Moedersdag

FB_IMG_1494252910179

Moedersdag is maar steeds vir my moeilik.  Een van my heel laagste punte was moedersdag 2014 toe my dogter nie meer in die selfde vertrek as ek wou wees nie en dit was die laaste ete wat ek en my oorlede man saam gehad het voordat hy Calvinia toe verhuis het.

DIt is eintlik vir baie mense ‘n moeilike tyd, veral vrouens wat nooit kinders van hul eie kon gehad het nie.  Mense wat hulle kinders moes begrawe.  Mense wat as gevolg van omstandighede buite hulle beheer geen verhouding met hulle eie ma kon gehad het nie.  Mense wie se ma of ouma oorlede is en natuurlik ma’s wie se man of kinders alkoholiste of verslaafdes is.

Ek het nogal baie waarhede in die boek oor die tale van die liefde gevind. The Five Love Languages: How to Express Heartfelt Commitment to Your Mate is ‘n boek in 1995 uitgegee en geskryf deur Gary Chapman.  Dit kom daarop neer dat party van ons gawes of goeters gee om ons liefde te wys, ander dien met liefdesdade of opoffering, ander sê – druk hulle liefde uit in woorde, ander druk en soen – wys hulle liefde deur fisiese kontak en ander mense spandeer kwaliteit tyd om hulle liefde te toon.  Baie mense is ‘n kombinasie van meer as een liefdestaal.  Dikwels verskil ons liefdestale van die van ons geliefdes en dan verstaan ons mekaar verkeerd.

Dit beteken niks om vir my te sê dat jy vir my lief is nie – dit bly vir my leë woorde totdat ek dit self kan ervaar.  Dit was nog altyd my probleem met dae soos moedersdag en valentynsdag.  OK so op die een dag van die jaar vertel jy my hoe lief jy vir my is en hoeveel ek vir jou beteken en die ander 364 dae behandel jy my met minagting – of so voel ek.  Ek het vir baie jare van saamleef met ‘n verslaafde en ‘n alkoholis dikwels gebruik of uitgebuit gevoel.  Ek het gevoel dat ek my beste en dikwels my alles gee maar glad nie kan staatmaak daarop dat hulle enige bydrae maak nie.  Ek het nie geweet dat dit was omdat hulle nie anders kon nie – ek het geglo dat hulle nie regtig vir my lief was nie.  Dit is ‘n vrees of ‘n emosie wat ek nou steeds met my saamdra en ek vang myself vandag nog dat ek gevoelig is – as jy sê dat jy vir my lief is – wat wil jy eintlik van my hê?  Waarvoor gaan jy my goeie gesindheid hierdie keer misbruik?  Die waarheid is dat dit in my eie kop is – die ander persoon kan heel opreg en onskuldig wees!

My eie liefdestaal is om te gee en te doen – ook kwaliteit tyd te gee.  Ek sou mooi klere vir my man en dogter koop of maak, haar kamer versier – uitverf, gordyne maak, planne maak om dit vir haar mooi en lekker te maak, hulle gunsteling disse kook, koek bak, die etenstafel mooi versier en ek maak altyd baie moeite met geskenke.  Sy het egter eendag vir my gesê dat sy gedink het ek probeer haar liefde koop – sy wou hoor dat ek vir haar lief is, sy hou van drukkies en soentjies.

So ek praat Grieks vir haar en sy praat Chinees en tussendeur moet ons probeer sin maak en ‘n verhouding bou.

Ek werk aan my emosies en vrese – dit is deel van die 12 stap proses.  Ek besef waar ek tekort skiet en probeer beter doen.  Ek leef nie in ‘n perfekte wêreld nie – die mense naaste aan my maak foute en kan my soms teleurstel.  Ek maak foute en stel ander teleur.  Ek het weer hierdie week terdeë besef dat dit maar net ‘n proses is wat ek een dag op ‘n slag kan aanpak – en moedersdae dalk een uur op ‘n slag.

Twee jaar skoon en sober – net genade!

In die kristalgallery in Swakopmund word die oorsprong van die woord Amatis verduidelik.  Dit kom van die Griekse woord amethustos wat as altyd sober (nie dronk nie) vertaal kan word.    Lorri, die Namib Cowboy, wat ek in Januarie daar ontmoet het,  myn hoofsaaklik amatis. Nadat ek die betekenis uitgevind het het ek hardop die wens uitgespreek om ‘n driehoekige amatis te kon kry wat ek vir my dogter in die logo van die AA kan laat set. Die kristalgallery verkoop ‘n groot verskeidenheid stene maar daar was nie driehoeke nie.  Die simboliek sou oorweldigend wees vir iemand wat die stryd teen verslawing dapper stry.  Lorri het sowaar ‘n steen uitgesoek wat hy gemyn het en dit self na ‘n slyper geneem om dit nog dieselfde dag vir my in die driehoek te slyp. Daar word my droom waar in so spesiale manier wat ek nie eers sou kon droom nie.  Die amatis in die driehoek van eenheid, herstel en diensbaarheid, met die simboliek van die Griekse “altyd sober” maar wat ek uit die growwe hande ontvang het van die man wat dit self uit sy donker kelder van miljoene jare gehaal het – die eerste energie wat daardie steen ervaar het was die ontsag en dankbaarheid van die Namib Cowboy.

My dogter het spesiaal ‘n foto sessie met ‘n liewe vriendin gereël om mooi fotos te neem – sy was regtig stomgeslaan met die geskenk en sy simboliek.

 

 

Briefie van die verslaafde wat aan ‘n oordosis dood is.

16729443_1866460466933783_2327789420615229601_n

My liefste ouers,

Daar is nie woorde om te beskryf hoe jammer ek is vir die situasie waarin ek julle gelaat het nie.  Geen ouer moet sy kind begrawe nie, dit is nie soos dit hoort nie.  Ek weet julle is hartseer, kwaad, ontnugter en wens dat julle die tyd kon terugdraai en my uitruk van die pad wat ek gekies het, as julle maar net kon.

My verslawing het alles verwring.  Die Here weet hoe hard julle prober het om my te help.  Selfs al het dit nie so gelyk nie, ek het ook besef hoeveel julle probeer het, ek was te hard, koud en slim.  My verslawing het my van die wêreld en mense om my afgesny en vervreem.  Ek het die mag van hierdie siekte onderskat, gedink ek kon dit beheer, geglo ek was in beheer.

Julle en soveel ander het my gewaarsku maar ek kon julle nie hoor nie.  Die effek van die dwelms het my ongevoelig en afsydig gemaak.  Ek het gevoel dat ek onsterflik was, dat die dwelms my groot en onstuitbaar gemaak het en dat ek sonder die dwelms – wel dan maar net – ek sou wees.

Daar was tye wat ek skuldig en skaam gevoel het oor my keuses en veral wat ek aan my familie doen maar die verterende vuur wat net meer en meer gesoek het om op te slurp en wat binne in my gewoed het was so sterk dat dit maar vlietende oomblikke was.  Meestal was die dwelms al waaraan ek kon dink veral soos die chemiese effek van die dwelms my brein al meer en meer beïnvloed en beskadig het.  Hierdie brandende smagting het geen gewete of integriteit gehad nie.  Hierdie vretende vuur van my verslawing.

Ek weet dat ek julle baie seergemaak het.  Ek het minagtend met julle gepraat, verdwyn vir lang tye terwyl julle in vrees moes voortgaan met julle dagtaak, gelieg, gemanipuleer, gesteel van julle, julle vermy en afgesny en uiteindelik julle agtergelaat met ‘n groot seer en leemte in julle harte.

Ek was so seker van myself met die dwelms in my.  Daar was nie enige iets wat julle kon doen of sê om my te oortuig nie.  Ek het geglo dat dit net “ander mense” was wat doodgaan van ‘n oordosis. Stupid mense wat niks van dwelms af weet nie.  Dit kon tog nie met iemand soos ek gebeur nie, ek het geglo dat ek weet wat ek doen.

Julle het my gesmeek om op te hou.  Julle het gepleit, gehuil, geskree maar ek het alles uitgeblok.  Julle trane het my laat inkrimp in my binneste maar my ego was te trots om dit te wys.  As julle julle arms om my geslaan het was die skaamte in my so erg dat ek net van julle af moes wegvlug.

En nou wil ek so graag terug – maar daar is nie meer vir my terug nie.  Al wat oorbly is vorentoe.  Asseblief neem my vorentoe.

Vertel my storie.  Noem my naam.  Praat met my.  Onthou en vier die goeie tye wat ons wel saamgehad het. Huil as julle moet – ek weet julle mis my, ek weet julle is hartseer.  Ek weet julle is lief vir my.  Ek besef nou dat julle julle bes gedoen het vir my maar nog julle of ek was sterk genoeg vir die stryd van hierdie siekte van verslawing.

Moet assebleif nie julleself blameer nie, julle moet glo dat julle julle beste probeer het.  Julle het nie my verslawing veroorsaak nie, julle kon dit nie keer of beheer nie.  Julle moet weet dat OK is om ook maar ‘n mens te wees wat jou beste kan doen en niks meer nie.  As julle julself blameer sal dit wees asof ek weer doodgaan, oor en oor, elke dag.  Ons hele familie gaan in hierdie tragedie vasgevang bly.

Elke keer as julle my sou wou vasdruk – gee iemand in ons familie ‘n drukkie en ek sal deel van die drukkie wees.  Elke keer as julle met my wou praat – praat met mekaar en ek sal luister.

Ek hoop dat julle vrede mag vind in die besef dat ek nou uiteindelik vry is.  Vryer as wat ek ooit kon wees.  Julle kan dink dat ek vir altyd weg is maar ek is nie.  Ek is in die briesie wat deur die blare waai, die sterre in die middernag, die reëndruppels wat teen die venster hang, die deuntjie van die voëltjies, die ronding van die wolke en die golwe van die see.

Ons sal nooit heeltmal van mekaar geskei wees nie want ware liefde wek lewe, selfs in die dood.  Staan stil – julle sal my aanvoel.

Ek sal altyd vir julle lief wees.

Julle kind.

Selfsorg, self-liefde, selfsug en self-waarde.

As daar een ding is wat ek nog altyd wonder oor hoe ek grootgeword het is dit waarom ek nooit geleer het dat my eie lewensgeluk my eie verantwoordelikheid is nie?  Ek het baie goeie kinderjare gehad, regtig liefdevolle ouers wat altyd hul bes probeer het, ontsaglik baie geleenthede om my talente te ontwikkel en nuwe dinge te ontdek en uitprobeer en getroue ondersteuning waarop ek kon staatmaak.  Verantwoordelikheid was ‘n groot deel van my lewe solank ek kon onthou.  Miskien is oudste kinders maar erger daaroor.  Jy is natuurlik verantwoordelik om ‘n ogie oor jonger boeties en sussies te hou.  Jy is verantwoordelik vir jou skoolwerk, om die beste te lewer op skool en buitemuurse aktiwiteite, om jou talente te ontwikkel, om die beste te maak van geleenthede, om jou goed op te pas ag ek kan laaaaaang lysies maak.  Ek het ook elkeen van my “verantwoordelikhede” behoorlik ter harte geneem maar dit is maar baie onlangs dat ek regtig begin besef het dat ek verantwoordelik is vir my eie lewe en my eie lewensgeluk.

Ek voel skaam as ek terugdink aan die tyd wat my man se alkoholisme en dogter se verslawing die grootste deel van my lewe en energie opgeslurp het.  Nie regtig skaam vir wat hulle gedoen het of nie gedoen het nie maar hoe ek myself behandel het in daardie tyd.  Ek het regtig nie met myself gepraat soos mens met ‘n mens wat jy respekteer sou praat nie.  Ek het nie my eie gesondheid belangrik geag nie.  Ek het letterlik twee pare skoene gehad en werksuitrustings vir 5 dae – totdat ek weer wasgoed gewas het.  My man en dogter het egter nie tekorte op enige van hierdie gebiede gehad nie.  Ek het geweet hoe om baie goed vir hulle te sorg, ek kon glad nie vir myself sorg nie.

Ek het self vir lank die boodskap van die Christendom geinterpreteer asof enige selfsorg en self-liefde selfsugtig en sondig sou wees.  As ek nou daaroor dink is dit eintlik belaglik – toe Jesus gevra was wat die heel belangrikste van die gebooie was het hy behalwe vir toewyding aan God gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.  Ek wonder darem, mense wat hulself nie liefhet nie, is dit nie dalk die rede waarom hulle sukkel om aander lief te hê nie?  Dit is soms vir my baie duidelik dat mense wat geen respek vir hulself het nie ook nie ander kan respekteer nie.

So hoe sorg mens vir jouself?  Waar begin jy?

Daar is natuurlik bederfies soos ‘n warm bad met jou gunsteling badsout, ‘n voetbehandeling of gesigsbehandeling of nuwe haarstyl.  Ek dink net volhoubare selfsorg moet meer en dieper wees.  Ek het nie beswaar teen enige van bogenoemde bederfies nie en het ook geleer om spesiale dingetjies vir myself te gun maar ek weet vir ‘n feit dat ek selfsorg nodig het wat dieper as my veloppervlak gaan.

Ek het baie oor die onderwerp begin lees.  Ek het “guided meditation” oor selfbevestigin en selfsorg ontdek.  Ek het baie geleer uit die eerlike blog van Kate McComb. http://katemccombs.com/

So paar idees:

  1. Om my gevoelens en emosies te ervaar sonder om myself te veroordeel

Ek was nog altyd my eie grootste kritikus.  Om myself te veroordeel oor “verkeerde” gevoelens of emosies en my te bekommer oor my verkeerde reaksies of woorde in gevolg van situasies (‘n tydverdryf wat my nagte kan laat wakker lê!) baat my net mooi niks nie.  Dit kom nog nie vir my natuurlik nie en ek moet doelbewus en herhaaldelik die wilsbesluit maak (mindfullness) om nie my gevoelens te onderdruk nie, om my emosies toe te laat om te kom en te gaan maar veral om myself nie veroordeel nie.

Vir ‘n baie lang tyd het ek moeilike tye oorleef deur negatiewe emosies uit te skakel – eerder te fokus op wat ek nou gaan doen as hoe ek nou voel.  Ongelukkig sit mens jouself af vir enige emosies, ek het totaal emosioneel afgestomp geraak.  Baie dae laat emosies en gevoel my nog ongemaklik, ek het vir solank daarsonder geleef, toe ek my “recovery” pad begin stap het en my emosies begin terugkom het was ek so ongemaklik dat ek oortuig was dat ek fisiek siek was en het dokter toe gegaan.  Ek het nie geweet wat verkeerd was nie, net dat “iets” nie reg was nie.  Die dokter het die gewone toetse en “scans” gedoen maar kon natuurlik nie fout vind nie.  Ek het nie lank daarna die ervaring van iemand gelees in ‘n dagstukkie boek vir die familie van alkohliste wat die gevoel van emosie wat terugkom verduidelik het.  Dit was soos die son wat opkom toe ek besef wat met my aangegaan het.

Ek wil nie ooit weer so afgestomp lewe nie, dit is nie ‘n lewe nie – ek het in alle eerlikheid basies oorleef, net voortbestaan.

11245790_10153345155087650_153429483339575230_n

2. Reflektiewe selfsorg

Die terapeut skrywer Meg-John Barker onderskei tussen om jouelf met goedhartigheid te versorg – soos die lekker bad of behandeling – en selfreflektiewe selfsorg soos meditasie of ‘n joernaal hou.  Dit is ook die hele doel van “stepwork” die “huiswerk” van die 12 stap programme waarvoor en elke week tyd maak. Omdat my eie emosionele sorg vir my belangrik is moet ek tyd maak vir meditasie en om my gedagte neer te skryf omdat dit my help om my gevoelens en emosies deur te werk, dit help my om te groei in die proses om heel te word, om myself beter uit te druk, om my gedagtes te verlig en om werklik in kontak met myself te wees.  Met my liggaam, my siel, my wese en my gevoelens.

  1. Speeltyd

Dit kan harde werk wees om te speel maar ek het geleer dat dit regtig belangrik is vir die mens om tyd te maak vir speel.  Vir my eie selfsorg weet ek dat dit beter met my gaan as ek tyd maak vir my passies – om iets te skep, om in die natuur te kom, met vriende te kuier en tyd saam met my honde deur te bring.  Ek moet ook vir my liggaam sorg – as ek nie gereeld oefening kry nie word ek moeg en kan nie alles meedoen wat ek graag sou wou nie.  As ek nie hierdie dinge vir myself beplan en die moeite doen nie gebeur dit net nie vanself nie.

play

4. Vermy ongevraagde raad en opinies

Toe my dogter ‘n kleuter was was ek desperaat vir nog ‘n kind.  Alhoewel ek drie maal swanger geraak het was twee van die babas doodgebore en die laaste enetjie was so vroeg gebore dat sy net een uur kon oorleef.  Dit het my ontsaglik ontstel wanneer mense ewe welmenend sou vra “Nou wanneer maak julle plan vir ‘n maatjie vir jou dogter?” of soortgelyke opmerke.  Natuurlik is dit ongeskik en ongewens maar ek kan nie beheer wat ander mense dink en sê nie – al wat ek kan beheer is hoe ek daaroor voel.  Ek het natuurlik beide van vriende en familie ontelbare opinies ontvang van hoe ek my dogter en haar probleem sou moes hanteer – eindelik het ek besluit dat hierdie opinies meestal maar uit onkunde spruit.  Die gewer weet niks of bitter min van hoe dit is om in my vel te lewe.  Daar is ‘n handjievol intieme vriende wat ek geleer vertrou het en by wie ek regtig baie geleer het in my groei proses.  Hierdie mense se raad klink gewoonlik heel anders – dit is meer aanmoedigend of motiverend as krities.  Die res is snert en ek is besig om myself aan te leer om dit direk in “file 13” te liaseer.  Dit is party dae moeliker as ander maar soos baie dinge in my “recovery” is dit ‘n proses nie ‘n kitsoplossing nie!

5. Ek respekteer my eie tyd – ek kan van ander ook verwag om dit te doen

Ek het al mooi geleer om te kan “nee” sê sonder om verskoning te maak, ongeskik te wees of myself te verduidelik.   Dit is ‘n uiters noodsaaklike “tool” in my selfsorg mondering.

 

 

Weet jy of jy gelukkig is of nie?

Twee blogs wat my nou heeltemal te veel laat wonder te vroeg op ‘n Maandag: https://poerdezmerdez.wordpress.com/2017/03/13/how-to-be-perfectly-unhappy/

en http://maankind.com/2017/03/10/geluk-is-iets-binne-jouself-regtig/

As ek my twee sente kan bygooi – ek wonder tog of daar nie vreeslik baie mense is wat so besig is om te tob en wonder of hulle gelukkig / ongelukkig is dat hulle dalk heeltemal mis hoe gelukkig hulle dalk wel is nie?  Dalk is dit erg eenvoudig maar my eie ondervinding is dat my eie “overthinking” en innerlike komplikasies my nog nie regtig enige iets in die sak gebring het nie – ook nie ooit beter laat voel het nie.

happy

Wat ookal jou invalshoek ek hoop jy vind so klein bietjie meer geluk in jou of om jou of deur jou hierdie week as waarop jy “gebargain” het!

“Bonfire Meetings”

16865013_10154531469574075_1988796904628251514_n

Dit was vannaand weer bonfire meeting by die plaaslike rehabilitasiesentrum maar vannaand het ‘n jongman se storie my regtig aangegryp.

Hy praat so “matter of factly” – so doodeerlik sonder doekies omdraai of verskonings soek.  Ek sal nie aan sy storie reg kan laat geskied as ek dit woord vir woord probeer oordra nie maar as ek moet opsom:

  • Hy begin dagga rook en drink in standerd ses
  • Waarna hy homself in sy eerste rehabilitasiesentrum bevind
  • Hy probeer vervolgens ‘n verskeidenheid ander delms en raak aan alles verslaaf.
  • Hy besef ‘n Nigeriese dwelmhandelaar huur ‘n woning drie huise van sy ouerhuis af.
  • Hy begin steel om te kan dwelms koop en land verskeie kere in die tronk.
  • Hy besluit om eerder by sy eie familie te steel waarna hy uit die huis gejaag word en vir ‘n tyd onder ‘n brug woon, nie ver van sy huis af nie, waar sy ma en pa daagliks verby hom ry oppad werk toe.
  • Deur die jare was hy nog ‘n paar keer in rehabs – 5 alte saam as ek reg onthou. Op ‘n dag besluit hy dat hy defnitief sal kan ophou as hy Jesus in sy lewe het.  Sy familie hoor van ‘n kerk wat verslaafdes help en stuur hom daarheen waar hy vir 6 maande bly – vir groot dele in kettings – ja aktual yster kettings.  Maar steeds kan hy nie ophou nie.
  • ‘n Paar maande gelede skraap hy moed bymekaar, kruip terug huis toe en smeek vir ‘n kans om te “detox” – behandeling terwyl hy deur die onttrekkings gaan. Sy familie stuur hom na ‘n plaaslike hospitaal vir die behandeling van geestestoestande waar hy Methadone (‘n tipe mediese heroine) en Benzodiazepine (Uiters verslawend) gevoer word!  Hy vertel dat hy daagliks ‘n gesprek met ‘n sielkundige moes hê, dat hy op dag een besef het dat sy bykans niks van heroin af weet nie, dat dit haar nie verhoed het om hom met raad en daad by te staan nie en dat hy haar kon oorreed om sy dosisse van al sy voorskrif medikasie te laat verhoog!

Dit is duidelik dat hy van sy eerste rehab af wou ophou maar nie kon nie.  Hy het my so baie laat dink aan ‘n audio band lewensverhaal van Cathy H waarna ek graag luister.  In die 12 stap program wanneer mense se stories opgeneem word, word hulle volle name nie gebruik nie ter wille van die beginsel dat deelnemers anoniem bly.

Cathy H se storie is heeltemal anders as myne.  Sy was swanger op 16, in en uit die tronk, ‘n heroin verslaafde.  Sy vertel dat sy ook baie graag wou stop.  Sy het haarself ook na sielkundiges en medici gewend.  Sy praat van haar “never lines” in haar storie.  Sy het vir haarself goed gesê soos:  As dit my dogter in gevaar stel gaan ek ophou – as ek gearresteer word gaan ek ophou – as ek ‘n prostituut word om my dwelms te kan kry gaan ek ophou – as ek my familie vervreem gaan ek stop – as ek harde dwelms doen soos heroin gaan ek ophou.  Sy het elke liewe een van haar “never lines” oorgesteek maar sy kon nie ophou nie. Toe sy dit op ‘n dag vir die sielkundige sê vra die vir haar: “En hoe laat dit jou voel?”  Sy was ook vreeslik baie gevra hoekom sy so optree wat sy natuurlik self glad nie verstaan het nie.  Al die “behandeling” het haar net heeltemal magteloos laat voel.

My fisiese storie is glad nie soos Cathy H s’n nie.  Tog, as sy haar lewensverhaal vertel besef ek dat ons geestelike en spirituele stories absoluut identies is.  Ek het ook sulke “never lines” gehad.  Ek het gedink dat ek my geliefdes se alkoholisme en verslawing met ultimatums – strepe in die sand – kon beheer.  Ek het elke liewe een van my eie “never lines” oorgesteek en nog kon hulle nie stop nie.  Ek het vir jare my dogter en man na sielkundiges en terapeute aangery waarby ons geensins kon baat nie.  Dit was vannaand vir my so ‘n openbaring toe die jong man sê dat hy ‘n kopskuif gemaak het.  Dat die 12 stap program se eerste stap hom met ‘n hou tussen die oë laat besef het dat hy nege jaar gelede laas eerlik met homself of enige iemand anders was.  Dat net so ongemaklik as wat dit vir hom was om oor sy probleme te moes praat met iemand wat eintlik niks van verslawing af geweet het nie en geen persoonlike ervaring daarvan gehad het nie, net so tuis voel hy in die kring waar hy besef hier oordeel niemand nie, hier het elkeen sy eie lewensstorie, hier is jy veilig tussen ander wat dieselfde stryd as jy stry terwyl jy op jou eie tyd uit die donker gat kruip totdat jy weer die lewe in al sy volheid kan ervaar.

Dit maak my baie emosioneel om sulke stories te hoor.  Ek weet en glo dat die regstelsel nie mense wat hulp nodig het in die tronk moet gooi nie.  Daar bestaan reeds sedert 1971 wetgewing wat dit moontlik maak om eerder so iemand met rehabilitasie te help, hy moes boonop nog bitter jonk gewees het toe hy die eerste keer tronk toe was – dit is net nie reg nie.  Ek voel sterk dat medici nie verslawende middels vir mense wat sukkel met verslawing moet voorskryf nie en veral nie kan toelaat dat daardie persoon die dosis manipuleer nie!  Ek voel sterk dat wanneer mense of hulle geliefdes hulp soek ons nie net by die medici moet soek wat geld kos nie maar ook die gratis hulp wat die N.A. en A.A. bied ten minste moet probeer.  Dit is ook hoekom ek my storie moet vertel – as iemand anders my eerder vertel het sou ons nie so lank hoef te gesukkel het in die donker nie. Dit pla my dat nie EEN van die sielkundiges of psigiaters wat ons geraadpleeg het my eers daarvan vertel het of daarna verwys het nie.   Vir die jong man om verbitterd te wees oor al hierdie dinge gaan hom net mooi niks help nie.  Wel – laat ek nou maar eerlik wees – vir my ook nie ne!

Aan die einde van die meeting vat ons almal hande om die vuur – almal wat sukkel met enige vorm van verslawing, alkoholisme en almal wat vir hulle lief is en omgee, ons maak ‘n liefdesketting.  Die meeting voorganger sê dan:  Ons staan so sodat ons elkeen kan weet dat ons nooit weer alleen of verwerp hoef te voel nie.  Terwyl ons so staan sluit ons harop af met die gebed “serenity prayer” om ons te herinner dat daar Iemand groter as ons in beheer is, om nie ons koppe te breek oor dinge wat buite ons kring van invloed val nie maar ook dat ons onself kan verander om elke dag te groei en sterker te word – nie omdat ons doel is om perfek te wees nie maar omdat ons groei en vordering wil ervaar.  Weet dat ons lewe, nie net “survive” nie.  En so stap vir stap, meeting vir meeting, wys een stukkende vir die volgende stukkende die pad om uit die donket gat van verslawing te kan kruip.

14055043_1776476955932135_3382310257553375212_n

Memory lane…

My mailbox is alewig op die randjie van ontplof.  Elke nag 12 uur stuur hy vanself vir my ‘n e-mail (wat hom natuurlik voller maak) om te sê hoe vol hy is en te dreig dat ek hom moet leegmaak ANDERS …  Ek is te bang om uit te vind wat die ANDERS is!

Terwyl ek vanoggend deur my ouer boodskappe gaan en kyk wat ek kan opruim en wegstoor kom ek om die gelukkige fototjies af wat my liewe Moeks vir my ge-e-pos het.  Op 15 Mei 2016 was my dogter een jaar skoon van dwelms en alkohol en ons het ‘n een jaar partytjie gehad.  As baba was die tema vir haar eerste partytjie “ladybirds” en ons het vir haar een jaar “sobriety” partytjie by die tema gehou.

Dit maak my hart nog vandag warm as en daarna kyk:

 

  • My liewe Moeks wat so lang en hartseer geskiedenis met verslawing en alkoholisme het (enigste kind van twee alkoholiste) wat haar so onvoorwaardelik liefhet en ondersteun – groot genade…
  • My man was die 5de Mei 2016 oorlede na weke se erge lyding – dit was verskriklik swaar vir my dogter – so groot genade dat sy kon vasbyt en deurdruk
  • Ek hou sommer van die emosie, liefde en hoop wat die fototjies uitstraal.

Soos die groepe graag sê : “We do recover” en “families do recover!”

Passie vir wat ek doen

Ekmyself se blog { https://ekmyselff.wordpress.com/2017/02/07/passie/ } het my laat dink aan so paar gedagtes wat al reeds besig was om in my kop rond te draai vir ‘n geruime tyd al.  Veral in die laaste deel van 2016 het ek daardie gevoel maar alte goed geken.  Ek het werk om te doen maar my voete sleep en my kop kannie of wil nie fokus nie.

Ek het regtig nie ‘n slegte werk nie.  Ek is ‘n dosent by ‘n Univesiteit in handelsregvakke.  Ek hou van klasgee.  My kleinsus meen dat dit belaglik is dat ek nog daarvoor betaal word omdat ek so mal is daaroor om ‘n “audience” te hê!  Ja ek geniet die klasgee, ek is aangedaan om te dink dat ek ‘n invloed mag hê op die ontwikkelling van soveel van ons land se pragtigste en intelligentste jong mense.

 

Aan die ander kant het elke werk ook sy schlep!  Ek het teen einde verlede jaar besef:

  • Ek het vir jare ekstra pligte op my geneem om die administrasie te laat vlot.  In die akademie is daar oneindig baie administrasie met geen of min beloning. Ek tog altyd geglo dit moet gedoen word en kan net sowel behoorlik gedoen word.   Mens kry egter net pryse of betaling vir navorsing, publiseer en daar is enkele pryse vir goeie onderrigvordering.  Die administrateurs maak dit moontlik dat die ander dinge gebeur maar dit baat my niks finansieel nie, dit baat niks op my CV nie en al is ek goed daarmee is dit tyd dat ek myself besig hou met dinge warby ek gaan baat.
  • Dit neem baie energie om ‘n goeie dosent te wees.  Statisties onthou die gemiddelde brein 5% van ‘n lesing.  As ek net voor my klas staan en hulle vertel wat ek reeds weet sal niemand deurkom nie.  Dit neem ure se beplanning, voorbereiding, praktiese voorbeelde uitwerk en hope entoesiasme en energie om daardie syfer op te stoot.
  • Ek het verlede jaar besef dat ek baie van my fut verloor het en besig was om net voor my klasse te staan en te vertel wat ek reeds weet!  Ek het selfondersoek gedoen en besef dat die drie geleenthede wat ek deur studente aangerand, rondgestamp en geboelie was in die laaste twee jaar se onrus, het my erg getraumatiseer.  Dit is ‘n handjievol van die totale studentegetal – ek dink op ons kampus neem minder as 29% van die studente deel aan studente politiek en nog minder aan optogte ensovoorts.  Tog kyk ek anders na die studente voor my en dit was op ‘n stadium asof ek gevoel het – “na alles wat julle aan my gedoen het vir wat sal ek my beste gee.”  Dit is nie my geaardheid dat ander se standaarde of optrede my standaarde bepaal nie – dit is asof so stukkie van wie ek was binne in my dood is.
  • Die papierwerk en admin kry my onder want daar is nie regtig goeie ondersteuning nie.  Ek haat roetine werk.  Ek verpes dit dat mense ‘n salaris trek vir ‘n werk maar byna %$#%^ doen.
  • Ek is gefrustreerd met die politieke ondertone wat aan alles by van ons universiteite geggee word – ek het nie baie politieke hare nie en die goed maak meestal net nie vir my sin nie.  Dit voel net asof ek die hele tyd op my pasoppens moet wees en nie mense se ware agendas kan lees nie.

So met al hierdie gewaarwordinge het ek besuit op in te skryf vir ‘n LLD graad – jare se moeilikheid en harde werk – maar iets wat vir my sal tel.  Gelukkig kan mens iets kies waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy graag meer wil uitvind en dalk selfs bydra om die wêreld so bietjie beter plek te maak – dis nou die aartsoptimis in my….  My eerste afspraak met my studieleier is 21 Feb en el is hard aan die werk om ‘n konsep idee op die tafel te kan sit.  ‘n Wegspringplek. Hopelik vir GROOOOOOT dinge….

 

Intussen moet ek nog klas voorberei, admin doen en met die gewone drama uithou.  Net gister het een van verlede jaar se studenteleiers, wat my by geleentheid erg geboelie het, so ewe om my kantoordeur kom loer om my te groet!  Dit sou maklker gewees het om die vent nooit weer in my lewe te moet sien nie!

Ek hoef darem nie elke dag kampus toe te gaan en het besluit om my studeerkamer tuis in te rig vir lekker werk.  Ek dink ek het die regte atmosveer en ondersteuning – wat dink jy?

img_6527

So vir nou konsentreer ek op ‘n lewensles wat ‘n goeie vriend my geleer het – ek werk vir geld sodat ek kan kamp!  En (BAIE BELANGRIK) ek maak ‘n punt daarvan om elke tweede maand vir ten minste ‘n naweek in die natuur te kom.