As dit voel asof jy gaan verdrink (Deel 2)

 

Die muntstuk het natuurlik ook ‘n ander kant – om ‘n goeie lewe te lei – jou beste te doen – suksesvol te wees. Vandat ons gebore is word ons gepeper met wie ons behoort te wees, wat ons behoort te doen en hoe ons behoort te lyk.

15665658_1801623063436264_1555052781475868675_nElke dekade of so kom daar nuwe idees vorendag oor die ideale vrou, ideale werkende moeder, om die hele tyd alles vir almal te wees, om jou doelwitte te bereik sonder om ooit te faal of op te hou.  Die ding is – dit is net eenvoudig nie moontlik nie.  Die glansblaaie van die tydskrifte met al die blink idees en netjiese huise met gemanikuurde grasperke is ‘n blote illusie.  As jy ‘n ou tydskrif van die 60er jare in die hande sou kry sal jy besef dat die wenpaal heeltyd skuif – niemand kan daar uitkom nie.

Ek onthou toe ek my dogter gehad het 20+ jaar gelede het ek ‘n ou boek in die hande gekry wat deur ‘n Dr Jan van Elfen geskryf was vir nuwe moedertjies.  Hy skryf onder andere op ‘n plek dat alhoewel die moedertjie dalk deur ‘n moeilike geboorte was, heelnag met die kleinding wakker was en haar hande stukkend was aan doeke moet sy tog moeite doen om mooi te lyk vir haar man as hy van die werk af kom en hom inwag met ‘n kus en ‘n lekker bord kos!  Nee kyk – gelukkig verander tye tog.

Amper net so belaglik as Dr van Elfen se patriargale raad was my pogings om aan die buite wêreld voor te hou dat alles wel is.  Dat ek die ideale werkende vrou en ma vir my man en dogter is en dat niks verkeerd loop nie.  Dit het my soos ‘n emmer koue water geslaan toe ek dit die eerste keer in die Twaalf stappe en die AA se “Big Book” lees – die chaos wat alkoholisme en verslawing meebring.  Ek het midde in dit gelewe maar dit nie eers aan myself erken nie.  Ek kon dit glad nie sien vir wat dit was nie – absolute chaos wat ek nie veroorsaak het nie maar nog belangriker wat ek nie kon beheer nie.  Ek weet dat baie mense glo of hoop dat hulle ‘n wederhelfte of familielid se drinkery of dwelmgebruik kan beheer of keer maar niemand kan dit doen nie.  Selfs as jy iemand sou toesluit is dit net tydelik,  Wanneer so persoon se denkwyse nie verander nie sal hy of sy dadelik weer drink of gebruik as hulle daaruit kan kom en geen persoon kan iemand anders vir ewig opsluit of oppas nie.  Ek weet – ek het dit immers vir jare probeer doen.

In kort – ek het ‘n wedloop probeer wen wat nie gewen kan word nie.  Eindelik was ek maar soos ‘n hamster op sy wiel, oor en oor het ek opgeklim en opgeklim, ek het deurentyd gevoel of almal langs die pad op my en my familie neersien en selfvoldaan sit en grinnik oor my belaglike pogings om die kunsmatige wedloop te voltooi.

18057912_1054885127980656_521049690175194262_nNa meer as twee jaar op die pad in my herstelproses (recovery) kan ek ‘n paar antwoorde waag.  Ek het besef dat ek my eie wedloop moet beplan en uitlê.  Ek kan die onmoontlike definisies van sukses wegsmyt en self besluit wat my definisie van sukses is en ek kan dit selfs van dag tot dag aanpas as ek wil.  Wat wil EK uit my lewe hê?  Wat is vir MY belangrik?

Oor die jare het baie filosowe poetiese riglyne gegee vir ‘n “goeie lewe”.  Ek het die boek “HELP” van Oliver Birkeman verskriklik geniet – ek dink dit is die een selfhelpboek wat my verslawing aan selfhelpboeke gaan beëindig.(En dit is baie vermaaklik om te lees!)  In die boek sif hy deur eeue se filosofieë en teorieë oor geluk en sukses en raak baie prakties oor wat regtig kan werk en wat maar uitgedink word om boeke te verkoop.   Ek is nou my eie filosoof.  Ek bepaal my eie visie.  Ek kies om dit so eenvoudig as moontlik te hou en om net op vandag te fokus.  Een dag op ‘n slag vir nou – niks meer nie.  Tog, as ek terugkyk oor die algelope paar jaar het ek veel meer vermag, een dag op ‘n slag as in die tien jaar wat dit voorafgegaan het!

Ek leer ook om al die “Jy behoort dit”  en “’n goeie vrou moet dat” te ignoreer.  My lewe kan nie draai om ander mense se verwagtinge of sienings nie – ek gaan self besluit wat is goed vir my en wat nie.  Dit staan my vry om my opinies hieroor gereeld en mildelik te verander soos wat ek groei en leer.

Anti-depressante – moet ons of moet ons nie?  Ek persoonlik hou nie van pille nie, het nog nooit nie.  Ek sal enige natuurlike uitweg probeer voordat ek ‘n pil sluk.  Selfs ek moet erken daar is sekere dinge wat in my liggaam skeef loop waarvoor ek mediese hulp nodig het.  Dit gaan my byvoorbeeld min baat om ‘n glas water te drink om my gebreekte been te laat beter voel!  Hoekom sal diedelfde nie vir my geestesgesondheid geld nie? Net ‘n ekspert sal weet of ‘n depressiewe persoon by anti-depressante gaan baat.  Ja dit is ook so dat daar dokters is wat gou na hul voorskrifbladjies gryp – ek wonder of daar ooit in die menseheugenis ‘n dokter was wat ‘n daaglikse 30 minute stap met jou hond voorgeskryf het, of ‘n weeklikse koffie of teedrink sessie met ‘n ou vriend of vriendin, 5 minute per dag in die son te kom of om jou elektroniese apparate uit jou slaapkamer te verban en alle elektronika ‘n uur voor slaaptyd af te skakel? Al hierdie dinge is bewys om mense met ligte depressie te help maar dit is natuurlik baie makliker vir ‘n dokter om te monitor of jy twee pilletjies per dag sluk as om op te check op die ander opsies! Alle depressie is ook nie ligte depressie nie.

Ek vertrou nie sommer die medici nie.  Vier dae na my dogter se geboorte deel my ginekoloog my saaklik mee dat ek maar moet aanvaar dat ek een van die ma’s is wat nie sal kan borsvoed nie.  Ek dink die saalsuster kon die teleurstelling op my gesig lees want sy was net na die saalrondtes terug by my met die woorde; “Moenie worry nie, hoeveel babas dink jy het hy al geborsvoed – ons gaan ‘n plan maak.”  Sy was reg en hy verkeerd.  Ek sal dikwels meer as een opinie kry en dan mediese behandeling eers vir ‘n rukkie probeer en kyk of dit vir my werk.  Ek glo dat so oefenlopie-tydperk ten minste langer as ses maande moet wees.  Dit neem meeste mense ten minste ses maande om aan te pas by ‘n nuwe situasie – dink maar aan die laaste keer wat jy verhuis het of ‘n nuwe werk begin het.

Net ek en ek alleen kan besluit of ek medikasie wil neem – ongeag wat ‘n dokter vir my sê.  Familie en vriende het natuurlik ook uiteenlopende opinies oor geestestoestande.  Dink julle nie ook die engelse “mental Health Issues” klink minder mal as geestestoestande, geestessiektes of erger – geestelike versteurings – nie?!  Baie mense het natuurlik hulle menings oor die ou sakie, wat ookal ons dit noem en dit wissel van goed deurdag tot opperste onkunde tot doodeenvoudig gevaarlik!

Ek wil eerder my eie navorsing doen.  Ek kan meer as een mediese opinie kry.  Ek kan ander opinies ook oorweeg as ek wil – geestelike -, spirituele – en alternatiewe medikasie.  Wanneer dit kom by depressie wat selfmoordneigings aanblaas of angstighed wat ‘n lyer heeltemal kan lamlê gaan oefening en vars lug nie help nie, dit is net ‘n feit. My keuse of ek medikasie neem of nie in net myne en het blou bokkerol met die res van die wêreld (Wel-menende familielede ingesluit) te doene.

So om op te som – hoekom het ek nog nie verdrink nie?:

  1. Ek hou dit eenvoudig. Die oplossing is nie maklik nie maar dit is eenvoudigchanging me

    – hou my hande af van wat ek nie kan beheer nie en fokus op my eie lewenskeuses – uiteindelik is dit al wat ek wel kan beheer. Ek vereenvoudig my lewe – daar is soveel geraas daarbuite – sodoende kan ek fokus op dit wat vir my belangrik is.

  1. Ek woon een maal per week ‘n groepsessie vir familie van alkoholiste en verslaafdes by en een keer ‘n week doen ek selfondersoek volgens die 12 stap program met my mentor.  Dit werk vir my.  Vir iemand anders gaan daar dalk ander dinge wees wat beter werk.  Die Al-Anon program is nie net van toepassing op familielede wat huidiglik met verslawing in geliefdes sukkel nie – mense wat jare terug met ‘n alkoholistiese ouer grootgeword het of wie se geliefdes intussen weg, oorlede is of sober geword het kan ook bv daarby baat.  Leer meer by: http://www.al-anon.org.  As iemand dit oorweeg om die groepsessies by te woon sal ek hulle ook aanraai om ten minste vir een maand (vyf sessies) te gaan voordat jy besluit of dit vir jou is of nie.

 

  1. Een dag op ‘n slag. Ek het nog slegs geslaag om enige van my geykte patrone of gewoontes te verander deur net een dag op ‘n slag aan te pak.  As ek byvoorbeeld besluit ek gaan nou vir ‘n maand elke dag met my honde stap kom ek sommer na ‘n paar dae agter dat dinge nie uitwerk nie.  Dan is ek boonop kwaad en teleurgesteld in myself ook nog omdat ek so ‘n eenvoudige besluit nie kan deurvoer nie.  As ek egter besluit dat ek vandag, en net vir vandag gaan probeer om met my honde te stap kry ek dit verbasend dikwels reg.  En as ek dit nie vermag nie probeer ek more weer. Dit is ‘n klein tegniese “tweak” in my ingesteldheid wat vir my soveel positiewe verandering moontlik gemaak het.

 

As dit voel asof jy gaan verdrink (Deel 1)

 

 6b623ec04d7934461ba8a64a7ed61559

‘n Gevoel wat ek so klokhelder onthou van die tyd wat ek saam met ‘n aktiewe alkoholis en dwelmverslaafde geleef het is die oorweldigende magteloosheid.  Kyk ek het my vingers in al die gate probeer hou maar telkens ervaar dat ‘n hele damwal iewers anders breek.  Ek word nou nog – twee hele jare later – steeds emosioneel as ek terugdink aan daardie oorweldigende gevoel dat ek gaan verdrink in die wanhoop en ellende wat hierdie siekte oor ‘n mens bring.

Hierdie gevoel van oorweldiging stap dikwels hand-aan-hand met depressie op een of ander vlak en dan die groot vraag – moet ek medikasie vir depressie neem of nie?

Selfs al sukkel iemand nie met ‘n alkoholis of verslaafde in hulle lewens nie kan die ou wêreld koud en wreed voel.  Dink nou maar net in die pas afgelope paar weke; Kaapstad se water loop uit en die verskriklike storms, verwoestende brande in die Oos-Kaap, die e-posse wat lek oor hoe min ons regering regtig dink aan die land en eerder hulle eie sakke voer, die afgraderings van baie SA Maatskappye wat druk plaas op buitelandse beleggings en werksgeleenthede gaan raak en dan kan jy ook jouself aanlyn vermaak met die Amerikaanse president se belaglike uitlatings en met jou hand om jou hart wonder wat die uitkoms kan wees as ‘n hanswors die grootste moontheid op aarde beheer . . .

Ek kan nogal oor hierdie ou dingetjies dink en tob en slaap verloor.  Ek moet myself herinner – en ek skryf dit op ‘n kaartjie wat ek op my bedkassie hou: “Ek kan alles doen wat ek kan met dit wat ek het in die tyd wat ek beskikbaar het op die plek waar ek my bevind en nie ‘n blou duit meer nie.”

Die feit is dat ek eenvoudig nooit die wêreld en sy probleme sal kan verbeter nie. Al waaroor ek werklik beheer het is my eie klein lewentjie en my onmiddelike invloedsfeer.  Ek kan nie rasisme, armoede, die weer, skelm politici, klimaatsverandering of die gemeenheid in ander mense beheer nie.  Ek kan nie eers verhoed dat die voertuig bestuurders wat oor my pad kom nie soos maniakke bestuur nie!  Natuurlik maak hierdie tipe dinge my woedend of bitter ongelukkig maar as ek toelaat dat dit my oorweldig gaan ek totaal oneffektief raak in daardie dinge waaroor ek wel beheer het.

Die feit dat ek nie ALLES kan doen nie beteken natuurlik nie dat ek nie IETS kan doen nie.  Waar dit moontlik is sal ek met groot liefde my geld, tyd en vaardighede aanwend waar ek voel dat ek ‘n verskil kan maak – al kan ek net ‘n klein bietjie gee.  Ek is so mal oor die storie van die gety wat tonne seesterre op die strand uitgespoel het.  Kilometers en kilometers het die stervisse in die warm son gelê en gewag om dood te gaan.  ‘n Man wat op die strand gestap het het so elke tien tree afgebuk en een uit die massas opgetel om in die see terug te gooi.  Iemand anders het hom egter daarop gewys dat daar so baie uitgespoel het dat hy regtig nie ‘n verskil gaan maak nie.  Die ander man het na die ster, wat hy op daardie oomblik in sy hande gehad het, gekyk en gesê: “Ja ek besef dit maar aan hierdie een maak ek die wêreld se verskil.”

Geen inspanning is weglaatbaar klein nie – kies iets, een ding wat jou die meeste ontstel of waarvoor jy die meeste omgee, vind uit waar jy kan inskakel en begin daar.  Doen net wat jy kan met wat jy het – daar kan nie van enige iemand verwag word om meer te doen of te gee nie.

Wanneer ek my woede tot aksie laat oorgaan beveg ek die magteloosheid wat my kan lamlê en ek sit bietjie goedheid of positiewe energie terug in die koue harde wêreld.  Ek kan so maklik vaskyk in die onmootlike – die aanhoudende gevoel dat niks kan of gaan verander nie.  Dan is dit juis die tyd wat ek eerder moet konsentreer op die klein dingetjies wat ek wel kan doen.  As ek hele probleme probeer insluk verstik ek maar happie vir happie is net baie meer realisties.

bf1afd938852be319edfaaecd4cc4407Ek herinner myself ook graag aan Moeder Teresa se beginsel van positiwiteit.  Sy het nooit opgetree teen iets nie.  Sy was by geleentheid gevra of sy sou deelneem aan ‘n optog teen die oorlog maar sy kon nie instem nie.  Sy het wel gesê dat sy bereid sou wees om deel te neem aan ‘n optog vir vrede.  Ek kan maklik baklei en oorlog maak met die wêreld en almal om my.  Dit help my baie om eerder, as ek so voel, stil te staan en te fokus op watter positiewe insette ek kan gee in plaas van waansinnig raak oor die negatiewe wat ek nie kan beheer nie.

Daar word gesê dat mense in konflik ‘n “veg” of “vlug” presoonlikheid sou openbaar.  Ek was defnitief ‘n vegter.  Ek is ‘n hele 150cm lank maar kan eerlik sê dat ek vir niemand agteruit sou staan nie – hardkoppig en harstallig gaan ek vir die keel,  wys elke moontlike bron tot verdere konflik uit, ry elke argument tot op sy limiet.  Ek is goed met woorde en argumente en uitstekend in my vermoeë om ‘n aanval te kan volhou.  Ek het egter op ‘n dag (so jaar terug) sielsmoeg huis toe gestap en gewens ek kon uit die oorlog tree.  Ek was net moeg vir baklei.  Daarby moet ek erken dat my beste aanvalsbewegings dikwels geen positiewe uitkoms gehad het nie.  Mense wat nie wil hoor wat jy sê nie kan nie hoor nie en om mense openlik aan te val (al is dit met jou woorde of houding) veroorsaak meer dikwels ‘n negatiewe as positiewe uitkoms ongeag hoe goed my agumente was.

dl-quote-5Nee ek is klaar met oorlog voer – met myself, met die wêreld om my – ek het my wapens neergelê.  Toegegee, ek vlam so af en toe op – ek is maar in wese passievol oor een en ander – maar dan erken ek ook dit ‘n proses is.  Hoe langer ek volhou hoe beter raak dit en die mense waarmee ek saamwerk en saam moet lewe se houdings teenoor my verander ook.