Het jy ooit verstaan?

live saving change

Nee ek is nie meer kwaad nie.

Ek besef net dat jou drank en jou behoeftes altyd voor my in die ry sou staan.  En ja, dit suck. En nee, dit was nie reg teenoor my nie.

So nee, ek is nie kwaad nie, ek is seer, rou, stukkend, moedloos en druppel vir druppel het die bietjie hoop wat ek gehad het weggesypel in die sand.

Ek was regtig lief vir jou, heel moontlik baie meer as wat jy kon verstaan.  Ek kon nie meer so lewe nie, ek het besef dat dit my uiteindelik ook sou vernietig, my dood sou beteken.

Ek weet dat verslawing en alkoholisme ‘n siekte is.  Soms kry ek dit reg om te glo dat jy nie doelbewus probeer het om my seer te maak nie, dat dit ook vir jou regtig swaar was om my te sien huil, tog, ongelukkig moes ek besef dat dit onmoontlik vir jou was om anders te lewe.  Daardie gif het vir jou ‘n kruk geword om op te leun, jy het jouself oortuig dat jy nie meer daarsonder kon lewe nie.

Ek weet daar was soveel meer aan jou as die kromgetrekte moedelose mensie was oor sy glas “huddle” en na sy sigarette vroetel.  Ek weet seker die heel beste van alle mense op aarde van jou hart van goud, jou sagte binnekant, jou geduld, jou sagte hand….  Ek kan nie eers al die kere tel wat jy vir my gesê het dat ek die beste ding was wat ooit met jou gebeur het nie.  Ek kon net nie meer glo dat daar enige waarheid in daardie woorde was nie.  As daar was, waarom het ek soveel nagte in ‘n poel van my eie trane gelê?  Hoekom was daar soveel kere dat jou woorde, aksies en versuim die bodum uit my lewe uitgeruk het, sonder waarskuwing, sonder konsiderasie, net sonder …

God self weet hoe swaar dit vir my was om van jou weg te stap.  Hoe verskriklik dit vir my was om my in te dink wat my lewe sonder jou sou wees.  Tog, ek kon nie meer “survive” nie.  Ek wou ook lewe.  Ek het nooit opgegee op die droom van die mens wat jy was nie, net die droom dat ons saam gelukkig sou wees.

Selfs nadat ek weggestap het het ek steeds gehoop en gebid dat jou oë kon oopgaan.  Dat jy iewers die moed of krag vandaan sou kon kry om jouself te red.  Ek het myself vir so lank gehaat en gekasty dat ek jou nie kon red nie.  Dat my beste pogings net nie goed genoeg was nie.  Vandag weet ek dat ek moet aanvaar dat ek jou kon red nie, dit was iets wat net jy sou kon doen.  Die waaroms hou my nou nog uit die slaap.  Waarom wou jy nie probeer nie? Hoekom wou nie veg vir jou lewe nie?  Waarom was daar niks in my, niks wat ek gedoen of gesê het of probeer het wat jou ‘n klein bietjie moed kon gee nie?

Baie nagte as ek alleen in my bed lê en my verbeel dat ek jou nog agter my rug kan voel, dat jou hand sag op my skouer rus dan moet ek wonder…. Het jy ooit verstaan?  Kon jy ooit besef hoe lief ek vir jou was en selfs toe ek weggestap het hoe hard ek nog gehoop het dat jy my desperate krete uiteindelik sou hoor?

Of was al wat jy tot die einde kon sien jou hunkering na die gif, die gif wat alles en almal uit jou lewe laat verdwyn het, en selfs uiteindelik ook vir my….

 

owen1

(My oorlede man was ‘n alkoholis, hy was blind en het aan long emfiseem gely.  Ongeag die waarskuwings van menige medici kon hy nooit ophou rook of minder drink nie.  Ongeag my gesmeek, gegil of gehuil kon ekself geen verskil aan sy keuses maak nie.  Ek het my siek blinde man verlaat in 2013.  Ja ek het self die besluit gemaak en tog is dit iets wat my selfs vandag laat snik soos ek huil.  Hy is op 15 Mei 2015 oorlede.  My dogter was 10 dae skoon van heroine verslawing die dag wat haar pa oorlede is.)

 

14 thoughts on “Het jy ooit verstaan?

  1. Nena, daar was eens op ñ tyd ñ vrou by ñ put. Sy was nie alleen nie. Sy kon wegstap as ñ nuwe mens, en sy kon gaan leef. Want sy was steeds nie alleen nie. Mag die nuwe jaar vir jou vars geverfde, wawyd oop deure inhou. En mag jy maklik oor die drumpels tree, want jy is nooit alleen nie.

  2. Ek dink baie van ons was in hierdie posisie waar jou lewe “oorgeneem” word deur ‘n ander se verslawing. Dis die moeilikste ding op aarde om weg te stap, maar soms het jy geen keuse nie, want dit maal jou fyn. Jy het ver gevorder in jou rouproses, want dit is presies wat dit is – jy rou oor iets wat verlore gegaan het, iets wat dalk verhoed kon gewees het. En jy het begin om jou woede te verwerk. In laasgenoemde geval kan ek sê jy is ‘n beter mens as ek. Liefde en sterkte!

    1. Dankie. Dit was nogal vir my ‘n “aha” oomblik om te besef dat ek wel vorder. Soms voel dit vir my ek is weer by blokkie nommer een as ek so verskriklik hartseer of moedeloos word. Nee dit is nie ‘n kompetisie nie – ons elkeen moet maar die monster stry op ons eie manier. Baie liefde en sterkte vir jou ook!

  3. Nena onthou altyd jy kon niks verander nie, net die verslaafde self kan dit verander. Vergewe jouself en spreek jouself vry. Wandel dan ń nuwe jaar binne in vryheid saam met Jesus wat ons vrede is.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s