Life on life’s terms

blue life

Ek hou van die Twaalf Stap program se “slogans”. Oor die afgelope vyf jaar het ek baie daarvan aangeleer. Dit is almal baie kort en kragtig maar het eintlik baie meer om die lyf as wat dit op die oog af lyk. Omdat dit so kort is is dit maklik om te onthou en in my gedagtes amper soos boekmerkies wat my herinner en terugbring in my recovery proses.

Ek het al baie geskryf oor “One day at a time”. Dit is ‘n feit soos ‘n olifant (voel vir my bietjie groter and ernstiger as ‘n koei!) dat ongeag hoe volgelaai my dae is of hoeveel spanning of ongelukkigheid dit mee belaai kan wees, elke dag kan net aankom teen ‘n tempo van 24 uur per dag.  Elke uur kan net hanteer word teen 60 minute per uur en elke minuut teen 60 sekondes. Dit is dit. Niks meer of minder nie. Ek hoef net vir vandag uit te hou, aan te hou en hoop te hou. Ek hoef net vir vandag beter te probeer doen. Ek hoef net vir vandag na my eie welsyn om te sien. En as enige iets verkeerd loop in my lewe, kop of beplanning hoef ek nie die kind met die badwater uit te gooi nie – ek het net vir vandag die spoor verloor – more is ‘n nuwe dag en kan ek weer, net vir een dag op ‘n slag beter doen omdat ek beter weet.

“Life on life’s terms” is nogal enetjie wat ek vir lank gedink het eintlik net vir die verslaafde of alkoholis geld. Aan die begin het dit so bietjie soos nonsens geklink maar in daardie vyf woorde is ‘n nuwe lewensuitkyk saamgevat wat dit vir ‘n alkoholis of verslaafde persoon kan moontlik maak om menige probleme in die oë te kyk en te leer om die lewe eenvoudig te aanvaar vir wat dit is.

Dit is wetenskaplik bewys dat daar ‘n groter verband tussen trauma (Veral as kind / tiener) is en verslawing as wat die verband tussen vetsug en tipe 2 diabetis is. Die verslaafde persoon kan nie die realiteit van hul lewe aanvaar nie, dit is nie regverdig nie bv ‘n baba- boetie is deur die gesin se huishulp vermoor wat die hele gesin se dinamiek verander het, ‘n geliefde is oorlede, ‘n wederhelfte is ontrou of wil skei maar die verslaafde wil nie skei nie, die verslaafde was vasgekeer in ‘n brand op skool en erg vermink, die verslaafde is deur ‘n stiefouer aangerand of verkrag, die verslaafde is ‘n sagte kreatiewe siel wat glad nie in die “rat race” inpas nie. Al hierdie, en nog baie ander, is regte voorbeelde wat ek al uit recovering verslaafdes se eie monde aangehoor het.

FB_IMG_1547454158421

Die verslaafde hou dus nie van die realiteit van hul eie lewe nie en wou dinge anders gehad het. ‘n Baie effektiewe ontvlugting is om alkohol of dwelms te gebruik. Wanneer ‘n verslaafde die 12 stap program begin volg kan hulle vir die eerste keer realiteit in die oë kyk sonder alkohol of dwelms om die hoeke te versag. So begin die nuwe pad om te leer hoe om die lewe op sy terme te lewe. Hiermee saam kom natuurlik die realiteit dat geen mens alles in hul lewe kan beheer nie en die van ons met ‘n geskiedenis, wonde en letsels van watter aard ookal het nog minder kans om hul eie lewens te beheer en behoorlik of effektief te bestuur. Dan die grootste en nodigste deurbraak besef in die hele 12 stap program – die aanvaarding dat ek nie kan nie maar dat daar wel Iemand / iets groter as ekself is wat wel kan en die oorgawe – Let go and let God. (Ook ‘n 12 stap slogan.)

Aan die begin is dit maklik, recovery is “nuut” en daar is ‘n emosionele “hype.” Baie verslaafdes leer die program terwyl hulle in ‘n rehabilitasiesentrum woon, weg van spitsverkeer, lang vergaderings, werksdruk, babadoeke ens. Maar die lewe skuld ons niks, die lewe is wat dit is en ons lewe dit soos dit is. Die lewe het opdraendes en afdraendes en min van ons kan beheer wat oor ons pad kom. Wanneer ‘n verslaafde persoon weer terug is in die samelewing en met soms allerdaagse dingetjies soos werksdruk en familie probleempies moet sukkel of nog erger groot krisisse moet hanteer soos motorongelukke of ernstige siektes en gefaalde verhoudings, raak dinge moeilik. Die ou gedagtelyne wat jare lank ingeoefen is kan oorvat – hierdie is nie regverdig nie (Dikwels is dit nie maar slegte goed gebeur elke dag met goeie mense.) – ek wil dit nie so gehad het nie – ek wil nie hierdie spanning en emosies ervaar nie en die risiko is groot dat so persoon terugval op die gebruik van dwelms of alkohol.

Dit is waar ek besef het hoe hierdie slogan ook op die familie van ‘n verslaafde van toepassing is. My dogter was net 10 dae skoon van heroine toe haar pa oorlede was na ‘n week lange erge lyding. Wat ek bygedra het, deur haar hele lewe was om haar te beskerm daarteen om die lewe op sy terme te lewe. Ek het haar jammer gekry omdat haar pa blind was en sy as enigste kind hom dikwels moes help met dingetjies wat ander kinders nooit sou hoef te doen nie. Ek het skuldig gevoel omdat sy ‘n enigste kind was, omdat ek lang ure ver van my huis af gewerk het en nooit betrokke kon wees by haar lewe soveel soos ek graag sou wou nie. Hoe het ek dit gedoen? Wel as sy haar biologie boek by die huis vergeet het, het ek vermy dat sy die gevolge van haar eie keuses hoef te dra deur te reël dat my man se motorbestuurder dit vir haar skool toe neem, as sy iets omgestamp het het ek gesê “toemaar dis net ‘n glipsie, ek sal gou skoonmaak, moenie sleg voel nie.” En hoeveel kere het die hele familie nie op eiers om haar beweeg in haar moeilikste tye om konflik en konfrontasie te probeer vermy nie, selfs al was haar attitude en handelinge dikwels heeltemal onaanvaarbaar. Ek het vir jare my dogter “beskerm” van realiteit. Ek het vermy dat sy emosies en gevoelens ervaar wat vir haar sleg of FB_IMG_1540109875716(1)spanningsvol sou wees, omdat ek baie lief is vir haar maar in die proses het ek in die pad daarvan gestaan dat sy kon leer om die lewe op sy terme te leef en te aanvaar.

Ek, wat so maklik so baie lief kan raak vir mense wat swaarkry moet aan my kant van die straat vee en besef dat ek so maklik en dikwels dit my persoonlike verantwoordelikheid maak om ander te probeer “fix.” Al wat hulle moet doen is om by my planne in te val.  Die probleem is, my planne kan nie werk wanneer dit toegepas word op ander mense se lewens nie. Ek kan net myself weer herinner om te “Let Go and Let God.” En te weet dat ek geen invloed of beheer het oor enige ander mens se lewe en keuses behalwe my eie nie.