Synchronicity en serendipity

 

Op 19 Desember 1992 is ek en my blinde man getroud in Edenburg in die Suid Vrystaat.  My baie beskremende pa was nie gemaklik met die feit dat ek sou moes kar bestuur waarookal ons wou reis nie en taktvol het ons besluit om nie te ver te ry vir die wittebrood nie.

My liewe moeder en haar vriendinne het so ‘n heerlike kuier onthaal vir ons gereël in ‘n groot plaastuin en self die kos gemaak vir ‘n smaakvolle sjampanje ontbyt. Ons kon bekostig om almal te nooi wat ons graag wou.  Ons het dus besluit om heeldag saam met vriende en familie te kuier onder die groot koeltebome en net teen skemer tyd weg te trek om voor donker in Winburg hotel (Wat in die geelbladsye deur die AA geklasifiseer was) te oornag voordat ons na ‘n oord in die Drakensberge vertrek.

Na ‘n heerlike dag van kuier en opvang met die mense na aan ons hart is ons gepak en kom met ‘n lied in die hart aan by Winburg hotel.  Die locals ondersteun die hotel goed en daar is karwassery, bakleiery en drinkery oral in en om die hotel aan die gang.  Ek besluit ons gaan in elk geval onself in ons kamer kan vermaak op ons huweliksnag, ons meld aan by ontvangs en sorg dat ons in ons kamer kom. Toe die ontvangsklerk egter die kamerdeur oopmaak besef ek net dat ek nie hier wil bly nie.  19 Desember is warm, bitter warm.  Die kamer het Noorde en Weste vensters en toe sy die deur oopswaai voel dit vir my net soos wanneer mens die oonddeur oopmaak om te kyk of die koek al rys – die hittegolf laat my twee tree agteruit steier. Dan vang my oog die bed wat eerder soos ‘n reuse voëlbad of ‘n kom waarmee mens reënwater sou kon opvang lyk as ‘n plek om te slaap.

Ek kanselleer net daar en dan ons bespreking en soek ‘n telefoonhokkie (voor die tyd van selfone) om my pa te bel. Ja ons is veilig maar ek gaan nie hier bly nie. Ek wil aanry Betlehem toe, dit is darem ‘n groter dorp, dalk kry ons daar iets beter. My pa is natuurlik nie ingenome met die in die donker rondryery nie maar hy besef daars nie veel wat hy nou aan die saak kan doen nie.

2019-04-25_183108
Ek tuur oor die Maulti berge op ons wittebrood vakansie.

In Betlehem stop ons by die Park Hotel en verduidelik ons penarie.  Ja hulle het ‘n kamer vir ons, en bubbly op die huis, en ‘n heerlike ontbyt more oggend voor ons vertrek teen dieselfde prys as wat ons op Winburg sou betaal. In die kamer gekom is alles eenvouding maar koel, netjies en skoon en ons trek ons skoene uit en sit terug om die laaste helfte van Suid-Afrika se eendag krieketwedstryd teen Pakistan te kyk.  Goed ek sal ruiterlik erken dat ek die krieketentoesias is en dat ek my man my onverdeelde aandag moes belowe sodra die game oor was ten einde hom te oorreed dat ons eers krieket kan klaar kyk.

IMG_6556

Die pas afgelope Paasnaweek kamp ek met my tentjie saam met twee vriende in die Golden Gate Nasionale Park.  Die Oos Vrystaat is baie besig en baie nat.  Dit reën elke liewe dag van die naweek met net enkele kort tussenposes. Ons geniet in elk geval die natuur, daars min dinge so mooi soos die Vrystaat wat deurdrenk is, die kos, plaaslike biere, kuns en gesels oor alles en nog wat. Na vier dae se aanhoudende reën kom ons egter agter wat daardie kwalifikasie op die boks is van die “water column” as jy jou plastiese tentjie aankoop – dit is ‘n wetenskaplik maat van hoeveel water die membraan kan weerstaan of in algemene taal: 3 – 4 dae se aanhoudende reën is “pushing it” in ‘n plastiese tent en die beddegoed begin nou van ‘n kant af nat word.  Klein poeletjies begin vorm op die vloer.

Die Oos Vrystaat is nie regtig saans snoesig nie, allermins as alles nat is en ons oorweeg alternatiewe. Met ‘n goeie skoot heimwee stap ek by die Park Hotel in Betlehem in om die laaste nag droog en warm te kan slaap. Die ou dame lyk ouer en wyser, daars minder swier en beweging, maar haar gasvryheid is eweneens besonders dink ek vir myself as ek terugsit om te sien of RCB hulle krieketgeluk kan omswaai in die Indiese Premier Liga.

IMG_6601
‘n Kunstenaar se uitbeelding van die Park Hotel in haar hay days hang in die ontbytkamer.

Die spinnekoppie wat ek ‘n paar keer moes red.

she-asks-me-to-kill-the-spider-instead-i-get-18599968Ek hou van spinnekoppe.  Hulle eet muskiete, vlieë en muggies.  Hulle doen regtig baie min skade aan mense.  Ja ek weet jy weet van iemand wat twee bene en ‘n halwe arm verloor het na ‘n spinnekopbyt (Dit is die gewone reaksie op my stelling dat ek graag my huis met spinnekoppe deel.) maar as dit ok is met jou dink ek steeds dis veiliger om saam met spinnekoppe te leef as om in ‘n motor op SA se paaie te ry – iets wat meeste mense elke dag doen sonder om werklik te besef hoe gevaarlik dit is!  As jy jou spinnekoppe wil uitroei skakel my gerus – ek sal hulle kom haal om by my te bly.

Wat is die odds dat ‘n spinnekop jou dood gaan beteken kan jy vra?  Wel eintlik bitter klein.  Die laaste STATS SA verslag oor hoofoorsake van dood vind dat siektes steeds 88% van sterftes in SA veroorsaak en wel in die volgende volgorde:

  1. Tubercolosis
  2. Diabetes
  3. Die verskillende vorme van hartsiektes
  4. Cerebrovascular siektes
  5. HIV / AIDS

By die klein persentasie van onnatuurlike oorsake is motorongelukke en geweld (aanranding en moord of strafbare mansslag) die grootste probleme. Het jy byvoorbeeld geweet dat daar geen ander land ter wêreld is waar vrouens so gereeld deur hulle mans / x-mans / boyfriends / lovers ens vermoor word as SA nie? Volgens STATS SA oor femicide: “A woman died every eight hours in South Africa, and of those murdered, 50% were killed by their intimate partners.” Dink net Oscar Pistorius se verhoor omdat hy vir Reeva Steenkamp geskiet het, het ‘n totaal van 49 dae in die hooggeregshof voorgekom. (Die dae vir borgaansoeke en appel uitgesluit – slegs die verhoor)  In dieselfde tyd het ongeveer 74 ander mans hulle vrouens / vriendinne vermoor wat nie bekend genoeg was om die nuus te haal nie.  Nee wat – as jou man bedonnerd lyk kan jy eerder benoud raak as vir ‘n ou spinnekoppie!

 

Gisteroggend begin ek ‘n bad tap.  Ek tap byna een liter water in ‘n klein poeletjie om die prop en dis toe dit.  Ons dorp het nie water nie. Terwyl ek so wonder wat ek nou gaan doen, vang my oog ‘n klein spinnekoppie wat gly-gly die poeletjie water prober vermy.

Ek besef die bad se kante is te glad, hy sal nie self kan uit nie en bied ‘n voetborseltjie aan deur dit naby hom te posisioneer. Hy is egter ‘n baie skugter spinnekoppie en beweeg dadelik weg van wat hy as ‘n nuwe bedreiging in sy omgewing aanskou.

Ek plaas ‘n handdoek oor die kant van die bad tot op ‘n droeë deel van die bodem nie ver van die spinnekoppie af nie in die hoop dat hy daarteen sal uitklouter.

Heelwat later maak ek wasgoed deur die huis bymekaar wat ook die handdoeke in die badkamer insluit.  Onnadenkend gooi ek die reddingshandoek in die masjien maar gelukkig gewaar ek die spinnekoppie wat nou naarstigtelik in die wasmasjien oor die bondels probeer klouter.  Ek besef as ek hom daar los is hy in elk geval vrek.  Al raad nou is om hom te probeer uittel.  Toe ek hom op poging twee raakvat spin hy dadelik ‘n draadtjie en hang so 3cm onder my hand. Ek besluit om hom grond toe te laat sak maar voordat ek so kan maak los hy die draadjie en…

Wat ‘n ongelukkige spinnekop…. Daar land hy binne in die web wat ‘n groot spinnekop onder teen ‘n  kassie langs die wasmasjien gespin het.  Die groot spinnekop stel dadelik belang en beweeg vinnig nader.  Ek voel erg skuldig, as dit nie vir my handelinge was nie was die outjie mos noe nie in so penarie nie en ek besluit om in te gryp. Ek haal hom haastig uit die web en kry dit uiteindelik reg om hom teen die oorkantste muur neer te sit.  Ek kan nie help om te wonder watter stories daardie spinnekoppie gisteraand vir sy pelle by die spinnekopkroeg vertel het nie…..

Naweekwegbreek na die KNP

Elke dag as ek werk toe ry, ry ek verby ‘n groot bruin toerisme bord wat amptelik aankondig dat die Kruger Nasionale Park net sowat 200 km weg is. Dit sal jou dus sekerlik nie verbaas dat ek “at the drop of ‘n hat” in die kar kan spring en soontoe ry nie.  Dit bly steeds vir my een van die lekkerste dinge om te doen. Ek dink vir my is die groot trekpleister die moontlikhede. Vir elkeen is daar legio moontlikhede om wonderlike diere en dinge te sien en ervaar. Jy moet net op die regte plek op die regte tyd wees. Ek ry altyd in die park rond met ‘n bottel bubbly in die koelhouer op ys, net ingeval ek dalk iets besonders wil vier soos om ‘n cheetah, wildehonde, swart renoster of so iets besonders tee te kom. Ek het nog nie nodig gehad om my bubbly weer huis toe te ry nie!

Ek het ‘n paar dae terug presies weer net so gemaak en al was dit net vir ‘n naweek was dit heerlik.  Ek was soos altyd nie teleurgesteld nie. Alles lyk vir my mooier in die park, alles proe beter, ek voel beter, ontspan beter, dit is makliker om rond te ry, om koud of warm te kry is glad nie so erg nie, ek slaap beter, ek staan makliker vroeer op . . . . my slotsom – ek is gemaak om die KNP te geniet!  En ek doen.  Ek deel net so paar foto hoogtepunte.

Boskerk

Dit is goed vir mense om te bid, mediteer of ten minste gereëlde spirituele ervaringe te hê.  Ek is nou die heel laaste persoon wat vir ander kan voorskryf hoe en waar hulle dit moet doen maar ek deel graag met jou wat vir my werk.

Ek vind dat ek in die natuur die heel sekerste is dat daar iets of iemand groter as ekself moet wees.  Ek kyk om my en kan dit nie ontken nie.  Hier vind ek dit makliker om te bid of mediteer en sommer net te vertoef en te verwonder.

Die boskerk is elke dag van die week beskikbaar, nie net Sondae nie.  Ek is gelukkig om baie naby aan pragtige natuurskoon en aangeplante woude te woon waar ek elke dag gratis toegang het. My tipiese diens is ietwat langer as die gewone kerkdiens – so een uur uit en weer een uur terug.

Gelukkig word honde toegelaat want my Hannabi skaaphond is regtig mal oor kerk toe gaan saam met my. Dit sal ook nie vir my dieselfde wees sonder haar nie.

Alhoewel daar nie ‘n vroueaksie is nie, verstom die kunstige versierings, blomme kleure en teksture my elke liewe keer.

Baie kanselklede spog met mooi versierings en “fringes”, dit het my vandag opgeval hoe groot “fringes” in die boskerk is op die oomblik.

Soms loop ons ander kerkgangers teë en soms net die tekens dat hulle wel daar rond is.

Nou ja, nou weet jy ook wat ek doen.  Daar is darem ook name, veel groter as myne wat ook so aanbid het:  Nadat Jesus hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. (MARKUS 6:46)

belewenisse wat die siel voed

Dylan Lewis Sculpture Garden Stellenbosch

Webblad: http://www.dylanlewis.co.za/

Die pragtige tuin in die beskemde kommetjie hande van die berge is verdeel in tuin kamers.  Ek kan ure deur die tuin wandel en nog nie genoeg kry nie.  Die uitleg, plante, uitsig, kuns en selfs die koffiekamer is ‘n sielsverryking. Heerlike koffie en tee word met warm uit die oond gebak bedien op eetgery wat as kunswerke in eie reg beskryf kan word.

Ek sal moet terug gaan want na ‘n paar uur voel dit soos ‘n inligtingsoorlading – ek kan net nie nog iets inneem nie.  Ek besef mens kan nie daardeur stap nie – jy moet vertoef, inneem, bedink, bekyk, bevoel, ervaar, proe, smaak, ruik, ……  Een van die mees onbeskryflike ervarings van my ganse lewe!  As jy ooit kan – dit is defnitief iets vir jou “bucket list” en glad nie onbereikbaar of belaglik duur nie.

Wie sou kon dink dat tyddeel soveel pret kan wees!?

Ek was so gelukkig dat ek en my liewe moeder ‘n uitnodiging van ‘n vriendin en kollega gehad het om saam te gaan vir ‘n langnaweek na haar tyddeel anderkant Warmbad.  Ek was al voorheen by tyddeel vakansieoorde.  Nie regtig my koppie boeretroos nie.  Georganiseerde kinderspeletjies, swembaddens, glybane, putt-putt en gillende jillende kindertjies- ek swem eerder by my eie huis.  My vriendin het my egter belowe die perseel is ‘n big5 oord en ons gaan kan birding doen.  Wel birding – (regmerkie), goeie geselsskap (regmerkie) en lekker kos en wyn wat ekself ingepak het (regmerkie) – ek was oortuig dit kan nie te erg wees nie en ‘n wegbreek vroeg in die jaar is mos nie te versmaai nie.

w23frijhbmabalingwemain_e285c_thumb_0Die omgewing is pragtig met heelwat damme wat diere en voëls lok en baie fotogeleenthede.  Die wooneenhede is in groepies teen die berghange gesprinkel en almal het ‘n asembenewelende uitsig en is ruim en gemaklik.  Die leeus se diep brul eggo deur jou murgpype in die aand en dit voel asof mens in die wildernis bly maar hulle bly in hulle eie kamp en loop nie los rond nie.  Ons het wel olifante gewaar wat rustig in ‘n rivierloop wei.  In die oggend roep die tarentale ons wakker en terwyl ons boeretroos en beskuit op die stoep nuttig wei ‘n mamma vlakvark met haar kroos langs ons verby.  Ek sou nooit kon raai dat die klein vlakvarkies net soos mak varkies oink-oink nie maar hulle doen in sulke hoë stemmetjies – te koddig vir woorde.

Die eerste hoogtepunt was my gunsteling die kuifkopvisvanger (Malachite Kingfisher).  Hy is ‘n klein skaam voëltjie wat in die riete bly en ek was soooooo gelukkig toe die meneertjie ‘n hele rukkie vir my “gepose” het!  Laat ek maar eerlik wees – ek het hardop gegiggel van die lekkerte!

Die rooiborslaksman was nie so maklik nie.  Vir drie dae het ons hom gejag vir ‘n foto.  Hy bly in digte doringbosse en kan nie stilsit nie.  Dit vat ‘n hele paar pogings om hom in die visier te kry maar toe ek uiteindelik amper die hele outjie in fokus het (maar die punt van sy stertjie afgesny het) moes ek maar volstaan dat dit my beste poging was.  Ek kan glad nie verstaan waarom hy so wegkruip nie – ek dink hy is vreeslik “handsome”!

Het jy al so vet bloukopkoggelmander gesien?  Sy gaan seker binnekort eiertjies lê.  Die aanstaande pa lyk heel selfvoldaan.

Elke dag was daar tonele wat net so goed in ‘n kunsgallery sou pas – die waterlelies het my baie aan Monet se werke herinner.

Die cute outjie bo-op die doringboom word ‘n baardmannetjie genoem.  Dit is die pragtige blouvalkie wat een middag laat so vir ons geloer het.

Die jakkalsie het ons eers skrams gesien – hy was haastig oppad iewers heen.  So twee draaie verder het hy rustig geraak en ons ‘n hele rukkie vermaak.

Oppad uit moes ek eers stilhou om die majestieuse swartwitpens te bewonder.  Hulle is darem die mooiste bokke.  Die een was in ‘n uitmuntende kondisie en ‘n prentjie met die waterberge in die agtergrond.

Daar was nog baie diere en voëls, klein en groot.  Heerlike kos, aangename gesprekke om die vuur en lekker afkoel in die swembad. (Wat ons nie eers nodig gehad het om een aand met iemand anders te deel nie!)  Ons het nie eers geweet van die danskompetisies, putt=putt of gillende kindertjies nie.  Wys jou – vooroordele nè! Ek is so wonderlik dankbaar om in so mooi provinsie te kan woon, dat my hart en siel so kan “connect” met die natuur, ek is geseënd om te werk saam met kollegas wat meer soos familie is eerder as vriende en om kosbare tyd en ervarings met my liefste Moeks te kan deel.  Hoe gelukkig kan een mens nou eintlik wees!?

Passie vir wat ek doen

Ekmyself se blog { https://ekmyselff.wordpress.com/2017/02/07/passie/ } het my laat dink aan so paar gedagtes wat al reeds besig was om in my kop rond te draai vir ‘n geruime tyd al.  Veral in die laaste deel van 2016 het ek daardie gevoel maar alte goed geken.  Ek het werk om te doen maar my voete sleep en my kop kannie of wil nie fokus nie.

Ek het regtig nie ‘n slegte werk nie.  Ek is ‘n dosent by ‘n Univesiteit in handelsregvakke.  Ek hou van klasgee.  My kleinsus meen dat dit belaglik is dat ek nog daarvoor betaal word omdat ek so mal is daaroor om ‘n “audience” te hê!  Ja ek geniet die klasgee, ek is aangedaan om te dink dat ek ‘n invloed mag hê op die ontwikkelling van soveel van ons land se pragtigste en intelligentste jong mense.

 

Aan die ander kant het elke werk ook sy schlep!  Ek het teen einde verlede jaar besef:

  • Ek het vir jare ekstra pligte op my geneem om die administrasie te laat vlot.  In die akademie is daar oneindig baie administrasie met geen of min beloning. Ek tog altyd geglo dit moet gedoen word en kan net sowel behoorlik gedoen word.   Mens kry egter net pryse of betaling vir navorsing, publiseer en daar is enkele pryse vir goeie onderrigvordering.  Die administrateurs maak dit moontlik dat die ander dinge gebeur maar dit baat my niks finansieel nie, dit baat niks op my CV nie en al is ek goed daarmee is dit tyd dat ek myself besig hou met dinge warby ek gaan baat.
  • Dit neem baie energie om ‘n goeie dosent te wees.  Statisties onthou die gemiddelde brein 5% van ‘n lesing.  As ek net voor my klas staan en hulle vertel wat ek reeds weet sal niemand deurkom nie.  Dit neem ure se beplanning, voorbereiding, praktiese voorbeelde uitwerk en hope entoesiasme en energie om daardie syfer op te stoot.
  • Ek het verlede jaar besef dat ek baie van my fut verloor het en besig was om net voor my klasse te staan en te vertel wat ek reeds weet!  Ek het selfondersoek gedoen en besef dat die drie geleenthede wat ek deur studente aangerand, rondgestamp en geboelie was in die laaste twee jaar se onrus, het my erg getraumatiseer.  Dit is ‘n handjievol van die totale studentegetal – ek dink op ons kampus neem minder as 29% van die studente deel aan studente politiek en nog minder aan optogte ensovoorts.  Tog kyk ek anders na die studente voor my en dit was op ‘n stadium asof ek gevoel het – “na alles wat julle aan my gedoen het vir wat sal ek my beste gee.”  Dit is nie my geaardheid dat ander se standaarde of optrede my standaarde bepaal nie – dit is asof so stukkie van wie ek was binne in my dood is.
  • Die papierwerk en admin kry my onder want daar is nie regtig goeie ondersteuning nie.  Ek haat roetine werk.  Ek verpes dit dat mense ‘n salaris trek vir ‘n werk maar byna %$#%^ doen.
  • Ek is gefrustreerd met die politieke ondertone wat aan alles by van ons universiteite geggee word – ek het nie baie politieke hare nie en die goed maak meestal net nie vir my sin nie.  Dit voel net asof ek die hele tyd op my pasoppens moet wees en nie mense se ware agendas kan lees nie.

So met al hierdie gewaarwordinge het ek besuit op in te skryf vir ‘n LLD graad – jare se moeilikheid en harde werk – maar iets wat vir my sal tel.  Gelukkig kan mens iets kies waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy graag meer wil uitvind en dalk selfs bydra om die wêreld so bietjie beter plek te maak – dis nou die aartsoptimis in my….  My eerste afspraak met my studieleier is 21 Feb en el is hard aan die werk om ‘n konsep idee op die tafel te kan sit.  ‘n Wegspringplek. Hopelik vir GROOOOOOT dinge….

 

Intussen moet ek nog klas voorberei, admin doen en met die gewone drama uithou.  Net gister het een van verlede jaar se studenteleiers, wat my by geleentheid erg geboelie het, so ewe om my kantoordeur kom loer om my te groet!  Dit sou maklker gewees het om die vent nooit weer in my lewe te moet sien nie!

Ek hoef darem nie elke dag kampus toe te gaan en het besluit om my studeerkamer tuis in te rig vir lekker werk.  Ek dink ek het die regte atmosveer en ondersteuning – wat dink jy?

img_6527

So vir nou konsentreer ek op ‘n lewensles wat ‘n goeie vriend my geleer het – ek werk vir geld sodat ek kan kamp!  En (BAIE BELANGRIK) ek maak ‘n punt daarvan om elke tweede maand vir ten minste ‘n naweek in die natuur te kom.

Namibië (Hoofstuk 2)

Ek was verlede week in Swakopmund vir die kongres van die Suid Afrikaanse Regsdosente.  Ek en ‘n paar van my beste vriende (Wat toevallig ook kollegas is) gaan drie dae vroeer om die omgewing te verken saam met Andrew van Footprints Gastehuis op Swakopmund.

Andrew is ‘n mense-mens.  Hy pas nie in die boksie nie en kruip sommer maklik in jou hart in. Hy ken nie net die omgewing nie – dit bekoor hom steeds na al die jare.  Dit moet tog moeilik raak , as toergids, om dieselfde storie keer op keer met entoesiasme te vertel.  Dit is duidelik nie vir hom nie.  Sy rustigheid is so sag soos die sandkleure van die duine met ‘n lagie betroubaarheid wat soos die strepies ystersand alles op hulle plek hou.  Sy entoesiasme herinner aan die ligeme, woestynplantjies wat van dood en kliphard voor jou oë groen en sag word en fluweelagtige blaartjies oopvou.  Hy moes dit seker al 100de kere vertel het maar hy raak in vervoering oor die meer as 800 ligeme spesies asof hy dit vir die eerste keer doen.

Mens dink dat daar geen lewe in die onherbergsaamheid kan wees nie – maar daar is.  En hier is die geheim – Namibië is ‘n plek waar mens moet vertoef as jy die hele prentjie wil sien.  Iets wat ons gids gelukkig goed verstaan.

15936844_10211627389144273_12009739879544392_o

Terwyl ons die ligeme bewonder vertel Annette wat al voorheen in Namibië was, van ‘n bustoer wat sy in die woestyn gedoen het waar een van die toeriste van Japan af was.  Hulle het ook afgeklim om die omgewing te bewonder toe die grote man begin snik soos hy huil.  Hy verduidelik in sy beste Engels dat hy nog nooit in sy hele lewe die horison vir 360 grade rondom hom kon sien nie en voeg by “You Africans are rich in ways that you cannot even see.”

Die twee professors besig om te “wees” en die waaierstertmeerkat wat kom kyk wat gaan aan.

Die volgende dag is ons na die Spitskoppe – so bietjie verder waar ons in ‘n park piekniek gehou en gebraai het en sommer langs die reuse rotsskeure net “gewees” het.

Ek dink nie baie toeriste doen dit nie – meestal jaag mens van een besienswaardigheid tot die volgende om die meeste “bang” vir jou “buck” in te pas maar so mis mens die wese en die siel van ‘n omgewing maklik.  Hoe gelukkig was ons dat ons gids vir ons die siel van die Namib so bietjie kon laat ervaar.

15994467_10211635794474401_5673542591964902441_o

Ek sal graag weer teruggaan en werklik heelwat langer wou vertoef.

Namibie Sielservaring

Ek was stil vir lank maar ek was bietjie in Namibië.  Vir werk eintlik – ja ek het ‘n amazing werk.  Een maal elke 18 maande kom regsdosente van oral oor Suidelike Afrika bymekaar en ruil idees, navorsing en planne om studente beter op te lei uit.  Hierdie keer het die Universiteit van Namibia dit in Swakopmund aangebied.

Ek en ‘n paar kollegas het so paar dae vroeër gegaan om eers die omgewing bietjie te verken.  Ja hulle is regtig my kollegas maar ook my beste vriende – regtig ‘n groot blessing om so te kan werk!  Ek kan dit aanbeveel.

Ek het nooit besef dat Namibië so groot bedryf in kristalle, edelgesteentes en semi-edelgesteentes het nie.  Om die kristalgallery te besoek was baie spesiaal.  Jy kan so terloops langs ‘n kristal van etlike tonne en wat meer as 500 Miljoenjaar oud is ‘n selfoonfoto kliek!  Dan is daar natuurlik al die blieng en kleure en vasette om te bewonder.

En dan ontmoet jy ‘n prospekteerder van die Brandberg, ‘n Namib Cowboy om sy woorde te gebruik, wat vir maande in die berge bly en soek en grawe vir sy fortuin wat hy hoop om te vind voordat hy te oud is.  Hy vertel met hoendervleis hoe die kristalle miljoene jare gelede in die lawa klip gevorm het en sy ervaring as hy besef dat hy die eerste mens ooit is, na miljoene jare se stikdonkerte, om die lig op die kristal te sien val as hy die klip oopkap.  Hy is ‘n kitaarmeester, sanger, liedjieskrywer, filosoof en ‘n uiters welbelese kenner van chemie en geologie.  Wat ‘n belewenis – die man se musiek gaan dwarsdeur jou masker en voorgee tot diep binne in jou siel.

img-20170118-wa0002

Ek en my kollegas geniet ooglopend ons aandjie saam net Lorri (Voor lings met sy kitaar) en Andrew (voor regs) ons gasheer vir die week. Jy kan ook na Lorri luister by https://soundcloud.com/lorri-raaths/rocks-and-stones beide Kwela en Coenie van DSTV (“n Ander wêreld met Coenie: Anderkant die Brandberg) het al TV programme oor hom gemaak.

In die kristalgallery word die oorsprong van die woord Amatis verduidelik.  Dit kom van die Griekse woord amethustos wat as altyd sober (nie dronk nie) vertaal kan word.  Die geoloë het gevind dat die amatis wat in Namibië gemyn word die heel beste kwalitiet in die wêreld is hoofsaaklik as gevolg van die afkoeltemperature en -tyd van die lawa klippe toe dit gevorm was.  Lorri myn hoofsaaklik amatis. Nadat ek die betekenis uitgevind het het ek hardop die wens uitgespreek om ‘n driehoekige amatis te kon kry wat ek vir my dogter in die logo van die AA kan laat set. Die kristalgallery verkoop ‘n groot verskeidenheid stene maar daar was nie driehoeke nie.  Die simboliek sou oorweldigend wees vir iemand wat die stryd teen verslawing dapper stry.  Lorri het sowaar ‘n steen uitgesoek wat hy gemyn het en dit self na ‘n slyper geneem om dit nog dieselfde dag vir my in die driehoek te slyp. Daar word my droom waar in so spesiale manier wat ek nie eers sou kon droom nie.  Die amatis, van die beste in die hele wêreld, in die driehoek van eenheid, herstel en diensbaarheid, met die simboliek van die Griekse “altyd sober” maar wat ek uit die growwe hande ontvang het van die man wat dit self uit sy donker kelder van miljoene jare gehaal het – die eerste energie wat daardie steen ervaar het was die ontsag en dankbaarheid van die Namib Cowboy. Die rooi hangertjie hieronder is net ‘n voorbeeld van hoe ek hoop dit sal lyk.

Ek sien ek sal hierdie storie moet laat vervolg – daar is nog baie te skrywe oor my avonture in Namibië.  Nou gaan ek eers saam my Moeks die fliek Ballerina kyk.  word vervolg ….