Synchronicity en serendipity

 

Op 19 Desember 1992 is ek en my blinde man getroud in Edenburg in die Suid Vrystaat.  My baie beskremende pa was nie gemaklik met die feit dat ek sou moes kar bestuur waarookal ons wou reis nie en taktvol het ons besluit om nie te ver te ry vir die wittebrood nie.

My liewe moeder en haar vriendinne het so ‘n heerlike kuier onthaal vir ons gereël in ‘n groot plaastuin en self die kos gemaak vir ‘n smaakvolle sjampanje ontbyt. Ons kon bekostig om almal te nooi wat ons graag wou.  Ons het dus besluit om heeldag saam met vriende en familie te kuier onder die groot koeltebome en net teen skemer tyd weg te trek om voor donker in Winburg hotel (Wat in die geelbladsye deur die AA geklasifiseer was) te oornag voordat ons na ‘n oord in die Drakensberge vertrek.

Na ‘n heerlike dag van kuier en opvang met die mense na aan ons hart is ons gepak en kom met ‘n lied in die hart aan by Winburg hotel.  Die locals ondersteun die hotel goed en daar is karwassery, bakleiery en drinkery oral in en om die hotel aan die gang.  Ek besluit ons gaan in elk geval onself in ons kamer kan vermaak op ons huweliksnag, ons meld aan by ontvangs en sorg dat ons in ons kamer kom. Toe die ontvangsklerk egter die kamerdeur oopmaak besef ek net dat ek nie hier wil bly nie.  19 Desember is warm, bitter warm.  Die kamer het Noorde en Weste vensters en toe sy die deur oopswaai voel dit vir my net soos wanneer mens die oonddeur oopmaak om te kyk of die koek al rys – die hittegolf laat my twee tree agteruit steier. Dan vang my oog die bed wat eerder soos ‘n reuse voëlbad of ‘n kom waarmee mens reënwater sou kon opvang lyk as ‘n plek om te slaap.

Ek kanselleer net daar en dan ons bespreking en soek ‘n telefoonhokkie (voor die tyd van selfone) om my pa te bel. Ja ons is veilig maar ek gaan nie hier bly nie. Ek wil aanry Betlehem toe, dit is darem ‘n groter dorp, dalk kry ons daar iets beter. My pa is natuurlik nie ingenome met die in die donker rondryery nie maar hy besef daars nie veel wat hy nou aan die saak kan doen nie.

2019-04-25_183108
Ek tuur oor die Maulti berge op ons wittebrood vakansie.

In Betlehem stop ons by die Park Hotel en verduidelik ons penarie.  Ja hulle het ‘n kamer vir ons, en bubbly op die huis, en ‘n heerlike ontbyt more oggend voor ons vertrek teen dieselfde prys as wat ons op Winburg sou betaal. In die kamer gekom is alles eenvouding maar koel, netjies en skoon en ons trek ons skoene uit en sit terug om die laaste helfte van Suid-Afrika se eendag krieketwedstryd teen Pakistan te kyk.  Goed ek sal ruiterlik erken dat ek die krieketentoesias is en dat ek my man my onverdeelde aandag moes belowe sodra die game oor was ten einde hom te oorreed dat ons eers krieket kan klaar kyk.

IMG_6556

Die pas afgelope Paasnaweek kamp ek met my tentjie saam met twee vriende in die Golden Gate Nasionale Park.  Die Oos Vrystaat is baie besig en baie nat.  Dit reën elke liewe dag van die naweek met net enkele kort tussenposes. Ons geniet in elk geval die natuur, daars min dinge so mooi soos die Vrystaat wat deurdrenk is, die kos, plaaslike biere, kuns en gesels oor alles en nog wat. Na vier dae se aanhoudende reën kom ons egter agter wat daardie kwalifikasie op die boks is van die “water column” as jy jou plastiese tentjie aankoop – dit is ‘n wetenskaplik maat van hoeveel water die membraan kan weerstaan of in algemene taal: 3 – 4 dae se aanhoudende reën is “pushing it” in ‘n plastiese tent en die beddegoed begin nou van ‘n kant af nat word.  Klein poeletjies begin vorm op die vloer.

Die Oos Vrystaat is nie regtig saans snoesig nie, allermins as alles nat is en ons oorweeg alternatiewe. Met ‘n goeie skoot heimwee stap ek by die Park Hotel in Betlehem in om die laaste nag droog en warm te kan slaap. Die ou dame lyk ouer en wyser, daars minder swier en beweging, maar haar gasvryheid is eweneens besonders dink ek vir myself as ek terugsit om te sien of RCB hulle krieketgeluk kan omswaai in die Indiese Premier Liga.

IMG_6601
‘n Kunstenaar se uitbeelding van die Park Hotel in haar hay days hang in die ontbytkamer.

Waar is ek nou?

56427032_2367562286811047_6746585665653178368_n

Die mensdom kan so dikwels fokus op waar ons wil wees en wat ons wil bereik – sekerlik prysenswaardig – dit bou karakter en toon ambisie. Maar ons moet tog ook nie vergeet om dankbaar te wees vir presies waar ons onsself tans bevind en ja selfs ook waar ons vandaan kom nie.

Op my recovery padjie was dit nie altyd vir my maklik om te erken dat ek dikwels maar bitter klein babatreetjies kon gee nie – minder nog die paar kere wat ek ‘n groot tree of twee agteruit gevat het om weer my ewewig te kon herwin. Maar as daar nou een ding is wat ek klokhelder in my recovery proses geleer het – Alles is presies net soos dit moet wees.

Ek dink ook dit is belangrik om versigtig te wees waar ons ons emosionele energie belê. Dalk is ek nie die enigste persoon op aarde wat wens dat ek vroeër van recovery geweet het nie, eerder beter na myself begin omsien het nie of lankal beter besluite begin maak het nie.  Sover ek weet kan geen hoeveelheid energie dit vir my of enige iemand anders omdraai nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy weet jy is reg.  Die addicts sê mos jy gaan eers die werk insit om te verander wanneer jy “sick and tired” is om “sick and tired” te wees. Ons maak ons keuses en besluite gebaseer op ons gereedheid – en dit gaan vir geen twee mense dieselfde wees nie. Ek weet verseker vandag dat ek wel op ‘n punt weer begin lewe het, weer lewensvreugde begin ervaar het, stukkies van my lewe begin terugkry het wat ek lankal geglo het dood was – en ek is ongelooflik onuitspreekbaar dankbaar vir waar ek nou is.

Ek dink een van my eerste bloginskrywings was houvanblou.wordpress.com/…/die-mees-gevreesde-vyfletterwoord oor my besluit om die “banting” of “keto” dieet te begin volg.  Dit het vir maande goed gegaan en ek het gewig verloor en regtig nie swaar gekry om die eetplan te volg nie. Nadat my dogter ‘n relapse gehad het het ek vir amper ‘n hele jaar myself nooit geweeg nie. In Januarie het ek en ‘n vriend wat ook gewig wil verloor saam besluit om die bul by die horings te pak en ek was regtig verbaas toe ek myself weeg en besef dat ek in daardie hele jaar geen gewig opgetel het nie.

Ek het vanoggend geweeg en besef dat ek deur die 20kg grens gebreek het – ek het nou altesaam 21kg verloor, al het dit my meer as ‘n jaar geneem. Ek moet nog heelwat gewig verloor om regtig gesond te wees maar ek kan weer dinge doen waarvan ek hou soos om te draf en muurbal te speel. Ek is regtig trots op wat ek bereik het.  Pak gerus 21 blokkies botter bo-op mekaar as jy weer in Checkers kom – dit is ‘n klein bergie!

Vroeg in my recovery het ek privaat terapie sessies gehad met ‘n jong terapeut en ek onthou goed dat al die foute wat ek in my lewe gemaak het die tema van die meeste van ons gesprekke was.  Ek het ‘n verskriklike swaar las op myself gelê en eerlik geglo dat alles wat verkeerd gaan in my eie, maar ook my man en dogter, se lewens alles as gevolg van my foute en tekortkominge was. (Laat ek ook maar volledigheidshalwe hier byvoeg dat hierdie een van die gevolge van verslawing is vir verslaafdes maar ook vir die kinders en familie van verslaafdes, ingesluit alkoholiste.) Met ons eerste sessie het sy opgemerk dat dit alles vir haar interessant was maar dat sy graag wil vra dat ek ‘n lys maak van alles wat ek reg gedoen het. Nog nooit ooit in my lewe het ek so daaraan gedink nie!? Ek het besef dat ek in my lewe elke geleentheid wat ooit na my kant toe gekom het benut het. Ek het nooit ‘n eksamen gedruip of ‘n vak oorgedoen nie. Ek het twee nagraadse kwalifikasies in minimum tyd voltooi terwyl ek voltyds gewerk het. Ek het dikwels in swaar tye voltyds gewerk en ook deeltydse werk aanvaar om seker te maak dat my man en dogter alle moontlike geleenthede kon geniet. Ek is mede-outeur van ‘n boek wat reeds vier keer weer uitgegee en gedruk is. Ek het bome geplant, riviere geswem, die natuur bewonder, gereis en gesels en berge geklim.

Ek het ‘n goeie, bevredigende en gelukkige loopbaan gebou deur die jare. Eintlik, as ek regtig eerlik wil wees, het ek in die 50 jare wat ek myself op moeder aarde bevind al meer gedoen en uitgerig as wat ek ooit kon droom. So, as julle my so bietjie sal verskoon, gaan ek vandag fees vier oor waar ek is.  Dankbaar wees vir alles wat ek kon doen en bereik. Vreugde en vrede in my hart ervaar as ek terugkyk na waar ek vandaan kom en spesifiek oplet hoe innerlike vrede al hoe meer en meer deel van my lewe word. Nenatjie ek sien jou en ek word al liewer vir jou . . .

13921071_1005157349582199_8388314267196284820_n