Wie sou kon dink dat tyddeel soveel pret kan wees!?

Ek was so gelukkig dat ek en my liewe moeder ‘n uitnodiging van ‘n vriendin en kollega gehad het om saam te gaan vir ‘n langnaweek na haar tyddeel anderkant Warmbad.  Ek was al voorheen by tyddeel vakansieoorde.  Nie regtig my koppie boeretroos nie.  Georganiseerde kinderspeletjies, swembaddens, glybane, putt-putt en gillende jillende kindertjies- ek swem eerder by my eie huis.  My vriendin het my egter belowe die perseel is ‘n big5 oord en ons gaan kan birding doen.  Wel birding – (regmerkie), goeie geselsskap (regmerkie) en lekker kos en wyn wat ekself ingepak het (regmerkie) – ek was oortuig dit kan nie te erg wees nie en ‘n wegbreek vroeg in die jaar is mos nie te versmaai nie.

w23frijhbmabalingwemain_e285c_thumb_0Die omgewing is pragtig met heelwat damme wat diere en voëls lok en baie fotogeleenthede.  Die wooneenhede is in groepies teen die berghange gesprinkel en almal het ‘n asembenewelende uitsig en is ruim en gemaklik.  Die leeus se diep brul eggo deur jou murgpype in die aand en dit voel asof mens in die wildernis bly maar hulle bly in hulle eie kamp en loop nie los rond nie.  Ons het wel olifante gewaar wat rustig in ‘n rivierloop wei.  In die oggend roep die tarentale ons wakker en terwyl ons boeretroos en beskuit op die stoep nuttig wei ‘n mamma vlakvark met haar kroos langs ons verby.  Ek sou nooit kon raai dat die klein vlakvarkies net soos mak varkies oink-oink nie maar hulle doen in sulke hoë stemmetjies – te koddig vir woorde.

Die eerste hoogtepunt was my gunsteling die kuifkopvisvanger (Malachite Kingfisher).  Hy is ‘n klein skaam voëltjie wat in die riete bly en ek was soooooo gelukkig toe die meneertjie ‘n hele rukkie vir my “gepose” het!  Laat ek maar eerlik wees – ek het hardop gegiggel van die lekkerte!

Die rooiborslaksman was nie so maklik nie.  Vir drie dae het ons hom gejag vir ‘n foto.  Hy bly in digte doringbosse en kan nie stilsit nie.  Dit vat ‘n hele paar pogings om hom in die visier te kry maar toe ek uiteindelik amper die hele outjie in fokus het (maar die punt van sy stertjie afgesny het) moes ek maar volstaan dat dit my beste poging was.  Ek kan glad nie verstaan waarom hy so wegkruip nie – ek dink hy is vreeslik “handsome”!

Het jy al so vet bloukopkoggelmander gesien?  Sy gaan seker binnekort eiertjies lê.  Die aanstaande pa lyk heel selfvoldaan.

Elke dag was daar tonele wat net so goed in ‘n kunsgallery sou pas – die waterlelies het my baie aan Monet se werke herinner.

Die cute outjie bo-op die doringboom word ‘n baardmannetjie genoem.  Dit is die pragtige blouvalkie wat een middag laat so vir ons geloer het.

Die jakkalsie het ons eers skrams gesien – hy was haastig oppad iewers heen.  So twee draaie verder het hy rustig geraak en ons ‘n hele rukkie vermaak.

Oppad uit moes ek eers stilhou om die majestieuse swartwitpens te bewonder.  Hulle is darem die mooiste bokke.  Die een was in ‘n uitmuntende kondisie en ‘n prentjie met die waterberge in die agtergrond.

Daar was nog baie diere en voëls, klein en groot.  Heerlike kos, aangename gesprekke om die vuur en lekker afkoel in die swembad. (Wat ons nie eers nodig gehad het om een aand met iemand anders te deel nie!)  Ons het nie eers geweet van die danskompetisies, putt=putt of gillende kindertjies nie.  Wys jou – vooroordele nè! Ek is so wonderlik dankbaar om in so mooi provinsie te kan woon, dat my hart en siel so kan “connect” met die natuur, ek is geseënd om te werk saam met kollegas wat meer soos familie is eerder as vriende en om kosbare tyd en ervarings met my liefste Moeks te kan deel.  Hoe gelukkig kan een mens nou eintlik wees!?