Die begin van die herstelproses – dit moes eers erger word voor dit beter kon word.

 

Ek was vir 22 jaar getroud met ‘n man wat later ‘n alkoholis geword het.  Ek het vier kinders gehad.  Die oudste een is vandag 20 jaar oud, twee was doodgebore en die derde was baie vroeg gebore en het net bietjie langer as ‘n uur gelewe.  My dogter het op 14 heroine begin gebruik en was op 18 heeltemal verslaaf en buite beheer.

Dit is die kliniese feite.

Daar is ‘n paar goed wat jy ook moet weet voordat jy verder lees:

  1. Alkoholisme en verslawing is nie soos ‘n koors waarmee mens eendag wakker word nie. Dit ontwikkel baie geleidelik, eers byna onopmerkbaar maar sal uiteindelik ‘n persoon se lewe oorneem en all beheer laat verloor.
  2. Beide alkoholisme en verslawing is as siektes geklassifiseer deur die WHO.
  3. Elke alkoholis / verslaafde se siekte het ‘n effek op 16 ander mense – dit is die gemiddeld.
  4. Beide siektes blyk ook ‘n genetiese aspek te hê en heel dikwels kan mens die spoor van die siekte in families naspoor – dit raak egter nie altyd elke generasie nie.
  5. Die siekte is nie kieskeurig nie maar raak jonk en oud, arm en welgesteld, eenvoudige maar ook hoogsintelligente mense.
  6. My eie observasie: Ek het vandat ek met die mense begin praat het en luister wat hulle sê agtergekom dat ‘n groot deel van verslaafdes drink of gebruik om ‘n pyn in hulself te probeer stil en hulself haat vir wat hulle doen.  Die beste wat ek dit nog uitgebeeld gesien het was in die vliek: “Fathers and Daugthers” waar die hoofkarakter se angs en innerlike wroeging uitgebeeld word voordat sy oorgaan tot die vreeslike selfvernietigende sosiale optrede waaraan sy verslaaf geraak het.  Van die pynlike ervarings wat mens in die arms van die bottel of oblivia van die naald gedryf het was: die verkragting van ‘n 14 jarige, ‘n babasussie wat geweldadig gedood was en die hele gesin se dinamika omgekrap het, ‘n jong man wat in ‘n skoolklaskamer in ‘n brand vasgekeer was in ‘n brand en erg vermink was, verlies van ‘n geliefde ouer, verlies van ‘n kind, die aanhoudende spanning van ‘n “square peg in a round hole” wees en meeste van die persone kon nie die pyn verwerk nie want hulle kon nie daaroor praat nie en veral, hulle kon nie vir hulp vra nie.

 

So het ek ook op ‘n dag wakker geword en alles het so ge-eskaleer dat ek besef het dat my hele lewe buite beheer geraak het.

My man was besig om stadig dood te gaan van emfiseem maar steeds kon hy nie ophou rook of minder drink nie.  Ongeag my beste pogings kon ek dit glad nie regkry om hom te motiveer of enigsins te inspireer om selfs een lewenskeuse te verander ten einde sy lewenskwaliteit te verbeter nie.

 

My dogter het op daardie stadium reeds 3 – 4 jaar gesukkel met ‘n verskeidenheid probleme.  Sy kon nie met my praat nie, inteendeel sy het my gehaat.  Ek het verskeie sielkundges en psigiaters probeer.  Selfs elke twee weke 300 kms gery om haar te vat na iemand wat spesialiseer om jong mense van haar ouderdom te behandel maar dit was asof daar nie vir ons hulp was nie.

 

Moedersdag 2014 was seker die hartseerste moedersdag van my lewe.  Sy het nie vir my ‘n blommetjie uit iemand se tuin gesteel, ‘n kit-kat van R6 gekoop of ‘n koppie koffie gemaak nie.  Nie ‘n drukkie, soentjie of ‘n faceboek boodskap nie.  Ek het middagete gekook en haar gunstelinge gemaak, hoender, rys met sous en groente met kaassous.  Sy was nie eers bereid om saam met my te eet nie.  Sy wou ook nie meer saam met my bly nie.  Sy en haar pa het in ‘n klein woonstelletjie ingetrek waar daar bitter min “comforts” was en baie dae meer drank as kos op die tafel.  Hulle het dit egter verkies bo my.  Sy het ook besluit dat sy nie meer skool toe gaan nie. Dit was baie meer as wat ek kon handteer. Dit ht my so verskriklik seer gemaak want ek is so verskriklik lief vir haar.  Ek kon nie verstaan hoe dit vir haar lekker kon wees om my so seer te maak nie? Ek was oortuig dat dit my betaling was omdat ek nie ‘n goeie ma was nie.  Nee, eintlik het ek geglo dat ek ‘n useless, hopelose ellendige simpel ma was.  Nie die woord ma werd nie en ditto in my pogings om ‘n goeie vrou vir my man te wees.

 

Ek was oortuig, op daardie stadium, dat alles uitmekaar begin val het omdat my pa oorlede was.  Ek het gewens dat ek net eenkeer met hom kon praat – was oortuig hy sou weet wat om te doen want ek was aan die einde van my kragte.  In Junie 2014 skryf ek ‘n brief vir my pappa en sê onder andere:

Alles is maar net verlore pappa, daar is nie meer hoop nie.  Ek het altyd geglo dat ek die Here se witbroodjie was maar nou het Hy van my vergeet.  Hy het my naam uit SY handpalm gevee.  My ellende het my uit Sy hand geruk.  Net soos ‘n ooi van haar weggooi lam vergeet het Hy van my vergeet.

 

Ek verstaan nie? Ek weet nie waarom nie?  Wat het ek dan so verkeerd gedoen?  Wat was so verskriklik in die manier wat ek Jana groot gemaak het Owen lief gehad het?  Waarom verdien ek hierdie verskriklike straf?  Moet ek alles verloor? 

 

Ek het gedink om hierdie brief te skryf sal help.  EK verlang so erg na pappa.  Maar dit help net mooi niks nie.  Ek sit net hier en huil en huil en dink hoe hopeloos die hele situasie is.  Ek gaan weer vannaand nie slaap nie.  More oggend gaan sy weer nie skool toe nie en maak nie saak wat ek dink nie.  Dit is vir my so hartseer dat sy nie eers verstaan hoeveel kanse sy kry en weggooi nie.  Nog hartseerder dat sy so slim talentvol en begaaf is maar ek kan nie sien hoe sy enige van haar talente sal kan ontwikkel nie.  Hierdie kanse wat sy nou uitmis gaan die res van haar lewe soos groot swaar klippe om haar nek hang en haar toekoms, vreugde en vrede steel en daar gaan niks wees wat sy kan doen om die tyd terug te draai nie.  Maar net soos haar pa kan sy nie sien hoe laat dit al geword het nie.

 

So om volledig inventaris te neem, teen middel 2014 het ek reeds ‘n lang ruk op ‘n baie moeilike pad gereis.  Ek het ‘n lang ontmoeting met pyn, frustrasie, self-bejammering, wanbegrip en veral vrees gehad.  Ek het reeds my wonderwerkkind twee maal opgetel dat ek na ‘n selfmoordpoging gedink het hierdie keer is ek te laat, en so baie pogings wat gelukkig nie so erg was nie maar wat ek nie eers almal kan onthou nie.  Dit is baie erg, die eerste keer wat jou kind selfmoord probeer pleeg is jy baie emisioneel, kwaad-hartseer, bekommerd, in trane en jy kan nie koue vingers van vrees om jou hart voel.  Later word dit ‘n ritueel, ok dalk is dit nie te diep nie, ag ek plak sommer self ‘n pleister op.  Om te keer dat jou eie hart breek beskerm die natuur so ‘n ma, jy word amper soos ‘n robot, jy kan voortbestaan, jy “cope”, jy kan nie meer met eerlikheid sê dat jy lewe nie.

 

Drie voorvalle wat ek tog wil uitsonder en kortliks noem:

  1. Een maal wat ons wel hospitaal toe moes jaag omdat sy duidelik steke sou moes kry na ‘n sny-poging, het die dokter wat haar steke ingesit het met die grootste oordeel vir haar gesê dat hy haar tipe ken en dat sy nooit sal ophou nie want sy wil net haar sin kry. Ek het ‘n goeie werk en ‘n goeie mediesefonds maar elke keer wat ons moes hospitaal toe (En dit was privaat hospitale) was ons soos melaatses behandel en daar was ‘n duidelike oordeel oor elke verpleegster en dokter se gemoed waarmee ons te doene gekry het.  Dit is ook een van die redes waarom ek later eers gekyk het of ek self die bloed kan stop.
  2. Eenmaal nadat ek die bloed afgewas het en pleisters opgeplak het het sy op die vloer in die gang neergesak en vir my gevra; “Ma, gaan ek ooit uit die donker gat kan kom?” Ek kon haar nie antwoord nie, niks en niemand wat ek probeer het kon my of ons help nie.  Ek het nie ‘n antwoord vir my wonderwerkkind gehad nie.
  3. Om my kind so te sien ly en magteloos te wees het my, wat ‘n besonders logiese mens is ook bietjie mal gemaak. Eenmaal toe ons hospitaal toe jaag vir steke het ek vir haar gesê, terwyl sy in ‘n hopelose bondeltjie op die agtersitplek lê: “Jy beter nie in my kar bloei nie – verstaan jy vir my!?”  ‘n Ander keer na ‘n oordosis slaappille, sy was byna in ‘n koma, het ek besluit om haar warm te hou en die volgende oggend hospitaal toe te gaan as my huishulp my kan help om haar in die kar te laai.  Ek het nie eers daaraan gedink om ‘n ambulans te bel nie.  Ek kan nou sien hoe verskriklik gevaarlik dit was, sy moes ook daarna lank in die hospitaal bly, ek kon daardie tyd nie meer regiut dink nie.

 

In die lang magtelose stryd het my gemoed gewissel tussen self bejammering, simpatie en bittere verwyt.  Ek was onselfsugtig, het baie opofferinge gemaak in die hoop dat my geliefdes na hul ou self sou terugkeer.  Ek het hulle probeer beskerm, selfs leuens vertel en verskonings opgemaak – ek wou nie gehad het dat mense dink dat hulle net sleg is nie.  Ek het woede uitbarstings gehad, op ‘n stadium my dogter in die huis toegesluit en elke mes, skeermes, skêr en lemmetjie toegesluit.  Ek het aangepor, gesmeek, gebid, gekerm, geskreeu.  Ek was by tye histeries ek was meestal in absolute vrees vasgevang.  My huis was soos ‘n oorlogzone, ek het nie vriende gehad nie, was skaam om mense nader te nooi in die vrees dat hulle die chaos en magteloosheid van my lewe sou besef.  Ek het werk toe gegaan, kerk toe gegaan, baie diens gedoen vir andere maar in wese was ek alleen. Daar was niemand daar vir my nie maar ekself het almal uitgehou.  Selfs my eie familie.  Ek was skaam, bang en verslaan.  Soos ‘n hamster op  sy wiel het ek geklim en geklim en geklim, dikwels terruggeval in uitputting op weer my moed bymekaar te krap en te hoop om uit die sinneloosheid te kan kom, om soliede grond te bereik.

 

 

 

Laat in Junie 2014 het ek ‘n “drug awareness” aand by ‘n plaaslike instelling bygewoon.  Op die stadium het ek nie eers meer probeer voorgee nie, ek het so gehuil en gesnik, en dit voor wildvreemde mense, dat ek seker was hulle sou nie kop of stert kon uitmaak van wie ek was of wat ek nodig gehad het nie.

Wow, was ek verkeerd.  Ek het heelwat later die stukkie ontdek wat vir my boekdele spreek:

An addict fell in a hole and couldn’t get out. 

A businessman went by.  The addict called out for help.  The businessman threw him some money and told him to buy a ladder.  The addict was very grateful for the contribution but could not find a ladder to buy in the hole.

A doctor walked by.  The addict called out: “Please help me, I can’t get out!”  The doctor gave him some medicine and said: “Take this, it will relieve the pain”.  The addict thanked him but the doctor had to leave and when the pills ran out the addict was still in the hole.

A psychiatrist heard this addict’s cry for help when he passed that way.  He stopped and asked: “How did you get in there?  Were you born there?  Did your parents put you there? Tell me about yourself it will alleviate your sense of loneliness.”  So the addict talked with him for an hour but after an hour the psychiatrist had to leave but promised to be back the next week.  The addict was still in the hole.

A priest came by and heard the addict calling for help.  The priest gave him a Bible and said: “I will pray for you.”  The priest got down on his knees and prayed for the addict then left.  The addict was

11873469_418457375015388_3062253579785322106_n

very grateful and he read the Bible but he was still stuck in the hole.

A recovering addict happened to pass by.  The addict cried out: “Please help me, I’m stuck in this hole.”  Right away the recovering addict jumped into the hole with him.  The addict said; “Why did you do that, now we are both stuck here!”  but the recovering addict said: “It’s ok, I’ve been here before – I know the way out.

Anonymous   

By die sentrum het hulle nie net die stryd van die verslaafde of alkoholis verstaan en geweet hoe om haar te help nie maar ook geweet dat dit baie swaarder is om vir ‘n alkoholis of verslaafde lief te wees as om self een te wees.

Uiteindelik het iemand my gehoor en verstaan – en dit was werklik die eerste stap in my eie proses na herstel.  In die 12 Step program sirkels het ek ‘n ontsaglike eerlikheid, baie kennis, ‘n diep wysheid en absolute onvoorwaarlike liefde gevind.  Ek het nie een enkele sekonde gevoel dat ek veroordeel word of dat my geliefdes veroordeel word nie.

 

Wel ek weet dat ek ‘n lang pad voor my het.  Ek moet fokus en bou aan my lewe vir myself – ongeag wat rondom my gebeur.  Ek weet nie of jy jouself dit kan indink nie, om jou enigste kind vir dood op te tel?  Meer as een keer?  Maar dan ook te besef, ek kan nie haar keuses vir haar maak nie maar ongeag wat sy kies vir haarself, my lewe sal moet aangaan.  Ek wil nie meer voortbestaan nie, ek wil ook lewe.  Die lewe in al sy volheid ervaar.

Daar is heelwat wat ek sal moet doen voor ek daar uitkom.  ‘n Vreeslike groot rots in my pad is om myself te vergewe, ook vir wat ek nie geweet het toe ek dit nie geweet het nie en om die kommittee van self-critici in my kop een vir een die deur te wys.

 

Nee, 2014 was nie ‘n gelukkige jaar nie, maar aan die einde van 2014 het ek, vir die eerste keer in meer as 6 jaar ‘n ou bekende gevoel in my hart ervaar – dankbaarheid en vreugde – daar was ‘n sprankie hoop, nie net vir my geliefdes nie – maar ook vir myself.

Met opregte apologie aan myself….

 

Liewe ekke,

Ek is so bitter jammer dat ek vir so lank jou so bitter seer gemaak en te na gekom het.   Ek is jammer dat ek jou so lank gehaat en verpes het,  dit het my jare geneem om uiteindelik te besef dat jy – meer as almal – my omgee en liefde verdien.  Ek is jammer dat ek nooit besef het hoe belangrik dit is om vir myself lief te wees en om te gee nie, dat ek nooit regtig geweet het hoe om vir myself te sorg – na liggaam, siel en gees nie – en nie werklik stil gaan staan het om te luister wat ekself nodig gehad het nie.  Ek het soveel tyd en energie daaraan gewy om na ander om te sien en probleme wat ander veroorsaak het uit te sorteer.

Vergewe my tog dat ek myself so maklik veroordeel, geoordeel en afgemaak het wanneer ek pyn of swaarkry ervaar het.  Ek besef vandag hoe belangrik dit is, juis in sulke tye, om geduldig en liefdevol met myself te wees maar die waarheid is dat ek myself die slegste behandel het en dat my self-dialoog die gemeenste was juis in tye wanneer ek geduld en liefde die nodigste gehad het.  Vandag besef ek terdeë dat ek nie God se eerste en grootste gebod kan begin gehoorsaam as ek nie vir myself lief is en omgee nie.

Ek is so jammer dat ek myself so lank gehaat het oor hoe ek lyk.  Ek het so dikwels vir myself vertel (ag doen nog baie dae) dat ek nie mooi genoeg, maer genoeg of goed genoeg was nie.  My afbrekende self-dialoog het my baie in myself laat twyfel wanneer ek sterk moes wees.   Ek het selfs geglo dat die opinie en idees van ander belangriker of gewigtiger as my eie was.  Ek het myself laat glo dat waar ander my seer gemaak het of te na gekom het dit eintlik my eie skuld was. Ek het telkens die fout by myself gaan soek – selfs wanneer dit wat verkeerd geloop het heeltemal buite my beheer was.  Ek het myself oortuig dat ek nie hard genoeg probeer het nie, selfs dat ek ‘n mislukking was.

Ek besef nou dat ek verkeerd was.  Ek was verkeerd om te dink dat mense, wat my nie kon waardeer vir wie en wat ek is nie, soveel saak maak.  Nee, hulle doen nie – ek het heeltemal te veel tyd en energie spandeer daaraan om ‘n front voor te hou, kole uit die vuur te krap wat ek nie gemaak het nie, gesoek het na sukses en aanvaarding op ander plekke en by ander mense omdat ek dit nooit vir myself gegun het nie.  Vergewe my tog dat hierdie optrede en denkwyse my net oor en oor in situasies geplaas het waar ek stukkend en vertrap in my binnekant gevoel het.

0-0-namka33

 

Ek is so jammer dat ek elke keer wanneer ‘n geliefde of iemand vir wie ek omgegee het my teleurgestel het ek dit persoonlik geneem het asof my eie-waarde afhang van die liefde en erkenning wat ek van hulle sou ontvang.  Dit is so bitter jammer dat hierdie manier van dink veroorsaak dat my geliefdes foute maak maar ek, selfs waar ek geen aandeel daarin gehad het nie, die letsels, skaamte en angs in my binnekant dra.  Ek het veral as gevolg van my man se alkoholisme en my dogter se verslawing aan heroine alle hoop verloor en kon nie meer die punt insien van aanhou probeer nie – want in my verwronge denke, as ek hulle liefde werd was, as ek ‘n goeie ma of vrou was sou hulle mos nie so opgetree het nie.  Hulle was siek, hulle het behandeling nodig gehad en hulle het nie doelbewus dinge gesê of gedoen aandagtig aan hoe dit my sou raak nie.

Die waarheid, wat ek vandag in die spieël kan sien, is dat ek ‘n wonderlike, liefdevolle hart 1610919_10153328126595972_7005143703963406800_nen siel het en dat al die dingetjies wat ek as my foute of giere ag my die pragtige mens maak wat ek werklik is.

Ek is sagmoedig, liefdevol, intelligent, interessant, kunstig, suksesvol, gee werklik om vir mense en diere en ek is genoeg – net soos ek is.

Ek hoef geensins te verander of verbeter om ‘n suksesvolle ekke te wees nie – ek hoef nie die wêreld of ander te kan verander om aanvaarbaar of suksesvol te wees nie.  Ek hoef nie meer in konstante oorlog met myself of die wêreld te wees nie.  Ek hoef nie verantwoordelikheid te aanvaar vir ander se doen en late of besluite nie.  Ek besef nou hoe uiters belangrik dit is om dinge wat ek nie kan beheer nie, gevoelens en gedagtes wat nie tot my sieleheil bydra nie, eenvoudig te laat vaar.  My liefde, tyd en opoffering is net waardig aan iemand wat dit kan verstaan.

painful experienceVergewe my tog dat die idees en gedagtes wat ek toegelaat het myself baie emosionele pyn veroorsaak het.  Ek het depressie, angs en vrees ervaar omdat ek in my eie oë net nooit goed genoeg was nie.  Hierdie gedagtes het voortgespring uit slegte ervarings wat ek gehad het maar ek het nooit geleer om sulke dinge wat met my gebeur het in die oë te kyk en deur te werk nie. Ek kan nou met opregte berou terugkyk en besef hoe hierdie gedagtegang my van my vertroue in myself, my medemens en my God beroof het, hoe ek al meer en

meer probeer het om dinge te beheer maar al hoe minder beheer gehad het, hoe ek soveel meer vir ander probeer doen het, ‘n ongesonde balans wat net aanleiding daartoe gegee het dat gemanipuleer en uitgebuit kon word.  Vandag is ek dankbaar dat hierdie slegte gebeurtenisse, trauma en gedagtes nie meer definieer wie of wat ek is nie.

Ek is jammer dat ek myself nie behoorlik versorg het al die jare nie.  Ek is jammer dat ek nie na myself omgesien het nie.  Ek is jammer vir al die kere wat ek nie doktor toe gegaan het wanneer ek moes nie, nie vir hulp gevra het wanneer ek dit nodig gehad het nie, nie my medikasie gereeld gebruik het nie, nie gesonde keuses vir my liggaan en lewe gemaak het nie omdat my eie welstand soms heel laaste op my agenda was.  Vergewe my vir al die kere wat ek myself gedwing het om in onredelike tye en omstandighede voort te gaan of te hard te werk en te ver te ry.

Ek belowe dat ek beter keuses sal maak vir my eie welstand, van dag tot d2205e3eaae83fdd242ab0229873f52d3ag, myself meer sal aanmoedig en geduldig sal wees en met myself sal praat soos met iemand vir wie ek werklik lief is en omgee.  Nee ek hoef nie te verander nie – ek kan net meer word wie ek regtig is deur negatiewe gedagtes, gewoontes en ou bagasie af te gooi.  Deur beter na myself om te sien en meer ek te wees – alle pretensies op ‘n stokkie – kan almal, ek inkluis, uiteindelik sien hoe wonderlike pragtige wese ek nog altyd was en nog steeds kan wees.

Met opregte liefde,

Ekke

 

Die mees gevreesde vyfletterwoord….

Nou ja, daar is geen ander manier om dit te sê nie, ek is weer op ‘n diëet.  Ok daar is ander maniere: Ek het ‘n nuwe leefstylplan, ek volg ‘n nuwe ongebalanseerde eetplan, ek het ‘n baie interessante boek gelees oor eetgewoontes en doen nou dinge anders…  Daar is sekerlik geen einde aan die moontlike maniere om dit te sê nie, as mens mooi daaroor dink.

diet fork

Dit is by no stretch of the imagination my eerste diëet nie.  Ek het die eerste keer op die tere ouderdom van 12 ‘n blitsdieet, wat die Huisgenoot gepubliseer het, gevolg en soos hulle sê  die res is geskiedenis.  Daarvandaan was dit ‘n op-en-af- wipplankryery: Die blitsdieët, die sop-diëet, die kits-diëet, meer as een Weigh-Less episode, die kool-diëet en die laaste veldslag wat ek verloor het was die Bloed-trek-en-monitor-diëet.  Ek kan nie meer die besigheid se naam onthou nie maar ek moes so 10 maal die maandelikse Weigh-Less bedrag betaal, en vir bloedtoetse, waarna ‘n “ekspert” my bloed uitslae ontleed het, ‘n baie onrealistiese eetplan voorgestel het, en ek wel ‘n paar kg verloor het nadat ek so twee weke kronies honger was met gepaardgaande hoofpyne.  Ek het uiteraard handdoek ingegooi en teruggekeer het na my ou gewoontes met die gepaardgaande gewigtige gevolge natuurlik.

My eerste Weigh-less ervaring was al op skool.  Een tannie in die groepie, kom ons noem haar Hanna, kan ek goed onthou.  Sy was ma van 3, haar man ‘n harde werker en deeltydse boer en sy ‘n toegewyde ma wat ook voltyds gewerk het.  Sy het regtig swaargekry om haarself te beperk tot die toelaatbare rooivleis kwota wat voorgeskryf was.  Ekself sal toegee dat jy my maklik in ‘n wip sal kan vang met ‘n skaaptjop of twee, ek en Hanna het albei ons wortels waar die karooskape rustig wei.  Hanna het uitgewerk dat as sy die hele week lank net vis en hoender eet, en al haar rooivleisporsies bêre vir Vrydag, sy wanneer die familie die weeklikse braai-ding doen ook 3 klein tjoppies (alle vet afgesny natuurlik) kon geniet.  Sy het geleef vir Vrydagaande se braai.  Dit was eintlik bietjie hartseer om die ontbering en opoffering vir daardie drie kolletjies skaapvleis se opgewondenheid voor jou te sien afspeel.  Ek kan ook nie onthou dat ek ooit regtig ‘n heelwat skraler weergawe van Hanna gesien het nie.

Ek het na baie jare, en toe my hare so dun geword het dat ek nie meer die bleskolle kon toekam nie, (Dit is blykbaar ‘n direkte gevolg wat wipplankdiëetery.  Iets wat tydskrifte en diëet boeke nooit langs hulle nuutste neigings publiseer nie.) het ek amptelik ge-“hensop”.  Genoeg was genoeg, ek moet maar aanvaar dat ek vet is en sal bly.  Ek het in elk geval soveel chaos uit ander oorde in my lewe gehad dat my eie welsyn en gesondheid nommer 45 op my lysie was – al wou ek tog gesonder wou lewe, ek sou nie realisties daarby kon uitkom nie.  Dit was jare gelede.

exercise

Nou ja, al kon ek nie reg kom met die diëetery nie, die alternatief was ook nie so rooskleurig nie.  Ek sukkel met gesondheidsprobleme, ek is onbeweeglik, word gou moeg, sien kans vir baie meer avontuur as wat my lyf kan hanteer en frankly my dear ek was siek en sat daaroor om siek en sat te wees oor my gewig en gesondheid.

Na baie wonder, onsekerheid, geheime trane, lees en luister na raad het ek myself op die banting waentjie begewe.  Die eerste drie dae kon ek aan niks anders dink as koek, sagte witbrood-buns, botterige croissante en allerlei ander verbode dinge nie.  Dit was soos ‘n obsessie.

Ek het egter deesdae ‘n meer gematigde lewensuitkyk. Ek probeer harder om nie sommer die baba met die badwater uit te gooi nie.  Ek het ‘n vaste onderneming teenoor myself gemaak dat my eie gesondheid en lewenskwaliteit belangrik genoeg is vir my om moeite daarmee te doen.  Dit klink uiters logies maar was regtig vir my ‘n moeilike kopskuif.  Ongeag hoe gedetermineerd ek is vind ek myself steeds soms knie-diep in probleme wat ekself nie geskep het nie met gedagtes om gou ‘n pizza te bestel omdat ek nie tyd het vir kosmaak nie.

Elke mislukking of glips bring gevoelens van wanhoop, skaamte, woede, teleurstelling, vreeslike slegte en afbrekende self-dialoog en sommer ‘n warboel ander gevolge wat die biggest loser in die arms van ‘n bak volroom sjokolade roomys met neute sal dryf.  Nee dit sou nie vir my werk nie, ek weet mos.

En toe die deurbraak – die EUREKA oomblik.  Ek weet mos ek kan nie na my eie gesondheid omsien soos dit hoort nie.  Ek het al die scars om dit te bewys.  Ek kan dit nie doen nie. Baie eenvoudige mense kry dit reg.  Ek het myself vir jare gekasty dat iemand soos ek met meer as een universiteitskwalifikasie nie die basiese kan regkry nie.  Ongeag hoe erg ek myself uitgekryt en sleg gesê het daaroor – dit het niks verander nie.

failure

Al wat ek wel kan doen is een dag op ‘n slag.  Ek kan, net vir vandag, suiker en koolhidrate uit my dieët sny, bietjie met my hondjies gaan stap en beter keuses maak as dit by my oefening, medikasie en kos kom.  Net tot ek vannaand my kop neerlê en aan die slaap raak.  A-ha, dit kan ek doen!  Nee ek weet nie wat gaan gebeur met my gesonde keuses en mooi beplanning as die &^%$ weer die waaier tref nie, ek oorweldig of emosioneel voel nie.  Maar raai, ek hoef ook nie daaroor te wonder nie, behalwe as dit wel vandag gebeur.  Want vir nou, volg ek ‘n eetplan wat ek hoop en glo goed vir my gesondheid en my lewenskwaliteit gaan wees, maar dit is net vir vandag.