Selfsorg, self-liefde, selfsug en self-waarde.

As daar een ding is wat ek nog altyd wonder oor hoe ek grootgeword het is dit waarom ek nooit geleer het dat my eie lewensgeluk my eie verantwoordelikheid is nie?  Ek het baie goeie kinderjare gehad, regtig liefdevolle ouers wat altyd hul bes probeer het, ontsaglik baie geleenthede om my talente te ontwikkel en nuwe dinge te ontdek en uitprobeer en getroue ondersteuning waarop ek kon staatmaak.  Verantwoordelikheid was ‘n groot deel van my lewe solank ek kon onthou.  Miskien is oudste kinders maar erger daaroor.  Jy is natuurlik verantwoordelik om ‘n ogie oor jonger boeties en sussies te hou.  Jy is verantwoordelik vir jou skoolwerk, om die beste te lewer op skool en buitemuurse aktiwiteite, om jou talente te ontwikkel, om die beste te maak van geleenthede, om jou goed op te pas ag ek kan laaaaaang lysies maak.  Ek het ook elkeen van my “verantwoordelikhede” behoorlik ter harte geneem maar dit is maar baie onlangs dat ek regtig begin besef het dat ek verantwoordelik is vir my eie lewe en my eie lewensgeluk.

Ek voel skaam as ek terugdink aan die tyd wat my man se alkoholisme en dogter se verslawing die grootste deel van my lewe en energie opgeslurp het.  Nie regtig skaam vir wat hulle gedoen het of nie gedoen het nie maar hoe ek myself behandel het in daardie tyd.  Ek het regtig nie met myself gepraat soos mens met ‘n mens wat jy respekteer sou praat nie.  Ek het nie my eie gesondheid belangrik geag nie.  Ek het letterlik twee pare skoene gehad en werksuitrustings vir 5 dae – totdat ek weer wasgoed gewas het.  My man en dogter het egter nie tekorte op enige van hierdie gebiede gehad nie.  Ek het geweet hoe om baie goed vir hulle te sorg, ek kon glad nie vir myself sorg nie.

Ek het self vir lank die boodskap van die Christendom geinterpreteer asof enige selfsorg en self-liefde selfsugtig en sondig sou wees.  As ek nou daaroor dink is dit eintlik belaglik – toe Jesus gevra was wat die heel belangrikste van die gebooie was het hy behalwe vir toewyding aan God gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.  Ek wonder darem, mense wat hulself nie liefhet nie, is dit nie dalk die rede waarom hulle sukkel om aander lief te hê nie?  Dit is soms vir my baie duidelik dat mense wat geen respek vir hulself het nie ook nie ander kan respekteer nie.

So hoe sorg mens vir jouself?  Waar begin jy?

Daar is natuurlik bederfies soos ‘n warm bad met jou gunsteling badsout, ‘n voetbehandeling of gesigsbehandeling of nuwe haarstyl.  Ek dink net volhoubare selfsorg moet meer en dieper wees.  Ek het nie beswaar teen enige van bogenoemde bederfies nie en het ook geleer om spesiale dingetjies vir myself te gun maar ek weet vir ‘n feit dat ek selfsorg nodig het wat dieper as my veloppervlak gaan.

Ek het baie oor die onderwerp begin lees.  Ek het “guided meditation” oor selfbevestigin en selfsorg ontdek.  Ek het baie geleer uit die eerlike blog van Kate McComb. http://katemccombs.com/

So paar idees:

  1. Om my gevoelens en emosies te ervaar sonder om myself te veroordeel

Ek was nog altyd my eie grootste kritikus.  Om myself te veroordeel oor “verkeerde” gevoelens of emosies en my te bekommer oor my verkeerde reaksies of woorde in gevolg van situasies (‘n tydverdryf wat my nagte kan laat wakker lê!) baat my net mooi niks nie.  Dit kom nog nie vir my natuurlik nie en ek moet doelbewus en herhaaldelik die wilsbesluit maak (mindfullness) om nie my gevoelens te onderdruk nie, om my emosies toe te laat om te kom en te gaan maar veral om myself nie veroordeel nie.

Vir ‘n baie lang tyd het ek moeilike tye oorleef deur negatiewe emosies uit te skakel – eerder te fokus op wat ek nou gaan doen as hoe ek nou voel.  Ongelukkig sit mens jouself af vir enige emosies, ek het totaal emosioneel afgestomp geraak.  Baie dae laat emosies en gevoel my nog ongemaklik, ek het vir solank daarsonder geleef, toe ek my “recovery” pad begin stap het en my emosies begin terugkom het was ek so ongemaklik dat ek oortuig was dat ek fisiek siek was en het dokter toe gegaan.  Ek het nie geweet wat verkeerd was nie, net dat “iets” nie reg was nie.  Die dokter het die gewone toetse en “scans” gedoen maar kon natuurlik nie fout vind nie.  Ek het nie lank daarna die ervaring van iemand gelees in ‘n dagstukkie boek vir die familie van alkohliste wat die gevoel van emosie wat terugkom verduidelik het.  Dit was soos die son wat opkom toe ek besef wat met my aangegaan het.

Ek wil nie ooit weer so afgestomp lewe nie, dit is nie ‘n lewe nie – ek het in alle eerlikheid basies oorleef, net voortbestaan.

11245790_10153345155087650_153429483339575230_n

2. Reflektiewe selfsorg

Die terapeut skrywer Meg-John Barker onderskei tussen om jouelf met goedhartigheid te versorg – soos die lekker bad of behandeling – en selfreflektiewe selfsorg soos meditasie of ‘n joernaal hou.  Dit is ook die hele doel van “stepwork” die “huiswerk” van die 12 stap programme waarvoor en elke week tyd maak. Omdat my eie emosionele sorg vir my belangrik is moet ek tyd maak vir meditasie en om my gedagte neer te skryf omdat dit my help om my gevoelens en emosies deur te werk, dit help my om te groei in die proses om heel te word, om myself beter uit te druk, om my gedagtes te verlig en om werklik in kontak met myself te wees.  Met my liggaam, my siel, my wese en my gevoelens.

  1. Speeltyd

Dit kan harde werk wees om te speel maar ek het geleer dat dit regtig belangrik is vir die mens om tyd te maak vir speel.  Vir my eie selfsorg weet ek dat dit beter met my gaan as ek tyd maak vir my passies – om iets te skep, om in die natuur te kom, met vriende te kuier en tyd saam met my honde deur te bring.  Ek moet ook vir my liggaam sorg – as ek nie gereeld oefening kry nie word ek moeg en kan nie alles meedoen wat ek graag sou wou nie.  As ek nie hierdie dinge vir myself beplan en die moeite doen nie gebeur dit net nie vanself nie.

play

4. Vermy ongevraagde raad en opinies

Toe my dogter ‘n kleuter was was ek desperaat vir nog ‘n kind.  Alhoewel ek drie maal swanger geraak het was twee van die babas doodgebore en die laaste enetjie was so vroeg gebore dat sy net een uur kon oorleef.  Dit het my ontsaglik ontstel wanneer mense ewe welmenend sou vra “Nou wanneer maak julle plan vir ‘n maatjie vir jou dogter?” of soortgelyke opmerke.  Natuurlik is dit ongeskik en ongewens maar ek kan nie beheer wat ander mense dink en sê nie – al wat ek kan beheer is hoe ek daaroor voel.  Ek het natuurlik beide van vriende en familie ontelbare opinies ontvang van hoe ek my dogter en haar probleem sou moes hanteer – eindelik het ek besluit dat hierdie opinies meestal maar uit onkunde spruit.  Die gewer weet niks of bitter min van hoe dit is om in my vel te lewe.  Daar is ‘n handjievol intieme vriende wat ek geleer vertrou het en by wie ek regtig baie geleer het in my groei proses.  Hierdie mense se raad klink gewoonlik heel anders – dit is meer aanmoedigend of motiverend as krities.  Die res is snert en ek is besig om myself aan te leer om dit direk in “file 13” te liaseer.  Dit is party dae moeliker as ander maar soos baie dinge in my “recovery” is dit ‘n proses nie ‘n kitsoplossing nie!

5. Ek respekteer my eie tyd – ek kan van ander ook verwag om dit te doen

Ek het al mooi geleer om te kan “nee” sê sonder om verskoning te maak, ongeskik te wees of myself te verduidelik.   Dit is ‘n uiters noodsaaklike “tool” in my selfsorg mondering.