Memory lane…

My mailbox is alewig op die randjie van ontplof.  Elke nag 12 uur stuur hy vanself vir my ‘n e-mail (wat hom natuurlik voller maak) om te sê hoe vol hy is en te dreig dat ek hom moet leegmaak ANDERS …  Ek is te bang om uit te vind wat die ANDERS is!

Terwyl ek vanoggend deur my ouer boodskappe gaan en kyk wat ek kan opruim en wegstoor kom ek om die gelukkige fototjies af wat my liewe Moeks vir my ge-e-pos het.  Op 15 Mei 2016 was my dogter een jaar skoon van dwelms en alkohol en ons het ‘n een jaar partytjie gehad.  As baba was die tema vir haar eerste partytjie “ladybirds” en ons het vir haar een jaar “sobriety” partytjie by die tema gehou.

Dit maak my hart nog vandag warm as en daarna kyk:

 

  • My liewe Moeks wat so lang en hartseer geskiedenis met verslawing en alkoholisme het (enigste kind van twee alkoholiste) wat haar so onvoorwaardelik liefhet en ondersteun – groot genade…
  • My man was die 5de Mei 2016 oorlede na weke se erge lyding – dit was verskriklik swaar vir my dogter – so groot genade dat sy kon vasbyt en deurdruk
  • Ek hou sommer van die emosie, liefde en hoop wat die fototjies uitstraal.

Soos die groepe graag sê : “We do recover” en “families do recover!”

Passie vir wat ek doen

Ekmyself se blog { https://ekmyselff.wordpress.com/2017/02/07/passie/ } het my laat dink aan so paar gedagtes wat al reeds besig was om in my kop rond te draai vir ‘n geruime tyd al.  Veral in die laaste deel van 2016 het ek daardie gevoel maar alte goed geken.  Ek het werk om te doen maar my voete sleep en my kop kannie of wil nie fokus nie.

Ek het regtig nie ‘n slegte werk nie.  Ek is ‘n dosent by ‘n Univesiteit in handelsregvakke.  Ek hou van klasgee.  My kleinsus meen dat dit belaglik is dat ek nog daarvoor betaal word omdat ek so mal is daaroor om ‘n “audience” te hê!  Ja ek geniet die klasgee, ek is aangedaan om te dink dat ek ‘n invloed mag hê op die ontwikkelling van soveel van ons land se pragtigste en intelligentste jong mense.

 

Aan die ander kant het elke werk ook sy schlep!  Ek het teen einde verlede jaar besef:

  • Ek het vir jare ekstra pligte op my geneem om die administrasie te laat vlot.  In die akademie is daar oneindig baie administrasie met geen of min beloning. Ek tog altyd geglo dit moet gedoen word en kan net sowel behoorlik gedoen word.   Mens kry egter net pryse of betaling vir navorsing, publiseer en daar is enkele pryse vir goeie onderrigvordering.  Die administrateurs maak dit moontlik dat die ander dinge gebeur maar dit baat my niks finansieel nie, dit baat niks op my CV nie en al is ek goed daarmee is dit tyd dat ek myself besig hou met dinge warby ek gaan baat.
  • Dit neem baie energie om ‘n goeie dosent te wees.  Statisties onthou die gemiddelde brein 5% van ‘n lesing.  As ek net voor my klas staan en hulle vertel wat ek reeds weet sal niemand deurkom nie.  Dit neem ure se beplanning, voorbereiding, praktiese voorbeelde uitwerk en hope entoesiasme en energie om daardie syfer op te stoot.
  • Ek het verlede jaar besef dat ek baie van my fut verloor het en besig was om net voor my klasse te staan en te vertel wat ek reeds weet!  Ek het selfondersoek gedoen en besef dat die drie geleenthede wat ek deur studente aangerand, rondgestamp en geboelie was in die laaste twee jaar se onrus, het my erg getraumatiseer.  Dit is ‘n handjievol van die totale studentegetal – ek dink op ons kampus neem minder as 29% van die studente deel aan studente politiek en nog minder aan optogte ensovoorts.  Tog kyk ek anders na die studente voor my en dit was op ‘n stadium asof ek gevoel het – “na alles wat julle aan my gedoen het vir wat sal ek my beste gee.”  Dit is nie my geaardheid dat ander se standaarde of optrede my standaarde bepaal nie – dit is asof so stukkie van wie ek was binne in my dood is.
  • Die papierwerk en admin kry my onder want daar is nie regtig goeie ondersteuning nie.  Ek haat roetine werk.  Ek verpes dit dat mense ‘n salaris trek vir ‘n werk maar byna %$#%^ doen.
  • Ek is gefrustreerd met die politieke ondertone wat aan alles by van ons universiteite geggee word – ek het nie baie politieke hare nie en die goed maak meestal net nie vir my sin nie.  Dit voel net asof ek die hele tyd op my pasoppens moet wees en nie mense se ware agendas kan lees nie.

So met al hierdie gewaarwordinge het ek besuit op in te skryf vir ‘n LLD graad – jare se moeilikheid en harde werk – maar iets wat vir my sal tel.  Gelukkig kan mens iets kies waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy graag meer wil uitvind en dalk selfs bydra om die wêreld so bietjie beter plek te maak – dis nou die aartsoptimis in my….  My eerste afspraak met my studieleier is 21 Feb en el is hard aan die werk om ‘n konsep idee op die tafel te kan sit.  ‘n Wegspringplek. Hopelik vir GROOOOOOT dinge….

 

Intussen moet ek nog klas voorberei, admin doen en met die gewone drama uithou.  Net gister het een van verlede jaar se studenteleiers, wat my by geleentheid erg geboelie het, so ewe om my kantoordeur kom loer om my te groet!  Dit sou maklker gewees het om die vent nooit weer in my lewe te moet sien nie!

Ek hoef darem nie elke dag kampus toe te gaan en het besluit om my studeerkamer tuis in te rig vir lekker werk.  Ek dink ek het die regte atmosveer en ondersteuning – wat dink jy?

img_6527

So vir nou konsentreer ek op ‘n lewensles wat ‘n goeie vriend my geleer het – ek werk vir geld sodat ek kan kamp!  En (BAIE BELANGRIK) ek maak ‘n punt daarvan om elke tweede maand vir ten minste ‘n naweek in die natuur te kom.