Briefie van die verslaafde wat aan ‘n oordosis dood is.

16729443_1866460466933783_2327789420615229601_n

My liefste ouers,

Daar is nie woorde om te beskryf hoe jammer ek is vir die situasie waarin ek julle gelaat het nie.  Geen ouer moet sy kind begrawe nie, dit is nie soos dit hoort nie.  Ek weet julle is hartseer, kwaad, ontnugter en wens dat julle die tyd kon terugdraai en my uitruk van die pad wat ek gekies het, as julle maar net kon.

My verslawing het alles verwring.  Die Here weet hoe hard julle prober het om my te help.  Selfs al het dit nie so gelyk nie, ek het ook besef hoeveel julle probeer het, ek was te hard, koud en slim.  My verslawing het my van die wêreld en mense om my afgesny en vervreem.  Ek het die mag van hierdie siekte onderskat, gedink ek kon dit beheer, geglo ek was in beheer.

Julle en soveel ander het my gewaarsku maar ek kon julle nie hoor nie.  Die effek van die dwelms het my ongevoelig en afsydig gemaak.  Ek het gevoel dat ek onsterflik was, dat die dwelms my groot en onstuitbaar gemaak het en dat ek sonder die dwelms – wel dan maar net – ek sou wees.

Daar was tye wat ek skuldig en skaam gevoel het oor my keuses en veral wat ek aan my familie doen maar die verterende vuur wat net meer en meer gesoek het om op te slurp en wat binne in my gewoed het was so sterk dat dit maar vlietende oomblikke was.  Meestal was die dwelms al waaraan ek kon dink veral soos die chemiese effek van die dwelms my brein al meer en meer beïnvloed en beskadig het.  Hierdie brandende smagting het geen gewete of integriteit gehad nie.  Hierdie vretende vuur van my verslawing.

Ek weet dat ek julle baie seergemaak het.  Ek het minagtend met julle gepraat, verdwyn vir lang tye terwyl julle in vrees moes voortgaan met julle dagtaak, gelieg, gemanipuleer, gesteel van julle, julle vermy en afgesny en uiteindelik julle agtergelaat met ‘n groot seer en leemte in julle harte.

Ek was so seker van myself met die dwelms in my.  Daar was nie enige iets wat julle kon doen of sê om my te oortuig nie.  Ek het geglo dat dit net “ander mense” was wat doodgaan van ‘n oordosis. Stupid mense wat niks van dwelms af weet nie.  Dit kon tog nie met iemand soos ek gebeur nie, ek het geglo dat ek weet wat ek doen.

Julle het my gesmeek om op te hou.  Julle het gepleit, gehuil, geskree maar ek het alles uitgeblok.  Julle trane het my laat inkrimp in my binneste maar my ego was te trots om dit te wys.  As julle julle arms om my geslaan het was die skaamte in my so erg dat ek net van julle af moes wegvlug.

En nou wil ek so graag terug – maar daar is nie meer vir my terug nie.  Al wat oorbly is vorentoe.  Asseblief neem my vorentoe.

Vertel my storie.  Noem my naam.  Praat met my.  Onthou en vier die goeie tye wat ons wel saamgehad het. Huil as julle moet – ek weet julle mis my, ek weet julle is hartseer.  Ek weet julle is lief vir my.  Ek besef nou dat julle julle bes gedoen het vir my maar nog julle of ek was sterk genoeg vir die stryd van hierdie siekte van verslawing.

Moet assebleif nie julleself blameer nie, julle moet glo dat julle julle beste probeer het.  Julle het nie my verslawing veroorsaak nie, julle kon dit nie keer of beheer nie.  Julle moet weet dat OK is om ook maar ‘n mens te wees wat jou beste kan doen en niks meer nie.  As julle julself blameer sal dit wees asof ek weer doodgaan, oor en oor, elke dag.  Ons hele familie gaan in hierdie tragedie vasgevang bly.

Elke keer as julle my sou wou vasdruk – gee iemand in ons familie ‘n drukkie en ek sal deel van die drukkie wees.  Elke keer as julle met my wou praat – praat met mekaar en ek sal luister.

Ek hoop dat julle vrede mag vind in die besef dat ek nou uiteindelik vry is.  Vryer as wat ek ooit kon wees.  Julle kan dink dat ek vir altyd weg is maar ek is nie.  Ek is in die briesie wat deur die blare waai, die sterre in die middernag, die reëndruppels wat teen die venster hang, die deuntjie van die voëltjies, die ronding van die wolke en die golwe van die see.

Ons sal nooit heeltmal van mekaar geskei wees nie want ware liefde wek lewe, selfs in die dood.  Staan stil – julle sal my aanvoel.

Ek sal altyd vir julle lief wees.

Julle kind.

18 thoughts on “Briefie van die verslaafde wat aan ‘n oordosis dood is.

  1. Nena, hierdie skrywe gryp my aan die hart, en ek dink nie iemand wat self met die duiwel, hetsy geveg of toegekyk hoe dit ‘n geliefde vernietig en dus saam baklei het, sal werklik hierdie skrywe verstaan nie. Dankie hiervoor ❤

  2. Ja dit is ‘n moeilike onderwerp maar baie nodig. SA hou nie baie statistieke hieroor by nie. In die VSA alleen is daar in 2015 30 000 mense dood agv dwelmoordosisse. 3 van die mensies wat ek leer ken het is die afgelope jaar oorlede van oordosis of selfmoord.

  3. Ja dit is maar erg. Ek het al voorheen geskryf dat my dogter dikwels probeer selfmoord pleeg het in haar aktiewe verslawing. Eendag het ek met ‘n skok besef dat my lewe sal moet aangaan ongeag wat sy vir haarself kies. DIt is nie ‘n maklike padjie om te loop nie. Ek weet vandag dat is een van die gelukkiges is. Ons het Vrydagaand twee jaar skoon gevier. Sal binnekort daaroor skryf.

  4. Ek dink hierdie brief verwoord die hart van die persoon wat selfdood pleeg so mooi. Ek wens elkeen wat deur die afstaan van n geliefde aan selfdood gaan, kan hierdie brief lees. Veral omdat die wat agterbly altyd sit met skuldgevoelens.
    Mag ek asb hierdie reblog?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s