Wat is die liefde?

25_Ek_het_jou_gemaak_320_x_480_003_pre

 

“Elke fokken liedjie op die radio is oor die liefde!” sê my vriendin vanoggend toe ons terugry Pietersburg toe. Kan seker wees.  My dogter is weer van mening dat die meeste hedendaagse musiek oor interafhanklike verhoudings of “co-dependancy” gaan.

 

Jan Rabe se kortverhaal “Ek het jou gemaak” gaan oor ‘n ingenieur, ene Jacobs, wat onlangs sy vrou aan die dood afgestaan het.  Hy maak ‘n wasbeeld van sy vrou wat elke aand glimlaggend in haar trourok oorkant hom aan die etenstafel sit.

Later maak hy ook vir Andries, ‘n robot, om hom geselsskap te hou.  Hy programeer Andries om ‘n aantal vrae te kan antwoord aan die etenstafel:

“Wie is jy?” het hy gewoonlik begin.

Dan het die robot se foto-elektriese oë geblits, en sy ystermond kletterend monosillabes in ‘n grafstem uitgespel: “Ek is An-dries die ver-dom-de robot.”

“En waarom is jy hier, Andries?”

“Om oor lief-de te praat.”

“Wat is liefde Andries?”

“Aan-hou be-weeg en ge-raas maak.”

“En wat gebeur as mens ophou beweeg, Andries?”

“Onvermydelike dood.”

“En wat is die dood, Andries?”

“Nim-mer. Al-tyd.”

“Maar wat is lewe, Andries?”

Waarop die robot weereens laat hoor het:

“Nim-mer. Al-tyd.”

Op ‘n grou koue dag het hy egter die robot verseker: “Jy’s verkeerd, liefde is vrees.”

 

In ‘n voorgeskrewe Nederlandse boek wat ek in standerd nege moes lees: “Niet skreien ouwe.” (Moenie huil nie ou man.) vra die skrywer op ‘n stadium die retoriese vraag: Waarom ontmoet eensame mense nie mekaar nie?

Miskien is dit hoekom my vriendin vanoggend so vloek oor die liefdesliedjies. Na ‘n aaklige huwelik wat nog erger geëindig het en opgevolg is deur ‘n verhouding wat baie beproewinge oor haar lewe gebring het, dalk is die liefde vir haar ook nou maar net vrees.  Waarom probeer mens nog aanhou beweeg en geraas maak?

Wat is die punt?

Dalk dink jy my vriendin is misvorm, onnosel of irriterend?  Maar sy is nie.  Sy is een van die pragtigste, slimste en mees innemende mense wat ek ooit ontmoet het.  Ek het nog sulke vriende.  Eensame mense.  Oulike suksesvolle mense. Mans en vrouens. En nee ek kan soms regtig nie verstaan waarom dit so moeilik is nie en waarom hulle so eensaam is nie. En ek kan nie help om te wonder of ek ook vir die res van my lewe alleen sal wees nie.

 

Vir nou is ons maar saam eensaam.  Dit is net bietjie makliker.  Soos Billy Joel sing (in een van die liedjies wat nie oor die liefde gaan nie)

“They share a drink called loneliness but it’s better than drinking alone.”

 

images