaan uit leesstof, werkswinkels en groepsterapie sessies.)

Nee, Vlooi se selfdood was nie oor my nie. Dit was nie my skuld nie. Daar was niks wat ek kon doen om dit te verander nie en daar is steeds niks wat ek kan doen om dit te verander nie.

Tog het ek gevoel dat ek nie regtig kan aanbeweeg as ek nie dit verstaan nie. Ek dink dit was my grootste beweegrede om die boek te gaan koop. Ek is outyds, as ek iets wil verstaan is You Tube die laaste plek waar ek gaan soek maar die boekwinkel die eerste. Dit is maar soos ek aanmekaar gesit is. Ek weet dat ek ‘n baie meer logiese as emosionele wese is. Ek verkies om te verstaan hoe goed werk en hoe dinge in mekaar steek.

Uiteindelik het ek besef dat my emosionele en innerlike genesing nie afhanklik daarvan kan wees dat ek die hoekoms en waaroms sal verstaan nie. As ekself net dink aan die mens se ontsaglike sterk oorlewingsin, dan weet ek dat Vlooi dit nie kon regkry omdat hy die mense wat vir hom lief was te na wou kom nie. Al wat sin maak is dat hy dit moes doen om die onverstaanbare, persoonlike pyn en sielelyding waarin hy gelewe het te beëindig. Dit is seker maklik om terug te sit en vingers te wys en te beweer dat hy die meeste van sy lyding self veroorsaak het. Vingerwys is altyd maklik – ek dink. Nog steeds of iemand se lyding ‘n gevolg is van sy eie keuses of nie,  bepaal nie regtig hoe erg dit vir so ‘n persoon is nie.

In ‘n ander Al-Anon vergadering vertel ‘n man, wat ook agtergebly het na selfdood, dat hy aanvaar het dat ons elkeen ‘n pakkie moed gekry het om ons deur die lewe te dra. Hy glo dat sy geliefde wat homself om die lewe gebring het se moed eenvoudig opgeraak het. Net soos ons almal se harte, longe, niere ensovoorts nie ook presies ewe lank sterk bly nie. As ek regtig genesing wil vind na hierdie traumatiese ervaring sal ek my “reg” om te moet verstaan of weet opgee en net aanvaar wat ek nie kan beheer nie.

Onverstaanbaar – dit beteken tog dat dit nie moontlik is om te verstaan nie. So die hele waarheid is: As ek soek na die waaroms, is dit dieselfde as om te soek na die sleutel van ‘n slot wat nooit ‘n sleutel gehad het nie. Al is dit so dat die selfdood van ‘n geliefde ‘n mens agterlaat met vrae, skuldgevoelens, skaamte, skande en verwyte kan ek berus en aanvaar dat dit nie my skuld is nie, dat ek dit nie kon veroorsaak het nie, dat ek dit nie kon keer nie en dat die selfdood van my geliefde net nog een van daardie dinge in hierdie ou wêreld is wat ek nie kan beheer nie.

Stap 1 – hier is ek weer . . .

Ek het vir ‘n aantal jare my groeiproses en heelword beskryf nadat my enigste kosbare dogter verslaaf geraak het aan heroïne en my oorlede man sy stryd teen alkoholisme verloor het.

Deur hierdie herstelproses het ek besef dat selfsorg vir my belangrik is – dit sluit gereelde oefening in en ook om nie sosiaal te isoleer nie. Ek oefen Woensdae by die plaaslike atletiekklub waar almal verskillende afstande kan aflê, so vinnig of stadig as wat hulle kan, en waarna almal welkom is om te braai en ‘n drankie of wat te geniet. Einde Oktober 2018, op ‘n Woensdag, braai ek en vriende by die plaaslike atletiekklub na die middag se oefening. Nog iets wat daardie week gebeur het is dat ek, 3 ½ jaar na my man se dood, besef het dat ek eensaam was. Ek het besluit dat dit tyd is om uit te reik en nuwe mense te ontmoet.

Die man wat die Woensdagaand agter die klubkroegtoonbank werk is skerp en vriendelik en ons gesels sommer baie lekker. Die volgende Woensdag is hy weer daar, kom ons noem hom Vlooi,  en ons kuier weer net so lank en lekker. ‘n Paar dae later nooi ek hom en ‘n paar vriende om by my te kom eet. Daardie aand vra ek hom of hy kans sien om op een date saam met my te gaan – as hy daarna voel hy wil my nie beter leer ken nie, dan aanvaar ek dit so. Dit was die begin van ‘n verhouding van amper 4 jaar. En…ook my tweede verhouding met iemand wat die stryd teen alkoholisme stry. Nee, ek soek nie mense so uit nie, ek kan eerlik hier skryf dat ek nie geweet het van my man of Vlooi se probleem toe ek hulle ontmoet het nie.

Op 12 Julie 2022 kniel ek langs Vlooi in sy eie bloed en wag angstig op die ambulans nadat hy sy eie lewe geneem het. Die ambulans was nie betyds nie – inteendeel – ‘n mediese chiruch het my meegedeel dat as so ‘n besering binne in ‘n teatersaal sou gebeur, met ‘n span dokters gereed om te opereer, sou hulle ook nie ‘n verskil kon maak nie.

En skielik sit ek met die trauma. Die slapeloosheid. Die terugflitse. Die vrae. Ek voel dat alles wat ek oor die jare gedink, geglo en geskryf het oor my herstelproses van die gevolge van verslawing net leuens was. Ek was stukkend. Sonder hoop. Ek kan nie regtig sê sonder vrede of hoop nie – daar was nie eers sprake van verlangs dink of droom van vrede in my gemoed nie. Ek kon nie onthou wat hoop was nie.

Ek het destyds my herstelproses begin neerskryf in die hoop dat iemand daaruit sou kon baat of leer of ten minste net voel dat hulle nie alleen is nie. Die neerskryf en deurlees daarvan het ek egter baie terapeuties gevind. Ek het nou weereens besef dat die oorlewendes van ‘n selfdood almal swaarkry en meestal stoei met dieselfde vrae en doodloopstrate. Ek het ook besef hoe verskriklik alleen hierdie proses is.

 Daarom het ek besluit om my herstelproses van Vlooi se selfdood ook neer te skryf.

“Suicide does not end the pain. It only lays it on the broken shoulders of survivors.” ‘n Aanhaling van A Scheinin deur D Connoly in sy boek: After life: What the Bible really says. (‎Intervarsity Printers 1995)

Terwyl die polisie en die ambulansmanne hier aankom en alles doen wat hulle moet doen skakel een van Vlooi se kliënte my want hy antwoord nie sy selfoon nie. Hy kon nie glo dat dit waar was nie. Wel niemand kon nie. Vlooi was “Superman”. Almal was lief vir hom, het op hom staat gemaak, wou saam met hom tyd spandeer. Maar selfs Superman het hulp nodig gehad. Ongelukkig kon hy dit nooit regkry om hulp te vra en te aanvaar totdat dit te laat was nie. In die tyd voor sy dood was hy dikwels heeltemal in dissosiasie. Dit is ‘n term uit die sielkunde om te beskryf wanneer ‘n persoon heeltemal sy/haar kontak met realiteit verloor wat ‘n direkte gevolg is van ernstige geestesongesteldheid en glad nie deur so persoon beheer kan word nie.

Alhoewel ek Vlooi nie so lank geken het nie het ons mekaar in ‘n kort tydjie baie goed leer ken omdat ons so baie tyd saam spandeer het. Ons was saam deur lockdown. Daarna het ons het albei vanaf ons tuiskantore gewerk. Ons het ook ons vrye tyd saam spandeer omdat ons dieselfde stokperdjies gedeel het: Rubix Cube, Stap, Bergfietsry, Geo-Cashing, Muurbal, die Wildtuin en kampeer, brug speel en nog baie ander. (Oor die fotos van Vlooi: Anonimiteit is ‘n voorreg van die 12-stap program, ek gaan nie ‘n persoon wat aan verslawing ly se anonimiteit van hulle ontneem sonder hulle toestemming nie.)

Dit het ook gebeur dat ons tog soms elders kliënte moes sien of ander verpligtinge nakom weg van ons tuiskantore af. Hy het graag sy laptop uitgedra stoep toe en daar gewerk. Op een so geleentheid watsapp hy vir my fotos van ‘n klein voëltjie wat op die stoep op sy been en later op sy hand kom sit het. Hy was so sagte siel met ‘n vreeslike sagte hartjie wat so maklik gebreek het. Nee, hy was nie ‘n swakkeling nie. Hy het die Comades Maraton voltooi, Ironman en Two Oceans. Hy was ‘n gekwalifiseerde professionele belastingkundige. Hy was hoogs intelligent, geniaal eintlik. Hy het ‘n ontsaglike algemene kennis gehad, hy was ‘n borrelende vrolike mens en hy het ‘n wonderlike menslikheid gehad – hy het mense, name, gesigte en situasies onthou en vriendskappe vir ‘n leeftyd gesmee. Een koue winteroggend oppad wildtuin toe, trek hy sy sweetpaktop uit en skenk dit vir ‘n hawelose man wat staan en koud kry – net een van vele voorbeelde.

Ja, borrelende vrolike mense ly ook aan geestesongesteldheid. Ja, hulle probeer dit ook wegsteek – soos soveel ander en grotendeels oor die skaamte en skande. Die stryd teen alkolisme het nie n baadjie nie. Geestesongesteldheid, verslawing, alkoholisme – alles al dekades lank erken as siektetoesande maar steeds gekoppel aan stigma en oordeel.

Vlooi het werklik gely – erg gely. Daar was dae (en ‘n paar keer was dit weke) wat hy net kon lê en huil en vir niks anders kans gesien het nie. Daar was tye wat hy gebewe het soos ‘n honderdjarige. Hy het 5 keer aggressiewe en lewensgevaarlike epileptiese aanvalle gekry wanneer hy ophou drink het. Hy was ‘n paar keer in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem na sulke aanvalle. Hy het finansiële, sosiale en emosionele probleme met familie, vriende en kliënte ontwikkel as direkte gevolg van sy verslawing en geestesongesteldheid.

Ongelukkig het Vlooi ook aan die begin van 2022 opgehou om sy voorskrifmedikasie te gebruik. Ek kon nie al hierdie dinge en besluite verstaan nie, maar dit was ook nie vir my moontlik om vir hom besluite te neem nie. Hy het al voorheen besluit om heeltemal op te hou drink vir 7 jaar lank en in die tyd wat ons saam was het hy ook ‘n paar maal besluit om alkohol heeltemal uit te skakel, maar sodra hy trauma of spanning ervaar het,was die struikelblokke maar net te groot. Later, dink ek het hy maar aanvaar dat niks hom sou kon help nie.

Ek onthou dat hy ‘n week voor sy dood vir my gesê het dat daar groot fout met hom is en dat ek die enigste mens is wat hom kan help. Ek weet nie hoekom ek so gedink het nie, maar ek het gedink ons het tyd. Toe hy dit vir my gesê het, was hy nie nugter nie. Hy was baie emosioneel en ek het geweet dat dit nie die regte tyd was om regtig daaroor te praat nie. Die week wat daarop gevolg het was nie regtig beter nie. En toe…die dag voor sy dood ry hy na sy geboortedorp toe en neem soveel alkohol in dat hy iewers op ‘n sypadjie bewusteloos neergeval het. Hy het nie geweet waar hy sy voertuig of selfoon gelos het nie. Die volgende dag, voor sewe uur die oggend, het hy gekies om uit hierdie lewe uit te stap. Hy het net nie meer enige hoop gehad nie. Superman….

Ek dink nie die geliefdes van iemand wat homself om die lewe bring kom ooit oor dit nie. Ons moet ‘n plek kry in ons gemoed waar ons dit kan neersit, parkeer. Ons het nodig dat die mense wat saam met ons werk en leef en wat vir ons lief is, geduldig met ons is, emossioneel beskikbaar vir ons is. Wanneer hulle na ons luister, nie veroordelend sal wees nie en saam met ons kan sit so lank as wat dit nodig is terwyl ons probeer sin maak van so ‘n sinnelose tragedie.

En so het my kronkelende pad van herstel van voor af begin. Dalk wil jy dit lees en volg. Dalk wil jy nie meer my storie volg nie – dit is ook reg. My storie het nog nie n einde nie. Maar ek skryf. Ek is nog nie daar nie. Ek is nog nie seker hoe of wanneer of waar nie. Ek skryf letterlik net neer wat ek ervaar en leer in hierdie proses. Stap saam met my die pad as jy wil…