Waar is ek nou?

56427032_2367562286811047_6746585665653178368_n

Die mensdom kan so dikwels fokus op waar ons wil wees en wat ons wil bereik – sekerlik prysenswaardig – dit bou karakter en toon ambisie. Maar ons moet tog ook nie vergeet om dankbaar te wees vir presies waar ons onsself tans bevind en ja selfs ook waar ons vandaan kom nie.

Op my recovery padjie was dit nie altyd vir my maklik om te erken dat ek dikwels maar bitter klein babatreetjies kon gee nie – minder nog die paar kere wat ek ‘n groot tree of twee agteruit gevat het om weer my ewewig te kon herwin. Maar as daar nou een ding is wat ek klokhelder in my recovery proses geleer het – Alles is presies net soos dit moet wees.

Ek dink ook dit is belangrik om versigtig te wees waar ons ons emosionele energie belê. Dalk is ek nie die enigste persoon op aarde wat wens dat ek vroeër van recovery geweet het nie, eerder beter na myself begin omsien het nie of lankal beter besluite begin maak het nie.  Sover ek weet kan geen hoeveelheid energie dit vir my of enige iemand anders omdraai nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy weet jy is reg.  Die addicts sê mos jy gaan eers die werk insit om te verander wanneer jy “sick and tired” is om “sick and tired” te wees. Ons maak ons keuses en besluite gebaseer op ons gereedheid – en dit gaan vir geen twee mense dieselfde wees nie. Ek weet verseker vandag dat ek wel op ‘n punt weer begin lewe het, weer lewensvreugde begin ervaar het, stukkies van my lewe begin terugkry het wat ek lankal geglo het dood was – en ek is ongelooflik onuitspreekbaar dankbaar vir waar ek nou is.

Ek dink een van my eerste bloginskrywings was houvanblou.wordpress.com/…/die-mees-gevreesde-vyfletterwoord oor my besluit om die “banting” of “keto” dieet te begin volg.  Dit het vir maande goed gegaan en ek het gewig verloor en regtig nie swaar gekry om die eetplan te volg nie. Nadat my dogter ‘n relapse gehad het het ek vir amper ‘n hele jaar myself nooit geweeg nie. In Januarie het ek en ‘n vriend wat ook gewig wil verloor saam besluit om die bul by die horings te pak en ek was regtig verbaas toe ek myself weeg en besef dat ek in daardie hele jaar geen gewig opgetel het nie.

Ek het vanoggend geweeg en besef dat ek deur die 20kg grens gebreek het – ek het nou altesaam 21kg verloor, al het dit my meer as ‘n jaar geneem. Ek moet nog heelwat gewig verloor om regtig gesond te wees maar ek kan weer dinge doen waarvan ek hou soos om te draf en muurbal te speel. Ek is regtig trots op wat ek bereik het.  Pak gerus 21 blokkies botter bo-op mekaar as jy weer in Checkers kom – dit is ‘n klein bergie!

Vroeg in my recovery het ek privaat terapie sessies gehad met ‘n jong terapeut en ek onthou goed dat al die foute wat ek in my lewe gemaak het die tema van die meeste van ons gesprekke was.  Ek het ‘n verskriklike swaar las op myself gelê en eerlik geglo dat alles wat verkeerd gaan in my eie, maar ook my man en dogter, se lewens alles as gevolg van my foute en tekortkominge was. (Laat ek ook maar volledigheidshalwe hier byvoeg dat hierdie een van die gevolge van verslawing is vir verslaafdes maar ook vir die kinders en familie van verslaafdes, ingesluit alkoholiste.) Met ons eerste sessie het sy opgemerk dat dit alles vir haar interessant was maar dat sy graag wil vra dat ek ‘n lys maak van alles wat ek reg gedoen het. Nog nooit ooit in my lewe het ek so daaraan gedink nie!? Ek het besef dat ek in my lewe elke geleentheid wat ooit na my kant toe gekom het benut het. Ek het nooit ‘n eksamen gedruip of ‘n vak oorgedoen nie. Ek het twee nagraadse kwalifikasies in minimum tyd voltooi terwyl ek voltyds gewerk het. Ek het dikwels in swaar tye voltyds gewerk en ook deeltydse werk aanvaar om seker te maak dat my man en dogter alle moontlike geleenthede kon geniet. Ek is mede-outeur van ‘n boek wat reeds vier keer weer uitgegee en gedruk is. Ek het bome geplant, riviere geswem, die natuur bewonder, gereis en gesels en berge geklim.

Ek het ‘n goeie, bevredigende en gelukkige loopbaan gebou deur die jare. Eintlik, as ek regtig eerlik wil wees, het ek in die 50 jare wat ek myself op moeder aarde bevind al meer gedoen en uitgerig as wat ek ooit kon droom. So, as julle my so bietjie sal verskoon, gaan ek vandag fees vier oor waar ek is.  Dankbaar wees vir alles wat ek kon doen en bereik. Vreugde en vrede in my hart ervaar as ek terugkyk na waar ek vandaan kom en spesifiek oplet hoe innerlike vrede al hoe meer en meer deel van my lewe word. Nenatjie ek sien jou en ek word al liewer vir jou . . .

13921071_1005157349582199_8388314267196284820_n

Die mees gevreesde vyfletterwoord….

Nou ja, daar is geen ander manier om dit te sê nie, ek is weer op ‘n diëet.  Ok daar is ander maniere: Ek het ‘n nuwe leefstylplan, ek volg ‘n nuwe ongebalanseerde eetplan, ek het ‘n baie interessante boek gelees oor eetgewoontes en doen nou dinge anders…  Daar is sekerlik geen einde aan die moontlike maniere om dit te sê nie, as mens mooi daaroor dink.

diet fork

Dit is by no stretch of the imagination my eerste diëet nie.  Ek het die eerste keer op die tere ouderdom van 12 ‘n blitsdieet, wat die Huisgenoot gepubliseer het, gevolg en soos hulle sê  die res is geskiedenis.  Daarvandaan was dit ‘n op-en-af- wipplankryery: Die blitsdieët, die sop-diëet, die kits-diëet, meer as een Weigh-Less episode, die kool-diëet en die laaste veldslag wat ek verloor het was die Bloed-trek-en-monitor-diëet.  Ek kan nie meer die besigheid se naam onthou nie maar ek moes so 10 maal die maandelikse Weigh-Less bedrag betaal, en vir bloedtoetse, waarna ‘n “ekspert” my bloed uitslae ontleed het, ‘n baie onrealistiese eetplan voorgestel het, en ek wel ‘n paar kg verloor het nadat ek so twee weke kronies honger was met gepaardgaande hoofpyne.  Ek het uiteraard handdoek ingegooi en teruggekeer het na my ou gewoontes met die gepaardgaande gewigtige gevolge natuurlik.

My eerste Weigh-less ervaring was al op skool.  Een tannie in die groepie, kom ons noem haar Hanna, kan ek goed onthou.  Sy was ma van 3, haar man ‘n harde werker en deeltydse boer en sy ‘n toegewyde ma wat ook voltyds gewerk het.  Sy het regtig swaargekry om haarself te beperk tot die toelaatbare rooivleis kwota wat voorgeskryf was.  Ekself sal toegee dat jy my maklik in ‘n wip sal kan vang met ‘n skaaptjop of twee, ek en Hanna het albei ons wortels waar die karooskape rustig wei.  Hanna het uitgewerk dat as sy die hele week lank net vis en hoender eet, en al haar rooivleisporsies bêre vir Vrydag, sy wanneer die familie die weeklikse braai-ding doen ook 3 klein tjoppies (alle vet afgesny natuurlik) kon geniet.  Sy het geleef vir Vrydagaande se braai.  Dit was eintlik bietjie hartseer om die ontbering en opoffering vir daardie drie kolletjies skaapvleis se opgewondenheid voor jou te sien afspeel.  Ek kan ook nie onthou dat ek ooit regtig ‘n heelwat skraler weergawe van Hanna gesien het nie.

Ek het na baie jare, en toe my hare so dun geword het dat ek nie meer die bleskolle kon toekam nie, (Dit is blykbaar ‘n direkte gevolg wat wipplankdiëetery.  Iets wat tydskrifte en diëet boeke nooit langs hulle nuutste neigings publiseer nie.) het ek amptelik ge-“hensop”.  Genoeg was genoeg, ek moet maar aanvaar dat ek vet is en sal bly.  Ek het in elk geval soveel chaos uit ander oorde in my lewe gehad dat my eie welsyn en gesondheid nommer 45 op my lysie was – al wou ek tog gesonder wou lewe, ek sou nie realisties daarby kon uitkom nie.  Dit was jare gelede.

exercise

Nou ja, al kon ek nie reg kom met die diëetery nie, die alternatief was ook nie so rooskleurig nie.  Ek sukkel met gesondheidsprobleme, ek is onbeweeglik, word gou moeg, sien kans vir baie meer avontuur as wat my lyf kan hanteer en frankly my dear ek was siek en sat daaroor om siek en sat te wees oor my gewig en gesondheid.

Na baie wonder, onsekerheid, geheime trane, lees en luister na raad het ek myself op die banting waentjie begewe.  Die eerste drie dae kon ek aan niks anders dink as koek, sagte witbrood-buns, botterige croissante en allerlei ander verbode dinge nie.  Dit was soos ‘n obsessie.

Ek het egter deesdae ‘n meer gematigde lewensuitkyk. Ek probeer harder om nie sommer die baba met die badwater uit te gooi nie.  Ek het ‘n vaste onderneming teenoor myself gemaak dat my eie gesondheid en lewenskwaliteit belangrik genoeg is vir my om moeite daarmee te doen.  Dit klink uiters logies maar was regtig vir my ‘n moeilike kopskuif.  Ongeag hoe gedetermineerd ek is vind ek myself steeds soms knie-diep in probleme wat ekself nie geskep het nie met gedagtes om gou ‘n pizza te bestel omdat ek nie tyd het vir kosmaak nie.

Elke mislukking of glips bring gevoelens van wanhoop, skaamte, woede, teleurstelling, vreeslike slegte en afbrekende self-dialoog en sommer ‘n warboel ander gevolge wat die biggest loser in die arms van ‘n bak volroom sjokolade roomys met neute sal dryf.  Nee dit sou nie vir my werk nie, ek weet mos.

En toe die deurbraak – die EUREKA oomblik.  Ek weet mos ek kan nie na my eie gesondheid omsien soos dit hoort nie.  Ek het al die scars om dit te bewys.  Ek kan dit nie doen nie. Baie eenvoudige mense kry dit reg.  Ek het myself vir jare gekasty dat iemand soos ek met meer as een universiteitskwalifikasie nie die basiese kan regkry nie.  Ongeag hoe erg ek myself uitgekryt en sleg gesê het daaroor – dit het niks verander nie.

failure

Al wat ek wel kan doen is een dag op ‘n slag.  Ek kan, net vir vandag, suiker en koolhidrate uit my dieët sny, bietjie met my hondjies gaan stap en beter keuses maak as dit by my oefening, medikasie en kos kom.  Net tot ek vannaand my kop neerlê en aan die slaap raak.  A-ha, dit kan ek doen!  Nee ek weet nie wat gaan gebeur met my gesonde keuses en mooi beplanning as die &^%$ weer die waaier tref nie, ek oorweldig of emosioneel voel nie.  Maar raai, ek hoef ook nie daaroor te wonder nie, behalwe as dit wel vandag gebeur.  Want vir nou, volg ek ‘n eetplan wat ek hoop en glo goed vir my gesondheid en my lewenskwaliteit gaan wees, maar dit is net vir vandag.