Hannabi se groot avontuur – deel 1

(Nena is met verlof maar haar skaaphond Hannabi is bereid om vir die paar weke in te staan.)

My naam is Hannabi, ek is 9 jaar oud en hier is ek en my ma. Ek het ‘n vreeslike belangrike werk – om my ma op te pas en gelukkig te maak. Hier bo swem sy in ‘n bergpoel en ek maak seker dat sy veilig is.

Op ‘n mooi wintersmiddag, so week gelede, vat my ma  my uit die bloute na die hondesalon vir ‘n bad en droogblaas. Die volgende oggend is Lindie se pa baie vroeg by ons huis met sy groot kar. Sy groot kar is die een waarmee ons meeste bos of berg toe ry. Ek, Lindie my beste speelmaatjie, my boetie Buddy en Lindie se boetie Buksie. Hier is ‘n foto van my en Lindie toe ons in die berg gaan stap het. Sy is gewoonlik altyd in die water. Maar daardie oggend is Lindie en Buks nie in die groot kar nie. Ek word ingelaai en ek het die hele agtersitplek vir myself.

Ek hou baie van kar ry. Daar is soveel interessante reuke om te ruik en dinge om te sien verbygaan. Op daardie dag ry ons baie baie verder as wat ek al ooit in ‘n kar gery het. Lindie se pa stop die kar ‘n paar keer by sulke besige plekke met baie karre en mense. Dan sit my ma my stapband aan en ons loop tot op die grasperk. Daar was nou vir my ‘n verrassing! Daar was baie honde op daardie grasperke – vreeslik baie. Dit is vir my baie interessant om so aan die grassies te snuffel en te probeer raai wie almal daar was. Ek kry ook kans om my boodskap vir aankomende honde te los en water te drink voordat ons weer verder ry.

Net na donker parkeer Lindie se pa die kar by ‘n huis, maar dit is nie ons huis nie. Daar stop nog ‘n motor langs ons en daar klim twee kinders uit, elkeen met ‘n speelbal in die hande. Ek hou baie van kinders. Ek is ook baie lief vir my ma, maar sy word naderhand moeg vir balgooi of stap en baie vinnig van hardloop. Dit is vir my die wonderlike ding van kinders – hulle sal sommer heeldag speel. Ek kon omloop na waar die kinders was en het baie lekker met hulle bal gespeel. Ek sou seker nou nog kon speel as my ma my nie kom haal het nie. Daar was iemand wat my wou sien.

Julle sal my nie glo nie – dit was die Spikkelkind en Tristan! Die Spikkelkind is ook my ma se kind en Tristan is altyd by haar. Hierbo is ‘n foto van my en die spikkelkind. Hulle het ook eers in ons huis gebly maar het eendag net weggeraak. Ek het gedink ek sal hulle nooit weer sien nie. Toe die Spikkelkind my groet het ek haar amper opgelek! Ek was so bly dat sy nie heeltemal weg was nie. Ek en my ma, die Spikkelkind, Tristan en Lindie se pa het toe by ‘n restaurant gaan eet waar ek baie soet by my ma se voete gebly het. Ek weet baie goed my ma hou nie van honde wat aan tafel bedel nie,  maar ook dat soet honde altyd ekstra bederfies kry. Ons was weer terug na die huis met die kinders toe maar hulle het gaan slaap. Dalk word kinders ook maar moeg. Ons het met die Spikkelkind en Tristan gekuier en toe gaan slaap in die vreemde huis, maar my ma het ons eie bed se komberse saam gevat. Dit was baie koud in die vreemde huis, maar toe ek so op ons lekker kombersies styf teen my ma aan die slaap raak kon ek amper glo dat ons in ons eie bed was.

Die volgende dag het ons nog verder gery en weer by baie interessante plekkies gestop om te piepie en water te drink. Ons het droëwors gekoop en vir padkos gedeel en ek het ganse ontmoet by een van die stopplekke. Hulle was regtig redelik onordelik. As die hek net oop was sou ek hulle graag so bietjie bymekaar wou maak. Net na donker het ons stadiger begin ry en Lindie se pa het die kar se vensters oopgedraai. Ek het ‘n baie eienaardige souterige reuk geruik wat ek nog nooit in my lewe geruik het nie. Ons het gestop by ‘n ander huis, wat ook nie ons huis was nie, maar waar ons toe 4 slapies gebly het.

Daar het nog mense by die huis gebly wat my ma en Lindie se pa Saartjie en Human genoem het. Hulle is baie oulike mense wat baie hou van stap en my saamvat as hulle stap en Human hou amper so baie van balspeel as wat kinders daarvan hou.

Die volgende oggend het ons almal saam baie lekker gaan stap tot by ‘n plek waar ons pannekoek geëet het. Ek bedel nooit ooit nie, maar as ek soet stilsit, soos ek ook daar gedoen het, gee my ma altyd vir my stukkies van haar kos. Ek het 3 lekker groot pannekoekhappies gehad en water gedrink voor ons verder stap. Ons het al nader gekom aan die souterige reuk en so grommerige lawaai wat net aanhou en aanhou. Daar kom ons toe by ‘n groot klomp water wat nie stilstaan nie. Daar was ander mense en twee ander honde wat net wil speel ook. Die een groot swarte laat my sommer na Lindie verlang want hy kan ook nie uit die water uit bly nie. Ons het gehardloop en gespeel en nog gehardloop en gespeel. Ons het balle gejaag en deur die baie koue watertjies geloop. Die grond langs die water was soos sponsies waarop ek kon trap! Die water was baie sout en ‘n hond kan dit nie drink nie. Ons het ‘n lang ruk langs die water afgeloop en bal gespeel. Dit was bietjie koud en nat maar ek kon dit amper nie agterkom nie. Ek dink dit was die heel lekkerste dag van my lewe! (Word vervolg)

9 thoughts on “Hannabi se groot avontuur – deel 1

  1. Hallo Neensie,
    Ek het sopas jou Hondestorie begin lees met die foto’s. Ek is seker enige kind sal dit ook geniet. Wat van n boek?
    Geniet julle kuiertjie by die see.

    [cid:image001.png@01D9AD9A.B42AE860]

Lewer kommentaar