Dalk is die ideaal om ‘n “growndown” te wees.

Ek besef dat ‘n groot deel van my genesing hang af van my eerlikheid met myself. Dit klink dalk eienaardig – mens kan tog nie vir jouself lieg nie?! Tog, het ek, wanneer ek swaarkry sekere gewoontes en maniere aangeleer. Ten einde beter te kan funksioneer of party moeilike dae net te oorleef, gebeur dit tog dat ek my eie leuens glo. Baie dae is daar nie genoeg van die luukse van tyd om werklik aan my selfsorg die aandag te gee wat nodig is nie.

Dit is nou 10 maande na Vlooi se selfdood en ek is verbaas hoe erg ek nou verlang. Ek is bevrees dat ek gaan vergeet hoe hy geruik het. Hoe sy stem klink as dit net ons is en hy sag en rustig iets met my bespreek. Hoe hy my naam gesê het. Ek het deur baie stemboodskappe op my selfoon geluister maar nie een klink vir my presies soos hy dit in persoon gesê het nie. As my Hannabi skaaphond verby my loop onthou ek dat hy nooit vir haar Hannabi genoem het nie – altyd Hannabi’tjie. Gister sien ek ‘n diep oranje puffer-baadjie in ‘n winkel en dink dadelik hoe lief hy daarvoor was om helder kleure, maar veral oranje te dra. Iets wat ek ook nog elke dag mis is hoeveel ons gespeel het. Ek het dit nie regtig van myself besef voordat ek vir Vlooi ontmoet het nie, maar ek is mal oor speel – balspeletjies, rakketspeletjies, bordspeletjies en kaartspeletjies. Ons het sommer maklik ‘n werkbreuk gevat en ‘n rondte veerpyltjies gespeel, croquet in die agterplaas of as ons met vakansie was die hele dag lank kaart- en bordspeletjies gespeel.

Hannabi’tjie hou ‘n ogie oor ons terwyl ons in ‘n bergpoel speel.

Die afgelope AA en Al-Anon Nasionale kongress se tema was: “We are not a glum lot.” Uit my persoonlike ondervinding werklik ‘n raak beskrywing van die organisasies se lede. Die een spreker verwys na die aard van ‘n spelerige jong perdjie of hondjie voordat hulle ingebreek is en net uit hulle velle opgewonde is en heeldag speel en huppel. Sy het in die harde en hartseer dae van haar man se alkoholisme gevoel dat haar gees gebreek was – soos iemand wat ‘n perd hard inbreek as die perd daarteen probeer veg. Sy het haarself en haar familie vergelyk met ander en het altyd sleg tweede gekom in haar eie kop. Maar sy vertel ook dat sy genesing gevind het. Haar genesing het begin toe sy opgehou het om teen die god van ander se begrip te baklei en te vertrou in ‘n liefdevolle God van haar eie begrip – die enigste manier hoe sy haarself kon genees en heel maak totdat sy weer die lus gehad het om sommer net te vier dat sy lewe, in die gras wil huppel of rol en haar innerlike kinderlike gees wat nuuskierig is, spelerig is en uitbundig is, elke dag kan uitlewe.

Later vertel die seremoniemeester van die sessie ‘n staaltjie wat met hom en sy kleindogter gebeur het. Hy, die oupa, en sy sit en ontbyt eet in die boomhuis wat hy vir haar gebou het. Hy het koffie met beskuit en sy eet roomys met sjokoladesous vir ontbyt. So tussen die happe sê sy: “Oupa ek is baie lief vir jou. ”  Hy antwoord toe ja, dit is omdat ek jou toelaat om roomys vir ontbyt te eet. Maar sy meen nee, dit is nie die eintlike rede nie en voeg by: “Jy is anders as ander grootmense.” Hy vra haar toe hoe sy dink hy anders is en na ‘n lang stilte kom sy tot die slotsom in Engels: “You are more of a growndown than a grownup.”

Ek kan daarmee identifiseer, my eie oupa was ook ‘n alkoholis in die AA progam. Dit was vir my net so lekker om saam met hom te kyk hoeveel verskillende veldblommetjies ons kan tel, vir die bergskilpad sy eie groentetuin aan te lê naby die beessuiping waar hy graag gaan drink, met ons blikbekertjies warm skuimende melk in die melkstalle proe en ons verwonder aan die vlieswolke in die lug waar die engeltjies (volgens oupa) alweer nie mooi gevee het in die hemel nie.

Ek sien nog vir Vlooi oral raak en ek verlang nog elke dag. Ek lieg vir myself as ek dink ek gaan hierdie pakkie maklik of vinnig neersit en aanbeweeg. Ek wil dit natuurlik doen. Ek wil nie in hierdie groef vangevang bly nie maar dit is moeilik. Dit vat tyd. Dit vat werk – wat ek bereid is om te doen en wel soveel doen as wat ek kan regkry. Ek glo ek gaan ook al die herinneringe van hom kan koester van alles wat ons saam beleef het en saam geleef het in oorvloed. Soos wat ek vandag met ‘n glimlag my oupa kan onthou. Totdat ek ook weer my innerlike kinderlike gees ten volle kan uitleef en net wees soos wat die liefdevolle en genadige God van my eie begrip vir my bedoel het om te lewe.

7 thoughts on “Dalk is die ideaal om ‘n “growndown” te wees.

  1. Jy gaan daardeur kom, dit is ‘n lang proses. Ek het gesukkel om te aanvaar dat my swaer selfdood gepleeg het, hom in ander mense raakgesien. Dit het lank geneem om tot aanvaarding te kom, waarskynlik oor die selfdood. Dit het gevoel of ek hom gefaal het, beter moes gekyk het na tekens. `maar, hy was die vriendelike self wanneer ons gekuier het, hoe kon ek dit sien? En hy was nie eens my geliefde nie, dus kan ek my net nie indink hoe dit vir jou moet wees nie. Ek kan wel uit “geleesde kennis” vir jou sê jy is op die regte pad. Jy gaan nog die seer vergeet en net die mooi onthou, jy is klaar besig daarmee.

  2. Dink aan jou, moenie rush nie, dis ‘n lang proses en baie stadiums, party herhaal. Jy gaan nie sulke dinge vergeet nie, iets, iewers laat mens onthou, soms op die vreemdste plekke en tye. Ons moet weer leer om tyd te gee aan dinge. Dink aan jou🌻🌻

Lewer kommentaar