Waar is ek nou?

56427032_2367562286811047_6746585665653178368_n

Die mensdom kan so dikwels fokus op waar ons wil wees en wat ons wil bereik – sekerlik prysenswaardig – dit bou karakter en toon ambisie. Maar ons moet tog ook nie vergeet om dankbaar te wees vir presies waar ons onsself tans bevind en ja selfs ook waar ons vandaan kom nie.

Op my recovery padjie was dit nie altyd vir my maklik om te erken dat ek dikwels maar bitter klein babatreetjies kon gee nie – minder nog die paar kere wat ek ‘n groot tree of twee agteruit gevat het om weer my ewewig te kon herwin. Maar as daar nou een ding is wat ek klokhelder in my recovery proses geleer het – Alles is presies net soos dit moet wees.

Ek dink ook dit is belangrik om versigtig te wees waar ons ons emosionele energie belê. Dalk is ek nie die enigste persoon op aarde wat wens dat ek vroeër van recovery geweet het nie, eerder beter na myself begin omsien het nie of lankal beter besluite begin maak het nie.  Sover ek weet kan geen hoeveelheid energie dit vir my of enige iemand anders omdraai nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy weet jy is reg.  Die addicts sê mos jy gaan eers die werk insit om te verander wanneer jy “sick and tired” is om “sick and tired” te wees. Ons maak ons keuses en besluite gebaseer op ons gereedheid – en dit gaan vir geen twee mense dieselfde wees nie. Ek weet verseker vandag dat ek wel op ‘n punt weer begin lewe het, weer lewensvreugde begin ervaar het, stukkies van my lewe begin terugkry het wat ek lankal geglo het dood was – en ek is ongelooflik onuitspreekbaar dankbaar vir waar ek nou is.

Ek dink een van my eerste bloginskrywings was houvanblou.wordpress.com/…/die-mees-gevreesde-vyfletterwoord oor my besluit om die “banting” of “keto” dieet te begin volg.  Dit het vir maande goed gegaan en ek het gewig verloor en regtig nie swaar gekry om die eetplan te volg nie. Nadat my dogter ‘n relapse gehad het het ek vir amper ‘n hele jaar myself nooit geweeg nie. In Januarie het ek en ‘n vriend wat ook gewig wil verloor saam besluit om die bul by die horings te pak en ek was regtig verbaas toe ek myself weeg en besef dat ek in daardie hele jaar geen gewig opgetel het nie.

Ek het vanoggend geweeg en besef dat ek deur die 20kg grens gebreek het – ek het nou altesaam 21kg verloor, al het dit my meer as ‘n jaar geneem. Ek moet nog heelwat gewig verloor om regtig gesond te wees maar ek kan weer dinge doen waarvan ek hou soos om te draf en muurbal te speel. Ek is regtig trots op wat ek bereik het.  Pak gerus 21 blokkies botter bo-op mekaar as jy weer in Checkers kom – dit is ‘n klein bergie!

Vroeg in my recovery het ek privaat terapie sessies gehad met ‘n jong terapeut en ek onthou goed dat al die foute wat ek in my lewe gemaak het die tema van die meeste van ons gesprekke was.  Ek het ‘n verskriklike swaar las op myself gelê en eerlik geglo dat alles wat verkeerd gaan in my eie, maar ook my man en dogter, se lewens alles as gevolg van my foute en tekortkominge was. (Laat ek ook maar volledigheidshalwe hier byvoeg dat hierdie een van die gevolge van verslawing is vir verslaafdes maar ook vir die kinders en familie van verslaafdes, ingesluit alkoholiste.) Met ons eerste sessie het sy opgemerk dat dit alles vir haar interessant was maar dat sy graag wil vra dat ek ‘n lys maak van alles wat ek reg gedoen het. Nog nooit ooit in my lewe het ek so daaraan gedink nie!? Ek het besef dat ek in my lewe elke geleentheid wat ooit na my kant toe gekom het benut het. Ek het nooit ‘n eksamen gedruip of ‘n vak oorgedoen nie. Ek het twee nagraadse kwalifikasies in minimum tyd voltooi terwyl ek voltyds gewerk het. Ek het dikwels in swaar tye voltyds gewerk en ook deeltydse werk aanvaar om seker te maak dat my man en dogter alle moontlike geleenthede kon geniet. Ek is mede-outeur van ‘n boek wat reeds vier keer weer uitgegee en gedruk is. Ek het bome geplant, riviere geswem, die natuur bewonder, gereis en gesels en berge geklim.

Ek het ‘n goeie, bevredigende en gelukkige loopbaan gebou deur die jare. Eintlik, as ek regtig eerlik wil wees, het ek in die 50 jare wat ek myself op moeder aarde bevind al meer gedoen en uitgerig as wat ek ooit kon droom. So, as julle my so bietjie sal verskoon, gaan ek vandag fees vier oor waar ek is.  Dankbaar wees vir alles wat ek kon doen en bereik. Vreugde en vrede in my hart ervaar as ek terugkyk na waar ek vandaan kom en spesifiek oplet hoe innerlike vrede al hoe meer en meer deel van my lewe word. Nenatjie ek sien jou en ek word al liewer vir jou . . .

13921071_1005157349582199_8388314267196284820_n

Geluk is toe ook ‘n werkwoord.

healing

Wat is hierdie werk? Voel jou gevoelens, regtig, elke ene van hulle. My wonde kon nie genees terwyl ek negatiewe gevoelens probeer wegsteek of ontken nie. Dit is ‘n maklike gat om in te val as mens swaarkry – ons wil nie die negatiewe gevoelens ervaar nie daarom ontken ons dit, of probeer dit uitdoof, dalk met drank, pille of deur net te besig te wees.  Ek het ‘n punt bereik waar ek totaal afgestomp geraak het van alle em

53251528_1318908474915667_1150788439164059648_n

osie – goed of sleg. Ek kon eers begin genees toe ek geleer het om my gevoelens te voel.  Om hulle soos gaste te laat kom en gaan en te besef: “Feelings are not facts.” En op regtig slegte dae (wat selfs as ek begin genees het hulle kop uitsteek) deur dit neer te skrywe of vir iemand wat ek vertrou te vertel sodat dit uit my gestel en uit my sisteem kan kom.

 

Ek moes ook leer om op te daag – teenwoordig te wees. Nie net in my eie huis of agter my te besige skedule weg te kruip nie. My vrese in die oë te kyk en nogtans in myself te glo. Eers klein dingetjies, drink koffie saam met my kollegas in plaas van alleen in my kantoor, neem uitnodigings aan, begin deelneem aan ‘n nuwe sportsoort of stokperdjie en beplan doelbewus vir avonture in my lewe – iets om na uit te sien.

10665066_10152682975646211_862286250960980589_n

Ek het vroeg in die proses besef dat my grootste vyhand in my eie kop leef. Ek moes myself leer om nie in my eie negatiewe gedagtes vas te draai nie maar om my eie waarheid te kan uiter en lewe. Om dit te doen moes ek eers die angs, skuldgevoelens, ongemak en pyn ervaar, neerskryf en deur dit groei as ‘n blote stap of fase in my groeiproses. Interessant – dit is presies hoekom ek hierdie blog begin skryf het bv Die begin van die herstelproses – dit moes eers erger word voor dit beter kon word. en Het jy ooit verstaan?

Deur alles moes ek myself leer dat dit ‘n proses is en dat ek net kan hoop op vordering, nie om perfek te wees in alles wat ek probeer nie. Ek kies nie altyd my omstandighede en wat ander om my doen en sê nie maar ek kies my eie reaksies daarop. Ek kies my reaksies op die gedagtes wat in my kop opkom. As my reaksies nie werk nie is ek vry om weer te probeer en ‘n ander reaksie te kies. As ek foute maak is ek vry om opreg om verskoning te vra en te besef ek is menslik, ek maak foute. Omdat ek harder probeer om werklik teenwoordig te wees in my eie lewe en nie net te “survive” nie kan ek oplet na dit wat werk en dit wat nie werk nie. Ek hoef nie myself te kruisig as ek foute maak nie maar dit eerder ervaar as ‘n kans om iets te leer en selfs om aan te beweeg na die volgende fase in die groeiproses.

Ek kry oefening en eet gesond. Ek moes ophou wegkruip agter die verskonings dat my lewe en liggaam in chaos is as gevolg van ander mense se aksies. Ongeag van wat om my aangaan moes ek beter gewoontes aanleer soos om gesonder keuses te maak in wat ek in my mond steek, gereeld oefening te kry (en ook daarvoor beplan) en ook om te bid en mediteer om rus vir my siel te vind.

Ek sal eerlik wees. Dit is ‘n redelike uitdaging om na veertig te begin uitfigure hoe mens nou eintlik moet lewe. Ek was defnitief ‘n kandidaat vir “care giver burnout” en het my eie gedagtes, geluk, gesondheid en menswaardigheid totaal afgeskeep in my pogings om vir my alkoholis man en verslaafde dogter te sorg. Nadat my man oorlede is en my dogter skoon gekom het het ek totaal useless gevoel – asof sonder ‘n lewensdoel of droom.

Caregiver burnout is a state of physical, emotional, and mental exhaustion that may be accompanied by a change in attitude — from positive and caring to negative and unconcerned. Burnout can occur when caregivers don’t get the help they need, or if they try to do more than they are able — either physically or financially. Caregivers who are “burned out” may experience fatigue, stress, anxiety, and depression. Many caregivers also feel guilty if they spend time on themselves rather than on their ill loved ones.

Vandag weet ek dat alles vir ‘n rede gebeur en dat alles presies is soos dit moet wees.  Ek leer en groei en belê my tyd en energie in wat vir my liggaam en siel goed is. Ja ek is gelukkig maar ek doen die werk wat nodig is en besef dat my geluk en gesondheid my eie verantwoordelikheid is.

Een ding wat ek jou kan belowe: “I will not die an unlived life.!”

img_6767

In 2019 – laat dit gaan . . .

let it go

In Januarie dink meeste mense nuwe dinge uit om hulle lewens bietjie verder te kompliseer. Om nuwe verwagtinge te skep. Meer verpligtinge. Hierdie jaar gaan ek niks byvoeg nie, hierdie jaar wil ek eerder ‘n paar dinge laat gaan…

Koebaai kwaai jurie in my kop

Ek is my eie strengste kritikus.  Inteendeel dit is heel moontlik dat daar 12 kwaai jurielede heeltyd in my gedagtes hover, kwaai soos die Engelse tannies wat hulle in my kinderdae uit Engeland ingevoer het om balleteksamens te beoordeel.  Nee wat – hulle moet almal gaan – ek is genoeg net soos ek is, ek leer om van myself te hou en vir myself om te gee en te sorg, ek is dankbaar vir wat ek is en het – ek het hulle regtig nie nodig nie.  Ek kan eerlik sê dat selfoordeel en selfverwyt my nog nie enigsins gebaat het nie. Dit kan maar gaan.

Laat gaan die idee dat ek nie goed genoeg is nie

In die recovery sirkels is ‘n gewilde spreuk: ‘Feelings are not facts.’ Dalk gekoppel aan die pas afgedakte jurie van kritiek, betwyfel ek dikwels of ek goed genoeg is.  In 2019 is ek reg om, daardie geadgtes wat glo dat ek feitlik nie goed genoeg is nie, op te gee. Ek weet dit is net my gevoel – dikwels nie die waarheid nie.  Dit is vir my makliker om ander te bedien as om vir myself te sorg inteendeel skeep ek myself maklik af. Dit affekteer my gedagtes, gesondheid en daaglikse keuses. In 2019 is ek gereed om die idee van my eie minderwaardigheid op te gee. Ek is goed genoeg.

Daardie dinge wat ek nie kan beheer nie

Dit is die GROOT ene vir my, ‘n total “overthinker”. Ek weet vir ‘n feit dat ek nie altyd my woon en werksomgewing kan beheer nie. Dat ek nie ander motorbestuurders op ons paaie kan beheer nie.  Ek kan nie die politici beheer nie. Ek kan nie beheer wat ander mense dink en doen nie.  Al wat ek kan beheer is my eie gedagtes en optrede.  Ek kan nie eers altyd my eie gevoelens en emosies beheer nie maar ek kan beheer of ek daarop reageer of dit laat gaan. Hierdie glo ek is die groot sleutel tot ‘n meer vervullende lewe – laat gaan alles wat ek nie kan beheer nie, alles waarby ek nie baat nie, dink minder en vertrou meer. ‘n Dierbare man, nou oorlede, by wie ek baie oor recovery geleer het, het dikwels na my passievolle retoriek oor een of ander ding wat net nie regverdig was nie geluister. Dan vra hy eenvoudig: “How does that serve you?” So eenvoudig. Nee dit is nie regverdig nie, maar die feit dat ek myself so opwerk en omkrap daaroor – kan dit iets verander?  Laat dit my beter voel? As dit niks positief tot my menswees bydra nie is dit net eenvoudig tyd om te laat gaan.

Hoe nogal?

Ek sal self ruiterlik erken al bogenoemde vir my effe oorweldigend is. Maklik om hier neer te skrywe maar hoe doen ek dit? Al wat ek ken wat help is NLP, Neuro Linguistic Programming of retrain my brein. Ek skryf die positiewe woorde neer, ek herhaal dit hardop, soveel as wat dit nodig is, ek stop my negatiewe gedagtes wanneer ek dit agterkom en bo alles aanvaar ek dat dit ‘n proses is.  Ek is op soek na een stappie vorentoe, nie perfeksie nie. Kom aan 2019 – hierdie is my jaar vir laat gaan!

Vandag is die einde van die oue en begin van die nuwe. Ek kyk terug na waar ek vandaan kom en is dankbaar vir my eie padjie wat ek kon uitkap in recovery.  Ek kyk vorentoe en kan hoop op groei en verdere recovery. Ek is dankbaar want ek weet ek is presies waar ek veronderstel is om te wees.

27752578_1727920527271729_8471908187355927087_n

“New Year’s Eve is like every other night; there is no pause in the march of the universe, no breathless moment of silence among created things that the passage of another twelve months may be noted; and yet no man has quite the same thoughts this evening that come with the coming of darkness on other nights.” ~ Hamilton Wright Mabie

Reduced to go

IMG-20181128-WA0016

Ek hou van die afslagrakke in winkels. Baie winkels het hulle – ek begin graag sommer daar rondsnuffel. Daar is verskeidenheid, soms interessante verrassings maar wel soms ook beskadigde goedere.

Dit is vir my tog hartseer wanneer mense na hulself verwys as stukkend of “damaged goods”. Onlangs het ‘n inteligente hardwerkende man homself ook in my teenwoordigheid so geklassifiseer tot my opregte verbasing. Laat ek nou nie myself hoogheilig hier voordoen nie – ek doen dit ook. Ek het onlangs oorweeg om ‘n poging aan te wend om weer te “date” maar kan nie help om te wonder (en meer as een maal hardop te sê nie) of mense wat so oud en oorgewig soos ek is hoegenaamd ‘n kans staan nie?

Ons verwys na onsself amper soos die produkte wat hulself op die uitverkopingrak bevind: produkte waarvan die prys verminder is vir ‘n voor-die-hand-liggende tekort of soms verbeelde tekort: niemand sou dit wou hê nie.

Die sielkundiges meen dat hierdie tendens om jouself as gekwes of gebroke te ervaar spruit uit een of ander vorm van misbruik of trauma. Iewers het ons in die lewe gehoor dat ons onbelangrik, onminbaar, stukkend, gebrekkig is of net te kort skiet en dit geglo. Dit lei tot ‘n aanvaarding in so persoon se waardesisteem dat hulle beskadig, stukkend of ontoereikend is. Nog ‘n voorbeeld wat die sielkundige navorsers bevind het is dat waar iemand op ‘n jong ouderdom verwerp gevoel het, dit dikwels in ons waardesisteme gekodeer word dat ons onbemind of waardeloos is. Dit is ook nie net op fisiese of selfs werklike verwerping van toepassing nie. Dikwels voel kinders emosioneel afgeskeep of geignoreer en nie omdat hulle ouers dit so bedoel of beplan nie – dit is dalk ‘n slegte tyd by die werk, ‘n ernstige siekte in die familie of sommer die allerdaagse jakkalse wat in die wingerde plunder.

 

Dit is belangrik om te besef dat hierdie negatiewe wesenswaardes ‘n leuen is. Ons leer dit uit ons omgewing, lewenservarings, ondervindinge en ou wonde. Ja, mense maak foute, ek het ook maar maak my geskiedenis, foute, wonde of die nommertjies in my ID Boek of op my skaal my nutteloos?

Ekself en my mede gebokenes MOET onsself dwing om sagter op onsself te wees en beter met onsself te praat. Die pas afgelope naweek sê ek op ‘n punt hardop vir myself: Ek het ‘n fokkop van my huwelik gemaak, van my enigste kind se grootmaak, van my loopbaan en my finansies. Ongelukkig is dit vir my ‘n patroon – hoe swaarder ek kry hoe harder is ek op myself en hoe aakliger praat ek met myself!

Ek kan vandag wens dinge het nie uitgeloop soos dit het nie. Ek lieg egter vir myself as ek meen dat ek dit doelbewus veroorsaak het. Ek het die beste gedoen met wat ek gehad het. Ek het onder groot emosionele en finansiele druk nie elke keer die beste besluit gemaak nie. Ek het mense geglo en vertrou wat ek nie moes nie, nie omdat ek domastrant of stupid was nie, omdat ek regtig ongegee het en lief was vir hulle. Ek het in desperaatheid, en meestal uit liefde, my tyd, energie en aandag nie altyd in my eie loopbaankeuses belê nie. Ek wil soms op ‘n hopie gaan sit en wens ek gaan dood maar ek het nog nie, ek hou nog aan, ek probeer nog beter doen. Ek probeer nog plan maak. Ek stoei nog voort . . .

Ek besef my geskiedenis, die samelewing en selfs onwetende vriende en familie dalk, my eie desperate geswoeg en gestoei het oor die jare hierdie leuens diep in my psige ingewortel en vasgemessel. Dit gaan baie waaksaamheid en ‘n doelbewuste en goed gerigte poging neem om dinge om te draai. Ekself sal ook myself daagliks (of uurliks) moet herinner dat hierdie omkeer van denkwyse ‘n proses is en nie ‘n towerstaffie nie. Hierdie negatiewe selfwaardes is vir jare om en om in my kop gedraai, styf opgewen soos ‘n garetolletjie op ‘n masjien, deurgevleg en geweef in my dink en doen – dit gaan werk vat en tyd neem om aan te spreek.

So as jy weer op die punt is om na jouself te verwys as beskadig, tweede rangs of stukkend: STOP! Dink bietjie na oor wat die boodskap is wat jy vir jouself het. (Oukei ek praat hard en duidelik met myself hierso maar dalk wou julle ook hoor.) Onthou om jouself op die skouer te klop want ontberinge, pyn en verwerping maak ons beter en sterker mense. Ons pyn en trauma het ons nie beskadig of gebreek nie maar beter emosioneel aangepas vir die lewe en sy potholes. Ek wil nie mense se pyn en trauma afmaak as iets ligs nie – dit is nie. Daar is wel die moontlikheid dat ons wat eers onsself as stukkend wou klassifiseer ook tog waarde uit ons pyn kan vind.

Soos ek onlangs ‘n wyse ouer man hoor sê het: “As long as there is breath there is hope.”

47376654_2263270540595847_1097298362408894464_n

Uit die mond van die ekspert: https://wordpress.com/read/blogs/106156040/posts/33487

belewenisse wat die siel voed

Dylan Lewis Sculpture Garden Stellenbosch

Webblad: http://www.dylanlewis.co.za/

Die pragtige tuin in die beskemde kommetjie hande van die berge is verdeel in tuin kamers.  Ek kan ure deur die tuin wandel en nog nie genoeg kry nie.  Die uitleg, plante, uitsig, kuns en selfs die koffiekamer is ‘n sielsverryking. Heerlike koffie en tee word met warm uit die oond gebak bedien op eetgery wat as kunswerke in eie reg beskryf kan word.

Ek sal moet terug gaan want na ‘n paar uur voel dit soos ‘n inligtingsoorlading – ek kan net nie nog iets inneem nie.  Ek besef mens kan nie daardeur stap nie – jy moet vertoef, inneem, bedink, bekyk, bevoel, ervaar, proe, smaak, ruik, ……  Een van die mees onbeskryflike ervarings van my ganse lewe!  As jy ooit kan – dit is defnitief iets vir jou “bucket list” en glad nie onbereikbaar of belaglik duur nie.

Klim uit jou donker wegkruipplek en train jou brein!

index

Dit was vir my so lekker om verlede jaar September op heelwat openbare forums te sien dat September gevier word as “recovery Month”!  Ek dink dit is wonderlik om mense se suksesse in die herstel van verslawing en alkoholisme te vier.  En weet jy, dit is ook vir my ‘n teken dat tye verander.  Meer mense sien nie meer ‘n swetterjoel onderwerpe as taboe om oor te praat of te skryf nie en al hoe meer mense besef dat herstel van verslawing en alkoholisme, en die herstel van ‘n hele familie wel moontlik is en daagligs gebeur!

Ek voel baie positief dat die stigma wat kleef aan verslawing en alkoholisme besig is om te lig en dat meer en meer mense wat daardeur geraak word sowel as professionele persone daaroor begin praat.

Hierdie is nie net ‘n stappie nader aan die lig vir die verslaafdes nie maar defnitief vir familielede ook.  Die tyd het aangebreuk om meer te praat en te skryf oor die effek van verslawing op families, die sindroom van die volwasse kinders van alkoholiste maar veral die hoop dat daar ook vir ons die baie realistiese droom van herstel en beterskap is!

Die tyd is ryp vir die van ons wat lief is vir verslaafdes en alkoholiste, vir die van ons wat groot geword het met die klewende skande van die chaos wat ons lewens was, om uit te kom uit ons donker wegkruipplekke.  Dit is tyd om die swaar juk van skuld af te gooi – nie een van ons het die verslawing of alkoholisme veroorsaak of aangehelp of kon dit verhoed nie.  Miskien was jy maar bitter jonk toe jou brein die eerste keer vir jou vertel het dat alles jou skuld is.  Dalk was jy ouer, dalk was dit net in ‘n baie moeilike spannende tyd in jou lewe en in swakheid het jy dit geglo.  Dalk was jy net uiteindelik stapelgek mal van die effek wat die verslawing of alkoholisme op jou lewe gehad het.

 

Wel ek het ‘n klankhelder boodskap vir jou vandag:

Jy is nie jou brein nie.

Hy lieg vir jou.  Dit is nie die waarheid nie.

Dit is tyd dat jy jou brein begin oplei.  Sê kliphard vir jouself, (jou brein moet dit hoor en inneem)  waai jou arms, skud jou kop heftig, stamp met jou voete (maak enige fisiese bewegings om jou bevestiging goed in al jou neuro-komminikasiebane vas te lê):

Ek is vry van verslawing / alkoholisme.

Ek is vry van skande.

Die alkoholis / verslaafde maak sy/haar eie keuses en ek is vry om my eie keuses te maak.

Ek is vry om nie meer bevrees, bedreigd of misrabel te voel nie.

Ek is genoeg.

Ek is OK.

Ek vergewe myself vir wat ek nie geweet het toe ek dit nie geweet het nie.

Ek gee om vir my eie fisiese en emosionele welstand en verbind myself om dit ‘n prioriteit in my lewe te maak.

Ek is vry om die beste te lewe waartoe ek instaat is – ek het geen rede om vir tweede beste te mik of verskonings te maak nie.

2e1192e3ea80f25590a6e6c047641e44

Die slim mense sê dit neem 21 dae vir nuwe gedagtespoortjies of gewoontes om in ons breine vasgelê te word.  Ek gaan dit elke dag vir 21 dae vir myself (en my brein) vertel.  After all – wat kan ek verloor?  Dalk so paar sekondes per dag bietjie simpel voorkom as iemand my afloer– maar ek kan so baie baat!

Na die stilte…

Ek was doodstil – ek weet. Ek het vir ‘n hele ruk so gesukkel met die swart hond, met twyfel, self-kritisering en heeltemal verwarde slaappatrone.  Soveel sodat ek uiteindelik nie ‘n ander uitweg gesien het as om mediese hulp in te roep nie.  Nuwe pille en ‘n paar weke verder en ek begin (alhoewel effe wakelrig) voel asof ek tog weer my voete kan vind.  Ons is nou maar eenmaal siel en liggaam.  As jy siek is is jy siek.  Dit is nie ‘n skande nie.  Nee ek is nie ondankbaar nie.  Nee ek kan nie net my sokkies optrek en harder probeer nie.  Ek wonder hoekom dit so erg moet raak voordat ek hulp soek?

In die moeilike tyd  (en , nee, as jy wonder – daar was regtig nie ‘n spesifieke voorval of gebeurtenis nie – heel moontlik net ‘n chemiese wanbalans) het dit my weereens opgeval hoe ek, wanneer ek swaar kry, dinge doen of nie doen nie wat regtig alles vir myself moeiliker maak.  Selfsorg of om net geduldig en genadig met myself te wees is sommer eerste by die deur uit!  As ek net mooi logies daaroor dink maak dit net glad nie sin nie – hoe kan ‘n redelike gebalanseerde inteligente mens so dom wees?  As ek nie na myself kyk nie is daar tog nie ‘n kans dat ek beter kan voel nie?  En nee – ek behoort nie so met myself te praat nie – ek weet van beter!

Ek herinner myself maar weer aan ‘n paar vinnige “tips” om goed te wees vir myself – ja ek skryf dit maar om my eie onthalwe neer – dalk herinner dit jou ook weer aan een of twee dingetjies.  Ons almal weet die feestyd wat voorlê verloop selde of ooit maklik en plesierig.

spirituality and self care

Self-sorg is nie iets wat ek af en toe kan doen nie.

Daar is groot gebeurtenisse wat mens kan ontspoor soos die dood of lyding van ‘n geliefde, finansiële spanning, ‘n ongeluk of siekte wat jou hele lewe verander.  Dan is daar die jakkalsies, moeg vir werk, kinders wat lyk of hulle uit hulle pad gaan om jou dag so moeilik as moontlik te maak, halfklaar projekte, kosmaak, skoonmaak – dit voel soms vir my af daar net geen manier is dat ek ooit op datum gaan kom met my eie lewe nie.

Ek weet dat wanneer ek genadig is met myself ek uitdagings beter hanteer.  Ek weet ook dat dit uiteindelik nie net my eie lewe makliker maak nie maar selfs dikwels ‘n uitwerking op ander het wat met my in aanraking kom.  Net om myself gou weer te herinner – hierdie is nie opsionele ekstras nie – dit kan ook nie net af en toe gebeur nie:

Slaap daarop. As ek nie genoeg slaap kry nie het dit ‘n emosionele sneeubal effek. Wanneer my eie pogings om te slaap nie werk nie moet ek mediese hulp kry.  Ek het nie eers slaappille nodig gehad nie – net een van my voorskrif medikasie verander en die probleem is opgelos.  Wat ‘n verligting – wens ek het lankal hulp gevra!

Praat dit uit. Ek is skaam en wil wegkruip as ek swaar kry. Almal kry soms swaar.  Dit help my altyd om sommer net ‘n koppie koffie met ‘n goeie vriendin te deel.  Soms is die tyd reg om te praat, soms nie.  Soms is daar terugvoer, soms net ‘n simpatieke oor of ‘n bevestiging “Ek was ook al daar, dit word beter.”

Neem ‘n “self-sorg” wegbreek. Dit is lekker as jy verlof het om ‘n dag te vat – ‘n middag af as dit kan en net verveeld te wees – nie om iets te doen nie. Ek sal ook ‘n breuk vat van elektronika, dit help my om beter te slaap en nie die hele tyd te voel asof ek besig moet wees met iets nie.  ‘n Kollega vertel my onlangs dat sy toe sy haar eie praktyk gehad het, elke jaar vir haarself twee dae geboek het by ‘n lekker plek met ‘n mooi uitsig maar waarheen sy nie ver moes ry nie.  Sy het hierdie tyd gebruik om te lees, te mediteer, haar gedagtes neer te skryf, onder die bome piekniek gehou, haar gunsteling wyn met oorgawe gesip en net haarself weer te ontdek en vernuwe – sonder haar werk, man of kinders in die agtergrond.  Dit klink vir my na iets wat voorgeskryf moet word vir elke werkende ma.

Hou op om “ja” te sê as ek “nee” bedoel. Ek het ‘n tendens dat wanneer dit vir my voel of my eie lewe uit beheer is, dat dit makliker is om ander mense se lewens te beheer of te red! Ek dink dit is waarom ek probeer help waar ek geen verantwoordelikheid het nie.  Natuurlik is dit lekker om te help as mens kan maar niemand kan uit ‘n leë fles skink nie.  Ek moet leer om my hande van ander af te haal en op myself te sit.

Onthou en doen ‘n paar dinge wat vir my pret is. Soms vergeet ek heeltemal waarvan ek hou. Dan moet ek sommer doen sonder om te dink.  Weer ‘n boek lees wat ek alreeds gelees en geniet het – dit verg nie baie inspanning nie.  Deur ‘n museum of kunsuitstalling stap, ‘n konsertuitvoering van “live music” bywoon, in die bos gaan stap.  Sommer op my swaaibank lê en my verwonder oor hoe die wind deur die boomtakke speel.  Dit is altyd ‘n goeie plan om uit te kom en bietjie son op my vel te kry.

Vra vir hulp. Dit raak net erger as ek probeer wegsteek en wegkruip. Ek moet hulp vra waar ek dit nodig het, van vriende, familie, my werkgewer as dit nodig is en ja ook mediese hulp. Dit beteken nie dat ek ‘n swakkeling is nie – ek is ‘n mens.  Ek hou nogal van die AA “slogan” wat lees: “Our program works for people who believe in God, our program works for people who do not believe in God, our program does not work for people who believe they are God.”  Daar is ‘n ernstige stekie waarheid in – as ek nooit hulp nodig het nie en alles en almal om my probeer beheer (Met die beste van bedoelings selfs) het ek dalk hogere aspirasies?!

Drink genoeg water. Water is goed vir my liggaam en brein.  Wetenskaplike toetse het al bewys dat persone wat sukkel met chroniese moegheid en self rugpyn kan baat daarby om meer en gereeld water te drink.  Koeldrank, koffie en ander dranke bevat suiker en ander “gif’stowwe (bv kaffeine) wat my lewer en niere eers moet uitwerk en kan my net nie so goed hidreer soos water nie.

Ontwikkel ‘n oggendritueel. Ek hou daarvan om my eerste koppie koffie op my stoep of swaai te drink met my honde wat om my lê. ‘n Ander kollega glo aan die skryf van “morning pages” uit die boek “The Artists way”.  Dit help om dinge te verwoord en konsepte wat soos chaos in my kop rondwaai struktuur te gee as ek dit neerskryf.  Dit is defnitief dinge wat ek gereeld moet doen en ‘n wonderlike manier om die dag te begin.

Moenie isoleer, wegkruip of weghardloop nie. Ek het ‘n uitnodiging na ‘n bring en braai gekry en “ja” gesê maar “nee” bedoel.  Die middag van die funksie het ek die roomys wat ek sou bydra na ‘n vriend gevat wat ook sou gaan met die erkenning dat ek nie meer wou gaan nie, ek wou net in my kamer gaan sit en jammer vir myself voel.  My vriend het my oortuig om te gaan – ja hy was ook al daar waar ek nou is maar dink ek nie ‘n lekker aand saam met my vriende is iets wat ek nou meer nodig het as om op ‘n hopie te gaan sit nie?  Ek het gegaan en ongeag die sinneloosheid in my eie kop die aand vreeslik geniet en lekker gelag en gekuier.  Met elke klein deurbrakie voel ek ‘n bietjie beter.

Skryf dit neer. Ek is nie godsdienstig nie, ek dink eintlik ek is nog kwaad vir my god. Ek weet in my eie hart ek moet vrede maak want om in oorlog met myself, met my god en met die res van die wêreld te lewe maak my klaar.  Om te skryf help my altyd.  Om hier op my blog te skryf is 100% terapeuties.  Ek het al die chaos in my kop neergepen in ‘n brief aan ‘n god waarvoor ek nog nie ‘n naam het nie.  Ek het al vir my oorlede pa en man briewe geskryf oor dinge wat ek nog wou sê en vrae wat ek nog moes vra.  Ek dink dit is dalk weer tyd…

Moedersdag

FB_IMG_1494252910179

Moedersdag is maar steeds vir my moeilik.  Een van my heel laagste punte was moedersdag 2014 toe my dogter nie meer in die selfde vertrek as ek wou wees nie en dit was die laaste ete wat ek en my oorlede man saam gehad het voordat hy Calvinia toe verhuis het.

DIt is eintlik vir baie mense ‘n moeilike tyd, veral vrouens wat nooit kinders van hul eie kon gehad het nie.  Mense wat hulle kinders moes begrawe.  Mense wat as gevolg van omstandighede buite hulle beheer geen verhouding met hulle eie ma kon gehad het nie.  Mense wie se ma of ouma oorlede is en natuurlik ma’s wie se man of kinders alkoholiste of verslaafdes is.

Ek het nogal baie waarhede in die boek oor die tale van die liefde gevind. The Five Love Languages: How to Express Heartfelt Commitment to Your Mate is ‘n boek in 1995 uitgegee en geskryf deur Gary Chapman.  Dit kom daarop neer dat party van ons gawes of goeters gee om ons liefde te wys, ander dien met liefdesdade of opoffering, ander sê – druk hulle liefde uit in woorde, ander druk en soen – wys hulle liefde deur fisiese kontak en ander mense spandeer kwaliteit tyd om hulle liefde te toon.  Baie mense is ‘n kombinasie van meer as een liefdestaal.  Dikwels verskil ons liefdestale van die van ons geliefdes en dan verstaan ons mekaar verkeerd.

Dit beteken niks om vir my te sê dat jy vir my lief is nie – dit bly vir my leë woorde totdat ek dit self kan ervaar.  Dit was nog altyd my probleem met dae soos moedersdag en valentynsdag.  OK so op die een dag van die jaar vertel jy my hoe lief jy vir my is en hoeveel ek vir jou beteken en die ander 364 dae behandel jy my met minagting – of so voel ek.  Ek het vir baie jare van saamleef met ‘n verslaafde en ‘n alkoholis dikwels gebruik of uitgebuit gevoel.  Ek het gevoel dat ek my beste en dikwels my alles gee maar glad nie kan staatmaak daarop dat hulle enige bydrae maak nie.  Ek het nie geweet dat dit was omdat hulle nie anders kon nie – ek het geglo dat hulle nie regtig vir my lief was nie.  Dit is ‘n vrees of ‘n emosie wat ek nou steeds met my saamdra en ek vang myself vandag nog dat ek gevoelig is – as jy sê dat jy vir my lief is – wat wil jy eintlik van my hê?  Waarvoor gaan jy my goeie gesindheid hierdie keer misbruik?  Die waarheid is dat dit in my eie kop is – die ander persoon kan heel opreg en onskuldig wees!

My eie liefdestaal is om te gee en te doen – ook kwaliteit tyd te gee.  Ek sou mooi klere vir my man en dogter koop of maak, haar kamer versier – uitverf, gordyne maak, planne maak om dit vir haar mooi en lekker te maak, hulle gunsteling disse kook, koek bak, die etenstafel mooi versier en ek maak altyd baie moeite met geskenke.  Sy het egter eendag vir my gesê dat sy gedink het ek probeer haar liefde koop – sy wou hoor dat ek vir haar lief is, sy hou van drukkies en soentjies.

So ek praat Grieks vir haar en sy praat Chinees en tussendeur moet ons probeer sin maak en ‘n verhouding bou.

Ek werk aan my emosies en vrese – dit is deel van die 12 stap proses.  Ek besef waar ek tekort skiet en probeer beter doen.  Ek leef nie in ‘n perfekte wêreld nie – die mense naaste aan my maak foute en kan my soms teleurstel.  Ek maak foute en stel ander teleur.  Ek het weer hierdie week terdeë besef dat dit maar net ‘n proses is wat ek een dag op ‘n slag kan aanpak – en moedersdae dalk een uur op ‘n slag.

Selfsorg, self-liefde, selfsug en self-waarde.

As daar een ding is wat ek nog altyd wonder oor hoe ek grootgeword het is dit waarom ek nooit geleer het dat my eie lewensgeluk my eie verantwoordelikheid is nie?  Ek het baie goeie kinderjare gehad, regtig liefdevolle ouers wat altyd hul bes probeer het, ontsaglik baie geleenthede om my talente te ontwikkel en nuwe dinge te ontdek en uitprobeer en getroue ondersteuning waarop ek kon staatmaak.  Verantwoordelikheid was ‘n groot deel van my lewe solank ek kon onthou.  Miskien is oudste kinders maar erger daaroor.  Jy is natuurlik verantwoordelik om ‘n ogie oor jonger boeties en sussies te hou.  Jy is verantwoordelik vir jou skoolwerk, om die beste te lewer op skool en buitemuurse aktiwiteite, om jou talente te ontwikkel, om die beste te maak van geleenthede, om jou goed op te pas ag ek kan laaaaaang lysies maak.  Ek het ook elkeen van my “verantwoordelikhede” behoorlik ter harte geneem maar dit is maar baie onlangs dat ek regtig begin besef het dat ek verantwoordelik is vir my eie lewe en my eie lewensgeluk.

Ek voel skaam as ek terugdink aan die tyd wat my man se alkoholisme en dogter se verslawing die grootste deel van my lewe en energie opgeslurp het.  Nie regtig skaam vir wat hulle gedoen het of nie gedoen het nie maar hoe ek myself behandel het in daardie tyd.  Ek het regtig nie met myself gepraat soos mens met ‘n mens wat jy respekteer sou praat nie.  Ek het nie my eie gesondheid belangrik geag nie.  Ek het letterlik twee pare skoene gehad en werksuitrustings vir 5 dae – totdat ek weer wasgoed gewas het.  My man en dogter het egter nie tekorte op enige van hierdie gebiede gehad nie.  Ek het geweet hoe om baie goed vir hulle te sorg, ek kon glad nie vir myself sorg nie.

Ek het self vir lank die boodskap van die Christendom geinterpreteer asof enige selfsorg en self-liefde selfsugtig en sondig sou wees.  As ek nou daaroor dink is dit eintlik belaglik – toe Jesus gevra was wat die heel belangrikste van die gebooie was het hy behalwe vir toewyding aan God gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.  Ek wonder darem, mense wat hulself nie liefhet nie, is dit nie dalk die rede waarom hulle sukkel om aander lief te hê nie?  Dit is soms vir my baie duidelik dat mense wat geen respek vir hulself het nie ook nie ander kan respekteer nie.

So hoe sorg mens vir jouself?  Waar begin jy?

Daar is natuurlik bederfies soos ‘n warm bad met jou gunsteling badsout, ‘n voetbehandeling of gesigsbehandeling of nuwe haarstyl.  Ek dink net volhoubare selfsorg moet meer en dieper wees.  Ek het nie beswaar teen enige van bogenoemde bederfies nie en het ook geleer om spesiale dingetjies vir myself te gun maar ek weet vir ‘n feit dat ek selfsorg nodig het wat dieper as my veloppervlak gaan.

Ek het baie oor die onderwerp begin lees.  Ek het “guided meditation” oor selfbevestigin en selfsorg ontdek.  Ek het baie geleer uit die eerlike blog van Kate McComb. http://katemccombs.com/

So paar idees:

  1. Om my gevoelens en emosies te ervaar sonder om myself te veroordeel

Ek was nog altyd my eie grootste kritikus.  Om myself te veroordeel oor “verkeerde” gevoelens of emosies en my te bekommer oor my verkeerde reaksies of woorde in gevolg van situasies (‘n tydverdryf wat my nagte kan laat wakker lê!) baat my net mooi niks nie.  Dit kom nog nie vir my natuurlik nie en ek moet doelbewus en herhaaldelik die wilsbesluit maak (mindfullness) om nie my gevoelens te onderdruk nie, om my emosies toe te laat om te kom en te gaan maar veral om myself nie veroordeel nie.

Vir ‘n baie lang tyd het ek moeilike tye oorleef deur negatiewe emosies uit te skakel – eerder te fokus op wat ek nou gaan doen as hoe ek nou voel.  Ongelukkig sit mens jouself af vir enige emosies, ek het totaal emosioneel afgestomp geraak.  Baie dae laat emosies en gevoel my nog ongemaklik, ek het vir solank daarsonder geleef, toe ek my “recovery” pad begin stap het en my emosies begin terugkom het was ek so ongemaklik dat ek oortuig was dat ek fisiek siek was en het dokter toe gegaan.  Ek het nie geweet wat verkeerd was nie, net dat “iets” nie reg was nie.  Die dokter het die gewone toetse en “scans” gedoen maar kon natuurlik nie fout vind nie.  Ek het nie lank daarna die ervaring van iemand gelees in ‘n dagstukkie boek vir die familie van alkohliste wat die gevoel van emosie wat terugkom verduidelik het.  Dit was soos die son wat opkom toe ek besef wat met my aangegaan het.

Ek wil nie ooit weer so afgestomp lewe nie, dit is nie ‘n lewe nie – ek het in alle eerlikheid basies oorleef, net voortbestaan.

11245790_10153345155087650_153429483339575230_n

2. Reflektiewe selfsorg

Die terapeut skrywer Meg-John Barker onderskei tussen om jouelf met goedhartigheid te versorg – soos die lekker bad of behandeling – en selfreflektiewe selfsorg soos meditasie of ‘n joernaal hou.  Dit is ook die hele doel van “stepwork” die “huiswerk” van die 12 stap programme waarvoor en elke week tyd maak. Omdat my eie emosionele sorg vir my belangrik is moet ek tyd maak vir meditasie en om my gedagte neer te skryf omdat dit my help om my gevoelens en emosies deur te werk, dit help my om te groei in die proses om heel te word, om myself beter uit te druk, om my gedagtes te verlig en om werklik in kontak met myself te wees.  Met my liggaam, my siel, my wese en my gevoelens.

  1. Speeltyd

Dit kan harde werk wees om te speel maar ek het geleer dat dit regtig belangrik is vir die mens om tyd te maak vir speel.  Vir my eie selfsorg weet ek dat dit beter met my gaan as ek tyd maak vir my passies – om iets te skep, om in die natuur te kom, met vriende te kuier en tyd saam met my honde deur te bring.  Ek moet ook vir my liggaam sorg – as ek nie gereeld oefening kry nie word ek moeg en kan nie alles meedoen wat ek graag sou wou nie.  As ek nie hierdie dinge vir myself beplan en die moeite doen nie gebeur dit net nie vanself nie.

play

4. Vermy ongevraagde raad en opinies

Toe my dogter ‘n kleuter was was ek desperaat vir nog ‘n kind.  Alhoewel ek drie maal swanger geraak het was twee van die babas doodgebore en die laaste enetjie was so vroeg gebore dat sy net een uur kon oorleef.  Dit het my ontsaglik ontstel wanneer mense ewe welmenend sou vra “Nou wanneer maak julle plan vir ‘n maatjie vir jou dogter?” of soortgelyke opmerke.  Natuurlik is dit ongeskik en ongewens maar ek kan nie beheer wat ander mense dink en sê nie – al wat ek kan beheer is hoe ek daaroor voel.  Ek het natuurlik beide van vriende en familie ontelbare opinies ontvang van hoe ek my dogter en haar probleem sou moes hanteer – eindelik het ek besluit dat hierdie opinies meestal maar uit onkunde spruit.  Die gewer weet niks of bitter min van hoe dit is om in my vel te lewe.  Daar is ‘n handjievol intieme vriende wat ek geleer vertrou het en by wie ek regtig baie geleer het in my groei proses.  Hierdie mense se raad klink gewoonlik heel anders – dit is meer aanmoedigend of motiverend as krities.  Die res is snert en ek is besig om myself aan te leer om dit direk in “file 13” te liaseer.  Dit is party dae moeliker as ander maar soos baie dinge in my “recovery” is dit ‘n proses nie ‘n kitsoplossing nie!

5. Ek respekteer my eie tyd – ek kan van ander ook verwag om dit te doen

Ek het al mooi geleer om te kan “nee” sê sonder om verskoning te maak, ongeskik te wees of myself te verduidelik.   Dit is ‘n uiters noodsaaklike “tool” in my selfsorg mondering.

 

 

Passie vir wat ek doen

Ekmyself se blog { https://ekmyselff.wordpress.com/2017/02/07/passie/ } het my laat dink aan so paar gedagtes wat al reeds besig was om in my kop rond te draai vir ‘n geruime tyd al.  Veral in die laaste deel van 2016 het ek daardie gevoel maar alte goed geken.  Ek het werk om te doen maar my voete sleep en my kop kannie of wil nie fokus nie.

Ek het regtig nie ‘n slegte werk nie.  Ek is ‘n dosent by ‘n Univesiteit in handelsregvakke.  Ek hou van klasgee.  My kleinsus meen dat dit belaglik is dat ek nog daarvoor betaal word omdat ek so mal is daaroor om ‘n “audience” te hê!  Ja ek geniet die klasgee, ek is aangedaan om te dink dat ek ‘n invloed mag hê op die ontwikkelling van soveel van ons land se pragtigste en intelligentste jong mense.

 

Aan die ander kant het elke werk ook sy schlep!  Ek het teen einde verlede jaar besef:

  • Ek het vir jare ekstra pligte op my geneem om die administrasie te laat vlot.  In die akademie is daar oneindig baie administrasie met geen of min beloning. Ek tog altyd geglo dit moet gedoen word en kan net sowel behoorlik gedoen word.   Mens kry egter net pryse of betaling vir navorsing, publiseer en daar is enkele pryse vir goeie onderrigvordering.  Die administrateurs maak dit moontlik dat die ander dinge gebeur maar dit baat my niks finansieel nie, dit baat niks op my CV nie en al is ek goed daarmee is dit tyd dat ek myself besig hou met dinge warby ek gaan baat.
  • Dit neem baie energie om ‘n goeie dosent te wees.  Statisties onthou die gemiddelde brein 5% van ‘n lesing.  As ek net voor my klas staan en hulle vertel wat ek reeds weet sal niemand deurkom nie.  Dit neem ure se beplanning, voorbereiding, praktiese voorbeelde uitwerk en hope entoesiasme en energie om daardie syfer op te stoot.
  • Ek het verlede jaar besef dat ek baie van my fut verloor het en besig was om net voor my klasse te staan en te vertel wat ek reeds weet!  Ek het selfondersoek gedoen en besef dat die drie geleenthede wat ek deur studente aangerand, rondgestamp en geboelie was in die laaste twee jaar se onrus, het my erg getraumatiseer.  Dit is ‘n handjievol van die totale studentegetal – ek dink op ons kampus neem minder as 29% van die studente deel aan studente politiek en nog minder aan optogte ensovoorts.  Tog kyk ek anders na die studente voor my en dit was op ‘n stadium asof ek gevoel het – “na alles wat julle aan my gedoen het vir wat sal ek my beste gee.”  Dit is nie my geaardheid dat ander se standaarde of optrede my standaarde bepaal nie – dit is asof so stukkie van wie ek was binne in my dood is.
  • Die papierwerk en admin kry my onder want daar is nie regtig goeie ondersteuning nie.  Ek haat roetine werk.  Ek verpes dit dat mense ‘n salaris trek vir ‘n werk maar byna %$#%^ doen.
  • Ek is gefrustreerd met die politieke ondertone wat aan alles by van ons universiteite geggee word – ek het nie baie politieke hare nie en die goed maak meestal net nie vir my sin nie.  Dit voel net asof ek die hele tyd op my pasoppens moet wees en nie mense se ware agendas kan lees nie.

So met al hierdie gewaarwordinge het ek besuit op in te skryf vir ‘n LLD graad – jare se moeilikheid en harde werk – maar iets wat vir my sal tel.  Gelukkig kan mens iets kies waarvoor jy ‘n passie het en waaroor jy graag meer wil uitvind en dalk selfs bydra om die wêreld so bietjie beter plek te maak – dis nou die aartsoptimis in my….  My eerste afspraak met my studieleier is 21 Feb en el is hard aan die werk om ‘n konsep idee op die tafel te kan sit.  ‘n Wegspringplek. Hopelik vir GROOOOOOT dinge….

 

Intussen moet ek nog klas voorberei, admin doen en met die gewone drama uithou.  Net gister het een van verlede jaar se studenteleiers, wat my by geleentheid erg geboelie het, so ewe om my kantoordeur kom loer om my te groet!  Dit sou maklker gewees het om die vent nooit weer in my lewe te moet sien nie!

Ek hoef darem nie elke dag kampus toe te gaan en het besluit om my studeerkamer tuis in te rig vir lekker werk.  Ek dink ek het die regte atmosveer en ondersteuning – wat dink jy?

img_6527

So vir nou konsentreer ek op ‘n lewensles wat ‘n goeie vriend my geleer het – ek werk vir geld sodat ek kan kamp!  En (BAIE BELANGRIK) ek maak ‘n punt daarvan om elke tweede maand vir ten minste ‘n naweek in die natuur te kom.