Namibië (Hoofstuk 2)

Ek was verlede week in Swakopmund vir die kongres van die Suid Afrikaanse Regsdosente.  Ek en ‘n paar van my beste vriende (Wat toevallig ook kollegas is) gaan drie dae vroeer om die omgewing te verken saam met Andrew van Footprints Gastehuis op Swakopmund.

Andrew is ‘n mense-mens.  Hy pas nie in die boksie nie en kruip sommer maklik in jou hart in. Hy ken nie net die omgewing nie – dit bekoor hom steeds na al die jare.  Dit moet tog moeilik raak , as toergids, om dieselfde storie keer op keer met entoesiasme te vertel.  Dit is duidelik nie vir hom nie.  Sy rustigheid is so sag soos die sandkleure van die duine met ‘n lagie betroubaarheid wat soos die strepies ystersand alles op hulle plek hou.  Sy entoesiasme herinner aan die ligeme, woestynplantjies wat van dood en kliphard voor jou oë groen en sag word en fluweelagtige blaartjies oopvou.  Hy moes dit seker al 100de kere vertel het maar hy raak in vervoering oor die meer as 800 ligeme spesies asof hy dit vir die eerste keer doen.

Mens dink dat daar geen lewe in die onherbergsaamheid kan wees nie – maar daar is.  En hier is die geheim – Namibië is ‘n plek waar mens moet vertoef as jy die hele prentjie wil sien.  Iets wat ons gids gelukkig goed verstaan.

15936844_10211627389144273_12009739879544392_o

Terwyl ons die ligeme bewonder vertel Annette wat al voorheen in Namibië was, van ‘n bustoer wat sy in die woestyn gedoen het waar een van die toeriste van Japan af was.  Hulle het ook afgeklim om die omgewing te bewonder toe die grote man begin snik soos hy huil.  Hy verduidelik in sy beste Engels dat hy nog nooit in sy hele lewe die horison vir 360 grade rondom hom kon sien nie en voeg by “You Africans are rich in ways that you cannot even see.”

Die twee professors besig om te “wees” en die waaierstertmeerkat wat kom kyk wat gaan aan.

Die volgende dag is ons na die Spitskoppe – so bietjie verder waar ons in ‘n park piekniek gehou en gebraai het en sommer langs die reuse rotsskeure net “gewees” het.

Ek dink nie baie toeriste doen dit nie – meestal jaag mens van een besienswaardigheid tot die volgende om die meeste “bang” vir jou “buck” in te pas maar so mis mens die wese en die siel van ‘n omgewing maklik.  Hoe gelukkig was ons dat ons gids vir ons die siel van die Namib so bietjie kon laat ervaar.

15994467_10211635794474401_5673542591964902441_o

Ek sal graag weer teruggaan en werklik heelwat langer wou vertoef.

Namibie Sielservaring

Ek was stil vir lank maar ek was bietjie in Namibië.  Vir werk eintlik – ja ek het ‘n amazing werk.  Een maal elke 18 maande kom regsdosente van oral oor Suidelike Afrika bymekaar en ruil idees, navorsing en planne om studente beter op te lei uit.  Hierdie keer het die Universiteit van Namibia dit in Swakopmund aangebied.

Ek en ‘n paar kollegas het so paar dae vroeër gegaan om eers die omgewing bietjie te verken.  Ja hulle is regtig my kollegas maar ook my beste vriende – regtig ‘n groot blessing om so te kan werk!  Ek kan dit aanbeveel.

Ek het nooit besef dat Namibië so groot bedryf in kristalle, edelgesteentes en semi-edelgesteentes het nie.  Om die kristalgallery te besoek was baie spesiaal.  Jy kan so terloops langs ‘n kristal van etlike tonne en wat meer as 500 Miljoenjaar oud is ‘n selfoonfoto kliek!  Dan is daar natuurlik al die blieng en kleure en vasette om te bewonder.

En dan ontmoet jy ‘n prospekteerder van die Brandberg, ‘n Namib Cowboy om sy woorde te gebruik, wat vir maande in die berge bly en soek en grawe vir sy fortuin wat hy hoop om te vind voordat hy te oud is.  Hy vertel met hoendervleis hoe die kristalle miljoene jare gelede in die lawa klip gevorm het en sy ervaring as hy besef dat hy die eerste mens ooit is, na miljoene jare se stikdonkerte, om die lig op die kristal te sien val as hy die klip oopkap.  Hy is ‘n kitaarmeester, sanger, liedjieskrywer, filosoof en ‘n uiters welbelese kenner van chemie en geologie.  Wat ‘n belewenis – die man se musiek gaan dwarsdeur jou masker en voorgee tot diep binne in jou siel.

img-20170118-wa0002

Ek en my kollegas geniet ooglopend ons aandjie saam net Lorri (Voor lings met sy kitaar) en Andrew (voor regs) ons gasheer vir die week. Jy kan ook na Lorri luister by https://soundcloud.com/lorri-raaths/rocks-and-stones beide Kwela en Coenie van DSTV (“n Ander wêreld met Coenie: Anderkant die Brandberg) het al TV programme oor hom gemaak.

In die kristalgallery word die oorsprong van die woord Amatis verduidelik.  Dit kom van die Griekse woord amethustos wat as altyd sober (nie dronk nie) vertaal kan word.  Die geoloë het gevind dat die amatis wat in Namibië gemyn word die heel beste kwalitiet in die wêreld is hoofsaaklik as gevolg van die afkoeltemperature en -tyd van die lawa klippe toe dit gevorm was.  Lorri myn hoofsaaklik amatis. Nadat ek die betekenis uitgevind het het ek hardop die wens uitgespreek om ‘n driehoekige amatis te kon kry wat ek vir my dogter in die logo van die AA kan laat set. Die kristalgallery verkoop ‘n groot verskeidenheid stene maar daar was nie driehoeke nie.  Die simboliek sou oorweldigend wees vir iemand wat die stryd teen verslawing dapper stry.  Lorri het sowaar ‘n steen uitgesoek wat hy gemyn het en dit self na ‘n slyper geneem om dit nog dieselfde dag vir my in die driehoek te slyp. Daar word my droom waar in so spesiale manier wat ek nie eers sou kon droom nie.  Die amatis, van die beste in die hele wêreld, in die driehoek van eenheid, herstel en diensbaarheid, met die simboliek van die Griekse “altyd sober” maar wat ek uit die growwe hande ontvang het van die man wat dit self uit sy donker kelder van miljoene jare gehaal het – die eerste energie wat daardie steen ervaar het was die ontsag en dankbaarheid van die Namib Cowboy. Die rooi hangertjie hieronder is net ‘n voorbeeld van hoe ek hoop dit sal lyk.

Ek sien ek sal hierdie storie moet laat vervolg – daar is nog baie te skrywe oor my avonture in Namibië.  Nou gaan ek eers saam my Moeks die fliek Ballerina kyk.  word vervolg ….