Life: Everything is exactly as it should be

10451737_703484699746287_3375416970711272524_n

Ek het onlangs ‘n kort video van ‘n ou Hindu man gesien wat regtig vir my die situasie perfek opgesom het.

IMG_1424

Die uitdrukking; “everything is exactly as it should be” het ek by ‘n vriend geleer wat my baie van recovery geleer het, hy is nou twee jaar terug oorlede – ek moet erken ek wens nog dikwels dat ek hom kan bel of net gou iets kan vra.  Ek weet nie of ek die oorsprong van die spreuk perfek onthou nie maar ek kan ten minste die begin van die storie onthou:

Dit speel af in antieke China, voor die Hun-oorloë. Die hoofkarakter is ‘n man, kom ons noem hom Ping, wat sy vrou en seun aan die lewe hou deur met sy perd en ploeg vir boere landerye te ploeg. Op ‘n dag word sy perd gesteel, die hele omgewing se mense kom simpatiseer, hulle besef die swaarkry en hongersnood wat vir hom en sy gesin voorlê. Hy antwoord egter dat alles maar net is soos dit moet wees. Niks minder nie en niks meer nie.

Dan hoor ‘n ryk man in die volgende dorpie van sy penarie.  Die man het baie perde en stuur een as geskenk om die getseelde perd te vervang. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand en die almal in die dorpie maak ‘n draai om Ping geluk te wens met die wonderlike toeval waarop hy soos altyd antwoord – alles is soos dit moet wees.

Die nuwe perd is egter nie gewoond aan werk nie en terwyl Ping se seun op hom ry gooi hy die seun af en ‘n gebreukte been is die hartseer uiteinde – in antieke China iets wat selfs lewensbedreigend kon wees. Die gemeenskap staan tou om met Ping en sy gesin te simpatiseer maar hy antwoord weer dat alles is soos wat dit moet wees.

Daardie selfde week daag die keiser se army op om troepe te werf vir die Hun oorlog – uit elke familie word ‘n jong man as soldaat opgeroep maar Ping se seun word vrygestel want met sy gebreekte been gaan hy nie veel vir die keiser se saak kan bydra nie. Bure en vriende kom oor om aan Ping te vertel hoe bly hulle saam met hom is dat sy seun gespaar is – maar nou weet jy al wat sy antwoord was.  Die storie gaan nog deur ‘n paar ups en downs maar die punt is dat soms is iets wat ons dink baie goed of oulik is vir ons sleg en andersom – eers as jy terugkyk kan jy die hele prentjie sien.  Ongelukkig word die lewe nie in reverse gelewe nie!

Een minuut video link: https://saveig.com/p/ByJcRnvA9xI/

Die Hindu wysheer se video vat hierdie so mooi saam. Die lewe is nie net lyding nie maar ook nie bedoel om vreugde te wees nie – die lewe is is net wat dit is. Niks meer nie en niks minder nie. Ek kan nie bepaal hoe die lewe om my ontvou nie maar wat ek dink en hoe ek voel – ek beheer dit. As ek beheer hoe ek voel en wat ek dink, hoekom sal ek myself nie te alle tye hou op die hoogste vlak van geluk en tevredenheid nie? Soms draai die “super computer” die menslike brein teen ons, ons eie inteligensie maak ons ongelukkig.  Iets gebeur wat ek nie van hou nie en plaas van om te sê dit is maar wat dit is raak ek ongelukkig want my kop sê dit is nie reg nie of dit hoort nie so nie. Sommige mense kyk dan na buite vir troos / vreugde / hulp – ‘n whisky na ‘n moeilike lang dag, ‘n groot bak van my gunsteling pastagereg, ‘n nuwe paar skoene of iets soortgelyks. Dinge van buite kan vir my gerief en gemak in my lewe bring. Solank ek onthou dat welstand of innerlike geluk kan nooit van buite af kom nie, dit is iets wat ek alleenlik van binne myself kan bou en groei. Die Hindu guru meen ook dat mens dit net kan doen as jy die basiese fundamentele doel van jou lewe en bestaan uitgepluis het.

11891079_494048367436140_3132719795876703543_n

Nou dit is ook die punt van recovery – om die basiese fundamentele punt van my bestaan uit te werk. Dit maak sin want dit is eers vandat ek begin groei het in recovery dan ek nie meer deur die lewe verdruk word nie maar uiteindelik begin het om die golf van die lewe kan ry met oorgawe en entosiasme.

Reduced to go

IMG-20181128-WA0016

Ek hou van die afslagrakke in winkels. Baie winkels het hulle – ek begin graag sommer daar rondsnuffel. Daar is verskeidenheid, soms interessante verrassings maar wel soms ook beskadigde goedere.

Dit is vir my tog hartseer wanneer mense na hulself verwys as stukkend of “damaged goods”. Onlangs het ‘n inteligente hardwerkende man homself ook in my teenwoordigheid so geklassifiseer tot my opregte verbasing. Laat ek nou nie myself hoogheilig hier voordoen nie – ek doen dit ook. Ek het onlangs oorweeg om ‘n poging aan te wend om weer te “date” maar kan nie help om te wonder (en meer as een maal hardop te sê nie) of mense wat so oud en oorgewig soos ek is hoegenaamd ‘n kans staan nie?

Ons verwys na onsself amper soos die produkte wat hulself op die uitverkopingrak bevind: produkte waarvan die prys verminder is vir ‘n voor-die-hand-liggende tekort of soms verbeelde tekort: niemand sou dit wou hê nie.

Die sielkundiges meen dat hierdie tendens om jouself as gekwes of gebroke te ervaar spruit uit een of ander vorm van misbruik of trauma. Iewers het ons in die lewe gehoor dat ons onbelangrik, onminbaar, stukkend, gebrekkig is of net te kort skiet en dit geglo. Dit lei tot ‘n aanvaarding in so persoon se waardesisteem dat hulle beskadig, stukkend of ontoereikend is. Nog ‘n voorbeeld wat die sielkundige navorsers bevind het is dat waar iemand op ‘n jong ouderdom verwerp gevoel het, dit dikwels in ons waardesisteme gekodeer word dat ons onbemind of waardeloos is. Dit is ook nie net op fisiese of selfs werklike verwerping van toepassing nie. Dikwels voel kinders emosioneel afgeskeep of geignoreer en nie omdat hulle ouers dit so bedoel of beplan nie – dit is dalk ‘n slegte tyd by die werk, ‘n ernstige siekte in die familie of sommer die allerdaagse jakkalse wat in die wingerde plunder.

 

Dit is belangrik om te besef dat hierdie negatiewe wesenswaardes ‘n leuen is. Ons leer dit uit ons omgewing, lewenservarings, ondervindinge en ou wonde. Ja, mense maak foute, ek het ook maar maak my geskiedenis, foute, wonde of die nommertjies in my ID Boek of op my skaal my nutteloos?

Ekself en my mede gebokenes MOET onsself dwing om sagter op onsself te wees en beter met onsself te praat. Die pas afgelope naweek sê ek op ‘n punt hardop vir myself: Ek het ‘n fokkop van my huwelik gemaak, van my enigste kind se grootmaak, van my loopbaan en my finansies. Ongelukkig is dit vir my ‘n patroon – hoe swaarder ek kry hoe harder is ek op myself en hoe aakliger praat ek met myself!

Ek kan vandag wens dinge het nie uitgeloop soos dit het nie. Ek lieg egter vir myself as ek meen dat ek dit doelbewus veroorsaak het. Ek het die beste gedoen met wat ek gehad het. Ek het onder groot emosionele en finansiele druk nie elke keer die beste besluit gemaak nie. Ek het mense geglo en vertrou wat ek nie moes nie, nie omdat ek domastrant of stupid was nie, omdat ek regtig ongegee het en lief was vir hulle. Ek het in desperaatheid, en meestal uit liefde, my tyd, energie en aandag nie altyd in my eie loopbaankeuses belê nie. Ek wil soms op ‘n hopie gaan sit en wens ek gaan dood maar ek het nog nie, ek hou nog aan, ek probeer nog beter doen. Ek probeer nog plan maak. Ek stoei nog voort . . .

Ek besef my geskiedenis, die samelewing en selfs onwetende vriende en familie dalk, my eie desperate geswoeg en gestoei het oor die jare hierdie leuens diep in my psige ingewortel en vasgemessel. Dit gaan baie waaksaamheid en ‘n doelbewuste en goed gerigte poging neem om dinge om te draai. Ekself sal ook myself daagliks (of uurliks) moet herinner dat hierdie omkeer van denkwyse ‘n proses is en nie ‘n towerstaffie nie. Hierdie negatiewe selfwaardes is vir jare om en om in my kop gedraai, styf opgewen soos ‘n garetolletjie op ‘n masjien, deurgevleg en geweef in my dink en doen – dit gaan werk vat en tyd neem om aan te spreek.

So as jy weer op die punt is om na jouself te verwys as beskadig, tweede rangs of stukkend: STOP! Dink bietjie na oor wat die boodskap is wat jy vir jouself het. (Oukei ek praat hard en duidelik met myself hierso maar dalk wou julle ook hoor.) Onthou om jouself op die skouer te klop want ontberinge, pyn en verwerping maak ons beter en sterker mense. Ons pyn en trauma het ons nie beskadig of gebreek nie maar beter emosioneel aangepas vir die lewe en sy potholes. Ek wil nie mense se pyn en trauma afmaak as iets ligs nie – dit is nie. Daar is wel die moontlikheid dat ons wat eers onsself as stukkend wou klassifiseer ook tog waarde uit ons pyn kan vind.

Soos ek onlangs ‘n wyse ouer man hoor sê het: “As long as there is breath there is hope.”

47376654_2263270540595847_1097298362408894464_n

Uit die mond van die ekspert: https://wordpress.com/read/blogs/106156040/posts/33487

Het jy ooit verstaan?

live saving change

Nee ek is nie meer kwaad nie.

Ek besef net dat jou drank en jou behoeftes altyd voor my in die ry sou staan.  En ja, dit suck. En nee, dit was nie reg teenoor my nie.

So nee, ek is nie kwaad nie, ek is seer, rou, stukkend, moedloos en druppel vir druppel het die bietjie hoop wat ek gehad het weggesypel in die sand.

Ek was regtig lief vir jou, heel moontlik baie meer as wat jy kon verstaan.  Ek kon nie meer so lewe nie, ek het besef dat dit my uiteindelik ook sou vernietig, my dood sou beteken.

Ek weet dat verslawing en alkoholisme ‘n siekte is.  Soms kry ek dit reg om te glo dat jy nie doelbewus probeer het om my seer te maak nie, dat dit ook vir jou regtig swaar was om my te sien huil, tog, ongelukkig moes ek besef dat dit onmoontlik vir jou was om anders te lewe.  Daardie gif het vir jou ‘n kruk geword om op te leun, jy het jouself oortuig dat jy nie meer daarsonder kon lewe nie.

Ek weet daar was soveel meer aan jou as die kromgetrekte moedelose mensie was oor sy glas “huddle” en na sy sigarette vroetel.  Ek weet seker die heel beste van alle mense op aarde van jou hart van goud, jou sagte binnekant, jou geduld, jou sagte hand….  Ek kan nie eers al die kere tel wat jy vir my gesê het dat ek die beste ding was wat ooit met jou gebeur het nie.  Ek kon net nie meer glo dat daar enige waarheid in daardie woorde was nie.  As daar was, waarom het ek soveel nagte in ‘n poel van my eie trane gelê?  Hoekom was daar soveel kere dat jou woorde, aksies en versuim die bodum uit my lewe uitgeruk het, sonder waarskuwing, sonder konsiderasie, net sonder …

God self weet hoe swaar dit vir my was om van jou weg te stap.  Hoe verskriklik dit vir my was om my in te dink wat my lewe sonder jou sou wees.  Tog, ek kon nie meer “survive” nie.  Ek wou ook lewe.  Ek het nooit opgegee op die droom van die mens wat jy was nie, net die droom dat ons saam gelukkig sou wees.

Selfs nadat ek weggestap het het ek steeds gehoop en gebid dat jou oë kon oopgaan.  Dat jy iewers die moed of krag vandaan sou kon kry om jouself te red.  Ek het myself vir so lank gehaat en gekasty dat ek jou nie kon red nie.  Dat my beste pogings net nie goed genoeg was nie.  Vandag weet ek dat ek moet aanvaar dat ek jou kon red nie, dit was iets wat net jy sou kon doen.  Die waaroms hou my nou nog uit die slaap.  Waarom wou jy nie probeer nie? Hoekom wou nie veg vir jou lewe nie?  Waarom was daar niks in my, niks wat ek gedoen of gesê het of probeer het wat jou ‘n klein bietjie moed kon gee nie?

Baie nagte as ek alleen in my bed lê en my verbeel dat ek jou nog agter my rug kan voel, dat jou hand sag op my skouer rus dan moet ek wonder…. Het jy ooit verstaan?  Kon jy ooit besef hoe lief ek vir jou was en selfs toe ek weggestap het hoe hard ek nog gehoop het dat jy my desperate krete uiteindelik sou hoor?

Of was al wat jy tot die einde kon sien jou hunkering na die gif, die gif wat alles en almal uit jou lewe laat verdwyn het, en selfs uiteindelik ook vir my….

 

owen1

(My oorlede man was ‘n alkoholis, hy was blind en het aan long emfiseem gely.  Ongeag die waarskuwings van menige medici kon hy nooit ophou rook of minder drink nie.  Ongeag my gesmeek, gegil of gehuil kon ekself geen verskil aan sy keuses maak nie.  Ek het my siek blinde man verlaat in 2013.  Ja ek het self die besluit gemaak en tog is dit iets wat my selfs vandag laat snik soos ek huil.  Hy is op 15 Mei 2015 oorlede.  My dogter was 10 dae skoon van heroine verslawing die dag wat haar pa oorlede is.)

 

Na die stilte…

Ek was doodstil – ek weet. Ek het vir ‘n hele ruk so gesukkel met die swart hond, met twyfel, self-kritisering en heeltemal verwarde slaappatrone.  Soveel sodat ek uiteindelik nie ‘n ander uitweg gesien het as om mediese hulp in te roep nie.  Nuwe pille en ‘n paar weke verder en ek begin (alhoewel effe wakelrig) voel asof ek tog weer my voete kan vind.  Ons is nou maar eenmaal siel en liggaam.  As jy siek is is jy siek.  Dit is nie ‘n skande nie.  Nee ek is nie ondankbaar nie.  Nee ek kan nie net my sokkies optrek en harder probeer nie.  Ek wonder hoekom dit so erg moet raak voordat ek hulp soek?

In die moeilike tyd  (en , nee, as jy wonder – daar was regtig nie ‘n spesifieke voorval of gebeurtenis nie – heel moontlik net ‘n chemiese wanbalans) het dit my weereens opgeval hoe ek, wanneer ek swaar kry, dinge doen of nie doen nie wat regtig alles vir myself moeiliker maak.  Selfsorg of om net geduldig en genadig met myself te wees is sommer eerste by die deur uit!  As ek net mooi logies daaroor dink maak dit net glad nie sin nie – hoe kan ‘n redelike gebalanseerde inteligente mens so dom wees?  As ek nie na myself kyk nie is daar tog nie ‘n kans dat ek beter kan voel nie?  En nee – ek behoort nie so met myself te praat nie – ek weet van beter!

Ek herinner myself maar weer aan ‘n paar vinnige “tips” om goed te wees vir myself – ja ek skryf dit maar om my eie onthalwe neer – dalk herinner dit jou ook weer aan een of twee dingetjies.  Ons almal weet die feestyd wat voorlê verloop selde of ooit maklik en plesierig.

spirituality and self care

Self-sorg is nie iets wat ek af en toe kan doen nie.

Daar is groot gebeurtenisse wat mens kan ontspoor soos die dood of lyding van ‘n geliefde, finansiële spanning, ‘n ongeluk of siekte wat jou hele lewe verander.  Dan is daar die jakkalsies, moeg vir werk, kinders wat lyk of hulle uit hulle pad gaan om jou dag so moeilik as moontlik te maak, halfklaar projekte, kosmaak, skoonmaak – dit voel soms vir my af daar net geen manier is dat ek ooit op datum gaan kom met my eie lewe nie.

Ek weet dat wanneer ek genadig is met myself ek uitdagings beter hanteer.  Ek weet ook dat dit uiteindelik nie net my eie lewe makliker maak nie maar selfs dikwels ‘n uitwerking op ander het wat met my in aanraking kom.  Net om myself gou weer te herinner – hierdie is nie opsionele ekstras nie – dit kan ook nie net af en toe gebeur nie:

Slaap daarop. As ek nie genoeg slaap kry nie het dit ‘n emosionele sneeubal effek. Wanneer my eie pogings om te slaap nie werk nie moet ek mediese hulp kry.  Ek het nie eers slaappille nodig gehad nie – net een van my voorskrif medikasie verander en die probleem is opgelos.  Wat ‘n verligting – wens ek het lankal hulp gevra!

Praat dit uit. Ek is skaam en wil wegkruip as ek swaar kry. Almal kry soms swaar.  Dit help my altyd om sommer net ‘n koppie koffie met ‘n goeie vriendin te deel.  Soms is die tyd reg om te praat, soms nie.  Soms is daar terugvoer, soms net ‘n simpatieke oor of ‘n bevestiging “Ek was ook al daar, dit word beter.”

Neem ‘n “self-sorg” wegbreek. Dit is lekker as jy verlof het om ‘n dag te vat – ‘n middag af as dit kan en net verveeld te wees – nie om iets te doen nie. Ek sal ook ‘n breuk vat van elektronika, dit help my om beter te slaap en nie die hele tyd te voel asof ek besig moet wees met iets nie.  ‘n Kollega vertel my onlangs dat sy toe sy haar eie praktyk gehad het, elke jaar vir haarself twee dae geboek het by ‘n lekker plek met ‘n mooi uitsig maar waarheen sy nie ver moes ry nie.  Sy het hierdie tyd gebruik om te lees, te mediteer, haar gedagtes neer te skryf, onder die bome piekniek gehou, haar gunsteling wyn met oorgawe gesip en net haarself weer te ontdek en vernuwe – sonder haar werk, man of kinders in die agtergrond.  Dit klink vir my na iets wat voorgeskryf moet word vir elke werkende ma.

Hou op om “ja” te sê as ek “nee” bedoel. Ek het ‘n tendens dat wanneer dit vir my voel of my eie lewe uit beheer is, dat dit makliker is om ander mense se lewens te beheer of te red! Ek dink dit is waarom ek probeer help waar ek geen verantwoordelikheid het nie.  Natuurlik is dit lekker om te help as mens kan maar niemand kan uit ‘n leë fles skink nie.  Ek moet leer om my hande van ander af te haal en op myself te sit.

Onthou en doen ‘n paar dinge wat vir my pret is. Soms vergeet ek heeltemal waarvan ek hou. Dan moet ek sommer doen sonder om te dink.  Weer ‘n boek lees wat ek alreeds gelees en geniet het – dit verg nie baie inspanning nie.  Deur ‘n museum of kunsuitstalling stap, ‘n konsertuitvoering van “live music” bywoon, in die bos gaan stap.  Sommer op my swaaibank lê en my verwonder oor hoe die wind deur die boomtakke speel.  Dit is altyd ‘n goeie plan om uit te kom en bietjie son op my vel te kry.

Vra vir hulp. Dit raak net erger as ek probeer wegsteek en wegkruip. Ek moet hulp vra waar ek dit nodig het, van vriende, familie, my werkgewer as dit nodig is en ja ook mediese hulp. Dit beteken nie dat ek ‘n swakkeling is nie – ek is ‘n mens.  Ek hou nogal van die AA “slogan” wat lees: “Our program works for people who believe in God, our program works for people who do not believe in God, our program does not work for people who believe they are God.”  Daar is ‘n ernstige stekie waarheid in – as ek nooit hulp nodig het nie en alles en almal om my probeer beheer (Met die beste van bedoelings selfs) het ek dalk hogere aspirasies?!

Drink genoeg water. Water is goed vir my liggaam en brein.  Wetenskaplike toetse het al bewys dat persone wat sukkel met chroniese moegheid en self rugpyn kan baat daarby om meer en gereeld water te drink.  Koeldrank, koffie en ander dranke bevat suiker en ander “gif’stowwe (bv kaffeine) wat my lewer en niere eers moet uitwerk en kan my net nie so goed hidreer soos water nie.

Ontwikkel ‘n oggendritueel. Ek hou daarvan om my eerste koppie koffie op my stoep of swaai te drink met my honde wat om my lê. ‘n Ander kollega glo aan die skryf van “morning pages” uit die boek “The Artists way”.  Dit help om dinge te verwoord en konsepte wat soos chaos in my kop rondwaai struktuur te gee as ek dit neerskryf.  Dit is defnitief dinge wat ek gereeld moet doen en ‘n wonderlike manier om die dag te begin.

Moenie isoleer, wegkruip of weghardloop nie. Ek het ‘n uitnodiging na ‘n bring en braai gekry en “ja” gesê maar “nee” bedoel.  Die middag van die funksie het ek die roomys wat ek sou bydra na ‘n vriend gevat wat ook sou gaan met die erkenning dat ek nie meer wou gaan nie, ek wou net in my kamer gaan sit en jammer vir myself voel.  My vriend het my oortuig om te gaan – ja hy was ook al daar waar ek nou is maar dink ek nie ‘n lekker aand saam met my vriende is iets wat ek nou meer nodig het as om op ‘n hopie te gaan sit nie?  Ek het gegaan en ongeag die sinneloosheid in my eie kop die aand vreeslik geniet en lekker gelag en gekuier.  Met elke klein deurbrakie voel ek ‘n bietjie beter.

Skryf dit neer. Ek is nie godsdienstig nie, ek dink eintlik ek is nog kwaad vir my god. Ek weet in my eie hart ek moet vrede maak want om in oorlog met myself, met my god en met die res van die wêreld te lewe maak my klaar.  Om te skryf help my altyd.  Om hier op my blog te skryf is 100% terapeuties.  Ek het al die chaos in my kop neergepen in ‘n brief aan ‘n god waarvoor ek nog nie ‘n naam het nie.  Ek het al vir my oorlede pa en man briewe geskryf oor dinge wat ek nog wou sê en vrae wat ek nog moes vra.  Ek dink dit is dalk weer tyd…

As die mense wat jy liefhet sukkel met depressie.

.facebook_1491815609876

Ek het hieroor begin dink nadat ek ‘n blog gelees het van ‘n vrou wat skryf oor die herdenking van die dag toe haar suster selfmoord gepleeg het:

“I had already been thinking about my sister. I always do on the anniversary of the day she committed suicide, more so than on her birthday or any holiday. This is a date that lives in my soul. This is the date that created one of the cracks in my heart that is now filled with so many broken pieces. “

Ons almal ken sekerlik iemand (of baie iemande) wat swaarkry na ‘n geliefde se selfdood of is dalk self daardeur geraak.

Ek dink ook dit is relevant vir families in recovery.  Baie (indien nie dalk almal nie) alkoholiste en verslaafdes sukkel met depressie en of ander geestessiektes.  Heeltemal te veel alkoholiste en verslaafdes verloor die stryd deur hul eie selfdood.

Ek dra steeds baie skuldgevoelens en skaamte met my saam as gevolg van my verhouding met geliefdes wat met depressie of geestessiektes gesukkel het.  Ek is skaam oor die kere wat ek te bang was om iets te doen of te sê of te help – bang vir my geliefdes – op eiers geloop het.  Ek voel skaam oor die kere wat ek seker was ek hou nie van hulle nie – dat ek regtig kwaad was, woedend selfs.  ‘n Persoon wat in pyn is probeer soms hulself beskerm deur uit te vaar na buite – teen die skuldiges maar ongelukkig ook die onskuldiges.  Hulle kan dalk bewustelik of selfs onbewustelik ander probeer seermaak in ‘n verwronge poging om hulself te probeer beskerm wanneer hulle alleen, verwerp of wanhopig voel.  So het ek ook al geliefdes se pad gekruis en is aangeval bloot maar omdat ek daar was.

Almal vir wie ek lief is en wat hierdie demone gestry het of nog stry het ook hulle goeie punte.  Hulle is almal talentvol, kunstig, interessant en dikwels gewild met baie vriende – wanneer hulle nie emosioneel swaarkry nie kan hulle witty en skerpsinnig wees en baie pret om mee saam uit te hang.

Ongelukkig vervorm swaarkry dikwels in vrees en vrees kan in frustrasie of woede vervorm wat almal rondom die persoon wat swaarkry laat retireer.  Ek weet nie of mens voel dat so geliefde se pyn en probleme aansteeklik is nie – dalk tog.  Ek het baie gevoel ek het my eie probleme en struikelblokke – as ek te veel omgee, te veel betrokke raak gaan sy/haar probleme ook my lewe raak of dalk oorneem.  Waneer die mense vir wie ek lief is sou uitvaar of inkrimp in ‘n misrabele hopie was dit nie maklik om myself naby hulle te bevind nie.  Net te wees en te luister nie.  Net om te gee – nie raad of oplossings te gee nie.  Dit was altyd vir my makliker om prakties te raak – iets te doen – of te probeer doen.

Ek was nie oor die jare my eie stryd gespaar nie en het self af en aan met depressie en ander mediese probleme gesukkel.  Ek moet ook erken dat wanneer iemand hulp vra of nodig het my reaksie of antwoord nie altyd op hulle gefokus kon wees nie maar dikwels afgehang het van waar ekself my bevind het – die dal van doodskaduwee of die koesterende wintersonnetjie.  Heel moontlik het my pyn, vertwyfeling en innerlike wroegings ook mense wat vir my lief is seer of bang gemaak of selfs van my af weggedryf.

Dan is daar nog ook die stigma waaronder mense met geestessiektes en verslawing lewe.  Die Wêreld Gesondheids Organisasie klasifiseer verslawing as ‘n siekte maar min persone sou soveel simpatie met ‘n verslaafde of alkoholis hê as met ‘n kankerlyer byvoorbeeld.  Dit is ook al gesê dat kankerlyers nie openlik vir hulle geliefdes lieg of hulle besteel nie en ook nie op hulle vloek en skel as hulle hoog of dronk is nie.  As jy jouself sou beskerm is dit dan ‘n gebrek aan empatie of probeer jy bloot jouself bietjie verskans en beskerm?

Om mense na aan my so te sien ly en magteloos te wees het my, wat ‘n besonders logiese mens is ook bietjie mal gemaak. Eenmaal toe ons hospitaal toe jaag vir steke na ‘n selfmoordpoging het ek vir my dogter gesê, terwyl sy in ‘n hopelose bondeltjie op die agtersitplek lê: “Jy beter nie in my kar bloei nie – verstaan jy vir my!?”  ‘n Ander keer na ‘n oordosis slaappille, sy was byna in ‘n koma, het ek besluit om haar warm te hou en die volgende oggend hospitaal toe te gaan as my huishulp my kan help om haar in die kar te laai.  Ek het nie eers daaraan gedink om ‘n ambulans te bel nie.  Ek kan nou sien hoe verskriklik gevaarlik dit was, sy moes ook daarna lank in die hospitaal bly, ek kon daardie tyd nie meer reguit dink nie.

Die feit is dat verslawing, alkoholisme en geestesversteurings nie net die lyer raak nie maar baie ander persone wat vir die lyer lief is, omgee of selfs saam met hulle werk.  Ek is so dankbaar vir die leiding wat ek in die twaalf stap program kry wat my help om my eie skuldgevoelens uit te pak, af te stof, goed te bekyk en te besluit wat ek weggooi en wat ek aanspreek sodat ek ‘n beter lewenskwaliteit kan hê.  Nee ek kan nie my geliefdes se besluite vir hulle neem, hulle lewens vir hulle leef of hulle lewensgeluk beheer nie.  Nee ek kan nie die tyd terugdraai en anders optree as wat ek uit vrees en wanhoop gedoen het nie.  Wat ek  nou hoop is dat as ek in ‘n beter plek is in my eie gemoed dat ek tog ook vir ander ‘n beter dogter, ma, sister, niggie, vriendin en kollega sal kan wees.

 “I’m walking through the desert
And I am not frightened although it’s hot
I have all that I requested
And I do not want what I haven’t got”

~ from I Do Not Want What I Haven’t Got by Sinead O’Connor

Moedersdag

FB_IMG_1494252910179

Moedersdag is maar steeds vir my moeilik.  Een van my heel laagste punte was moedersdag 2014 toe my dogter nie meer in die selfde vertrek as ek wou wees nie en dit was die laaste ete wat ek en my oorlede man saam gehad het voordat hy Calvinia toe verhuis het.

DIt is eintlik vir baie mense ‘n moeilike tyd, veral vrouens wat nooit kinders van hul eie kon gehad het nie.  Mense wat hulle kinders moes begrawe.  Mense wat as gevolg van omstandighede buite hulle beheer geen verhouding met hulle eie ma kon gehad het nie.  Mense wie se ma of ouma oorlede is en natuurlik ma’s wie se man of kinders alkoholiste of verslaafdes is.

Ek het nogal baie waarhede in die boek oor die tale van die liefde gevind. The Five Love Languages: How to Express Heartfelt Commitment to Your Mate is ‘n boek in 1995 uitgegee en geskryf deur Gary Chapman.  Dit kom daarop neer dat party van ons gawes of goeters gee om ons liefde te wys, ander dien met liefdesdade of opoffering, ander sê – druk hulle liefde uit in woorde, ander druk en soen – wys hulle liefde deur fisiese kontak en ander mense spandeer kwaliteit tyd om hulle liefde te toon.  Baie mense is ‘n kombinasie van meer as een liefdestaal.  Dikwels verskil ons liefdestale van die van ons geliefdes en dan verstaan ons mekaar verkeerd.

Dit beteken niks om vir my te sê dat jy vir my lief is nie – dit bly vir my leë woorde totdat ek dit self kan ervaar.  Dit was nog altyd my probleem met dae soos moedersdag en valentynsdag.  OK so op die een dag van die jaar vertel jy my hoe lief jy vir my is en hoeveel ek vir jou beteken en die ander 364 dae behandel jy my met minagting – of so voel ek.  Ek het vir baie jare van saamleef met ‘n verslaafde en ‘n alkoholis dikwels gebruik of uitgebuit gevoel.  Ek het gevoel dat ek my beste en dikwels my alles gee maar glad nie kan staatmaak daarop dat hulle enige bydrae maak nie.  Ek het nie geweet dat dit was omdat hulle nie anders kon nie – ek het geglo dat hulle nie regtig vir my lief was nie.  Dit is ‘n vrees of ‘n emosie wat ek nou steeds met my saamdra en ek vang myself vandag nog dat ek gevoelig is – as jy sê dat jy vir my lief is – wat wil jy eintlik van my hê?  Waarvoor gaan jy my goeie gesindheid hierdie keer misbruik?  Die waarheid is dat dit in my eie kop is – die ander persoon kan heel opreg en onskuldig wees!

My eie liefdestaal is om te gee en te doen – ook kwaliteit tyd te gee.  Ek sou mooi klere vir my man en dogter koop of maak, haar kamer versier – uitverf, gordyne maak, planne maak om dit vir haar mooi en lekker te maak, hulle gunsteling disse kook, koek bak, die etenstafel mooi versier en ek maak altyd baie moeite met geskenke.  Sy het egter eendag vir my gesê dat sy gedink het ek probeer haar liefde koop – sy wou hoor dat ek vir haar lief is, sy hou van drukkies en soentjies.

So ek praat Grieks vir haar en sy praat Chinees en tussendeur moet ons probeer sin maak en ‘n verhouding bou.

Ek werk aan my emosies en vrese – dit is deel van die 12 stap proses.  Ek besef waar ek tekort skiet en probeer beter doen.  Ek leef nie in ‘n perfekte wêreld nie – die mense naaste aan my maak foute en kan my soms teleurstel.  Ek maak foute en stel ander teleur.  Ek het weer hierdie week terdeë besef dat dit maar net ‘n proses is wat ek een dag op ‘n slag kan aanpak – en moedersdae dalk een uur op ‘n slag.

Briefie van die verslaafde wat aan ‘n oordosis dood is.

16729443_1866460466933783_2327789420615229601_n

My liefste ouers,

Daar is nie woorde om te beskryf hoe jammer ek is vir die situasie waarin ek julle gelaat het nie.  Geen ouer moet sy kind begrawe nie, dit is nie soos dit hoort nie.  Ek weet julle is hartseer, kwaad, ontnugter en wens dat julle die tyd kon terugdraai en my uitruk van die pad wat ek gekies het, as julle maar net kon.

My verslawing het alles verwring.  Die Here weet hoe hard julle prober het om my te help.  Selfs al het dit nie so gelyk nie, ek het ook besef hoeveel julle probeer het, ek was te hard, koud en slim.  My verslawing het my van die wêreld en mense om my afgesny en vervreem.  Ek het die mag van hierdie siekte onderskat, gedink ek kon dit beheer, geglo ek was in beheer.

Julle en soveel ander het my gewaarsku maar ek kon julle nie hoor nie.  Die effek van die dwelms het my ongevoelig en afsydig gemaak.  Ek het gevoel dat ek onsterflik was, dat die dwelms my groot en onstuitbaar gemaak het en dat ek sonder die dwelms – wel dan maar net – ek sou wees.

Daar was tye wat ek skuldig en skaam gevoel het oor my keuses en veral wat ek aan my familie doen maar die verterende vuur wat net meer en meer gesoek het om op te slurp en wat binne in my gewoed het was so sterk dat dit maar vlietende oomblikke was.  Meestal was die dwelms al waaraan ek kon dink veral soos die chemiese effek van die dwelms my brein al meer en meer beïnvloed en beskadig het.  Hierdie brandende smagting het geen gewete of integriteit gehad nie.  Hierdie vretende vuur van my verslawing.

Ek weet dat ek julle baie seergemaak het.  Ek het minagtend met julle gepraat, verdwyn vir lang tye terwyl julle in vrees moes voortgaan met julle dagtaak, gelieg, gemanipuleer, gesteel van julle, julle vermy en afgesny en uiteindelik julle agtergelaat met ‘n groot seer en leemte in julle harte.

Ek was so seker van myself met die dwelms in my.  Daar was nie enige iets wat julle kon doen of sê om my te oortuig nie.  Ek het geglo dat dit net “ander mense” was wat doodgaan van ‘n oordosis. Stupid mense wat niks van dwelms af weet nie.  Dit kon tog nie met iemand soos ek gebeur nie, ek het geglo dat ek weet wat ek doen.

Julle het my gesmeek om op te hou.  Julle het gepleit, gehuil, geskree maar ek het alles uitgeblok.  Julle trane het my laat inkrimp in my binneste maar my ego was te trots om dit te wys.  As julle julle arms om my geslaan het was die skaamte in my so erg dat ek net van julle af moes wegvlug.

En nou wil ek so graag terug – maar daar is nie meer vir my terug nie.  Al wat oorbly is vorentoe.  Asseblief neem my vorentoe.

Vertel my storie.  Noem my naam.  Praat met my.  Onthou en vier die goeie tye wat ons wel saamgehad het. Huil as julle moet – ek weet julle mis my, ek weet julle is hartseer.  Ek weet julle is lief vir my.  Ek besef nou dat julle julle bes gedoen het vir my maar nog julle of ek was sterk genoeg vir die stryd van hierdie siekte van verslawing.

Moet assebleif nie julleself blameer nie, julle moet glo dat julle julle beste probeer het.  Julle het nie my verslawing veroorsaak nie, julle kon dit nie keer of beheer nie.  Julle moet weet dat OK is om ook maar ‘n mens te wees wat jou beste kan doen en niks meer nie.  As julle julself blameer sal dit wees asof ek weer doodgaan, oor en oor, elke dag.  Ons hele familie gaan in hierdie tragedie vasgevang bly.

Elke keer as julle my sou wou vasdruk – gee iemand in ons familie ‘n drukkie en ek sal deel van die drukkie wees.  Elke keer as julle met my wou praat – praat met mekaar en ek sal luister.

Ek hoop dat julle vrede mag vind in die besef dat ek nou uiteindelik vry is.  Vryer as wat ek ooit kon wees.  Julle kan dink dat ek vir altyd weg is maar ek is nie.  Ek is in die briesie wat deur die blare waai, die sterre in die middernag, die reëndruppels wat teen die venster hang, die deuntjie van die voëltjies, die ronding van die wolke en die golwe van die see.

Ons sal nooit heeltmal van mekaar geskei wees nie want ware liefde wek lewe, selfs in die dood.  Staan stil – julle sal my aanvoel.

Ek sal altyd vir julle lief wees.

Julle kind.

Die opdraande stryd teen verslawing

Ek was gisteraand ‘n gas by ons plaaslike rehabilitasiesentrum waar tans 18 mense tuisgaan wat almal in verskillende stadia is in hulle stryd teen verslawing en alkoholafhanklikheid.  Daar is baie vreugde en dankbaarheid tussen die mense wat gelukkig genoeg was om recovery te vind.  Daar is ook tog ‘n donkerte in mense se oë en gemoed.  Dit is ‘n bitter moeilike stryd wat hulle stry, met ontsaglike vooroordele wat teen hulle tel en die swaarste ding wat ek ervaar het – in die gemoed van die verslaafde – die eensaamheid van die verwerping van familielede maar selfs nog erger hulle eie twyfel aan die pyn wat hulle hul geliefdes reeds aangedoen het maar nog kan aandoen in die toekoms.

15974860_1849974258582404_3140144452360832900_o

Die storie oor Van Gogh wat geel verf geëet het in ‘n poging om bietjie gelukkiger te voel is oral oor die internet maar die Van Gogh museum ontken dit.  Hulle is wel bereid om te erken dat hy verf, gif en terpentyn geëet en gedrink het in herhaalde pogings tot selfdood  – dalk is dit nie so vergesog nie en die verduideliking maak tog bietjie sin.  Ons het inderdaad almal ons geel verf – gelukkig nie alles onwettig of skadelik nie.

8yvmct85ycbltielywmjnyz_pngmnmst9iggycqe8ui

Ek is so dankbaar dat daar sagte liewe mense is wat tog braaf genoeg is om te volhard in die stryd teen verslawing.  Ek dink dit verg onuitspreekbare dapperheid.  My bors swel van die trots om te kan sê dat een van hulle my dogter is!

dsc_20160124185546257_beauty_style_51

Mense kry swaar

 

15170906_10154887189128938_7099264035088042951_n

Sjoe daar is baie mense wat swaar kry.  Ja ons sien baie fisiese armoede maar ek wonder of dit nie die maklikste tipe swaarkry is nie?  Die ander swaarkry.  Die diep binnekant jou diepste binneste swaarkry. En hoe nader ons aan die kersgety kom hoe meer mense is daar wat regtig swaarkry.

Ekmyselff se hartseer briefie het my so aangeraak en hierdie week het ek soveel mense raakgesien om my wie se fut en go ook uit is.

Vandag ontmoet ek ‘n vriendin vir koffie.   Ek bewonder haar.  Sy is hoogsintelligent, baie suksesvol, kunstig, maak tuin, oefen elke dag, eet gesond, is prentjiemooi maar sy kry regtig swaar.  Sy is onder erge werksdruk, haar kinders wat studeer skryf eksamen en kry swaar na al die stakings en min klasse, haar man is onder uiterste groot druk met projekte in sy besigheid.  Dit kom net van alle kante af en voel of dit nooit kan ophou nie.  As jy nog nie self daar was nie sal ek verbaas wees.

‘n Ander vriendin op wie se knoppie ek al baie gedruk het in my uur van nood sê vannaand dat sy bloot probeer “survive” op hierdie stadium.  Ook druk uit 360 grade.

Nog ‘n vriendin kry chemo vir kanker, probeer haar huis verkoop,haar boorgat is foutief en sy wag al 5 weke vir die span wat dit moet kom fix, haar swembad is groen en sy kan hom nie voltap om die pomp aan die gang te kry nie (waterbeperkings) en voornemende kopers skud hulle koppe.  Boonop maak haar nuwe besigheidsvennoot haar reeds moeilike bestaan feitlik onmoontlik.  Sy is ‘n weduwee en moet alleen die mas opkom.

My dogter het die week 21 jaar oud geword en deel met my hoe erg sy na haar pappa verlang op sulke dae.  My skoonma bel haar op haar verjaarsdag en die verlange na die twee kinders wat sy al moes begrawe hang swaar in die lug na die oproep.

Oor koffie vanmiddag vra my mooi vriendin “gee vir my raad?”

 

Wel al wat ek kan doen is deel uit my eie ervarings en wat ek uit anders se lewenspadjies geleer het.  Daar is drie dinge wat vir my help as ek so swaarkry:

  1. Dit moet uit – sê dit vir iemand
  2. Gevoelens en emosies is soos gaste – hulle moet kom en gaan
  3. Probeer deur die nag kom, as die son opkom en die voëls begin sing gaan jy nuwe krag kry.

1.Ek het al vertel dat my ma as enigste kind in ‘n ouershuis van twee alkoholiste baie swaar gekry het en vir donkiejare daarna nog die gevolge daarvan in haar lewe en verhoudings ervaar het.  Sy het my eenmaal vertel dat sy op ‘n stadium ophou maats maak het by die skool want maats wou op een of ander stadium by jou huis kom kuier.  Aanvanklik het sy maats gemaak maar as hulle vra: “Kan ons vanmiddag by jou huis speel?” het sy gewoonlik geantwoord nee ek hou nie so baie van jou nie, wil nie meer maats wees nie.  Nie omdat sy geneem was nie, sy was skaam vir die chaos by haar huis.  Later het sy ook daardie seer vermy deur eenvoudig net nie vriende te maak of uit te reik na ander nie.

My ma se beste vriendin vandag was bietjie erger daaraan toe.  Haar ma het van een alkoholistiese gewelddadige boyfriend na die ander geval, soveel so, dat sy dele van haar kinderjare in die kinderhuis deurgebring het.  Sy het ‘n heel ander benadering tot die lewe gehad.  As iemand vra om by haar te kom kuier het sy kliphard en dramaties gesê: “Ooooooh nee, my pa drink vreeslik en dan slaan hy ons verskriklik.  Ons moet eerder by jou huis kuier.”  Dit is vir my ongelooflik hoe verskillend die uitwerking van die chaos op die twee se selfvertroue en lewens in die algemeen was.   My ma se vriendin het nooit skaam of skuldig gevoel oor die situasie wat sy in elk geval glad nie kon beinvloed of beheer nie.

Ek kan nie tot ‘n ander slotsom kom as om te sê dit moet uit nie.  Sê jy kry swaar – selfs al is dit net vir iemand wat jy regtig vertrou.

2. Ervaar elke ene van jou gevoelens – regtig.  As jy hartseer is, gaan sit onder ‘n boom of op die leesstoel in jou kamer of maak jouself in die badkamer toe en huil jou oë uit.  As jy kwaad is vat ‘n vurk en vaar onder die bossies in die tuin in, gil en skreeu, gaan speel muurbal en voeter die bal met al jou krag en mag totdat jy vlou is of braak al die gal uit jou siel in ‘n brief en verbrand dit.  Watter gevoelens ookal moenie dit toesmeer, verdoesel,op die agterste brander skuif of mitigeer nie – laat dit toe om te kom en te gaan.

3. In Klaagliedere 3 is’n beskrywing van depressie. Nee ek weet ek is nie baie gelowig nie maar die Bybel is vir my ‘n goeie spirituele gids.  Vir my is daardie beskrywing baie raak.  Maar aan die einde, ek dink so in vers 23 of so die woorde: “deur die genade van die Here het ons nie vergaan nie, dit is elke more nuut.”  Ek het in my lewe al deur menige nagte geworstel.  Ek mag dalk nie my god ‘n naam gee nie maar dat daar genade vir my van ‘n mag buite en groter as ekself was kan ek nie ontken nie. Daardie genade word vir my elke oggend so spesiaal herbevestig.  As ek die voëltjies hoor, gewoonlik lank voor ek die eerste sonstrale kan sien, dan weet ek, ek gaan dit maak.

Laastens herinner ek myself ook maar dat ek kan doen wat ek kan met wat ek het.  Ek is toe ook maar mens.  Ek maak foute.  Ek word moeg.  Ek verloor moed.  Dit is sulke tye wat ek mooi moet konsentreer om goed te wees vir myself en mooi te praat met myself.  Wat ek moet aanvaar dat alles is presies soos wat dit moet wees en berus.

Ek het die week toe ons in die Krugerwildtuin was ‘n bietjie goedhartigheid bewys aan iemand wat ek daar ontmoet het.  Dit het my niks meer gekos as bietjie van my tyd en bietjie omgee nie maar sy was so oorweldig en dankbaar.  Weet jy, “A little bit of kindness goes a long way.”  Of jy ook swaar kry en of jy baie genade kry, as jy kan, luister so bietjie na die mense om jou en bewys ‘n bietjie goedhartigheid.  Nee, moenie goeters of geld gee nie, gee so klein bietjie van jouself.

13719_10153296125782650_1312935669110059218_n