Nog ‘n reis om die son.

Ek het vanoggend wakker geword met my 50ste reis om die son voltooi.  Ek is dus nou amptelik ‘n halwe eeu op moeder aarde. Heelwat mense wat my geluk wens vra of ek oud / ouer voel? Ek het mooi daaroor nagedink – die reine waarheid is dat ek voel asof ek nou begin om my voete te vind – die lewe en sy kinkels so effe kan begin uitsort.

Kyk in wese is ‘n lewensjaar maar net een roete om die son. Met elke nuwe roete is daar geleentheid om te leer, te ervaar, te dink, te doen of sommer net te wees. Vir lang tye moet ek erken het ek nie regtig geleer nie – ja inligting opgegaar maar oor en oor dieselfde dinge gedink, gedoen en gesê en tog nuwe of ander uitkomste verwag.  Want ek was mos reg, wat reg is is reg!

Wanneer ek so vasberade en reg is is daar nie ruimte vir mediteer, ervaar of sommer net wees nie. Ek is verlig om tog te kan rapporteer dat selfs ‘n hardkoppige rissiepit nuwe lewenskeuses kan aanleer – ‘n mens hoef regtig nie die lewe op sy heel moeilikste “level” deur te draf net omdat jy reg is of hardkoppig is nie.  Dit is OK om stil te bly, dit is OK om om te draai, dit is OK om nie te weet nie en ja, dit is ook OK om foute te maak of te weet jy moet oor begin.

As ek moet ‘n paar goedjies uitlig wat ek in die laaste paar jaar geleer het wat my laat voel asof ek my voete begin vind op moeder aarde:

  1. Think outside – no box required. Ek het altyd geweet dat ek nie vir die rat race bedoel was nie. Ek wil nie in ‘n stad bly en in verkeer vassit of kompeteer met die Jones’e nie. Ek is streng Calvinisties grootgemaak en het myself dikwels blindgestaar teen die kante van die mensgemaakte boksies waarin ek my bevind het. Ek doen dit nie meer nie, ek is wie ek is en as ek nie in jou boksie pas nie is dit nie vir my ‘n ramp nie. Ek kom so gereeld as wat ek kan in die natuur of as ek nie kan nie – kyk hoe die maan opkom oor my agterplaas.
  2. Take your hands off other people and place them on yourself. Ek kan niemand anders verander of beter keuses vir hulle maak nie. Ek kan dit met die meeste oortuiging of beste bedoelens doen maar elke mens op aarde moet hul eie lewenspadjie uitkap – ook die vir wie ek baie lief is. My eie geluk is egter NET my verantwoordelikheid – as ek nie fisies en emosioneel na myself omsien nie kan niemand anders dit doen nie. Ek het geleer om goed vir myself te wees – net soos ek graag goed aan ander doen.
  3. Recovery cannot be owned, it is rented and the rent is due daily. Al my wonde en letsels is dalk nie uitsluitlik my eie toedoen of skuld nie maar my herstelproses is my eie verantwoordelikheid. As ek nie beter word of herstel nie kan ek dalk net bloei op ander mense wat niks met my wonde te doene gehad het nie. My herstelproses gaan nie vanself kom nie – ek moet elke dag bewustelik daaraan werk. Ek weet ook dat ek net een dag op ‘n slag hoef aan te pak.
  4. I am enough – goed hierdie een gaan dalk nog ‘n paar reise om die son neem om met my hele hart te glo maar die buitelyne begin al deurskimmer. Ek is bewus van my gedagtes en hoe ek met myself praat en my selfvertroue en omgee word stadigaan sterker.
  5. Ek hoef nie met jou of jou lewensuitkyk of besluite saam te stem om vir jou lief te wees nie en dit is ook OK om iemand op ‘n afstend (soms fisies maar ook emosioneel) lief te hê ten einde myself te beskerm. Ek het geleer dit is OK om te sê: “Let’s agree to disagree.” Dat almal se invalshoek nie dieselfde is nie maar veral dat ek kan uittree as die “manager of the universe”. Ons kan eintlik maar almal ontspan – daars maar min in die lewe wat regtig onder beheer is. My moeks sê mos graag sy is seker dat God haar hare op haar kop gesit het sodat sy elke oggend wanneer sy hare kam besef dat niks onder beheer is nie en kan let go and let God.15972635_10211627043575634_5286788543632583559_o
  6. Maak ‘n punt daarvan om kontak te behou met vriende en familie – in goeie en slegte tye – as ek nie ‘n goeie vriend, dogter, sussie of niggie is nie kan ek nouliks verwag om goeie vriende, ma, sussies of niggies te hê. In moeilike tye wou ek wegkruip, ek was skaam en shameful, maar toe ek oop kaarte met my familie en vriende gespeel het het ek net liefde en ondersteuning ervaar.
  7. Dra sonblok, ‘n hoed, jou binnesole, slaap genoeg, kry oefening, mediteer, drink jou pille – ek kry net een lyf vir hierdie reis op aarde – dit is my werk om hom op te pas.
  8. When bad or difficult things happen, you either get bitter or better, the choice is entirely up to you. Ek het geleer om te fokus op wat ek het, op dit wat reg verloop om raak te sien wat om my is en gebeur eerder as om vas te kyk in wat verkeerd is of nie daar is nie. My omstandighede bepaal nie my sukses of geluk nie – ek doen.
  9. YODO – you only die once, you live everyday. Ek het geleer om op te hou om te survive en eerder werklik te lewe, die son op my vel te voel, die rose te ruik, al die verskillende kleure groen in die boom op te let en my koffie regtig te ruik en te proe.
  10. Everything is exactly as it should be. Aanvaarding is die sleutel tot geluk.

Synchronicity en serendipity

 

Op 19 Desember 1992 is ek en my blinde man getroud in Edenburg in die Suid Vrystaat.  My baie beskremende pa was nie gemaklik met die feit dat ek sou moes kar bestuur waarookal ons wou reis nie en taktvol het ons besluit om nie te ver te ry vir die wittebrood nie.

My liewe moeder en haar vriendinne het so ‘n heerlike kuier onthaal vir ons gereël in ‘n groot plaastuin en self die kos gemaak vir ‘n smaakvolle sjampanje ontbyt. Ons kon bekostig om almal te nooi wat ons graag wou.  Ons het dus besluit om heeldag saam met vriende en familie te kuier onder die groot koeltebome en net teen skemer tyd weg te trek om voor donker in Winburg hotel (Wat in die geelbladsye deur die AA geklasifiseer was) te oornag voordat ons na ‘n oord in die Drakensberge vertrek.

Na ‘n heerlike dag van kuier en opvang met die mense na aan ons hart is ons gepak en kom met ‘n lied in die hart aan by Winburg hotel.  Die locals ondersteun die hotel goed en daar is karwassery, bakleiery en drinkery oral in en om die hotel aan die gang.  Ek besluit ons gaan in elk geval onself in ons kamer kan vermaak op ons huweliksnag, ons meld aan by ontvangs en sorg dat ons in ons kamer kom. Toe die ontvangsklerk egter die kamerdeur oopmaak besef ek net dat ek nie hier wil bly nie.  19 Desember is warm, bitter warm.  Die kamer het Noorde en Weste vensters en toe sy die deur oopswaai voel dit vir my net soos wanneer mens die oonddeur oopmaak om te kyk of die koek al rys – die hittegolf laat my twee tree agteruit steier. Dan vang my oog die bed wat eerder soos ‘n reuse voëlbad of ‘n kom waarmee mens reënwater sou kon opvang lyk as ‘n plek om te slaap.

Ek kanselleer net daar en dan ons bespreking en soek ‘n telefoonhokkie (voor die tyd van selfone) om my pa te bel. Ja ons is veilig maar ek gaan nie hier bly nie. Ek wil aanry Betlehem toe, dit is darem ‘n groter dorp, dalk kry ons daar iets beter. My pa is natuurlik nie ingenome met die in die donker rondryery nie maar hy besef daars nie veel wat hy nou aan die saak kan doen nie.

2019-04-25_183108
Ek tuur oor die Maulti berge op ons wittebrood vakansie.

In Betlehem stop ons by die Park Hotel en verduidelik ons penarie.  Ja hulle het ‘n kamer vir ons, en bubbly op die huis, en ‘n heerlike ontbyt more oggend voor ons vertrek teen dieselfde prys as wat ons op Winburg sou betaal. In die kamer gekom is alles eenvouding maar koel, netjies en skoon en ons trek ons skoene uit en sit terug om die laaste helfte van Suid-Afrika se eendag krieketwedstryd teen Pakistan te kyk.  Goed ek sal ruiterlik erken dat ek die krieketentoesias is en dat ek my man my onverdeelde aandag moes belowe sodra die game oor was ten einde hom te oorreed dat ons eers krieket kan klaar kyk.

IMG_6556

Die pas afgelope Paasnaweek kamp ek met my tentjie saam met twee vriende in die Golden Gate Nasionale Park.  Die Oos Vrystaat is baie besig en baie nat.  Dit reën elke liewe dag van die naweek met net enkele kort tussenposes. Ons geniet in elk geval die natuur, daars min dinge so mooi soos die Vrystaat wat deurdrenk is, die kos, plaaslike biere, kuns en gesels oor alles en nog wat. Na vier dae se aanhoudende reën kom ons egter agter wat daardie kwalifikasie op die boks is van die “water column” as jy jou plastiese tentjie aankoop – dit is ‘n wetenskaplik maat van hoeveel water die membraan kan weerstaan of in algemene taal: 3 – 4 dae se aanhoudende reën is “pushing it” in ‘n plastiese tent en die beddegoed begin nou van ‘n kant af nat word.  Klein poeletjies begin vorm op die vloer.

Die Oos Vrystaat is nie regtig saans snoesig nie, allermins as alles nat is en ons oorweeg alternatiewe. Met ‘n goeie skoot heimwee stap ek by die Park Hotel in Betlehem in om die laaste nag droog en warm te kan slaap. Die ou dame lyk ouer en wyser, daars minder swier en beweging, maar haar gasvryheid is eweneens besonders dink ek vir myself as ek terugsit om te sien of RCB hulle krieketgeluk kan omswaai in die Indiese Premier Liga.

IMG_6601
‘n Kunstenaar se uitbeelding van die Park Hotel in haar hay days hang in die ontbytkamer.

Waar is ek nou?

56427032_2367562286811047_6746585665653178368_n

Die mensdom kan so dikwels fokus op waar ons wil wees en wat ons wil bereik – sekerlik prysenswaardig – dit bou karakter en toon ambisie. Maar ons moet tog ook nie vergeet om dankbaar te wees vir presies waar ons onsself tans bevind en ja selfs ook waar ons vandaan kom nie.

Op my recovery padjie was dit nie altyd vir my maklik om te erken dat ek dikwels maar bitter klein babatreetjies kon gee nie – minder nog die paar kere wat ek ‘n groot tree of twee agteruit gevat het om weer my ewewig te kon herwin. Maar as daar nou een ding is wat ek klokhelder in my recovery proses geleer het – Alles is presies net soos dit moet wees.

Ek dink ook dit is belangrik om versigtig te wees waar ons ons emosionele energie belê. Dalk is ek nie die enigste persoon op aarde wat wens dat ek vroeër van recovery geweet het nie, eerder beter na myself begin omsien het nie of lankal beter besluite begin maak het nie.  Sover ek weet kan geen hoeveelheid energie dit vir my of enige iemand anders omdraai nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy weet jy is reg.  Die addicts sê mos jy gaan eers die werk insit om te verander wanneer jy “sick and tired” is om “sick and tired” te wees. Ons maak ons keuses en besluite gebaseer op ons gereedheid – en dit gaan vir geen twee mense dieselfde wees nie. Ek weet verseker vandag dat ek wel op ‘n punt weer begin lewe het, weer lewensvreugde begin ervaar het, stukkies van my lewe begin terugkry het wat ek lankal geglo het dood was – en ek is ongelooflik onuitspreekbaar dankbaar vir waar ek nou is.

Ek dink een van my eerste bloginskrywings was houvanblou.wordpress.com/…/die-mees-gevreesde-vyfletterwoord oor my besluit om die “banting” of “keto” dieet te begin volg.  Dit het vir maande goed gegaan en ek het gewig verloor en regtig nie swaar gekry om die eetplan te volg nie. Nadat my dogter ‘n relapse gehad het het ek vir amper ‘n hele jaar myself nooit geweeg nie. In Januarie het ek en ‘n vriend wat ook gewig wil verloor saam besluit om die bul by die horings te pak en ek was regtig verbaas toe ek myself weeg en besef dat ek in daardie hele jaar geen gewig opgetel het nie.

Ek het vanoggend geweeg en besef dat ek deur die 20kg grens gebreek het – ek het nou altesaam 21kg verloor, al het dit my meer as ‘n jaar geneem. Ek moet nog heelwat gewig verloor om regtig gesond te wees maar ek kan weer dinge doen waarvan ek hou soos om te draf en muurbal te speel. Ek is regtig trots op wat ek bereik het.  Pak gerus 21 blokkies botter bo-op mekaar as jy weer in Checkers kom – dit is ‘n klein bergie!

Vroeg in my recovery het ek privaat terapie sessies gehad met ‘n jong terapeut en ek onthou goed dat al die foute wat ek in my lewe gemaak het die tema van die meeste van ons gesprekke was.  Ek het ‘n verskriklike swaar las op myself gelê en eerlik geglo dat alles wat verkeerd gaan in my eie, maar ook my man en dogter, se lewens alles as gevolg van my foute en tekortkominge was. (Laat ek ook maar volledigheidshalwe hier byvoeg dat hierdie een van die gevolge van verslawing is vir verslaafdes maar ook vir die kinders en familie van verslaafdes, ingesluit alkoholiste.) Met ons eerste sessie het sy opgemerk dat dit alles vir haar interessant was maar dat sy graag wil vra dat ek ‘n lys maak van alles wat ek reg gedoen het. Nog nooit ooit in my lewe het ek so daaraan gedink nie!? Ek het besef dat ek in my lewe elke geleentheid wat ooit na my kant toe gekom het benut het. Ek het nooit ‘n eksamen gedruip of ‘n vak oorgedoen nie. Ek het twee nagraadse kwalifikasies in minimum tyd voltooi terwyl ek voltyds gewerk het. Ek het dikwels in swaar tye voltyds gewerk en ook deeltydse werk aanvaar om seker te maak dat my man en dogter alle moontlike geleenthede kon geniet. Ek is mede-outeur van ‘n boek wat reeds vier keer weer uitgegee en gedruk is. Ek het bome geplant, riviere geswem, die natuur bewonder, gereis en gesels en berge geklim.

Ek het ‘n goeie, bevredigende en gelukkige loopbaan gebou deur die jare. Eintlik, as ek regtig eerlik wil wees, het ek in die 50 jare wat ek myself op moeder aarde bevind al meer gedoen en uitgerig as wat ek ooit kon droom. So, as julle my so bietjie sal verskoon, gaan ek vandag fees vier oor waar ek is.  Dankbaar wees vir alles wat ek kon doen en bereik. Vreugde en vrede in my hart ervaar as ek terugkyk na waar ek vandaan kom en spesifiek oplet hoe innerlike vrede al hoe meer en meer deel van my lewe word. Nenatjie ek sien jou en ek word al liewer vir jou . . .

13921071_1005157349582199_8388314267196284820_n

Naweekwegbreek na die KNP

Elke dag as ek werk toe ry, ry ek verby ‘n groot bruin toerisme bord wat amptelik aankondig dat die Kruger Nasionale Park net sowat 200 km weg is. Dit sal jou dus sekerlik nie verbaas dat ek “at the drop of ‘n hat” in die kar kan spring en soontoe ry nie.  Dit bly steeds vir my een van die lekkerste dinge om te doen. Ek dink vir my is die groot trekpleister die moontlikhede. Vir elkeen is daar legio moontlikhede om wonderlike diere en dinge te sien en ervaar. Jy moet net op die regte plek op die regte tyd wees. Ek ry altyd in die park rond met ‘n bottel bubbly in die koelhouer op ys, net ingeval ek dalk iets besonders wil vier soos om ‘n cheetah, wildehonde, swart renoster of so iets besonders tee te kom. Ek het nog nie nodig gehad om my bubbly weer huis toe te ry nie!

Ek het ‘n paar dae terug presies weer net so gemaak en al was dit net vir ‘n naweek was dit heerlik.  Ek was soos altyd nie teleurgesteld nie. Alles lyk vir my mooier in die park, alles proe beter, ek voel beter, ontspan beter, dit is makliker om rond te ry, om koud of warm te kry is glad nie so erg nie, ek slaap beter, ek staan makliker vroeer op . . . . my slotsom – ek is gemaak om die KNP te geniet!  En ek doen.  Ek deel net so paar foto hoogtepunte.

Om te kla of nie te kla nie …

Ek het jare gelede ‘n opleidingsessie bygewoon oor die ontwikkeling van die brein van kinders jonger as twee jaar.  Dit kom daarop neer dat kinders stimulasie nodig het vir die neurone in hulle brein om nuwe baantjies en padjies te vorm. Iemand moet met hulle praat, aan hulle raak, vir hulle nuwe ervarings wys en leer anders kan hulle brein nie tot sy volle kapasiteit ontwikkel nie.

Die menslike brein is natuurlik baie elasties. Dit hou in ons leeftyd nooit op ontwikkel en vervorm nie en as jy mooi daaroor dink, jou brein slaap nie eers as jy slaap nie want dan sou al jou organe ophou werk.

Ek het al uit meer as een bron die navorsing oor negatiewe gedagtegang gelees, as ek dit moet probeer bymekaar trek:

Navorsing toon dat meeste mense (ja nie net Suid Afrikaners nie) in ‘n standaard gesprek omtrent een minuut lank kla. Om te kla het ‘n kort termyn goed voel “pay off”. Soos byna alle kort termyn “pay offs” – byvoorbeeld om te rook of om ‘n drie snye sjokoladekoek met een sitting te verorber – is dit op die lang termyn glad nie goed vir my nie.

Die menslike brein is besonders enegie effektief en gaan elke keer die mees effektiewe roete kies vir die minste uitset. Wanneer ek enige optrede herhaal vorm die brein nuwe senuweevertakkings om die inligting meer effektief te laat vloei. Wanneer ek dan weer daardie optrede herhaal is die nuwe padjies gereed en baie makliker vir my brein om te herhaal. Dit maak herhaling van optrede natuurlik ook makliker – so maklik inderdaad dat ek dalk nie eers bewus is dat ek dit doen nie!

Ek kan ook nie regtig my brein blameer nie – wie gaan nou ‘n tydelike kitsbruggie opsit as jy weet jy gaan hierdie rivier weer en weer moet oorsteek? Dit is ‘n moeilike wetenskaplike proses om te verduidelik wat ek nie met ‘n oop gemoed kan sê dat ekself ten volle verstaan nie. Die eerste keer met nuwe gedrag of denkwyses vorm daar lettelik net ligte spoortjies proteine, met elke herhaling word die spoortjie dikker totdat die reeds bestaande neurone in my brein nuwe kettings met mekaar kan aanhaak. Die wetenskaplikes verwys soms na hierdie proses met die uitdrukking “Neurons that fire together, wire together.”

So – om op te som – herhaalde gekla of negatiewe gedagtes en woorde herbedraad my brein sodat dit vir my makliker is om negatief te wees selfs ongeag wat die omstandighede rondom my is. Om negatief te dink en praat word soort van ‘n “default” setting – dit neem moeite en verstellings om iets anders te doen. Dit is dan ook hoe nuwe gewoontes gevorm word.

Net nog ‘n interessante wetenskaplike titbit, navorsing by Stanford University het bevind dat persone wat meer gereeld klagtes het se breine se hippokampus – daardie deel van die brein wat probleme oplos en intelligente gedrag beheer – begin krimp het!

So wat is die teengif? Daar is basies twee dinge wat vir my werk – as ek wil kla – probeer eerder fokus op enige rede tot dankbaarheid, hoe klein ookal. Selfs Oliver Burkeman, die skrywer wat ‘n weersin het in alle selfhelp boeke meen dat om elke dag net een ding te probeer onthou waarvoor ek dankbaar is my lewe kan verander. Moenie dankbaarheid sommer afmaak as soetsappige oppervlakkigheid nie – daar is wetenskaplike rugsteun hiervoor.  Die University of California het bevind dat waanneer mense fokus op ‘n dankbare gedagte die afskeiding van die streshormoon kortisol met soveel as 23% afneem. Ek moet ook net bysê, ek leer myself daagliks aan om meer bewus te wees van wie ek is, waar ek is, wat ek dink en wat sê- ook hoe ek met myself praat. Dit is ‘n proses, ek mik vir vordering nie perfeksie nie. Gelukkig net soos die breinproses van ontwikkeling herhaalde negatiewe gedrag en woorde aanhelp kan dieselfde proses gebruik word om dit om te keer want hoe meer ek fokus op die positiewe hoe makliker word dit.

Tweedens – want soms het ons werklik rede om oor iets te kla – probeer ek eerder fokus op oplossing gebaseerde klagtes. Dit beteken ek besin voor ek begin – kan ek deur te kla of deur enige ander aksie enige iets aan die situasie verander? Dan kan ek eerder my energie en passie fokus op dit waaroor ek werklik beheer het. Interessant dat ek oor die laaste vier jaar wat ek in recovery is oor en oor bevestig het dat ek basies beheer het oor myself – baie min oor ander mense se gedrag of woorde.

Ek dink ook nie dit is nodig om ‘n vloermatjie te word nie. Dit is belangrik om jou persoonlike grense te stel in verhoudings, ek glo dat mense behoort te weet wat hulle regte is en vir hulself moet opstaan – niemand anders gaan nie. Maar ek het ook al geleer dat daar tye is wat ek reg is maar al my woorde, krag en passie nie ‘n blou duit verskil gaan maak nie. Ek dink nogal baie na oor my oorlede vriend Scott se woorde deesdae: ”And how does that serve you?” Hierdie manier van dink van jou, hierdie manier van doen – hoe baat jy daarby?  As ek niks baat nie of erger nog – dit berokkel my skade – moet ek dit laat gaan.

In die recovery sirkels het ek die beginsel van “clearing” aan die einde van die dag geleer. Waar almal vir aandete aansit sal ons by een persoon begin en die eerste rondte deel elkeen “The worst part of your day.”  Die verduideliking van wat “worst” beteken kom uit ‘n geestelike boekie en verwys na daardie tyd van die dag wat jy die verste van jou God of opperwese af gevoel het of heeltemal uit ritme met die universe. Dan met die tweede rondte doen ons “The best part of my day” – presies die teenoorgestelde. Dit verbaas my keer op keer hoe die positiewe selfs swaar gevoelens van negatiwiteit kan wegspoel. Ek dink dit is ook ‘n baie beter manier vir ouers om met hulle kids om die tafel te probeer kommunikeer as om te vra “So wat het vandag by die skool gebeur?” net om te hoor dat in die hele ses ure daar niks gebeur het nie.

Baie dele van die Bybel is prosa, poësie en stories maar dit is ook interessant dat daar wel ook wetenskaplike waarhede is: Fil 4:8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

So laat ek eindig met die klein mooi dingetjies wat onlangs oor my pad gekom het waaroor ek dankbaar is:

Boskerk

Dit is goed vir mense om te bid, mediteer of ten minste gereëlde spirituele ervaringe te hê.  Ek is nou die heel laaste persoon wat vir ander kan voorskryf hoe en waar hulle dit moet doen maar ek deel graag met jou wat vir my werk.

Ek vind dat ek in die natuur die heel sekerste is dat daar iets of iemand groter as ekself moet wees.  Ek kyk om my en kan dit nie ontken nie.  Hier vind ek dit makliker om te bid of mediteer en sommer net te vertoef en te verwonder.

Die boskerk is elke dag van die week beskikbaar, nie net Sondae nie.  Ek is gelukkig om baie naby aan pragtige natuurskoon en aangeplante woude te woon waar ek elke dag gratis toegang het. My tipiese diens is ietwat langer as die gewone kerkdiens – so een uur uit en weer een uur terug.

Gelukkig word honde toegelaat want my Hannabi skaaphond is regtig mal oor kerk toe gaan saam met my. Dit sal ook nie vir my dieselfde wees sonder haar nie.

Alhoewel daar nie ‘n vroueaksie is nie, verstom die kunstige versierings, blomme kleure en teksture my elke liewe keer.

Baie kanselklede spog met mooi versierings en “fringes”, dit het my vandag opgeval hoe groot “fringes” in die boskerk is op die oomblik.

Soms loop ons ander kerkgangers teë en soms net die tekens dat hulle wel daar rond is.

Nou ja, nou weet jy ook wat ek doen.  Daar is darem ook name, veel groter as myne wat ook so aanbid het:  Nadat Jesus hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. (MARKUS 6:46)

belewenisse wat die siel voed

Dylan Lewis Sculpture Garden Stellenbosch

Webblad: http://www.dylanlewis.co.za/

Die pragtige tuin in die beskemde kommetjie hande van die berge is verdeel in tuin kamers.  Ek kan ure deur die tuin wandel en nog nie genoeg kry nie.  Die uitleg, plante, uitsig, kuns en selfs die koffiekamer is ‘n sielsverryking. Heerlike koffie en tee word met warm uit die oond gebak bedien op eetgery wat as kunswerke in eie reg beskryf kan word.

Ek sal moet terug gaan want na ‘n paar uur voel dit soos ‘n inligtingsoorlading – ek kan net nie nog iets inneem nie.  Ek besef mens kan nie daardeur stap nie – jy moet vertoef, inneem, bedink, bekyk, bevoel, ervaar, proe, smaak, ruik, ……  Een van die mees onbeskryflike ervarings van my ganse lewe!  As jy ooit kan – dit is defnitief iets vir jou “bucket list” en glad nie onbereikbaar of belaglik duur nie.

Twee jaar skoon en sober – net genade!

In die kristalgallery in Swakopmund word die oorsprong van die woord Amatis verduidelik.  Dit kom van die Griekse woord amethustos wat as altyd sober (nie dronk nie) vertaal kan word.    Lorri, die Namib Cowboy, wat ek in Januarie daar ontmoet het,  myn hoofsaaklik amatis. Nadat ek die betekenis uitgevind het het ek hardop die wens uitgespreek om ‘n driehoekige amatis te kon kry wat ek vir my dogter in die logo van die AA kan laat set. Die kristalgallery verkoop ‘n groot verskeidenheid stene maar daar was nie driehoeke nie.  Die simboliek sou oorweldigend wees vir iemand wat die stryd teen verslawing dapper stry.  Lorri het sowaar ‘n steen uitgesoek wat hy gemyn het en dit self na ‘n slyper geneem om dit nog dieselfde dag vir my in die driehoek te slyp. Daar word my droom waar in so spesiale manier wat ek nie eers sou kon droom nie.  Die amatis in die driehoek van eenheid, herstel en diensbaarheid, met die simboliek van die Griekse “altyd sober” maar wat ek uit die growwe hande ontvang het van die man wat dit self uit sy donker kelder van miljoene jare gehaal het – die eerste energie wat daardie steen ervaar het was die ontsag en dankbaarheid van die Namib Cowboy.

My dogter het spesiaal ‘n foto sessie met ‘n liewe vriendin gereël om mooi fotos te neem – sy was regtig stomgeslaan met die geskenk en sy simboliek.