Ek was weer bietjie by my kerk en is uit my sokkies uit geseen.

My dogter het die pas afgelope naweek 21 jaar oud geword en om dit te vier is ek, sy en my ma vir 4 dae Kruger Wildtuin toe.  Net so 20 km by die hek in kom groet haar eerste verjaarsdaggeskenkie ons en pose vir ‘n paar fotos.

 

Ons was ook baie gelukkig om ‘n spesiale vertoning mee te maak – kom ons noem dit maar 50 shades of caramel…

En op dag twee eers die geblomde kat teen die pad – maar sy wou nie te lank pose vir fotos nie …

en toe ons tweede gekolde kat in twee dae!  Wat ‘n treat!  En hy het elkeen van die spiere op sy gespierde lyf vir ons demonstreer!  Kyk hoe mooi – ek weet darem nie of daar ‘n mooier dier op hierdie aarde rondloop nie – elke cheetah wat ek kry vat my asem weg…

 

Ons het ook op dag drie 19 leeus altesaam gesien – toegegee, 14 van hulle het “dood” gespeel.   Ek kon nie al 14 in een foto kry nie – net 12 op ‘n slag.   The lion sleeps defnitief in die dag hoor!

Dit is nie net die oeee en ahhhh diere wat die dag maak nie.  Die kleiner diere, veldblomme en voels is ook baie spesiaal en was ‘n fees vir die oog.  Ek sal sukkel om fotos uit te sonder – daar is nog meer op ons FB fotoblad.  Ons het elke dag zebras, olifante, koedoes, klipspringers, kameelperde, waterbokke ens gekry.  Net te veel om almal te wys.

En toe – die groot finale – net toe ons hartjies begin swaar voel omdat ons weet ons is naby die hek en gaan binnekort die park verlaat – letterlik ‘n plaat wildehonde – so baie en party van hulle slaap so styf teenmekaar dat ek nie eers almal kon tel nie.  Defnitief meer as 20.

 

Ek is dankbaar vir spesiale mylpale en spesiale geleenthede en die asemrowende verskeidenheid wat die natuur so terloops vir ons kan voorsit.  Dit is net ‘n onuitspreekbare genade vir my en my mense.

Godsdienstigheid vs spiritualiteit

Daar is ‘n sê-ding onder verslaafdes en alkoholiste in recovery dat godsdienstigheid beoefen word deur mense wat bang is vir die hel terwyl diegene wat reeds in die hel was spiritualitiet beoefen.

Daar was seker min mense op hierdie aarde so godsdienstig soos ek.  Ek het in die kerk grootgeword.  Toe ekself universiteit toe is en later begin werk het was ek nog erger as my eie ouers.  Ek het drie maal per week kerk toe gegaan, vir jare was ek sondagskoolonderwyser (kategeet), het pal op die kerkraad gedien, het op tye die basaarreëlingkommittee gelei, vir lank was ek die gebedsgroepvoorsitter, ek het elke Sondag die rekenaar presentation vir die grootskerm gemaak vir ‘n periode van meer as vyf jaar, ek was afloskoster, aflosorrelis, koorleidster – die kerk en godsdiens was ‘n baie groot deel van my lewe.  My man en dogter moes maar saam waar ek gegaan het.  My dogter het ook maar in die kerk grootgeword en vir die eerste 17 jaar van haar lewe was ons in dieselfde gemeente, ‘n klein NG gemeente met minder as 200 besoekpunte.

In 2004, na twee mislukte swangerskappe, lê ek in my hospitaalbed net 24 weke swanger op streng bedrus want dinge wil weer skeef loop.  My geloof was egter op daardie stadium onwrikbaar.  Ek weet dat geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie kan red en ek bid vir genade.  Ek vra presies vir een teelepel genade want ek is seker dit sou genoeg wees om my babatjie te kon red.  Maar dit was nie bedoel nie en ‘n week later staan ons by die oop graffie, sy was lewend gebore maar het slegs een uur gelewe.  Ek was teater toe gejaag vir ‘n noodoperasie en het haar nooit gesien nie – net haar lykie.  Watse genade is dit?

Daarna het my man se alkoholisme erg ge-eskaleer en my enigste wonderwerk dogter het verslaaf geraak aan heroine.  ‘n Verslawing wat sy eers na ‘n tydperk van ses jaar se absolute hel kon oorwin.  Sy sal op 5 November 18 maande skoon van enige dwelms of alkohol wees.

In Mei 2014 skryf ek in ‘n briefie aan my oorlede pa – ek kon toe nie meer met God praat of bid nie – ” Alles is maar net verlore pappa, daar is nie meer hoop nie.  Ek het altyd geglo dat ek die Here se witbroodjie was maar nou het Hy van my vergeet.  Hy het my naam uit SY handpalm gevee.  My ellende het my uit Sy hand geruk.  Net soos ‘n ooi van haar weggooi lam vergeet het Hy van my vergeet.”

Vandat my dogter op hoërskool was – veral 2011 en 2012 – het sy gereeld probeer selfmoord pleeg.  Ek het op daardie stadium alles in my vermoeë gedoen om my dogter aan die lewe te probeer hou – sy wou eenvoudig nie meer lewe nie.  Sy het ‘n sielkundige gesien en die sielkundige het briewe vir al haar onderwysers geskryf maar dit was regtig ‘n opdraande stryd.

Die swaarste vir my was egter hoe die mense in ons kerk en veral in ons eie gemeente ons behandel het.  Daar was 5 van haar onderwysers in ons gemeente wat haar vir die afgelope 14 – 15 jaar elke Sondag gesien het, by haar CD bekendstelling was en gesien het hoe sy jaar na jaar by die skool pryse verower het – ek het geglo dat hierdie mense sal weet dat die kind siek is en nie sleg is nie.  Nou egter het ons ervaar:

  1. Elke liewe een van die onderwysers het my soos ‘n mal mens behandel – kon ek nie sien dat my kind sleg is nie?
  2. Sy was deur die SAPD by die skool ondervra sonder dat haar ouers of ‘n onderwyser by haar was en nie een van die mense wat my “broers en susters in Jesus” was en wat ek as vriende geag het het my gebel of laat weet nie. Sy was bitter erg daardeur getraumatiseer.
  3. Waar mense siek word van kanker of ander “sosiaal aanvaarbare” siektes dra mense kos aan en help met huislike takies of skakel om te verneem na jou welstand of die van jou geliefdes maar as jy deur die hel van verslawing en alhoholisme gaan wil niemand iets met jou te doene hê nie en jy is “pretty much alone” in daai hel.
  4. Die skool het ‘n baie volledige dissipline stelsel gehad waar noukeurig boekgehou was van elke voetjie wat my kind verkeerd gesit het. Sy het bv take nie ingegee nie, gerook by die skool maar sy het ook as dinge vir haar te erg was in die badkamers gaan sit en huil vir ‘n uur waarvoor sy opgeskryf was vir klas bank.  Ongeag die briewe van die sielkundige en die feit dat sy voor die mense grootgeword het het nie een van die onderwysers regtig belang gestel in wat met haar geskeel het nie.  Ek het op ‘n dag besef dat as sy in die skool bly ek haar gaan begrawe en ek het haar by ‘n tuisonderrigsentrum ingeskryf.
  5. Die skool se dissipline stelsel het voorsiening gemaak vir “swart merke”. Toe ek die departementhoofde vra wat kan ‘n kind doen vir ekstra krediet – hoe kan sy die swartmerke van haar naam afkry was die antwoord nee daar is nie so moontlikheid nie.  Uiteindelik skop die kind se selfverdedigingsmeganisme is – so julle dink ek is sleg – wag ek wys julle wat sleg is.  Sy het niks hoop gehad nie en geen rede om te lewe nie – niks om te verloor nie.  Dit is ‘n baie gevaarlike plek om te wees.

Ek het in Julie 2014 hulp gekry – nee nie by die kerk nie maar by mense wat self deur die hel van verslawing en alkoholisme was.  Mense wat my so goed verstaan het hulle kon my sinne voltooi al het hulle my nie van Adam af geken nie.

Ek het egter steeds verskriklik na God gesoek.  Ek het na Polokwane verhuis en hier by ‘n gemeente aangesluit waar ek ‘n Alpha kursus gedoen het en later by ‘n Bybelstudiegroep aangesluit het.  Dit was by een so geleentheid wat ek meegedeel is dat ek nou moet begin sendingwerk doen anders is ek nie ‘n Christen nie.  Ek het verduidelik dat ek nog besig was om die stukkies van my lewe op te tel, (my dogter het twee terugslae gehad en steeds in ‘n rehabilitasiesentrum gewoon) dat ek moes heelword – maar die antwoord was duidelik – ek is ongehoorsaam aan God!

Ek was histeries – ek het gesnik soos ek huil – verwerp deur God.  Ek het deur my trane uitgestap en huis toe probeer ry maar moes langs die pad stop.  Toe bel ek ‘n nuwe vriendin.  Nie gelowig nie, nie lidmaat van ‘n kerk nie maat uiters spiritueel en lewe in daaglikste kontak met haar God.  En sy het die liefde en begrip gehad wat ek so naarstigtelik gesoek het. Sy het my kalmeer en laat verstaan dat God altyd tyd sal hê vir my.  Vir die eerste keer in my lewe het ek regtig verstaan dat die kerk nie God is nie.  As ek nie goed genoeg vir die kerk is nie beteken dit nooit ooit dat ek nie met ope arms deur God aanvaar sal word nie.

Ek was nog nie weer in ‘n kerk nie, behalwe met uitsonderlike geleenthede soos ‘n troue , begrafnis of by geleentheid as ek by my ma gaan kuier.  As ek met God wil praat sit ek in my tuin, klim op ‘n berg of gaan wildtuin toe.  As ek hulp nodig het van my medemens vra ek die handjievol kollegas en vriende wat by my gestaan het deur die hel of die gebrokenes wat ook deur dieselfde hel as ek was.  Ek het drie vriende wat lidmate van ‘n kerk is maar hulle voel hulself nie genope om my te veroordeel of te probeer bekeer nie.

In November 2015 het my dogter matriek geskryf.  Op my vraag waarheen sy wil gaan vir haar eindeksamenvakansie sê sy: “Krugerwildtuin toe saam met jou.  Kom ons gaan kamp met ons tent vir ‘n week.”

En daar sit ons op die 24ste November, op haar 19de verjaarsdag, na ses jaar van hel waar sy niks met my te doen wou gehad het nie en meer as een maal van die huis af weggeloop het en díe toneeltjie speel homself voor ons af.  ‘n Ma leeu en ‘n paar van haar kinders (Laat tieners of jong volwassenes skat ek) lê dikgevreet en tevrede naby aan die buffel wat hulle platgetrek het.  Die dogter, wat so 3 meter van die ma af gelê het staan meteens op, stap na haar ma toe en gee haar ‘n liefdevolle drukkie.  Dit was my boodskap van God af – waar Hy so duidelik vir my sê: “Ek was nog altyd hier, ek was nooit weg nie.”  En my dogter leun na my toe oor en gee my so stywe druk dat al die brokstukkies inmekaar pas.

Vir my is dit so waar wat die AA Big Book se Step 9 belofte 12 sê: “We will suddenly realize that God is doing for us what we could not do for ourselves.”  Dit was my gewaarwording toe ek daardie leeudrukkie belewe.  Ek besoek die KNP 3 tot 5 keer per jaar en het nog nooit ‘n leeudrukkie gesien nie.  Nadat my dogter kies om vir ‘n week saam met my te kamp en ons daar langs mekaar sit op haar verjaarsdag speel die toneeltjie voor ons af – dit kan tog nie blote toeval wees nie.

Ek is nie seker of ek my God ‘n naam kan gee nie.  Ek haal Jesus baie aan en het ‘n verwondering vir hoe hy gelewe het en vir sy woorde maar ek het ook vreeslike onreg gesien wat in Jesus se naam gedoen word en bittere oordeel ervaar van mense wat Jesus as god aanbid.  Al wat ek vir nou weet is dat my God groter as my probleme is, dat my God goedheid, genade en liefde is en dat my God verstaan dat ‘n mens so stukkend kan wees dat jy nie kans sien vir godsdiens nie.  Dit klink darem baie vir my soos die geknakte riet – al is hy goed vir niks – wat nie afgebreek sal word nie.