Mindfulness: wat ek uit die 12 stappe kon leer

Jon Kabat Zinn meen dat die volgende die pilare is waarop ‘n ware en werklike leestyl van mindfulness (sou dit in Afrikaans vertaal kon word as om bewustelik te lewe) rus:

  • Om nie te oordeel nie
  • Om te laat gaan
  • Aanvaarding
  • Vertroue
  • Geduld
  • Die aanslag van ‘n beginner – ‘n vars uitkyk
  • Om nie te strewe nie
  • Dankbaarheid en vrygewigheid.

 

Om nie te oordeel nie

mindful non judgingEk het op ‘n punt in my lewe besef dat ek alles wat oor my pad kom inkleur met die bril waarmee ek kyk. Dikwels oordeel ek ander skerp – bv die ou is arrogant of daardie vrou is katterig. Soms tree mense so op – ek het ook al – omdat hulle weerloos voel, opgebruik is. Meestal het ek net eenvoudig geen idee waardeer daardie persoon gaan nie of wat die agtergrond van sy  of haar optrede of reaksie is nie.

Snaaks ook dan, ek wat weet van al die op- en afdraandes in my eie gemoed en lewe is die mees veroordelend op myself! Om werklik mindful te lewe moet ek leer om    eenvoudig net te kan “wees.” Om net te ervaar wat ek dink, doen en voel sonder om dit te oordeel of verwerp. Soos ‘n dierbare vriend graag gesê het: “Behandel jou gevoelens soos jy ‘n gas sou behandel – laat hulle toe om te kom en om te gaan.” Sonder oordeel. Sonder om jouself af te takel omdat jy alweer so voel – dit sal ook verby gaan, ek hoef nie ekstra energie daarop te mors nie. Sonder om nog stertjies en stories aan te las – dit is wat dit is en soos ek weet, gaan altyd weer verby.

Om te laat gaan

So eenvoudig maar so verskriklik moeilik. Soos om aan jou vingerpunte aan die kant van ‘n krans vas te klou en iemand nooi jou: “Gee my jou hand dan trek ek jou op.” In die 12 stap program moes ek leer dan ekself nie alles kan beheer nie. Dat dit ook OK is. Dat ek kan staatmaak op iets of iemand of Iemand buite myself. Hoeveel energie het ek nie gemors deur die bestuurder van die heelal te probeer wees nie? Deur die skyn te probeer voorhou dat ek in beheer is nie?! Deur vir myself te lieg dan ek dit regkry om in beheer te wees nie?! Vandag weet ek dit is sinneloos. Ek is wat ek is. Elke dag leer ek om meer van myself te aanvaar en vir myself lief te word. Dit is ‘n proses maar net ek kan my gedagtegang verander.

 

Aanvaarding

Sommige mense meen ons lewe net eenmaal, ek dink ons sterf net eenmaal – ons kan elke dag lewe. Ek het ophou bestaan en begin om weer te lewe nadat ek ontsaglik baie in die twaalf stap program geleer het. Elke dag kan ‘n spesiale geleentheid wees. Die klein dingetjies maak die lewe wat dit is – die reuk van nat grond, die eerste blaartjies van die nuwe seisoen, die giggel laggie van ‘n kind, die entosiasme van my hond as ek ‘n bal of leiband in my hand het – of sommer net as ek by my hek inry. Die grootste ding vir my om beter te word en beter te dink was om te aanvaar dat ek alles het wat ek nodig het om werklik gelukkig en vervuld te wees. Ek is genoeg – net soos ek is. Dit is die enigste plek waarvan ek kan begin om enige iets in my lewe te verander of verbeter.

Vertroue

Ek moes veral leer om my reispad te leer vertrou. Alles gaan nie altyd volgens plan verloop nie – en dit is ook ok want as ek regtig mindful patienteerlik is, as ek weet ek kan dit nie verander nie, wat op aarde baat ek daarby as ek myself sielsongelukkig maak daaroor? Kan ek een el by my lengte voeg of een uur by my lewe voeg? Verbasend egter het ek agtergekom dat vandat ek vertrou en aanvaar dat dinge is soos dit is verbasend meer positief in my lewe gebeur as wat ek kon dink of hoop of glo.

 

Geduld

Ek het altyd gedink ek is die ongeduldigste mens op aarde – dit was regtig die waarheid. Punt is – dit maak my net ongelukkig, dit baat my net mooi niks. Waarom op aarde sal ek daarmee aanhou? Dinge sal gebeur hoe en wanneer dit gaan probeer – behalwe as ek weet dat ek werklik iets kan beheer of beinvloed is dit net beter vir my om geduldig te wees. Ja, natuurlike kry ek ook my oomblikke wat ek glip maar dit is ook waar mindfulnes behulpsaam is. As en wanneer dit gebeur kan ek let op my negatiewe gedagtes en doelbewus stop en rustig raak.

 

‘n Vars uitkyk

Ek is my lewe lank in boksies grootgemaak: ‘n mens maak so…, ‘n mens behoort…, ‘n mens doen nie dit of dat nie. Ek wil sover gaan om te sê dat ek sedert my kinderdae gebreinspoel was om te dink soos ek vertel was ek behoort te dink.  Ek het bitter laat in my lewe eers geleer om beginsels te weeg en te oorweeg en self te besluit wat vir my werk en wat nie. Ek het dit ontsaglik bevrydend gevind om uit elke liewe een van die boksies te klim waarin ek my bevind het – ek kan dit aanbeveel. Ek het wonderlike mense ontmoet wat buite konvensionele boksies leef en by wie ek ongelooflik baie geleer het en nog steeds leer.

Om minder dinge na te strewe.

‘n Groot deel van my pogings om te blyk in beheer te wees was maar “window dressing” en het te doen met status, dinge en hoe mens vir die buite wêreld lyk. Dit is ‘n stryd wat niemand kan wen nie. Punt is om ander te probeer beindruk of om goeters bymekaar te maak doen niks vir my saligheid nie. Dit maak nie sin nie. Dit is seker ook maar een van die boksies waarin ek grootgemaak was – suksesvolle mense het groot huise, luukse motors en stylvolle klere. Ek is anders. Ek is op my suksesvolste as ek op ‘n klip in ‘n rivier sit en oor die berge tuur of na die waterstroom luister. Dit vul my hart en siel. Nie goeters nie.

 

Dankbaarheid en vrygewigheid

In die twaalf stap program het ek geleer dat die program net oorgedra word aan ander as die van ons wat daaruit geleer het dit oordra. Ander kan net leer uit my ervarings en ondervinding as ek my ervarings met ander deel. Ek kon dit natuurlik glad nie doen terwyl ek nog naastiglik besig was om te “window dress” nie. Ek is verskriklik dankbaar dat daar mense was wat my geleer het uit hulle ervarings en vir mense wat my lewe verryk deur na my ervarings en lewensreispad te luister.

 

Life: Everything is exactly as it should be

10451737_703484699746287_3375416970711272524_n

Ek het onlangs ‘n kort video van ‘n ou Hindu man gesien wat regtig vir my die situasie perfek opgesom het.

IMG_1424

Die uitdrukking; “everything is exactly as it should be” het ek by ‘n vriend geleer wat my baie van recovery geleer het, hy is nou twee jaar terug oorlede – ek moet erken ek wens nog dikwels dat ek hom kan bel of net gou iets kan vra.  Ek weet nie of ek die oorsprong van die spreuk perfek onthou nie maar ek kan ten minste die begin van die storie onthou:

Dit speel af in antieke China, voor die Hun-oorloë. Die hoofkarakter is ‘n man, kom ons noem hom Ping, wat sy vrou en seun aan die lewe hou deur met sy perd en ploeg vir boere landerye te ploeg. Op ‘n dag word sy perd gesteel, die hele omgewing se mense kom simpatiseer, hulle besef die swaarkry en hongersnood wat vir hom en sy gesin voorlê. Hy antwoord egter dat alles maar net is soos dit moet wees. Niks minder nie en niks meer nie.

Dan hoor ‘n ryk man in die volgende dorpie van sy penarie.  Die man het baie perde en stuur een as geskenk om die getseelde perd te vervang. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand en die almal in die dorpie maak ‘n draai om Ping geluk te wens met die wonderlike toeval waarop hy soos altyd antwoord – alles is soos dit moet wees.

Die nuwe perd is egter nie gewoond aan werk nie en terwyl Ping se seun op hom ry gooi hy die seun af en ‘n gebreukte been is die hartseer uiteinde – in antieke China iets wat selfs lewensbedreigend kon wees. Die gemeenskap staan tou om met Ping en sy gesin te simpatiseer maar hy antwoord weer dat alles is soos wat dit moet wees.

Daardie selfde week daag die keiser se army op om troepe te werf vir die Hun oorlog – uit elke familie word ‘n jong man as soldaat opgeroep maar Ping se seun word vrygestel want met sy gebreekte been gaan hy nie veel vir die keiser se saak kan bydra nie. Bure en vriende kom oor om aan Ping te vertel hoe bly hulle saam met hom is dat sy seun gespaar is – maar nou weet jy al wat sy antwoord was.  Die storie gaan nog deur ‘n paar ups en downs maar die punt is dat soms is iets wat ons dink baie goed of oulik is vir ons sleg en andersom – eers as jy terugkyk kan jy die hele prentjie sien.  Ongelukkig word die lewe nie in reverse gelewe nie!

Een minuut video link: https://saveig.com/p/ByJcRnvA9xI/

Die Hindu wysheer se video vat hierdie so mooi saam. Die lewe is nie net lyding nie maar ook nie bedoel om vreugde te wees nie – die lewe is is net wat dit is. Niks meer nie en niks minder nie. Ek kan nie bepaal hoe die lewe om my ontvou nie maar wat ek dink en hoe ek voel – ek beheer dit. As ek beheer hoe ek voel en wat ek dink, hoekom sal ek myself nie te alle tye hou op die hoogste vlak van geluk en tevredenheid nie? Soms draai die “super computer” die menslike brein teen ons, ons eie inteligensie maak ons ongelukkig.  Iets gebeur wat ek nie van hou nie en plaas van om te sê dit is maar wat dit is raak ek ongelukkig want my kop sê dit is nie reg nie of dit hoort nie so nie. Sommige mense kyk dan na buite vir troos / vreugde / hulp – ‘n whisky na ‘n moeilike lang dag, ‘n groot bak van my gunsteling pastagereg, ‘n nuwe paar skoene of iets soortgelyks. Dinge van buite kan vir my gerief en gemak in my lewe bring. Solank ek onthou dat welstand of innerlike geluk kan nooit van buite af kom nie, dit is iets wat ek alleenlik van binne myself kan bou en groei. Die Hindu guru meen ook dat mens dit net kan doen as jy die basiese fundamentele doel van jou lewe en bestaan uitgepluis het.

11891079_494048367436140_3132719795876703543_n

Nou dit is ook die punt van recovery – om die basiese fundamentele punt van my bestaan uit te werk. Dit maak sin want dit is eers vandat ek begin groei het in recovery dan ek nie meer deur die lewe verdruk word nie maar uiteindelik begin het om die golf van die lewe kan ry met oorgawe en entosiasme.

Ek is die ma van ‘n dwelmverslaafde – hoekom ek nie meer skaam is om dit te sê nie.

get-bitter-or-better-life-daily-quotes-sayings-pictures
Alhoewel verslawing (waarby ek alkoholisme insluit) selde seker regtig ‘n geheim is, het dit my baie jare gevat om tot by hierdie punt te kom.  Uiteindelik het ek tot die besef gekom dat dit my eie keuse is hoe ek hierdie siekte hanteer wat dreig om my geliefde, myself en selfs ons familie dood te maak. Ek kies om my lewe te lewe, voluit – ‘n lewe sonder geheime, wegsteek, wegkruip of skande.

Soms probeer mense wat vir verslaafdes lief is verduidelik waardeur hulle gaan maar dit is moeilik en byna altyd kan iemand anders dit net verstaan as hulle iets soortgelyks belewe het. Omdat dit so moeilik is om te verduidelik en as gevolg van die “skande” en “stigma” daaraan verbonde hou meeste mense dit vir hulself, krop al die gevoelens en emosies op en raak eenvoudig afgestomp en geïsoleerd.

words kept inside

Ek ken twee ouer dames beide in hulle 70’s – kom ons noem hulle Hettie en Jenny.  Beide het grootgeword met ouers wat alkoholiste was.  Hettie was baie skaam vir die situasie by haar huis en het dit met niemand gedeel nie. Wanneer sy vriende sou maak op skool en iemand sou vra: “Kan ons vanmiddag by jou huis gaan speel?” sou sy dit te alle koste wou vermy en eerder die vriendskap opgee om die situasie by haar huis weg te steek.  Later het sy eerder nie meer vriende gemaak nie maar haarself heeltemal van ander mense geïsoleer. Jenny het dinge anders benader uit die staanspoor uit.  As iemand by haar wou gaan kuier het sy openlik gesê: “O nee, dit sal nie werk nie.  My pa drink mos vreeslik en dan raak hy verskriklik aggresief.  Nee ons moet liewer by jou huis gaan speel.” Sonder om dit te besef, en deur dit so “matter of factly” te noem het sy nooit die skuld of skande op haarself geneem nie. Hettie was gelukkig om deur ‘n 12 stap recovery program weer te leer om haarself te wees, haar emosies te vertrou en om werklik met ander mense te “connect”. Om geheime te hou gee die stigma ‘n baie meer kragtige invloed oor ons lewens. Vandag is Hettie en Jenny beste vriende en beide leef hulle lewens voluit en met oorgawe.

Ek het self ook die besluit geneem om my eie “recovery” openlik te lewe. Nie as iemand wat self verslaaf was nie maar as ‘n ma, wat regtig lief is vir my kind wat sukkel met verslawing. Om die ouer van ‘n verslaafde te wees is dalk enige dag net so moeilik as om self verslaaf te wees, sommige dae dalk moeiliker. Die lewe kan soos ‘n oneindige siklus van hartseer, skok, woede, ontkenning, onderhandeling, smeek, skreeu en beproewing voel.  Soos ‘n hamster op sy wieletjie wat alles insit maar net nooit vaste grond bereik nie.  Vir my het die siklus uiteindelik tot ‘n einde gekom met aanvaarding.  Aanvaarding dat ek dit nie veroorsaak het nie en nie kan stop of beheer nie.  Aanvaarding dat alles presies is soos dit moet wees. Dit het weer veroorsaak dat my reaksies op situasies verander het. Eers toe ek my eie reaksie op situasies wat buite my sfeer van invloed val kon verander, kon ek vorentoe beweeg.

Nee, dit los nie alles op nie. Soms beweeg ek vorentoe, leer weer hoop, begin wankelrig vertrou en glo om te oorleef en dan word my voete en my lewe onder my uitgeslaan deur die volgende “relapse.” [Ek weet nie of daar ‘n Afrikaanse woord hiervoor is wanneer ‘n verslaafde wat vir ‘n ruk nie gebruik of gedrink het nie terugval in ou gewoontes.] My kind het nou na haar vorige relapse weer meer as ‘n jaar skoontyd. Selfs wanneer sy nie gebruik nie kan die effek wat die dwelms reeds op haar brein en psige gehad het nog na vore kom by wyse van onredelike optrede en woorde of iets soortgelyks.

frustration

En ja ek het ook by tye totaal en al vasgeval geraak. Ek het nie geweet hoe om ‘n kind aan die lewe te hou wat nie meer wil lewe nie. Ek het geen idee gehad hoe om met haar te komminukeer terwyl haar verstand en psige deur ‘n bedwelmende middel beset en verwring was nie.  Ek het soms regtig gesukkel om te besef dat ek die oneerlikheid, diefstal, gemeenheid, frustrasie en aggressie gehaat het maar nie my eie kind nie.  Dit was glad nie die wense en drome wat ek vir my kind se lewe gehad het of hard voor gewerk het nie.

My verslaafde kind is ‘n pragtige, begaafde, sagmoedige en intelligente mensie. Daar is baie van my familie en vriende wat vir haar lief is en haar ondersteun.  Ons almal deel in die pyn, vrees, bekommernis en stigma van hierdie siekte – dit ontsien niemand nie. Volgens statistieke raak een verslaafde persoon die lewens van ten minste 16 ander persone. As haar ma moet ek die ambasadeur van hoop wees in ons uitgebreide familie en vriendekring.

As ma besef ek dat my verslaafde kind dieselfde probleem het – sy leef in skaamte en skande. Sy sukkel om haarself te aanvaar, vergewe en as waardig te ag. Dit breek my hart om dit te sien. Ek wens ek kon haar heelmaak, ek wens ek kon haar red van selfverloëning en minagting. Ek het aanvaar dat net syself haar eie padjie in die herstelproses kan uitkap.  Al wat ek kan doen is om vir haar lief te wees.

14457544_1111586862260865_5972448404412793597_n

Dit is ‘n lang proses, eerskomende Junie stap ek reeds vyf jaar op my padjie na herstel. Die beginsels en idees wat ek in die proses aangeleer het, het oorgespoel na ander aspekte van my werk en lewe. Ek probeer, een dag op ‘n slag, om beter te word as wat ek gister was. Ek vergewe mense wat foute maak, ekself maak foute en het vergifnis en genade nodig. Ek het heelwat foute gemaak, verkeerde dinge op die verkeerde tyd gesê, te veel probeer doen, te veel probeer gee, soms te veel vertrou of geglo en soms heeltemal te min. Dit klink so “nobel” as ek dit hier lees – dit is nie altyd nie.  Ek probeer, kry nie altyd reg nie. Ek mik vir vordering, nie perfeksie nie.

Ek is dankbaar vir die besonderse lewenslesse en waarhede wat ek deur die herstelproses aangeleer het – dit bepaal ‘n baie groot deel van die vrou wat ek vandag is. Ek sal nie hoop verloor dat beide ekself, my verslaafde kind en ons uitgebreide familie en vriende kan voortbou en groei in die herstelproses nie.

En net dalk ek skryf ek dit alles hier sodat jy, soos ek by ander voor my geleer het, dalk ook iets kan leer wat jou lewe beter maak.

10369582_10204893465400388_1759991659290628103_nOndersteuning vir familielede:

At Al-Anon Family Groups – in operation for almost 70 years around the world – knows all too well how alcoholism affects families – children, teens, Adult Children, partners, spouses, grandparents, parents. While AA is the best place for the alcoholic to go to learn how to be sober, the families & workmates are often at a loss where to go for support. Al-Anon offers families free support and recovery from the effects a problems drinker can have on their homes & workplace. Recommended by social workers, doctors, rehabs, police and other professionals, Al-Anon is a 12 Step program where members focus on their own recovery and not on the alcoholic. See www.alanon.org.za for a meeting near you, how it works & the miracles that can take place even if the alcoholic does not stop drinking. It works. It really works.
Al-Anon Family Groups South Africa – 24 Hr Helpline 0861 35 26 66

Verslawing en vooroordele.

Verslawing is en bly ‘n steeds groeiende probleem oral oor die wêreld. ‘n Recovery facebook groepie waaraan ek berhoort het die naweek hierdie foto geplaas:

47679558_1263966517076530_6440201287374995456_n

Ek was twee weke gelukkig genoeg om die feesvieringe by te woon van ‘n pragtige mensie wat sewe jaar skoon is na wanhopige verslawing aan kokaïne. Ek het al vertel dat verslaafdes en alkoholiste in recovery hulle jaarlikse skoon dae vier soos ‘n verjaarsdag – hulle glo dat hulle eers werklik begin lewe het toe hulle skoon gekom het.

Terwyl sy haar storie vertel, dink sy terug aan ‘n dag wat sy reeds op die grond moes slaap omdat sy alles wat sy gehad het verloor het en daar heeltemal moedeloos en hopeloos die “addicts’ prayer” gebid het: “God help me.”

Die verslaafde se gebed is nie vir almal dieselfde nie, dit het dieselfde strekking: “God. Ek kan nie meer nie. Ek wil nie meer so lewe nie en ek wil nie doodgaan nie. Ek kan nie ophou nie. O God help my asseblief?”

Ek het ‘n onverwagse uitnodiging gekry om onlangs die “Afrikaans is Groot” konsert by te woon. Ek is glad nie ‘n aanhanger van Steve Hofmeyer nie. Gedurende die konsert sing hy ‘n lied “Redgebed”. Hy sing met daardie rou eerlikheid waarmee ek al verslaafdes hoor praat het as hulle hulle storie van hel na hoop vertel. En dit gryp my so aan dat dit my na trane dryf. Die inspirasie vir die lied is Jona 2:4-6:In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor, U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.

Nee, ek weet geloof werk nie vir almal nie – ek is die laaste persoon wat geloof in iemand se keel wil afdruk. Maar dit kan ek met sekerheid sê: Dit is nie maklik vir enige mens om aan hulself te verander nie. Verslawing maak dit nog moeiliker – die chemiese prosesse bedonder selfs baie inteligente mense se breinfunksies. Om te kyk hoe jou verslaafde geliefdes sukkel kan die sterkstes en bestes tussen ons totaal van ons trollie af dryf.

Verslaafdes, maar ook die res van ons, hou soms krampagtig vas – klou vas aan verwyte, woede, ons eie vooropgestelde idees, iets wat ons weet nie werk nie net omdat dit ‘n fout is wat ons al vir ‘n lang tyd maak of ‘n gewoonte geword het.

Die uitkoms blyk te kom met die oorgee een aanvaar dat ekself nie kan nie. Dit is vir my die goue draad tussen al die stories van hoop wat ek al by recovery feesvieringe gehoor het, by Steve se lied en Jona se storie. Aanvaar dat ek nie kan nie en niks het om te offer nie. Dat daar Iemand, dalk iets groter as ekself is, ‘n God waarop ek wil vertrou, dalk vir iemand anders die natuur, die univers waarvan ek deel is, en vra vir hulp. Vertrou. En laat gaan.

let go.png

Dit is sekerlik wat my die heel meeste van die recovery proses verbaas het – hoe eenvoudig die oplossing is – let go and let god. Fokus net op wat binne my sfeer van invloed val – en om te besef ek kan net my eie denke, optrede en lewe beheer. Terselfdertyd is dit net so verbasend hoe swaar dit vir myself – en seker maar die mensdom in die algemeen is- om volgens so ‘n eenvoudige beginsel te kan lewe.

Ek is bly vir geleenthede waar ek kan hersiening doen van belangrike beginsels, soos recovery feesvieringe en die dag wat Steve deur al my vooroordele so direk vir my gesing het.

Step 1: We admitted we were powerless over adiction—that our lives had become unmanageable.

Op 5 Maart vanjaar, ‘n paar dae na my eerste besoek aan Nederland, sou my dogter twee jaar en 10 maande skoon gewees het.  Sou.  Want sy het aan my erken dat sy die vorige naweek cat gebruik het.  Soortgelyk aan kokaine wat gesnuif word.

Ek weet nie eintlik wat om te sê nie.  Wens ek kon met mooi fotos van haar suksesse spog.  Wens ek kon minder van ‘n mislukking voel.  …wens die knaende vrees dat ek my kind gaan begrawe was nie terug nie maar dit is seker maar net wat dit is.  …niks meer nie, niks minder nie.

Ek wil dit nie julle probleem maak nie – ons het almal heeltemal genoeg van ons eie.  Ek het vir jare die chaos in ons lewens probeer verduidelik, wegpraat en wegsteek – ek weet dit help niemand niks nie, ek moet eerder net eerlik wees.  Die Vader weet dit is nie vir my maklik om hier te skryf nie.  Ek wat altyd so preek vir een en almal wat wil hoor – en die wat nie wil hoor nie – “Nee jy het dit nie veroorsaak nie, jy kan dit nie keer of genees nie!” – maar nou is ek verskriklik skaam. Eintlik is die Engelse woord shameful ‘n beter beskrywing.  Ek is terug in my donker gat maar hierdie keer het ek nie woorde of verduidelikings nie.

Daar is ook die nuwe onsekerheid.  Ek was so seker dat die 12 stap recovery die antwoord is.  Geglo dat al werk dit nie vir haar nie dat dit my herstelproses sou kon volhou.  Skielik weet ek nie.  Ongeag alles wat ek lees en weet voel dit asof my hele wêreld se bodem uitgeval het!  Dalk is dit soos gelowe en dieëte. Ek weet daar is mense waarvoor dit werk maar uit harde ondervinding weet ek ook dat ek nie een van hulle is nie.  Wat as recovery ook nie vir my is nie?!

Interessant dat juis my verhouding met my ma die rede was waarom ek terug is meetings toe. (Al – Anon : Ondersteuningsgroep vir familielede van verslaafdes en alkoholiste.)  Ek het geen emosionele konneksie of verhouding met my ma gehad nie,  Sy, as volwasse kind van twee alkoholiste, kon glad nie emosioneel met mense ‘n aansluiting vind nie, nie eers haar eie kinders nie.  Deesdae is sy een van my beste vriende en ek spandeer graag tyd saam met haar.  Dit is nie iets wat ek myself kan verbeel nie!

DSC_1094

Wel ek kan nie vir altyd bly huil nie.  Ek sal een of ander tyd moet besluit wat ek gaan doen.

Dag 1.  Stap 1.  Dit is al wat ek weet.  Ek kan nie self uit hierdie gat uit nie.  Ek het geen beheer oor verslawing of alkoholisme nie. Dit is nie lekker of maklik om weer te begin opklim nie maar die alternatief is nie ‘n opsie nie.

addiction-recovery-steps

Na die stilte…

Ek was doodstil – ek weet. Ek het vir ‘n hele ruk so gesukkel met die swart hond, met twyfel, self-kritisering en heeltemal verwarde slaappatrone.  Soveel sodat ek uiteindelik nie ‘n ander uitweg gesien het as om mediese hulp in te roep nie.  Nuwe pille en ‘n paar weke verder en ek begin (alhoewel effe wakelrig) voel asof ek tog weer my voete kan vind.  Ons is nou maar eenmaal siel en liggaam.  As jy siek is is jy siek.  Dit is nie ‘n skande nie.  Nee ek is nie ondankbaar nie.  Nee ek kan nie net my sokkies optrek en harder probeer nie.  Ek wonder hoekom dit so erg moet raak voordat ek hulp soek?

In die moeilike tyd  (en , nee, as jy wonder – daar was regtig nie ‘n spesifieke voorval of gebeurtenis nie – heel moontlik net ‘n chemiese wanbalans) het dit my weereens opgeval hoe ek, wanneer ek swaar kry, dinge doen of nie doen nie wat regtig alles vir myself moeiliker maak.  Selfsorg of om net geduldig en genadig met myself te wees is sommer eerste by die deur uit!  As ek net mooi logies daaroor dink maak dit net glad nie sin nie – hoe kan ‘n redelike gebalanseerde inteligente mens so dom wees?  As ek nie na myself kyk nie is daar tog nie ‘n kans dat ek beter kan voel nie?  En nee – ek behoort nie so met myself te praat nie – ek weet van beter!

Ek herinner myself maar weer aan ‘n paar vinnige “tips” om goed te wees vir myself – ja ek skryf dit maar om my eie onthalwe neer – dalk herinner dit jou ook weer aan een of twee dingetjies.  Ons almal weet die feestyd wat voorlê verloop selde of ooit maklik en plesierig.

spirituality and self care

Self-sorg is nie iets wat ek af en toe kan doen nie.

Daar is groot gebeurtenisse wat mens kan ontspoor soos die dood of lyding van ‘n geliefde, finansiële spanning, ‘n ongeluk of siekte wat jou hele lewe verander.  Dan is daar die jakkalsies, moeg vir werk, kinders wat lyk of hulle uit hulle pad gaan om jou dag so moeilik as moontlik te maak, halfklaar projekte, kosmaak, skoonmaak – dit voel soms vir my af daar net geen manier is dat ek ooit op datum gaan kom met my eie lewe nie.

Ek weet dat wanneer ek genadig is met myself ek uitdagings beter hanteer.  Ek weet ook dat dit uiteindelik nie net my eie lewe makliker maak nie maar selfs dikwels ‘n uitwerking op ander het wat met my in aanraking kom.  Net om myself gou weer te herinner – hierdie is nie opsionele ekstras nie – dit kan ook nie net af en toe gebeur nie:

Slaap daarop. As ek nie genoeg slaap kry nie het dit ‘n emosionele sneeubal effek. Wanneer my eie pogings om te slaap nie werk nie moet ek mediese hulp kry.  Ek het nie eers slaappille nodig gehad nie – net een van my voorskrif medikasie verander en die probleem is opgelos.  Wat ‘n verligting – wens ek het lankal hulp gevra!

Praat dit uit. Ek is skaam en wil wegkruip as ek swaar kry. Almal kry soms swaar.  Dit help my altyd om sommer net ‘n koppie koffie met ‘n goeie vriendin te deel.  Soms is die tyd reg om te praat, soms nie.  Soms is daar terugvoer, soms net ‘n simpatieke oor of ‘n bevestiging “Ek was ook al daar, dit word beter.”

Neem ‘n “self-sorg” wegbreek. Dit is lekker as jy verlof het om ‘n dag te vat – ‘n middag af as dit kan en net verveeld te wees – nie om iets te doen nie. Ek sal ook ‘n breuk vat van elektronika, dit help my om beter te slaap en nie die hele tyd te voel asof ek besig moet wees met iets nie.  ‘n Kollega vertel my onlangs dat sy toe sy haar eie praktyk gehad het, elke jaar vir haarself twee dae geboek het by ‘n lekker plek met ‘n mooi uitsig maar waarheen sy nie ver moes ry nie.  Sy het hierdie tyd gebruik om te lees, te mediteer, haar gedagtes neer te skryf, onder die bome piekniek gehou, haar gunsteling wyn met oorgawe gesip en net haarself weer te ontdek en vernuwe – sonder haar werk, man of kinders in die agtergrond.  Dit klink vir my na iets wat voorgeskryf moet word vir elke werkende ma.

Hou op om “ja” te sê as ek “nee” bedoel. Ek het ‘n tendens dat wanneer dit vir my voel of my eie lewe uit beheer is, dat dit makliker is om ander mense se lewens te beheer of te red! Ek dink dit is waarom ek probeer help waar ek geen verantwoordelikheid het nie.  Natuurlik is dit lekker om te help as mens kan maar niemand kan uit ‘n leë fles skink nie.  Ek moet leer om my hande van ander af te haal en op myself te sit.

Onthou en doen ‘n paar dinge wat vir my pret is. Soms vergeet ek heeltemal waarvan ek hou. Dan moet ek sommer doen sonder om te dink.  Weer ‘n boek lees wat ek alreeds gelees en geniet het – dit verg nie baie inspanning nie.  Deur ‘n museum of kunsuitstalling stap, ‘n konsertuitvoering van “live music” bywoon, in die bos gaan stap.  Sommer op my swaaibank lê en my verwonder oor hoe die wind deur die boomtakke speel.  Dit is altyd ‘n goeie plan om uit te kom en bietjie son op my vel te kry.

Vra vir hulp. Dit raak net erger as ek probeer wegsteek en wegkruip. Ek moet hulp vra waar ek dit nodig het, van vriende, familie, my werkgewer as dit nodig is en ja ook mediese hulp. Dit beteken nie dat ek ‘n swakkeling is nie – ek is ‘n mens.  Ek hou nogal van die AA “slogan” wat lees: “Our program works for people who believe in God, our program works for people who do not believe in God, our program does not work for people who believe they are God.”  Daar is ‘n ernstige stekie waarheid in – as ek nooit hulp nodig het nie en alles en almal om my probeer beheer (Met die beste van bedoelings selfs) het ek dalk hogere aspirasies?!

Drink genoeg water. Water is goed vir my liggaam en brein.  Wetenskaplike toetse het al bewys dat persone wat sukkel met chroniese moegheid en self rugpyn kan baat daarby om meer en gereeld water te drink.  Koeldrank, koffie en ander dranke bevat suiker en ander “gif’stowwe (bv kaffeine) wat my lewer en niere eers moet uitwerk en kan my net nie so goed hidreer soos water nie.

Ontwikkel ‘n oggendritueel. Ek hou daarvan om my eerste koppie koffie op my stoep of swaai te drink met my honde wat om my lê. ‘n Ander kollega glo aan die skryf van “morning pages” uit die boek “The Artists way”.  Dit help om dinge te verwoord en konsepte wat soos chaos in my kop rondwaai struktuur te gee as ek dit neerskryf.  Dit is defnitief dinge wat ek gereeld moet doen en ‘n wonderlike manier om die dag te begin.

Moenie isoleer, wegkruip of weghardloop nie. Ek het ‘n uitnodiging na ‘n bring en braai gekry en “ja” gesê maar “nee” bedoel.  Die middag van die funksie het ek die roomys wat ek sou bydra na ‘n vriend gevat wat ook sou gaan met die erkenning dat ek nie meer wou gaan nie, ek wou net in my kamer gaan sit en jammer vir myself voel.  My vriend het my oortuig om te gaan – ja hy was ook al daar waar ek nou is maar dink ek nie ‘n lekker aand saam met my vriende is iets wat ek nou meer nodig het as om op ‘n hopie te gaan sit nie?  Ek het gegaan en ongeag die sinneloosheid in my eie kop die aand vreeslik geniet en lekker gelag en gekuier.  Met elke klein deurbrakie voel ek ‘n bietjie beter.

Skryf dit neer. Ek is nie godsdienstig nie, ek dink eintlik ek is nog kwaad vir my god. Ek weet in my eie hart ek moet vrede maak want om in oorlog met myself, met my god en met die res van die wêreld te lewe maak my klaar.  Om te skryf help my altyd.  Om hier op my blog te skryf is 100% terapeuties.  Ek het al die chaos in my kop neergepen in ‘n brief aan ‘n god waarvoor ek nog nie ‘n naam het nie.  Ek het al vir my oorlede pa en man briewe geskryf oor dinge wat ek nog wou sê en vrae wat ek nog moes vra.  Ek dink dit is dalk weer tyd…

Die twee wroegendste vrae wat elke ouer van ‘n verslaafde vra.

10405346_10153293839965972_4616117115289648165_n

Toe my dogter gebore was was sy maar bitter klein.  Sy het ‘n aks meer as 2½ kg geweeg en haar beentjies was maar aan die dun kant.  Ek het natuurlik baie beskermend teenoor die ou klein dingentjie gevoel.  Mens doen tog wat jy kan, voed en klee hulle, vee neuse af, maak boude skoon, probeer keer vir gevare en hou hulle vas as hulle bang of teleurgesteld is.  Ouers verskaf ook geleenthede – ‘n gelukkige veilige huis om in te woon, gebalanseerde voeding, dalk klavierlesse, tennisafrigting, ekstra klasse, familievakansies – ek dink tog meeste ouers probeer om vir ons kinders liefde en ondersteuning te gee waar ookal ons kan.  Ek weet ons verval soms in die siekte van vergelyking met ander en dat ons twyfel oor besluite en keuses wat ons gemaak het vir ons kinders.  Dalk moet ek die “gelukkige veilige huis”  vervang met redelike gelukkige en veilige huis.  Ek kan tog steeds met die grootste eerlikheid hier skryf dat ek nog nooit gaan sit en beplan het wat ek sou kon doen om my dogter se lewe mooi op te voeter of te kompliseer nie. Ja ek was soms moeg.  Ja dinge het nie altyd uitgewerk soos ek gehoop het nie.  Natuurlik het ek foute gemaak maar tog het ek altyd die beste probeer doen met wat ek op daardie oomblik tot my beskikking gehad het.

Verslawing ken nie onderskeiding nie en diskrimineer egter nie.  Ongeag iemand se opvoeding, herkoms, ras, geslag, geloof  of hoe hard sy/haar ouers probeer het– ENIGE IEMAND kan verval in verslawing.

Toe ek besef het dat my dogter ‘n ernstige probleem het met heroine verslawing en geen beheer daaroor het nie was my heel eerste vraag:

Wat het ek gedoen om dit te veroorsaak?

Ek moet dalk net gou ‘n stukkie van ons storie hier deel sodat die leser die agtergrond prentjie kan sien:

  • Ek het dwelms in haar skooltas gekry en haar gekonfronteer waarop sy erken het sy gebruik dit, belowe het om dadelik te stop en die SANCA buite programme weekliks by te woon.
  • Sy kon nie en het nie en het elke laptop, selfoon, juwelierstuk of wat ookal sy van waarde in my huis kon kry wat sy kon dra uiteindelik verkoop vir dwelms.
  • Ek het besluit om haar dag en nag op te pas om te verhoed dat sy gebruik – dit het omtrent drie maand aan gehou voordat ek besef het selfs dit is nie fisies moontlik nie en sy gebruik steeds.
  • Ek het besef dat sy rehabilitasie nodig het en ‘n plek bepreek by ‘n sentrum. Die aand voor sy moes gaan drink sy ‘n oordosis slaappille (wat ‘n psigiater vir haar voorgeskryf het) en ek tel haar 4 uur die oggend in ‘n semi-koma op die vloer op.  Ek besluit (al self redelik mallerig op die stadium) om in elk geval na die rehabilitasie sentrum toe te ry waar sy eers ‘n mediese ondersoek moes ondergaan voor opname, na die hospitaal verwys was en eers die volgende dag opgeneem kon word.

Die mediese dokter wat haar ondersoek het het my allerlei vrae gevra want my dogter kon glad nie praat of regop sit nie.  Iewers in hierdie gesprek sê die dokter vir my: “Jy weet as jy ‘n goeie ouer was was ons natuurlik nie nou hier met die probleem van verslawing van jou dogter nie.”

Ek kon nie myself verdedig nie, ek was redelik platgeslaan daardie dag.  Ek het die vorige nag my dogter aangetref en my eerste gedagte was sy het dit uiteindelik reggekry, sy is dood.  Daarna het ek deur die nag by haar gewaak.  Ek het meer as 300 km met die kwylende hopie mens langs my gery en al die pad gehuil.  Ek kon glad nie meer reguit dink nie.

Op daardie stadium van my lewe was ek boonop ‘n gesoute kalvinis en het geglo alles is my verantwoordelikheid en alles wat verkeerd loop is my skuld.

Tog het ek sonder uitsondering gevind dat nie net ekself nie maar elke ouer van ‘n verslaafde wat ek ontmoet het hulself daaroor kastei het – wat het ek verkeerd gedoen?  Ek het nou net een kind maar ek het dit ook ervaar by ouers wat bv twee of meer kinders het waarvan slegs een ‘n probleem met verslawing ontwikkel het.

Onlangs met my weeklikse inkopies, merk ek ‘n ma met ‘n kleuter op – eintlik onmoontlik om mis te kyk want hy gil op die toppunt van sy stemmetjie.  Sy hele gesiggie is al rooi, sy ma is duidelik ontstig en byna almal om haar kyk in hulle rigting asof om te vra watter soort ouer laat haar kind so hande uitruk?  Ons gemeenskappe is haastig om ouers te veroordeel.  Uit harde ondervinding moet ek bysê veral as jou kind probleme ondervind het een en almal raad en daad oor wat jy eerder moet doen en waar jy verkeerd gegaan het.  Dit is veral erg as verslawing aan verbode middels en drank deel van die probleem is.  Baie mense sien nie meer die kind waarvoor jy lief is nie maar ‘n “druggie”, ‘n dief of  ‘n krimineel.

Ek moes leer en myself oortuig, selfs al voel ek die oordeel van ander mense en ook baie geliefde en welmenende vriende en familie, verslawing is NIE enige iemand se skuld nie.  Net so min as wat kanker, diabetes of ander siektes is.

Ek is die eerste persoon om te erken dat ek nie ‘n perfekte ouer is nie.  Ek besef maar terdeë hoe veilbaar ek is maar daar is NIKS wat ek vir haar gesê het, niks wat ek gedoen het en niks wat ek versuim het om te doen wat veroorsaak het dat my dogter verslaaf geraak het nie.  Ek het nie my dogter se lewe “opgefok” nie.  Ek het NIE die verslawing veroorsaak nie.

Natuurlik tob ek oor goed – wens ek kon dinge anders doen.  Wens ek het nie voltyds gewerk nie.  Wens ek was nie soms moeg of geiriteerd nie.  Wens ek het meer wysheid en geduld in pag gehad in moeilike tye. Wens ek het vroeër besef dat my man ‘n probleem met alkoholisme en depressie gehad het en harder gesoek het na hulp en antwoorde. Die kaalkop waarheid is dat ek nie die tyd kan terugdraai nie.  Ek kan nie my weg oop “her-ouer” uit my skuldgevoelens nie.  Daar is letterlik geen jota of titel wat ek tot die oplossing van die probleme wat ons vandag in die gesig staar, kan toevoeg deur in die verlede of my selfopgelegde skuldgevoelens rond te rol nie.

other serenity prayer

Die tweede vraag: Hoe kan ek die verslawing stop of keer of genees?

As ouer is dit mos my plig om my kind te help.  Ek is lief vir haar.  Ek kon sien sy was in groot nood, pyn en wroeging.  Ek het al vertel van die een selfmoordpoging waarna ek die bloeding gestop gekry het en sy op die grond gaan sit het, sommer so in die gang en vir my vra: “ Ma, gaan ek ooit uit hierdie donker gat uit kan kom?”  Ek het so gehuil want ek het regtig nie meer geweet nie.

Ek het toe nog nie besef dat verslawing nie genees kan word nie maar wel behandel kan word.  Ek het nie geweet dat alhoewel die medici wat ons geraadpleeg het die depressie probeer aanspreek het niks sou kon verander voordat sy kon ophou gebruik nie.  Ek sou nooit kon droom dat my pragtige slim en liefdevolle wonderwerkkind nie in ‘n monster verander het nie maar bloot die gewone simptome van verslawing getoon het wat insluit om te lieg, te steel, manipulasie en ontkenning selfs al het ek haar nooit grootgemaak om te lieg, steel of bedrieg nie.

Ons, ek en my dogter, is van die bitter min gelukkiges wat “recovery” gevind het.  Ek was in April by die nasionale kongres van Alkoholiste Anoniem en die vergadering van familie lede van verslaafdes en alkoholiste, van regoor ons hele land was maar so 50 – 75 mense in totaal.  Ek bevind my in ‘n uitgesoekte groepie – ontsaglik baie verslaafdes en nog ‘n groter komponent van die geliefdes wat deur die stryd van so verslaafde persoon geraak word kry net nooit hulp, uitkoms of antwoorde nie.

Tog, ongeag die feit dat ons hulp gekry het was daar oor die afgelope drie jaar baie geleenthede waar ek gevoel het my dogter maak steeds verkeerde keuses.  Sy is nou ‘n jong volwasse vrou.  Soms het haar keuses gevolge wat vir haar swaar is.  Dikwels het ek haar juis vooraf gewaarsku dat dit die gevolge kan wees.  Steeds blyk die beste manier van leer maar uit haar eie ervaring en foute te wees.

As ouer van ‘n jong volwassene wat ‘n verslaafde is besef ek dat ek nie haar lewe en besluite en keuses kan beheer nie.  Dit val buite die sfeer van my invloed ongeag hoe graag ek haar sou wou help en wou verhoed dat sy haar kop stamp.

Ek kan net dit doen waaroor ek wel beheer het.  Dit beteken dat ek, alhoewel ek haar so graag met my lewe wil vertrou, solank sy by my woon ek gereeld ‘n dwelmtoets moet doen.  Die verskriklike kere wat ek besef het dat sy weer gebruik het, ek haar na die rehabilitasie sentrum moes neem selfs al het dit op daardie oomblik vir my gevoel of my hele wêreld inmekaar tuimel.  As sy ooit weer iets van my sou steel sal dit beteken dat ek die polisie moet kontak en dit aanmeld.

Dit is seker ook maar die grootste rede waarom dit beter was dat sy in die rehabilitasiesentrum moes bly totdat sy sterker was selfs al was dit baie duur.  Somtyds is dit net ooglopend dat haar AA mentor (sponsor) , die terapeute, polisieoffisiere en maatskaplike werkers in ‘n beter posisie was om haar te help as ekself.  Nie een van hulle het haar lief soos wat ek haar liefhet nie – miskien is juis dit die rede dat dit soms so vreeslik moeilik vir my is om te doen wat nodig is.

Ek sê so omonwonde dat ek haar liefhet want ek weet nou dit is waar maar daar was lang tye dat ek regtig gevrees het dat ek my eie  en enigste kind gehaat het.  Ek weet nou dit was nie waar nie.  Ek het die dwelms gehaat.  Ek het gehaat wat die dwelms aan haar gedoen het.  Ek het die leuens, gesteel, manipulasie en wanhoop wat dit meegebring het met ‘n passie gehaat.  Ek het nooit, nie vir ‘n oomblik my kind gehaat nie want sy is nie en kan nie gedifinieer word deur wat dwelms aan haar gedoen het nie.

Nee, daar is niks wat ek gedoen het om die verslawing te veroorsaak nie.  Daar is geen manier waarop ek dit op my eie sou kon keer of stop nie.

By die AA Nasionale Kongress ontmoet ek ‘n vrou wat so anders as ek is.  Sy is ‘n hemelbesem, lank en skraal en ek is presies 1,5 meter lank.  Ons is nie van dieselfde ras, agtergrond of geleerdheid nie en woon meer as 2 000 km uitmekaar.  Toe sy haar storie begin deel toe weet ek ons het so baie in gemeen.  Sy is al meer as 20 jaar in ‘n 12 stap “recovey” program en die vrou en ma van alkoholiste.  Haar woorde het my so getref dat ek dit woord vir woord neergeskryf het:

“I focus on myself,  I detach from other people and heir problems.  I can care for them without taking care of them.  I can allow others to take care of their own responsibilities.  I don’t need to do for them what they can do for themselves. Even when I feel strongly that I can do it better!

When I detach with love :

My loved ones are empowered.

I become stronger and free.”

As die mense wat jy liefhet sukkel met depressie.

.facebook_1491815609876

Ek het hieroor begin dink nadat ek ‘n blog gelees het van ‘n vrou wat skryf oor die herdenking van die dag toe haar suster selfmoord gepleeg het:

“I had already been thinking about my sister. I always do on the anniversary of the day she committed suicide, more so than on her birthday or any holiday. This is a date that lives in my soul. This is the date that created one of the cracks in my heart that is now filled with so many broken pieces. “

Ons almal ken sekerlik iemand (of baie iemande) wat swaarkry na ‘n geliefde se selfdood of is dalk self daardeur geraak.

Ek dink ook dit is relevant vir families in recovery.  Baie (indien nie dalk almal nie) alkoholiste en verslaafdes sukkel met depressie en of ander geestessiektes.  Heeltemal te veel alkoholiste en verslaafdes verloor die stryd deur hul eie selfdood.

Ek dra steeds baie skuldgevoelens en skaamte met my saam as gevolg van my verhouding met geliefdes wat met depressie of geestessiektes gesukkel het.  Ek is skaam oor die kere wat ek te bang was om iets te doen of te sê of te help – bang vir my geliefdes – op eiers geloop het.  Ek voel skaam oor die kere wat ek seker was ek hou nie van hulle nie – dat ek regtig kwaad was, woedend selfs.  ‘n Persoon wat in pyn is probeer soms hulself beskerm deur uit te vaar na buite – teen die skuldiges maar ongelukkig ook die onskuldiges.  Hulle kan dalk bewustelik of selfs onbewustelik ander probeer seermaak in ‘n verwronge poging om hulself te probeer beskerm wanneer hulle alleen, verwerp of wanhopig voel.  So het ek ook al geliefdes se pad gekruis en is aangeval bloot maar omdat ek daar was.

Almal vir wie ek lief is en wat hierdie demone gestry het of nog stry het ook hulle goeie punte.  Hulle is almal talentvol, kunstig, interessant en dikwels gewild met baie vriende – wanneer hulle nie emosioneel swaarkry nie kan hulle witty en skerpsinnig wees en baie pret om mee saam uit te hang.

Ongelukkig vervorm swaarkry dikwels in vrees en vrees kan in frustrasie of woede vervorm wat almal rondom die persoon wat swaarkry laat retireer.  Ek weet nie of mens voel dat so geliefde se pyn en probleme aansteeklik is nie – dalk tog.  Ek het baie gevoel ek het my eie probleme en struikelblokke – as ek te veel omgee, te veel betrokke raak gaan sy/haar probleme ook my lewe raak of dalk oorneem.  Waneer die mense vir wie ek lief is sou uitvaar of inkrimp in ‘n misrabele hopie was dit nie maklik om myself naby hulle te bevind nie.  Net te wees en te luister nie.  Net om te gee – nie raad of oplossings te gee nie.  Dit was altyd vir my makliker om prakties te raak – iets te doen – of te probeer doen.

Ek was nie oor die jare my eie stryd gespaar nie en het self af en aan met depressie en ander mediese probleme gesukkel.  Ek moet ook erken dat wanneer iemand hulp vra of nodig het my reaksie of antwoord nie altyd op hulle gefokus kon wees nie maar dikwels afgehang het van waar ekself my bevind het – die dal van doodskaduwee of die koesterende wintersonnetjie.  Heel moontlik het my pyn, vertwyfeling en innerlike wroegings ook mense wat vir my lief is seer of bang gemaak of selfs van my af weggedryf.

Dan is daar nog ook die stigma waaronder mense met geestessiektes en verslawing lewe.  Die Wêreld Gesondheids Organisasie klasifiseer verslawing as ‘n siekte maar min persone sou soveel simpatie met ‘n verslaafde of alkoholis hê as met ‘n kankerlyer byvoorbeeld.  Dit is ook al gesê dat kankerlyers nie openlik vir hulle geliefdes lieg of hulle besteel nie en ook nie op hulle vloek en skel as hulle hoog of dronk is nie.  As jy jouself sou beskerm is dit dan ‘n gebrek aan empatie of probeer jy bloot jouself bietjie verskans en beskerm?

Om mense na aan my so te sien ly en magteloos te wees het my, wat ‘n besonders logiese mens is ook bietjie mal gemaak. Eenmaal toe ons hospitaal toe jaag vir steke na ‘n selfmoordpoging het ek vir my dogter gesê, terwyl sy in ‘n hopelose bondeltjie op die agtersitplek lê: “Jy beter nie in my kar bloei nie – verstaan jy vir my!?”  ‘n Ander keer na ‘n oordosis slaappille, sy was byna in ‘n koma, het ek besluit om haar warm te hou en die volgende oggend hospitaal toe te gaan as my huishulp my kan help om haar in die kar te laai.  Ek het nie eers daaraan gedink om ‘n ambulans te bel nie.  Ek kan nou sien hoe verskriklik gevaarlik dit was, sy moes ook daarna lank in die hospitaal bly, ek kon daardie tyd nie meer reguit dink nie.

Die feit is dat verslawing, alkoholisme en geestesversteurings nie net die lyer raak nie maar baie ander persone wat vir die lyer lief is, omgee of selfs saam met hulle werk.  Ek is so dankbaar vir die leiding wat ek in die twaalf stap program kry wat my help om my eie skuldgevoelens uit te pak, af te stof, goed te bekyk en te besluit wat ek weggooi en wat ek aanspreek sodat ek ‘n beter lewenskwaliteit kan hê.  Nee ek kan nie my geliefdes se besluite vir hulle neem, hulle lewens vir hulle leef of hulle lewensgeluk beheer nie.  Nee ek kan nie die tyd terugdraai en anders optree as wat ek uit vrees en wanhoop gedoen het nie.  Wat ek  nou hoop is dat as ek in ‘n beter plek is in my eie gemoed dat ek tog ook vir ander ‘n beter dogter, ma, sister, niggie, vriendin en kollega sal kan wees.

 “I’m walking through the desert
And I am not frightened although it’s hot
I have all that I requested
And I do not want what I haven’t got”

~ from I Do Not Want What I Haven’t Got by Sinead O’Connor

As dit voel asof jy gaan verdrink (Deel 2)

 

Die muntstuk het natuurlik ook ‘n ander kant – om ‘n goeie lewe te lei – jou beste te doen – suksesvol te wees. Vandat ons gebore is word ons gepeper met wie ons behoort te wees, wat ons behoort te doen en hoe ons behoort te lyk.

15665658_1801623063436264_1555052781475868675_nElke dekade of so kom daar nuwe idees vorendag oor die ideale vrou, ideale werkende moeder, om die hele tyd alles vir almal te wees, om jou doelwitte te bereik sonder om ooit te faal of op te hou.  Die ding is – dit is net eenvoudig nie moontlik nie.  Die glansblaaie van die tydskrifte met al die blink idees en netjiese huise met gemanikuurde grasperke is ‘n blote illusie.  As jy ‘n ou tydskrif van die 60er jare in die hande sou kry sal jy besef dat die wenpaal heeltyd skuif – niemand kan daar uitkom nie.

Ek onthou toe ek my dogter gehad het 20+ jaar gelede het ek ‘n ou boek in die hande gekry wat deur ‘n Dr Jan van Elfen geskryf was vir nuwe moedertjies.  Hy skryf onder andere op ‘n plek dat alhoewel die moedertjie dalk deur ‘n moeilike geboorte was, heelnag met die kleinding wakker was en haar hande stukkend was aan doeke moet sy tog moeite doen om mooi te lyk vir haar man as hy van die werk af kom en hom inwag met ‘n kus en ‘n lekker bord kos!  Nee kyk – gelukkig verander tye tog.

Amper net so belaglik as Dr van Elfen se patriargale raad was my pogings om aan die buite wêreld voor te hou dat alles wel is.  Dat ek die ideale werkende vrou en ma vir my man en dogter is en dat niks verkeerd loop nie.  Dit het my soos ‘n emmer koue water geslaan toe ek dit die eerste keer in die Twaalf stappe en die AA se “Big Book” lees – die chaos wat alkoholisme en verslawing meebring.  Ek het midde in dit gelewe maar dit nie eers aan myself erken nie.  Ek kon dit glad nie sien vir wat dit was nie – absolute chaos wat ek nie veroorsaak het nie maar nog belangriker wat ek nie kon beheer nie.  Ek weet dat baie mense glo of hoop dat hulle ‘n wederhelfte of familielid se drinkery of dwelmgebruik kan beheer of keer maar niemand kan dit doen nie.  Selfs as jy iemand sou toesluit is dit net tydelik,  Wanneer so persoon se denkwyse nie verander nie sal hy of sy dadelik weer drink of gebruik as hulle daaruit kan kom en geen persoon kan iemand anders vir ewig opsluit of oppas nie.  Ek weet – ek het dit immers vir jare probeer doen.

In kort – ek het ‘n wedloop probeer wen wat nie gewen kan word nie.  Eindelik was ek maar soos ‘n hamster op sy wiel, oor en oor het ek opgeklim en opgeklim, ek het deurentyd gevoel of almal langs die pad op my en my familie neersien en selfvoldaan sit en grinnik oor my belaglike pogings om die kunsmatige wedloop te voltooi.

18057912_1054885127980656_521049690175194262_nNa meer as twee jaar op die pad in my herstelproses (recovery) kan ek ‘n paar antwoorde waag.  Ek het besef dat ek my eie wedloop moet beplan en uitlê.  Ek kan die onmoontlike definisies van sukses wegsmyt en self besluit wat my definisie van sukses is en ek kan dit selfs van dag tot dag aanpas as ek wil.  Wat wil EK uit my lewe hê?  Wat is vir MY belangrik?

Oor die jare het baie filosowe poetiese riglyne gegee vir ‘n “goeie lewe”.  Ek het die boek “HELP” van Oliver Birkeman verskriklik geniet – ek dink dit is die een selfhelpboek wat my verslawing aan selfhelpboeke gaan beëindig.(En dit is baie vermaaklik om te lees!)  In die boek sif hy deur eeue se filosofieë en teorieë oor geluk en sukses en raak baie prakties oor wat regtig kan werk en wat maar uitgedink word om boeke te verkoop.   Ek is nou my eie filosoof.  Ek bepaal my eie visie.  Ek kies om dit so eenvoudig as moontlik te hou en om net op vandag te fokus.  Een dag op ‘n slag vir nou – niks meer nie.  Tog, as ek terugkyk oor die algelope paar jaar het ek veel meer vermag, een dag op ‘n slag as in die tien jaar wat dit voorafgegaan het!

Ek leer ook om al die “Jy behoort dit”  en “’n goeie vrou moet dat” te ignoreer.  My lewe kan nie draai om ander mense se verwagtinge of sienings nie – ek gaan self besluit wat is goed vir my en wat nie.  Dit staan my vry om my opinies hieroor gereeld en mildelik te verander soos wat ek groei en leer.

Anti-depressante – moet ons of moet ons nie?  Ek persoonlik hou nie van pille nie, het nog nooit nie.  Ek sal enige natuurlike uitweg probeer voordat ek ‘n pil sluk.  Selfs ek moet erken daar is sekere dinge wat in my liggaam skeef loop waarvoor ek mediese hulp nodig het.  Dit gaan my byvoorbeeld min baat om ‘n glas water te drink om my gebreekte been te laat beter voel!  Hoekom sal diedelfde nie vir my geestesgesondheid geld nie? Net ‘n ekspert sal weet of ‘n depressiewe persoon by anti-depressante gaan baat.  Ja dit is ook so dat daar dokters is wat gou na hul voorskrifbladjies gryp – ek wonder of daar ooit in die menseheugenis ‘n dokter was wat ‘n daaglikse 30 minute stap met jou hond voorgeskryf het, of ‘n weeklikse koffie of teedrink sessie met ‘n ou vriend of vriendin, 5 minute per dag in die son te kom of om jou elektroniese apparate uit jou slaapkamer te verban en alle elektronika ‘n uur voor slaaptyd af te skakel? Al hierdie dinge is bewys om mense met ligte depressie te help maar dit is natuurlik baie makliker vir ‘n dokter om te monitor of jy twee pilletjies per dag sluk as om op te check op die ander opsies! Alle depressie is ook nie ligte depressie nie.

Ek vertrou nie sommer die medici nie.  Vier dae na my dogter se geboorte deel my ginekoloog my saaklik mee dat ek maar moet aanvaar dat ek een van die ma’s is wat nie sal kan borsvoed nie.  Ek dink die saalsuster kon die teleurstelling op my gesig lees want sy was net na die saalrondtes terug by my met die woorde; “Moenie worry nie, hoeveel babas dink jy het hy al geborsvoed – ons gaan ‘n plan maak.”  Sy was reg en hy verkeerd.  Ek sal dikwels meer as een opinie kry en dan mediese behandeling eers vir ‘n rukkie probeer en kyk of dit vir my werk.  Ek glo dat so oefenlopie-tydperk ten minste langer as ses maande moet wees.  Dit neem meeste mense ten minste ses maande om aan te pas by ‘n nuwe situasie – dink maar aan die laaste keer wat jy verhuis het of ‘n nuwe werk begin het.

Net ek en ek alleen kan besluit of ek medikasie wil neem – ongeag wat ‘n dokter vir my sê.  Familie en vriende het natuurlik ook uiteenlopende opinies oor geestestoestande.  Dink julle nie ook die engelse “mental Health Issues” klink minder mal as geestestoestande, geestessiektes of erger – geestelike versteurings – nie?!  Baie mense het natuurlik hulle menings oor die ou sakie, wat ookal ons dit noem en dit wissel van goed deurdag tot opperste onkunde tot doodeenvoudig gevaarlik!

Ek wil eerder my eie navorsing doen.  Ek kan meer as een mediese opinie kry.  Ek kan ander opinies ook oorweeg as ek wil – geestelike -, spirituele – en alternatiewe medikasie.  Wanneer dit kom by depressie wat selfmoordneigings aanblaas of angstighed wat ‘n lyer heeltemal kan lamlê gaan oefening en vars lug nie help nie, dit is net ‘n feit. My keuse of ek medikasie neem of nie in net myne en het blou bokkerol met die res van die wêreld (Wel-menende familielede ingesluit) te doene.

So om op te som – hoekom het ek nog nie verdrink nie?:

  1. Ek hou dit eenvoudig. Die oplossing is nie maklik nie maar dit is eenvoudigchanging me

    – hou my hande af van wat ek nie kan beheer nie en fokus op my eie lewenskeuses – uiteindelik is dit al wat ek wel kan beheer. Ek vereenvoudig my lewe – daar is soveel geraas daarbuite – sodoende kan ek fokus op dit wat vir my belangrik is.

  1. Ek woon een maal per week ‘n groepsessie vir familie van alkoholiste en verslaafdes by en een keer ‘n week doen ek selfondersoek volgens die 12 stap program met my mentor.  Dit werk vir my.  Vir iemand anders gaan daar dalk ander dinge wees wat beter werk.  Die Al-Anon program is nie net van toepassing op familielede wat huidiglik met verslawing in geliefdes sukkel nie – mense wat jare terug met ‘n alkoholistiese ouer grootgeword het of wie se geliefdes intussen weg, oorlede is of sober geword het kan ook bv daarby baat.  Leer meer by: http://www.al-anon.org.  As iemand dit oorweeg om die groepsessies by te woon sal ek hulle ook aanraai om ten minste vir een maand (vyf sessies) te gaan voordat jy besluit of dit vir jou is of nie.

 

  1. Een dag op ‘n slag. Ek het nog slegs geslaag om enige van my geykte patrone of gewoontes te verander deur net een dag op ‘n slag aan te pak.  As ek byvoorbeeld besluit ek gaan nou vir ‘n maand elke dag met my honde stap kom ek sommer na ‘n paar dae agter dat dinge nie uitwerk nie.  Dan is ek boonop kwaad en teleurgesteld in myself ook nog omdat ek so ‘n eenvoudige besluit nie kan deurvoer nie.  As ek egter besluit dat ek vandag, en net vir vandag gaan probeer om met my honde te stap kry ek dit verbasend dikwels reg.  En as ek dit nie vermag nie probeer ek more weer. Dit is ‘n klein tegniese “tweak” in my ingesteldheid wat vir my soveel positiewe verandering moontlik gemaak het.

 

As dit voel asof jy gaan verdrink (Deel 1)

 

 6b623ec04d7934461ba8a64a7ed61559

‘n Gevoel wat ek so klokhelder onthou van die tyd wat ek saam met ‘n aktiewe alkoholis en dwelmverslaafde geleef het is die oorweldigende magteloosheid.  Kyk ek het my vingers in al die gate probeer hou maar telkens ervaar dat ‘n hele damwal iewers anders breek.  Ek word nou nog – twee hele jare later – steeds emosioneel as ek terugdink aan daardie oorweldigende gevoel dat ek gaan verdrink in die wanhoop en ellende wat hierdie siekte oor ‘n mens bring.

Hierdie gevoel van oorweldiging stap dikwels hand-aan-hand met depressie op een of ander vlak en dan die groot vraag – moet ek medikasie vir depressie neem of nie?

Selfs al sukkel iemand nie met ‘n alkoholis of verslaafde in hulle lewens nie kan die ou wêreld koud en wreed voel.  Dink nou maar net in die pas afgelope paar weke; Kaapstad se water loop uit en die verskriklike storms, verwoestende brande in die Oos-Kaap, die e-posse wat lek oor hoe min ons regering regtig dink aan die land en eerder hulle eie sakke voer, die afgraderings van baie SA Maatskappye wat druk plaas op buitelandse beleggings en werksgeleenthede gaan raak en dan kan jy ook jouself aanlyn vermaak met die Amerikaanse president se belaglike uitlatings en met jou hand om jou hart wonder wat die uitkoms kan wees as ‘n hanswors die grootste moontheid op aarde beheer . . .

Ek kan nogal oor hierdie ou dingetjies dink en tob en slaap verloor.  Ek moet myself herinner – en ek skryf dit op ‘n kaartjie wat ek op my bedkassie hou: “Ek kan alles doen wat ek kan met dit wat ek het in die tyd wat ek beskikbaar het op die plek waar ek my bevind en nie ‘n blou duit meer nie.”

Die feit is dat ek eenvoudig nooit die wêreld en sy probleme sal kan verbeter nie. Al waaroor ek werklik beheer het is my eie klein lewentjie en my onmiddelike invloedsfeer.  Ek kan nie rasisme, armoede, die weer, skelm politici, klimaatsverandering of die gemeenheid in ander mense beheer nie.  Ek kan nie eers verhoed dat die voertuig bestuurders wat oor my pad kom nie soos maniakke bestuur nie!  Natuurlik maak hierdie tipe dinge my woedend of bitter ongelukkig maar as ek toelaat dat dit my oorweldig gaan ek totaal oneffektief raak in daardie dinge waaroor ek wel beheer het.

Die feit dat ek nie ALLES kan doen nie beteken natuurlik nie dat ek nie IETS kan doen nie.  Waar dit moontlik is sal ek met groot liefde my geld, tyd en vaardighede aanwend waar ek voel dat ek ‘n verskil kan maak – al kan ek net ‘n klein bietjie gee.  Ek is so mal oor die storie van die gety wat tonne seesterre op die strand uitgespoel het.  Kilometers en kilometers het die stervisse in die warm son gelê en gewag om dood te gaan.  ‘n Man wat op die strand gestap het het so elke tien tree afgebuk en een uit die massas opgetel om in die see terug te gooi.  Iemand anders het hom egter daarop gewys dat daar so baie uitgespoel het dat hy regtig nie ‘n verskil gaan maak nie.  Die ander man het na die ster, wat hy op daardie oomblik in sy hande gehad het, gekyk en gesê: “Ja ek besef dit maar aan hierdie een maak ek die wêreld se verskil.”

Geen inspanning is weglaatbaar klein nie – kies iets, een ding wat jou die meeste ontstel of waarvoor jy die meeste omgee, vind uit waar jy kan inskakel en begin daar.  Doen net wat jy kan met wat jy het – daar kan nie van enige iemand verwag word om meer te doen of te gee nie.

Wanneer ek my woede tot aksie laat oorgaan beveg ek die magteloosheid wat my kan lamlê en ek sit bietjie goedheid of positiewe energie terug in die koue harde wêreld.  Ek kan so maklik vaskyk in die onmootlike – die aanhoudende gevoel dat niks kan of gaan verander nie.  Dan is dit juis die tyd wat ek eerder moet konsentreer op die klein dingetjies wat ek wel kan doen.  As ek hele probleme probeer insluk verstik ek maar happie vir happie is net baie meer realisties.

bf1afd938852be319edfaaecd4cc4407Ek herinner myself ook graag aan Moeder Teresa se beginsel van positiwiteit.  Sy het nooit opgetree teen iets nie.  Sy was by geleentheid gevra of sy sou deelneem aan ‘n optog teen die oorlog maar sy kon nie instem nie.  Sy het wel gesê dat sy bereid sou wees om deel te neem aan ‘n optog vir vrede.  Ek kan maklik baklei en oorlog maak met die wêreld en almal om my.  Dit help my baie om eerder, as ek so voel, stil te staan en te fokus op watter positiewe insette ek kan gee in plaas van waansinnig raak oor die negatiewe wat ek nie kan beheer nie.

Daar word gesê dat mense in konflik ‘n “veg” of “vlug” presoonlikheid sou openbaar.  Ek was defnitief ‘n vegter.  Ek is ‘n hele 150cm lank maar kan eerlik sê dat ek vir niemand agteruit sou staan nie – hardkoppig en harstallig gaan ek vir die keel,  wys elke moontlike bron tot verdere konflik uit, ry elke argument tot op sy limiet.  Ek is goed met woorde en argumente en uitstekend in my vermoeë om ‘n aanval te kan volhou.  Ek het egter op ‘n dag (so jaar terug) sielsmoeg huis toe gestap en gewens ek kon uit die oorlog tree.  Ek was net moeg vir baklei.  Daarby moet ek erken dat my beste aanvalsbewegings dikwels geen positiewe uitkoms gehad het nie.  Mense wat nie wil hoor wat jy sê nie kan nie hoor nie en om mense openlik aan te val (al is dit met jou woorde of houding) veroorsaak meer dikwels ‘n negatiewe as positiewe uitkoms ongeag hoe goed my agumente was.

dl-quote-5Nee ek is klaar met oorlog voer – met myself, met die wêreld om my – ek het my wapens neergelê.  Toegegee, ek vlam so af en toe op – ek is maar in wese passievol oor een en ander – maar dan erken ek ook dit ‘n proses is.  Hoe langer ek volhou hoe beter raak dit en die mense waarmee ek saamwerk en saam moet lewe se houdings teenoor my verander ook.